Hoofstuk 23
Nog wonderwerke in Kapernaüm
DIE Sabbat ná Jesus sy eerste vier dissipels—Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes—geroep het, gaan hulle almal na ’n plaaslike sinagoge in Kapernaüm. Daar begin Jesus die mense onderrig, en hulle is verslae, want hy leer hulle soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.
Op hierdie Sabbat is ’n demonbesetene teenwoordig. Ná ’n ruk roep hy met ’n harde stem uit: “Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasarener? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!”
Die demon wat oor die man beheer het, is in werklikheid een van Satan se engele. Jesus bestraf die demon en sê: “Bly stil en gaan uit hom uit!”
Wel, die demon laat die man stuiptrekkings kry en gil luidkeels. Maar hy gaan uit die man uit sonder om hom seer te maak. Almal is eenvoudig verbaas! “Wat is dit?” vra hulle. ‘Hy gee ook met gesag aan die onreine geeste bevel en hulle gehoorsaam hom.’ Die nuus hieromtrent versprei in die hele omtrek.
Jesus en sy dissipels verlaat die sinagoge en gaan na die huis van Simon, of Petrus. Daar is Petrus se skoonmoeder baie siek met ’n hoë koors. ‘Help haar asseblief’, smeek hulle. Jesus gaan dus na haar toe, neem haar hand en rig haar op. Sy is dadelik genees en begin ’n ete vir hulle berei!
Later, na sononder, kom mense van oral af met hulle siekes na Petrus se huis toe. Die hele stad staan kort voor lank voor die deur saamgedrom! En Jesus genees al hulle siekes, ongeag wat hulle kwaal is. Hy bevry selfs die demonbesetenes. Wanneer hulle uitgaan, skreeu die demone wat hy uitdryf: ‘U is die Seun van God!’ Maar Jesus bestraf hulle en laat hulle nie toe om te praat nie omdat hulle weet dat hy die Christus is. Markus 1:21-34; Lukas 4:31-41; Mattheüs 8:14-17.
▪ Wat gebeur in die sinagoge op die Sabbat ná Jesus sy vier dissipels geroep het?
▪ Waarheen gaan Jesus wanneer hy die sinagoge verlaat, en watter wonderwerk verrig hy daar?
▪ Wat gebeur later daardie selfde aand?