Verkondig die goeie nuus met vrymoedigheid
1 Ware Christene was nog altyd bekend vir hulle vrymoedigheid. Die apostels Petrus en Johannes is treffende voorbeelde hiervan. Hierdie apostels het ondanks gevangesetting en dreigemente voortgegaan om die waarheid onverskrokke en met vrymoedigheid te spreek (Hand. 4:18-20, 23, 31b). Paulus het ook met vrymoedigheid sy bediening in moeilike gebied voortgesit, al het hy baie vervolging ondervind.—Hand. 20:20; 2 Kor. 11:23, 28.
2 Hoe kon die apostels, sowel as ander Christene wat deur die eeue heen geleef het, ondanks groot beproewing voortgaan om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig? Die apostel Paulus beantwoord hierdie vraag in 1 Thessalonicense 2:2 (NAV), waar hy sê: “Ons God [het] ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig.” Om dieselfde rede kon Petrus en Johannes sowel as die ander dissipels die goeie nuus met vrymoedigheid verkondig. Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle hulle mededissipels alles vertel. In gebed het hulle Jehovah gesmeek om hulle die moed en krag te gee ‘om sy woord met alle vrymoedigheid te spreek’. God het hierdie gebed onmiddellik verhoor, want “hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek”.—Hand. 4:29, 31.
OPENBAAR VERTROUE IN JEHOVAH
3 Die apostels was vol vertroue dat Jehovah hulle steun. Al die beloftes wat Jehovah deur sy Woord gemaak het, is bewaarheid. En die wat nog in vervulling moes gaan, is deur middel van Jesus Christus gewaarborg. Het ons hierdie selfde vertroue om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig? Hoewel ons nie in tale praat of die siekes genees nie, het ons nietemin oorvloedige bewys dat Jehovah ons steun. Word ons aangespoor om die goeie nuus van God se Koninkryk met vrymoedigheid te verkondig wanneer ons die vervulling van Bybelprofesieë sien?
4 Ons moet egter verwag dat sulke moedige prediking teëgestaan sal word (Joh. 15:20). Dit was die geval met Jesus en die eerste-eeuse Christene. Maar dit het hulle nie gehinder of die ywer waarmee hulle gepreek het, gedemp nie. Trouens, sulke teenstand het hulle dikwels groter geleenthede gebied om die goeie nuus van die Koninkryk te versprei (Hand. 4:3, 8-13a). Omdat ons as Christene bly by wat God se Woord oor lewensbelangrike geskille sê, word ons dikwels gevra om ’n rede vir ons standpunt te gee. Ons beskou sulke gevalle as geleenthede om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig. Sodoende volg ons Jesus Christus en sy apostels na.
5 Hulppionierdiens bied ons groter geleenthede om die goeie nuus bekend te maak. Baie sal gedurende April en Mei aan die hulppionierdiens deelneem, terwyl ander reël om dit gedurende ander maande te doen. Sal jou omstandighede jou toelaat om aansoek te doen? As ons ons inspan om aan die hulppionierdiens deel te neem, bewys ons dat ons soos Paulus en Barnabas is. Handelinge 14:3 sê dat hulle ‘’n geruime tyd vrymoediglik gespreek het in die Here’.As ons tyd wat ons gewoonlik aan ander bedrywighede bestee, kan uitkoop om gedurende een maand minstens 60 uur aan die veldbediening te wy, sal ons seëninge ongetwyfeld toeneem.
6.Vrymoedigheid in die bediening is veral nuttig wanneer ons intekeninge aanbied. Die tydskrifte bevat ’n lewensreddende boodskap wat op God se Woord gebaseer is. Laat ons dus nie aarsel nie maar ons Voorbeeld, Jesus, en sy apostels navolg deur met vrymoedigheid te preek.