Doen jy jou herbesoeke?
1 Wat ’n opwindende verslag van dinamiese bedrywigheid word in die 1989 Yearbook of Jehovah’s Witnesses beskryf! Miljoene mense het die goeie nuus gehoor en miljoene boeke is by belangstellendes gelaat. Die verslag dui op ’n intense bewustheid van die belangrikheid daarvan om terug te gaan waar sade van waarheid gesaai is (1 Kor. 3:6, 7). Verdere sorg is noodsaaklik. ’n Volle deelname aan hierdie werk het Jehovah se volk, wat verlede jaar altesaam 288 017 474 herbesoeke gedoen het, groot vreugde verskaf.
WANNEER?
2 Doen jy, wanneer jy belangstellendes vind, herbesoeke voordat die aanvanklike belangstelling kwyn? Dit lewer dikwels goeie resultate wanneer ’n mens binne ’n paar dae teruggaan. Hou ’n akkurate en volledige verslag van alle lektuur wat jy versprei en die belangstelling wat jy vind. Gaan hierdie verslae gereeld na om toe te sien dat al jou herbesoeke so gou moontlik gedoen word. Jou ywer en volharding sal deur Jehovah geseën word en sal diegene wat belangstelling getoon het tot groot voordeel strek.
3 Bestee gerus meer tyd daaraan om herbesoeke te doen en Bybelstudies te begin. Is daar mense wat die tydskrifte gereeld neem en wat nou dalk bereid sal wees om te studeer? Een broer het twee tydskrifte by ’n man gelaat, maar het nie ’n herbesoek gedoen nie omdat hy gedink het dat die man nie werklik belanggestel het nie. Die man het ’n brief aan die plaaslike gemeente geskryf en om geestelike hulp gevra. Baie pioniers berig dat hulle goeie studies gevind het deur terug te gaan na waar tydskrifte gelaat is. Is daar persone wat by geleentheid al die Gedenkmaal of ander vergaderinge bygewoon het wat graag sal wil studeer?
BEGIN ’N STUDIE
4 Die Paradys op aarde-boek is ’n doeltreffende instrument in ons bediening. Wanneer jy dit by iemand laat, is dit egter net die eerste stap om ’n Bybelstudie te begin. Jy kan by die eerste besoek of wanneer jy ’n herbesoek doen, vra: “Het jy al ooit daaraan gedink dat jy vir ewig kan lewe? [Laat huisbewoner antwoord.] Natuurlik sal baie nie daarvan hou om die lyding, geweld en honger wat soveel mense vandag teister vir ewig te verduur nie.” Terwyl jy na bladsye 11-13 blaai, kan jy vra: “Maar veronderstel jy kon vir ewig onder sulke toestande lewe. Sou dit nie aangenaam wees nie? [Laat huisbewoner antwoord.] Ewige lewe onder sulke volmaakte toestande verg iets van ons. Let op wat paragraaf 19 sê. [Lees.] Laat ek vir jou wys hoe hierdie boek daarop gemik is om jou te help om sulke kennis in te neem.”
5 Verkondigers word aangemoedig om traktate by persone te laat wat dalk nie die gewone lektuuraanbod aanvaar nie of waar niemand tuis is nie. Dit kan doeltreffend tydens herbesoeke gebruik word om ons studiemetode te demonstreer. Elke traktaat bespreek twee of drie gedagtes. Lees een paragraaf op ’n slag saam met die huisbewoner. Wanneer ’n vraag gestel word, kan jy ophou lees en die huisbewoner om sy mening vra. Slaan die teksverwysings na en verduidelik die toepassing daarvan.
6 Ondervinding het getoon dat dit die beste is om spesifieke tye opsy te sit om herbesoeke te doen en studies te begin en te hou. As ons ’n spesifieke tyd vir hierdie werk het, sal dit ons help om so gou moontiik na belangstellendes terug te gaan. Miskien kan ons tyd opsysit in die aand, gedurende naweke of nadat ons van huis tot huis gewerk het. Stel ’n tyd vas wat vir jou en die gebied die beste is. Probeer dan om gereeld aan hierdie werk deel te neem sodat jy dissipels kan maak.—Matt. 28:19.