Jesus se lewe en bediening
Waarom Jesus aarde toe gekom het
SOOS ons in die vorige nommer van hierdie tydskrif geleer het, het Jesus ’n besige dag saam met sy vier dissipels in Kapernaüm gehad. Hy het eerstens die demonbesete man in die sinagoge genees, toe het hy Petrus se skoonmoeder by Petrus se huis genees, en daardie aand het die mense van Kapernaum al hulle siekes na hom toe gebring om te genees. Daar was geen tyd vir privaatheid nie.
Nou is dit vroeg die volgende oggend. Terwyl dit nog donker is, staan Jesus op en gaan alleen uit. Hy vertrek na ’n eensame plek waar hy in privaatheid tot sy Vader kan bid. Maar Jesus se privaatheid is van korte duur, want toe Petrus en die ander besef dat hy weg is, gaan soek hulle na hom.
Toe hulle Jesus vind, sê Petrus: “Almal soek U.” Die mense van Kapernaüm wil hê dat Jesus by hulle moet bly. Hulle waardeer wat hy vir hulle gedoen het! Maar het Jesus aarde toe gekom hoofsaaklik om wonderdadige genesings te verrig? Wat sê hy?
Volgens een Bybelverslag antwoord Jesus sy dissipels: “Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek; want daarvoor het Ek uitgegaan.” Hoewel die mense by Jesus aandring om te bly, sê hy vir hulle: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.”
Ja, Jesus het in die besonder aarde toe gekom om te preek oor God se Koninkryk wat sy Vader se naam sal regverdig en vir ewig alle menslike kwale uit die weg sal ruim. Maar om te bewys dat hy deur God gestuur is, verrig Jesus wonderdadige genesings. Moses het eeue tevore op dieselfde manier wonderwerke verrig om sy getuigskrifte as God se kneg te bevestig.
Toe Jesus Kapernaüm verlaat om in ander stede te preek, gaan sy vier dissipels saam met hom. Hulle is Petrus en sy broer Andreas, en Johannes en sy broer Jakobus. Jy sal onthou dat hulle net die vorige week genooi is om Jesus se eerste reisende medewerkers te wees.
Jesus se predikingstoer van Galilea saam met sy vier dissipels is ’n wonderlike sukses! Trouens, die gerug oor sy bedrywighede versprei selfs oor die hele Sirië. Groot skares van Galilea, Judea en van oorkant die Jordaanrivier volg Jesus en sy dissipels. Markus 1:35-39; Lukas 4:42, 43; Mattheüs 4:23-25; Exodus 4:1-9, 30, 31.
♦ Wat gebeur die oggend na Jesus se besige dag in Kapernaüm?
♦ Waarom is Jesus aarde toe gestuur, en wat was die doel van sy wonderwerke?
♦ Wie het Jesus op sy predikingstoer deur Galilea vergesel, en wat was die reaksie op Jesus se bedrywighede?