Vaevuur
Definisie: “Volgens die leer van die [Rooms-Katolieke] Kerk is dit die staat, plek of toestand in die hiernamaals . . . waar die siele van diegene wat in genade sterf, maar nog nie vry van alle onvolmaaktheid is nie, boete doen vir daaglikse sondes wat nog nie vergewe is nie of die tydelike straf vir daaglikse en dodelike sondes wat reeds vergewe is, ondergaan en sodoende gesuiwer word voordat hulle die hemel binnegaan” (New Catholic Encyclopedia, 1967, Dl. XI, bl. 1034). Nie ’n Bybelleerstelling nie.
Waarop is die vaevuurleer gebaseer?
Nadat die New Catholic Encyclopedia (1967, Dl. XI, bl. 1034) hersien het wat Katolieke skrywers oor tekste soos 2 Makkabeërs 12:39-45, Mattheüs 12:32 en 1 Korinthiërs 3:10-15 gesê het, het dit erken: “Alles in oënskou geneem, berus die Katolieke leerstelling oor die vaevuur op oorlewering, nie op die Heilige Skrif nie.”
“Die kerk het op oorlewering staat gemaak vir steun vir ’n tussengrond tussen die hemel en die hel.”—U.S. Catholic, Maart 1981, bl. 7.
Wat sê Katolieke woordvoerders oor die aard van die vaevuur?
“Baie meen dat al die lyding in die vaevuur bestaan in die wete dat die salige gesig tydelik uitgestel is, hoewel die algemener beskouing is dat daar boonop daadwerklike straf is . . . In die Latynse Kerk word daar gewoonlik volgehou dat hierdie pyn deur werklike vuur veroorsaak word. Dit is egter nie noodsaaklik vir geloof in die vaevuur nie. Daar bestaan nie eers sekerheid daaroor nie. . . . Selfs al verkies ’n mens om soos die teoloë van die Ooste die gedagte van lyding weens vuur te verwerp, moet jy oppas dat jy nie alle positiewe lyding in die vaevuur uitsluit nie. Daar is steeds werklike smart, droefheid, verdriet, gewetenswroeging en ander geestelike smarte wat die siel ware pyn kan laat ondergaan. . . . Maar ’n mens moet onthou dat hierdie siele, te midde van hulle foltering, ook groot vreugde ondervind oor die sekerheid van redding.”—New Catholic Encyclopedia (1967), Dl. XI, bl. 1036, 1037.
“Dit is hoogs onseker wat in die vaevuur aangaan.”—U.S. Catholic, Maart 1981, bl. 9.
Lewe die siel voort nadat die liggaam gesterf het?
Eseg. 18:4: “Die siel [Hebreeus, nêfêsj; “siel”, NW, Dy, Kx; “mens”, NAV; JB] wat sondig, dié moet sterwe.”
Jak. 5:20: “Laat hy weet dat die een wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ’n siel uit die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek.” (Let op dat dit hier van die dood van die siel praat.)
Kyk onder “Dood” en “Siel” vir nadere besonderhede.
Word ’n mens ná jou dood nog verder vir sondes gestraf?
Rom. 6:7: “Hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.”
Kan die dooies vreugde ondervind weens die sekerheid dat redding op hulle wag?
Pred. 9:5: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.”
Jes. 38:18: “Die doderyk sal U [Jehovah] nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie.” (Hoe kan enige van hulle dan “groot vreugde ondervind oor die sekerheid van redding”?)
Hoe word ’n mens volgens die Bybel van sonde gereinig?
1 Joh. 1:7, 9: “As ons in die lig wandel soos Hy [God] in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. . . . As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Openb. 1:5, NAV: “Uit liefde vir ons het Hy [Jesus Christus] ons deur sy bloed van ons sondes verlos.”