Kan jy in April hulppionierdiens doen?
1 Jesus het ’n werk begin wat so belangrik is dat die toekoms van die hele mensdom van die resultaat daarvan afhang (Matt. 4:17). Dit is die werk om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. Hierdie werk sal net voor “die einde” sy klimaks bereik, wanneer die Koninkryksboodskap “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” verkondig is.—Matt. 24:14.
2 Aangesien ons nou die voleinding van die stelsel van dinge bereik het, is hierdie werk dringender as ooit. Omdat lewens op die spel is, kan onnodige getalm verreikende gevolge hê. Die hulppionierdiensreëling het talle aangespoor om meer bedrywig te wees in hierdie dringende werk. Kan jy in April hulppionierdiens doen?
APRIL BIED ’N PUIK GELEENTHEID
3 Aangesien April vyf volle naweke het, sal dit ’n uitstekende maand wees vir talle om as hulppioniers in te skryf. Selfs diegene wat voltyds werk, kan dit dalk doen. Sommige wat verlede jaar pionierdiens gedoen het, het baie seëninge ontvang en het hulle begeerte uitgespreek om vanjaar weer as pioniers te dien. Kan jy, deur nou reëlings te tref, in April hulppionierdiens doen? Bespreek gerus hierdie moontlikheid met diegene wat reeds aangestel is en kry ’n paar praktiese wenke van hulle.
4 Dit kan ons groter geluk verskaf as ons ons diens uitbrei. Hoewel dit dalk beteken dat ons ander persoonlike belange opoffer, sal ons in groter mate geestelike seëninge maai as ons oorvloedig saai (2 Kor. 9:6b). Diegene wat heelhartig vir Jehovah werk, word “vervul met blydskap” oor die oorvloedige oes van nuwe dissipels.—Hand. 13:48, 52.
’N TEOKRATIESE TRAPKLIP
5 Nadat hulle eers die vreugdes van die hulppionierdiens gesmaak het, het talle gewone pioniers geword. Op hierdie manier kan hulppionierdiens as ’n trapklip tot groter geluk dien. As jy in April en die daaropvolgende maande hulppionierdiens kan doen, kan jy herbesoeke en Bybelstudies begin wat jou sal help om die gewone pionierdiens aan die begin van die nuwe diensjaar in September sonder moeite te betree.
6 Waarom brei talle van Jehovah se Getuies hul bediening in hierdie tyd uit, pleks van meer materiële voordele in hierdie stelsel te soek? Dit is omdat hulle Jehovah wil loof en ander van sy voornemens wil vertel. Hulle weet dat ‘die wêreld verbygaan en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig’ (1 Joh. 2: 17). Hulle tree opreg in ooreenstemming met hulle gebed op, naamlik dat die Here van die oes “arbeiders in sy oes mag uitstuur”.—Matt. 9:37, 38.
7 Opregte liefde vir God en vir ons naaste beweeg ons om soveel moontlik aan die dissipelmaakwerk deel te neem (Matt. 22:37-39; 28:19). Hoewel persoonlike omstandighede talle verhinder om pionierverkondigers te wees, word ons geprys as diegene wat ‘ons kragte inspan en stry om alle mense te help om gered te word’ wanneer ons volgens ons omstandighede alles wat ons kan in Jehovah se diens doen.—1 Tim. 4:10, NAV.