Ons moet God se Woord aanneem, toepas en daarby baat vind
1 Hoewel miljoene mense hulle eie Bybel het, aanvaar baie dit nie as die Woord van God nie, die meeste pas nie die wyse raad daarin toe nie en gevolglik vind min daarby baat. Maar Jehovah se volk glo waarlik dat dit die Woord van God is en dat dit vir alle dinge nuttig is (2 Tim. 3:16, 17). Daarom is die tema van die kringbyeenkomsprogram vir die 1993-diensjaar “Die aanneming, toepassing en voordele van God se Woord”.
2 Daar sal toesprake, demonstrasies, tonele, ondervindinge en onderhoude wees om ons aan te moedig, ons waardering vir God se Woord te verdiep en ons te help om dit in ’n voller mate in alle aspekte van ons lewe toe te pas. Die Saterdagmiddagprogram sal raad en dissipline binne die gesinskring in verband met vermaak, assosiasie en materialisme bespreek. Die program sal toon hoe ons anders as die wêreld moet wees en hoe ons nie die slegte maniere en oneerbiedige of vuil taal van die wêreld moet navolg nie. Daarbenewens sal daar aanmoediging gegee word waarby enkelouers en vaderlose kinders kan baat vind.
3 Pas toegewyde persone sal ook Saterdag die geleentheid hê om hulle te laat doop nadat hulle na ’n skriftuurlike toespraak oor die onderwerp geluister het. Diegene wat beplan om by die kringbyeenkoms gedoop te word, moet die presiderende opsiener van die gemeente so gou moontlik daarvan sê sodat hy genoeg tyd sal hê om te reël dat ouere manne die vrae vir doopkandidate met hulle bespreek.
4 Die Sondagoggendprogram sal maniere ondersoek waarop ons kan toon dat ons anders as die wêreld is deur in ooreenstemming met God se Woord op te tree. Die belangrikheid van ons voorkoms en hoe ons kan keer dat ons verstand bedorwe raak, is van die onderwerpe wat bespreek gaan word. Die middag sal die streekopsiener die openbare toespraak “Wat toon dat die Bybel eg is?” hou. Ons wil seker maak dat ons alle belangstellendes na hierdie uitstekende program uitnooi.
5 Julle kringopsiener sal julle laat weet wanneer en waar hierdie kringbyeenkoms sal wees, en ons moedig almal aan om teenwoordig te wees sodat ons die raad van God se Woord kan aanneem, toepas en daarby baat vind.—Jak. 1:22-25.