’n Studie van Die grootste mens wat nog geleef het
1 Gedurende die week van 12 Oktober gaan ons Die grootste mens wat nog geleef het by ons Gemeentelike Boekstudie begin bestudeer. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om die lewe en bediening van Jesus Christus te hersien! Aangesien die boek effens anders saamgestel is as ander boeke wat ons al bestudeer het, sal ’n paar riglyne nuttig wees.
2 Die boek het geen bladsynommers nie, en daarom sal die rooster wat in Ons Koninkryksbediening verskyn die hoofstukke aandui wat bestudeer gaan word, wat gewoonlik drie of vier elke week sal wees. Hoofstukke 35, 111 en 116 is lank en sal elk in twee studies verdeel word. Nadat ’n bekwame broer ’n hele hoofstuk gelees het (of ’n hele tussenhofie, soos in hoofstukke 35, 111 en 116), sal die studiehouer die vrae aan die einde van die hoofstuk vra wat ooreenstem met die hoofstuk of gedeelte wat pas gelees is. Die antwoorde in die hoofstuk kom nie altyd in dieselfde volgorde as die vrae voor nie. Kommentare moet kort en saaklik wees en op die materiaal in die hoofstuk gegrond wees.
3 Daarna moet alle teksverwysings aan die einde van die hoofstuk na gelang van die tyd gelees word. Lang teksverwysings kan in korter dele opgedeel word sodat verskeie verkondigers die geleentheid sal hê om tekste te lees, en dan kan kommentaar gelewer word op wat gelees is. Spesifieke vrae wat deur die studiehouer voorberei is, sal help om sinvolle antwoorde uit te lok wat toon hoe die tekste wat gelees is verband hou met die inligting wat in die boek beklemtoon word. Alle vrae en kommentare moet help om diegene wat teenwoordig is se aandag op Jesus Christus, sy lewe en sy leer te vestig.
4 Die Grootste mens-boek bespreek Jesus se lewe in chronologiese volgorde. As ’n mens die gebeure visualiseer en oplet na waar hulle plaasgevind het, sal dit jou grootliks help om hulle te onthou. Skenk dus aandag aan die kleurryke prente en verwys dikwels na die kaart wat voor in die boek ná die inleiding verskyn.
5 Die boek se inleiding sal gedurende die eerste week bespreek word. Nadat al die paragrawe onder die tussenhofie gelees is, sal die studiehouer gepaste vrae vra wat hy voorberei het. Hierdie inleidende bespreking sal die grondslag lê vir die studies wat ons gedurende die komende jaar sal hê. Die voorbereiding van almal wat die studie bywoon, sal grootliks bepaal hoe suksesvol die dekking van die materiaal sal wees. Die studiehouer veral moet elke week goed voorberei sodat hy die groep kan help om die grootste mens wat nog geleef het, ons Here en Redder, Jesus Christus, goed te leer ken.