Wees wys—Pas die dinge wat jy leer toe
1 Die meeste mense wil ’n gelukkige, vreedsame lewe lei. Duisende boeke en artikels gee raad oor hoe ’n mens ’n suksesvolle huwelik kan hê, kinders moet grootmaak, finansiële sukses kan behaal, goeie gesondheid kan verkry en kan behou en baie ander onderwerpe wat mense kan help om geluk te verkry. Hoewel wêreldse publikasies tog ’n bietjie praktiese wysheid bevat, is die meeste mense in die wêreld allesbehalwe gelukkig en vreedsaam. Waarom is dit so?
2 Die antwoord kan in die Bybel gevind word, in Spreuke 1:7, wat sê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.” Niemand kan verwag om vrede en geluk te hê as hy nie die Bron van ware kennis en wysheid, Jehovah God, erken en respekteer nie.
3 Die wêreld is geestelik brandarm—uitgehonger. Ironies genoeg is die wêreld self vir hierdie droewige toestand verantwoordelik, aangesien ’n oorvloed van geestelike voedsel aan almal op aarde beskikbaar is, en dit boonop verniet (Spr. 1:20, 21; Openb. 22: 17). Omdat mense in die wêreld Jehovah se wysheid verwerp, struikel hulle in geestelike duisternis rond (Spr. 1:22-32). Andersyds het ons as Jehovah se volk, wat sy wette respekteer en sy gebooie nakom, oorgenoeg geestelike voedsel en is ons gelukkig (Jes. 65:13, 14). Daarbenewens identifiseer die oorvloedige liefde in God se organisasie ons as Christus se ware dissipels (Joh. 13:35). Ja, die wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies lewer lewende bewys dat dit wys is om Bybelleringe te onderhou.
4 Nogtans smaak party wat met Jehovah se organisasie omgaan nie die geluk wat hulle kan hê nie. Hulle kan selfs afbreuk doen aan die geluk van ander om hulle deur die dinge wat hulle sê en doen. Hoe is dit moontlik? Dit is eenvoudig omdat hulle nie God se wysheid in hulle lewe toepas nie. Hulle woon dalk gemeentelike vergaderinge, kringbyeenkomste en streekbyeenkomste by. Hulle hou dalk tred met wat die Genootskap se publikasies sê, maar hulle lewenstyl en hulle optrede teenoor ander, met inbegrip van mede-Christene, toon dat hulle die waarheid wat hulle geleer het, nie toepas nie. Wat moet gedoen word? Sulke persone moet hulle daarop toelê om “in die Gees [te] saai” sodat hulle ware geluk in hulle eie lewe kan smaak en tot die geluk van diegene om hulle kan bydra.—Gal. 6: 7, 8.
WAT OM TOE TE PAS
5 As ons as individue nalatig raak, in ons waaksaamheid verslap en voor Satan, die wêreld of ons onvolmaakte vlees swig, sal ons die vreugde verloor wat uit ’n hegte verhouding met Jehovah voortspruit. Dit is nou belangriker as ooit tevore om wakker te wees om die dinge toe te pas wat ons by die gemeentelike vergaderinge en byeenkomste sowel as deur die organisasie se ander voorsieninge leer. Die wêreld waarin ons lewe, is ’n gevaarlike plek wat aanhoudend verander. Ons moet op en wakker wees om die raad toe te pas wat Jehovah liefdevol deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien en moet besef dat dit voedsel op die regte tyd is.—Matt. 24:45-47.
6 Die huidige program vir ons spesiale byeenkomsdag bevat ’n oorvloed van goeie informasie oor hoe ons as een kudde kan vasstaan. Praktiese wenke word gegee oor hoe ons ondermynende invloede, soos ontmoedigende omstandighede, die wêreld se onaf hanklike gees en tydrowende afleidings, kan bestry. Pas ons die goeie raad toe om ten volle op Jehovah en sy weë te vertrou, teokratiese gesag te erken en ons daaraan te onderwerp, nederig en beskeie te wees en die geleë tyd vir teokratiese aktiwiteite uit te koop? (Miga 6:8, vgl. NW; Ef. 5:15, 16; Hebr. 6:10; 13:17). Help gesinslede mekaar om ’n Christelike lewenstyl te volg? In ons keuse van ontspanning, ons gewoontes en ons daaglikse roetine moet ons ons laat lei deur die raad wat ons uit die Skrif ontvang. Tensy ons ’n ywerige poging aanwend om die dinge wat ons geleer het toe te pas, sal ons min of geen geestelike vooruitgang maak en sal ons gemoedsrus en geluk benadeel word.—Filip. 4:7-9; Jak. 1:22-25.
7 ’n Doelbewuste poging is nodig om persoonlike studie en gesinstudie te doen. Die Watch Tower Publications Index verwys ons na breedvoerige informasie oor die toepassing van Bybelbeginsels. Die Jongmense vra-boek is ’n uitstekende hulpmiddel wat ouers kan gebruik om hulle kinders te help om die probleme van vandag se ingewikkelde sataniese wêreld die hoof te bied. As ons sulke raad bestudeer, sal ons dinge uit Jehovah se oogpunt begin beskou en deur regverdige beginsels gelei word. As ons dit nie doen nie, is ons soos ’n sieke wat medisyne het maar dit nie gebruik nie, al weet hy dat dit sy kwaal sal genees. Gereelde persoonlike studie en gesinstudie sal ons geloof laat toeneem en ons die krag gee om te volhard. In tye van beproewing sal ons geloof nie verflou sodat ons die waarheid versaak nie.—Matt. 13:6; Luk. 8:13, NAV; Hebr. 2:1.
8 Ouere manne en bedieningsknegte moet ’n voorbeeld stel wat beheer oor hulle eie huis betref. Dit sal behels dat hulle hul vrouens en kinders help om die dinge toe te pas wat hulle uit God se Woord en by sy organisasie leer sodat hulle geestelik sterk kan bly. Sodoende kan die hele gesin ’n voorbeeldige Christelike lewe lei en ander binne en buite die gemeente aanmoedig.—Ef. 6:4; 1 Tim. 3:4, 12, 13.
WIE GEHELP MOET WORD
9 Onder diegene wat elke jaar die Gedenkmaal bywoon, is baie wat verder aangemoedig moet word om toe te pas wat hulle leer en om daadwerklik met die organisasie om te gaan. Ons kan liefdevolle bedagsaamheid teenoor ons Bybelstudente toon deur hulle te leer hoe om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas en hoe om God se regverdige bevele uit te voer. Ons moet toon dat ons besorg is oor diegene wat vooruitgang maak en eendag ons broers en susters in die geloof sal word.
10 Enigeen wat ongereeld of onbedrywig geraak het, moet gehelp word om te besef dat dit belangrik is om weer gereeld aan die organisasie se bedrywighede te begin deelneem. Hulle moet die vrede en geluk herwin wat hulle vantevore geniet het toe hulle Jehovah met groter ywer gedien het (Joh. 13:17). As ons hulle help om weer hul waardering vir die waarheid op te bou en “aan God ’n lofoffer [te] bring”, sal hulle die dinge wat hulle leer, kan toepas en op die weg na die lewe kan bly.—Hebr. 13:15; sien Ons Koninkryksdiens vir September 1979, bladsy 11, en April 1977, bladsy 1.
11 God se hele volk moet tred hou met die vinnige vooruitgang van Jehovah se progressiewe organisasie. Ons kan nie nou onverskillig raak nie. Ons moet altyd ons geestelikheid behou deur op hoogte te bly van die jongste informasie wat God se organisasie voorsien en nie te talm om dit toe te pas nie. Dit verg ywerige inspanning en soms persoonlike opofferinge. Maar Jehovah vereis nie wat ons nie in staat is om te doen nie. Hy is ons Skepper en hy weet wat vir ons die beste is. Laat ons dus toon dat ons wys is deur voort te gaan om deur Jehovah geleer te word en die dinge wat ons leer toe te pas. Dit sal hom verheerlik en tot ons ewige voordeel strek.—Jes. 48:17; 54:13.