Siel
Definisie: In die Bybel is “siel” ’n vertaling van die Hebreeuse nêfêsj en die Griekse psu·chè. Die wyse waarop die Bybel die woord gebruik, toon dat die siel ’n persoon of ’n dier is, of die lewe wat ’n persoon of ’n dier geniet. Maar vir baie beteken “siel” die onstoflike of geestelike deel van ’n menslike wese wat ná die dood van die fisiese liggaam voortleef. Ander meen dat dit die lewensbeginsel is. Hierdie laasgenoemde beskouings is egter nie Bybelleerstellings nie.
Wat sê die Bybel wat ons help om te begryp wat die siel is?
Gen. 2:7: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” (Let daarop dat dit nie sê dat daar vir die mens ’n siel gegee is nie, maar dat hy ’n siel, ’n lewende persoon, geword het.) (Die deel van die Hebreeuse woord wat hier met “siel” weergegee word, is nêfêsj. KJ, AS en Dy gee dit ook so weer. RS, JB, NAB en NAV sê “wese”. NE sê “skepsel”. Kx sê “persoon”.)
1 Kor. 15:45: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees.” (Die Christelike Griekse Skrifte stem dus met die Hebreeuse Skrifte saam oor wat die siel is.) (Die Griekse woord wat hier met “siel” vertaal is, is die akkusatief van psu·chè. KJ, AS, Dy, JB, NAB en Kx sê ook “siel”. RS, NE, TEV en NAV sê “wese”.)
1 Pet. 3:20: “In die dae van Noag . . . is . . . weinig, dit is agt, siele deur water heen gered.” (Die Griekse woord wat hier met “siele” vertaal word, is psu·chaiʹ, die meervoudsvorm van psu·chè. KJ, AS, Dy en Kx sê ook “siele”. JB en TEV sê “mense”; RS, NE en NAB gebruik “persone”.)
Gen. 9:5, NW: “Bowendien sal ek julle bloed van julle siele [of, “lewens”; Hebreeus, uit nêfêsj] terugeis.” (Hier word daar gesê dat die siel bloed het.)
Jos. 11:11: “Hulle het al die siele [Hebreeus, nêfêsj] wat daarin was, met die skerpte van die swaard verslaan.” (Dit toon hier dat die siel iets is wat met ’n swaard bygekom kan word; hierdie siele kon gevolglik nie geeste wees nie.)
Waar sê die Bybel dat diere siele is?
Gen. 1:20, 21, 24, 25: “God het gesê: Laat die waters wemel met ’n gewemel van lewende wesens* . . . En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. . . . En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens* voortbring volgens hulle soorte: . . . En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte.” (*In Hebreeus is die woord hier nêfêsj. NW en Ro sê “siel[e]”. Sommige vertalings gebruik “skepsel[e]”.)
Lev. 24:17, 18, NW: “Ingeval ’n man enige mensesiel [Hebreeus, nêfêsj] doodslaan, moet hy sekerlik gedood word. En wie die siel [Hebreeus, nêfêsj] van ’n huisdier doodslaan, moet vergoeding daarvoor gee, siel vir siel.” (Let daarop dat dieselfde Hebreeuse woord vir siel vir mense sowel as diere gebruik word. In Psalm 74:19 word hierdie Hebreeuse woord, nêfêsj, met ‘siel’ vertaal.)
Openb. 16:3, NW: “Dit het bloed geword soos van ’n dooie, en elke lewende siel* het gesterf, ja, die dinge wat in die see was.” (Die Christelike Griekse Skrifte toon dus ook dat diere siele is.) (*In Grieks is die woord hier psu·chè. KJ, AS en Dy vertaal dit met “siel”. Sommige vertalers gebruik die woord “skepsel” of “ding”.)
Erken ander geleerdes wat nie Jehovah se Getuies is nie dat dit is wat die Bybel sê die siel is?
“Daar is geen digotomie [tweeledigheid] van die liggaam en siel in die O[u] T[estament] nie. Die Israeliet het dinge konkreet, in hulle geheel, beskou en het mense dus as persone en nie as samestellings beskou nie. Hoewel die woord nepeš [nêfêsj] met ons woord siel vertaal word, beteken dit nooit siel onderskeie van die liggaam of die individuele persoon nie. . . . Die term [psu·chè] is die woord in die N[uwe] T[estament] wat met nepeš ooreenkom. Dit kan die lewensbeginsel, die lewe self of die lewende wese beteken.”—New Catholic Encyclopedia (1967), Dl. XIII, bl. 449, 450.
“Die Hebreeuse term vir ‘siel’ (nêfêsj, dit wat asemhaal) is deur Moses gebruik . . . , dit sien op ’n ‘lewende wese’ en is eweseer van toepassing op nie-menslike wesens. . . . Die Nieu-Testamentiese gebruik van psuchè (‘siel’) kom ooreen met nêfêsj.”—The New Encyclopædia Britannica (1976), Macropædia, Dl. 15, bl. 152.
“Die opvatting dat die siel ná die dood van die liggaam voortbestaan, is ’n saak van filosofiese of teologiese bespiegeling eerder as van eenvoudige geloof, en word dienooreenkomstig nêrens uitdruklik in die Heilige Skrif geleer nie.”—The Jewish Encyclopedia (1910), Dl. VI, bl. 564.
Kan die mensesiel sterf?
Eseg. 18:4: “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel* wat sondig, dié moet sterwe.” (*Die Hebreeus sê “die nêfêsj”. KJ, AS, RS, NE en Dy gee dit weer met “siel”. Sommige vertalings sê “die mens” of “die persoon”.)
Matt. 10:28: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel [of, “lewe”] nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel* sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [“Gehenna”, NW].” (*Die Grieks bevat die akkusatief van psu·chè. KJ, AS, RS, NE, TEV, Dy, JB, NAB en NAV gee dit almal met “siel” weer.)
Hand. 3:23: “Elke siel [Grieks, psu·chè] wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.”
Is dit vir mensesiele (mense) moontlik om vir ewig te lewe?
Kyk bladsye 268-272, onder “Lewe”.
Is die siel dieselfde as die gees?
Pred. 12:7: “[Voordat] die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees [of, lewenskrag; Hebreeus, rûach] na God terugkeer wat dit gegee het.” (Let op dat die Hebreeuse woord vir gees rûach is, terwyl die woord wat met siel vertaal word nêfêsj is. Die teks beteken nie dat die gees by die dood letterlik terugkeer na die persoonlike teenwoordigheid van God nie; maar enige vooruitsig vir die persoon om weer te lewe, berus by God. Ons bedoel iets soortgelyks wanneer ons sê dat ’n stuk eiendom na die vorige eienaar “terugkeer” indien die koper nie die nodige paaiemente betaal nie.) (KJ, AS, RS, NE, Dy en NAV gee rûach almal hier met “gees” weer. NAB sê “lewensasem”.)
Pred. 3:19: “Die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem [“gees”, NW, Ro, Yg; Hebreeus, rûach].” (Mense sowel as diere het dus dieselfde rûach of gees. Kyk bladsy 147 vir kommentaar oor verse 20, 21.)
Hebr. 4:12: “Die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel [Grieks, psu·chesʹ] en gees [Grieks, pneuʹma·tos] en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Let op dat die Griekse woord vir “gees” nie dieselfde as die woord vir “siel” is nie.)
Bestaan ’n persoon bewus voort nadat die gees die liggaam verlaat het?
Ps. 146:4: “Sy gees [Hebreeus, uit rûach] gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (NW, NAB, Ro en Yg gebruik hier die woord “gees”. Sommige vertalings sê “asem”.) (Ook Psalm 104:29, NW)
Wat is die oorsprong van die Christendom se geloof in ’n onstoflike, onsterflike siel?
“Die Christelike begrip van ’n geestelike siel wat deur God geskep is en tydens bevrugting in die liggaam gesit word om die mens ’n lewende geheel te maak, is die produk van ’n lang ontwikkeling in die Christelike filosofie. Dit was eers met Origenes [oorlede c. 254 G.J.] in die Ooste en St. Augustinus [oorlede 430 G.J.] in die Weste dat die siel aanvaar is as ’n geestelike substansie en daar ’n filosofiese begrip van sy aard gevorm is. . . . Sy [Augustinus se] leer . . . was baie (onder meer sommige tekortkominge) verskuldig aan Neoplatonisme.”—New Catholic Encyclopedia (1967), Dl. XIII, bl. 452, 454.
“Die begrip van onsterflikheid is ’n produk van Griekse denke, terwyl die hoop op ’n opstanding tot Joodse denke behoort. . . . Ná Alexander se verowerings het Judaïsme gaandeweg Griekse begrippe oorgeneem.”—Dictionnaire Encyclopédique de la Bible (Valence, Frankryk; 1935), geredigeer deur Alexandre Westphal, Dl. 2, bl. 557.
“Die onsterflikheid van die siel is ’n Griekse opvatting wat in antieke misteriekultusse ontstaan het en waarop die filosoof Plato uitgebou het.”—Presbyterian Life, 1 Mei 1970, bl. 35.
“Glo ons dat daar so iets soos die dood is? . . . Is dit nie die skeiding van siel en liggaam nie? En om dood te wees, is die voltooiing hiervan; wanneer die siel op sy eie bestaan en van die liggaam vrygestel is en die liggaam vrygestel is van die siel, wat is dit anders as die dood? . . . En kan die siel sterf? Nee. Is die siel dan onsterflik? Ja.”—Plato se “Phaedo”, Dele 64, 105, soos gepubliseer in Great Books of the Western World (1952), geredigeer deur R. M. Hutchins, Dl. 7, bl. 223, 245, 246.
“Soos ons gesien het, het die probleem rakende onsterflikheid die ernstige aandag van die Babiloniese teoloë geniet. . . . Nòg die volk nòg die godsdiensleiers het ooit die moontlikheid dat dit wat eens in aansyn geroep is geheel en al vernietig kon word onder die oë gesien. Die dood was ’n oorgang na ’n ander soort lewe.”—The Religion of Babylonia and Assyria (Boston, 1898), M. Jastrow jr., bl. 556.
Kyk ook bladsye 86-88, onder “Dood”.