Vind ten volle by die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms vir 1993 baat
1 “Onderrig my‚ o Jehovah” (Ps. 86:11, NW). Dit moet die ernstige bede van elke toegewyde kneg van God wees. Ons is vasbeslote om nooit op te hou leer en nooit op te hou om wat ons leer toe te pas nie. Dit is soms nodig dat ons reggehelp moet word en dat ons, soos die psalmis, God smeek om ons hart te verenig sodat dit nie verdeel sal word nie. Die program vir die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms sal praktiese onderrigting bevat en die nodige raad voorsien om Jehovah te midde van die druk van hierdie stelsel van dinge getrou te dien.
2 ’n Vierdaagse byeenkoms: Die program sal by 19 geskikte plekke in Suid-Afrika en in sy buurlande aangebied word. Bo en behalwe Engels sal die hele program in Afrikaans, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Xhosa en Zulu aangebied word, met party sessies in Grieks en Venda. Daar sal op drie plekke, naamlik Durban, Johannesburg en Kaapstad, sessies in gebaretaal aangebied word. Die program sal Donderdag om 1:20 nm. begin en Sondagmiddag om ongeveer 4:15 nm. afsluit. Die deure sal by elke byeenkoms om 7:30 soggens oopgemaak word. Neem asseblief kennis dat niemand toegelaat sal word om voor 7:30 vm. in te gaan nie, tensy hy ’n werkstoewysing het wat voor daardie tyd begin.
3 Wat lê vir ons voor? ’n Oorvloed vaste geestelike voedsel wat op ’n verskeidenheid maniere aangebied sal word: toesprake, demonstrasies, onderhoude en twee dramas. Moet niks van hierdie noodsaaklike onderrigting misloop nie! Daarbenewens sien ons daarna uit om ou bekendes weer te sien en baie nuwe vriende te maak. Sendelinge wat onder die Suid-Afrikaanse tak dien, sal julle byeenkoms moontlik bywoon. Maak van die geleentheid gebruik om hierdie getroue broers en susters te leer ken. As jy ’n ouer is, moet jy jou kinders by die gesprek betrek. Die vreugdevolle en selfopofferende gees van hierdie sendelinge kan die grondslag vir jou kinders lê om ’n loopbaan in die voltydse diens te oorweeg.
4 Sal jy die hele tiende na die skathuis bring? In Maleagi 3:10 het Jehovah die Israeliete belowe dat as hulle bereid sou wees om hom op die proef te stel en die hele tiende na die skathuis te bring, hy ’n oorvloedige seën op hulle sou uitstort.
5 Om Jehovah op die proef te stel, sal beteken dat sommige hulle werkgewer so gou moontlik moet nader om vakansie of verlof te vra om die byeenkoms by te woon. Broers was soms al huiwerig om dit te doen omdat hulle aangeneem het dat hulle werkgewer nooit sou instem dat hulle ’n byeenkoms bywoon nie. Tog, wanneer dit kom by sake wat nie geestelike dinge behels nie, het hulle min of geen probleem om hulle werkgewer in kennis te stel van wat hulle wil doen.
6 Ons behoort ons af te vra: Sal ons nie ons werkgewer nader en verlof vra om ’n troue by te woon as ’n goeie vriend elders trou nie? En as dit lyk of hy aarsel, sal ons nie eerbiedig verduidelik hoeveel dit vir ons sal beteken om te kan gaan nie? Dit is tog sekerlik belangriker om deur Jehovah geleer te word as om ’n troue by te woon! As ons werklik oortuig is dat die byeenkomsprogram noodsaaklik vir ons geestelike vooruitgang is, sal dit makliker wees om ons werkgewer te oortuig dat hy ons verlof moet gee om die byeenkoms by te woon.—Jak. 1:7, 8.
7 In Israel het die tiende uit die materiële onderhoud van Jehovah se plek van aanbidding bestaan. In ons dag verteenwoordig die tiende die tyd, energie en finansies wat direk in Jehovah se diens en ter ondersteuning van die Koninkrykswerk gebruik word. Die tiende sluit die tyd in wat ons by vergaderinge en kring- en streekbyeenkomste bestee asook om ons vergaderplekke in stand te hou en skoon te maak. Die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms sal ons talle geleenthede bied om die hele tiende na Jehovah se geestelike skathuis te bring. Wat is sommige daarvan?
8 Ons kan die tiende bring deur aandagtig na die byeenkomsprogram te luister, elke Koninkrykslied geesdriftig saam te sing en versigtig na elke gebed te luister sodat ons uit ons hart kan amen sê.
9 Ons vooruitgang in die waarheid hang in ’n aansienlike mate af van hoe ons luister. In ’n groot ouditorium of stadion kan ons aandag maklik afgetrek word deur wat ander om ons doen, en daarom moet ons ons gedagtes by die program bepaal. Maak seker dat jy ten volle voorbereid na die byeenkoms toe kom met jou Bybel, liedereboek, pen en papier en Die Wagtoring wat ons daardie week gaan bestudeer. Dit is nuttig om van elke spreker se gedagtes en tekste aantekeninge te maak. Hou die aantekeninge kort; as jy te veel aantekeninge maak, kan dit jou konsentrasie belemmer. Kinders moet ook opgelei word om aandagtige luisteraars te wees. Kinders kan saam met hulle ouers die tiende bring deur die program so noukeurig moontlik te volg.
10 Party ouers reël elke dag ’n stiltetyd tuis wanneer daar van die kinders verwag word om te lees of na die prente in een van die Genootskap se publikasies te kyk. Hierdie goeie opleiding maak dit baie makliker vir die kinders om gedurende vergaderinge en byeenkomste stil te sit. Ouers wat voorbeeldige kinders grootgemaak het, sê dat hulle nooit hulle kinders toelaat om speelgoed of inkleurboeke na die vergadering te bring nie. Selfs baie jong kinders kan leer dat hulle vergaderinge bywoon om Jehovah te aanbid. Ouers wat hulle kinders leer wat dit beteken om die hele tiende na die skathuis te bring, is werklik prysenswaardig!
11 Ons kan ook die tiende bring deur ons tyd en energie aan te bied om die byeenkomsorganisasie te ondersteun. By die meeste byeenkomste word reëlings vir skoonmaakwerk getref ’n dag of twee voor die byeenkoms sal begin. As jy naby woon, kan jy gerus reël dat die hele gesin daaraan deelneem. Party broers het hulle progressiewe Bybelstudente saamgebring sodat hierdie nuwelinge selfs voor hulle doop kan leer wat dit behels om Jehovah se aanbidding te ondersteun. Daar is baie wat gedoen kan word om te verseker dat die byeenkoms vlot sal verloop. Bied gerus as ’n gesin julle dienste aan.
12 Ons finansiële ondersteuning van die byeenkoms is nog ’n manier waarop ons die tiende kan bring. Ter verduideliking van hoe materiële geskenke ware aanbidding moet ondersteun, het Jehovah die nasie Israel beveel: “Hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie; elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het” (Deut. 16:16, 17). Of die volk baie of ’n bietjie kon gee, hulle offergawe wat hulle vooraf gereed moes kry, het Jehovah behaag. Net so oorweeg baie broers biddend die bydrae wat hulle sal maak, of dit nou kontant is of ’n tjek (uitgemaak aan “Watch Tower Convention”). Laat julle ooit julle kindertjies ’n bydrae in die bydraebus gooi?
13 Versier die leer van ons Verlosser, God: Deur ons goeie maniere en puik gedrag kan ons “die leer van God, ons Verlosser, in alles . . . versier” (Tit. 2:10). Ons kan met ander woorde daar bý die byeenkoms toon dat ons Goddelike onderrigting in ons lewe toepas.
14 Wat van ons maniere? Bedagsaamheid teenoor ander is vandag iets ongewoons in die wêreld. Maar Jehovah se volk, wat deur skriftuurlike beginsels gelei word, dink nie aan hulle eie belange nie, maar aan dié van hulle medemens (Filip. 2:4). Ons is bewus van ander om ons. Ons stamp en stoot nie wanneer ons in ’n ry staan vir voedsel of publikasies nie. Ons is bedagsaam teenoor bejaardes en kindertjies wat dalk saam met hulle ouers in ’n ry wag en maklik deur grootmense gestamp kan word wat hulle miskien nie sien nie. In restaurante is ons vriendelik en beleef teenoor die personeellede, nie onbeskof en veeleisend as die diens nie aan ons verwagting voldoen nie.
15 Ons godvrugtige gedrag maak ’n groot indruk op diegene om ons. In een byeenkomsstad verlede jaar het ’n polisieman wat al 21 jaar in die mag is, gesê: “Ek is beïndruk deur julle mense se dissipline. [Hulle is] uitsonderlik; hulle tel rommel op sonder dat enigeen hulle vra en hulle is ordelik. Julle byeenkoms is goed georganiseer.” Hy het bygevoeg: “Wanneer julle mense ons sien, glimlag hulle. Dis ’n goeie teken. Dis wat ons wil sien. Dis ’n teken van vriendelikheid en dat hulle niks het om weg te steek nie. En ons let ook op dat die kinders by hulle ouers is en goed gedissiplineer is. Glo my, ek is beïndruk. Dis aangenaam om hierheen toegewys te word.”
16 ’n Paar amptenare het spesiaal na die Brooklynse Bethel gereis om die Genootskap uit te nooi om ’n byeenkoms in hulle stad te hou. Die Genootskap het die vriendelike uitnodiging aanvaar en die stadsvaders is nie teleurgestel nie. Die onderburgemeester het gesê: “Ons is baie opgewonde dat so ’n invloedryke groep soos julle in ons stad byeenkom. Ons het baie moeite gedoen om julle hier te kry . . . en ons is baie in ons skik hieroor.” Deur hulle puik gedrag het elke broer en suster bygedra tot die uitstekende getuienis wat daar gegee is.
17 Sal jy persoonlik die leer van ons Verlosser, God, deur jou voorbeeldige gedrag versier? Hier is ’n paar maniere waarop dit gedoen kan word:
Kleredrag en persoonsversorging: Terwyl ons ’n byeenkoms bywoon, moet ons nie dink dat ons met vakansie is nie. Ons is eerder daar om ons vir Jehovah aan te bied om deur hom geleer te word. Behoort ons nie, aangesien dit die geval is, aan te trek soos wanneer ons vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon nie? (1 Tim. 2:9, 10). Daarbenewens moet ons goed nadink oor wat ons ná die sessies gaan dra. Sal ons, ongeag ons ouderdom, beginselvas wees as ons by ons huisvesting ons beskeie, waardige byeenkomsklere verruil vir klere wat ons soos slordig geklede en onversorgde wêreldlinge laat lyk? Sal dit nie die indruk skep dat ons vergaderingklere niks anders as ’n kostuum is nie, pleks van ’n weerspieëling van ons lewenswyse? Onthou dat ons die naam van Jehovah dra en dat ons almal moet toesien dat geen gegronde aantygings teen die weg van die waarheid ingebring word nie.
Doopkandidate moet onthou dat dit onvanpas is om by so ’n plegtige geleentheid T-hemde met wêreldse slagspreuke, leuses of advertensies daarop te dra. Die ouere manne moet seker maak dat hulle die doopvrae vroegtydig met die doopkandidate bespreek en dat elkeen vroegtydig weet of hy goedgekeur is om gedoop te word of nie. (Wanneer die vrae bespreek word, is dit dalk ’n goeie tyd om wenke te gee oor gepaste, beskeie kleredrag vir die doop.) Dit sal nie vir doopkandidate wat deur die ouere manne goedgekeur is nodig wees om hulle by die byeenkoms te registreer nie.
Hotelle: Openbaar die vrugte van die gees wanneer julle by julle hotel registreer. Hotelpersoneel is dalk nie toegerus om ’n groot groep mense in ’n kort tydjie te hanteer nie. Wees geduldig, empatiek en gee ’n gepaste fooitjie.
Kinders kan hulle deel doen deur die hotel se eiendom te respekteer en reëls in verband met die gebruik van die swembad en ander fasiliteite te gehoorsaam. Dit sal nuttig wees as ouers voor die byeenkoms tyd met hulle kinders kan bestee om met hulle te bespreek hoe hulle hulle moet gedra, en hulle te herinner aan hulle persoonlike verantwoordelikheid om in ooreenstemming met Christelike gedragstandaarde op te tree.
Opneemapparate: Hoewel videokameras en bandopnemers toegelaat word, weet ons dat jy ander in ag sal neem. Dit sal nie liefdevol wees om medebyeenkomsgangers se uitsig te belemmer terwyl ons die program opneem nie. As jy vanuit jou sitplek kan opneem, sal daar geen beswaar wees nie. Hou asseblief in gedagte dat geen kameras of opneemapparate aan die elektriese- of klankstelsel by die byeenkoms gekoppel mag word nie, en geen toerusting mag in die paadjies of in die loopareas geplaas word nie.
Sitplekke: Hou asseblief in gedagte dat SITPLEKKE SLEGS GEHOU MAG WORD VIR JOU EIE GESIN EN ENIGIEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Sitplekke wat spesiaal vir die bejaardes en diegene met gebreke gereserveer word, sal by al die byeenkomste beskikbaar wees. Wees asseblief bedagsaam teenoor die bejaardes. In die verlede moes party bejaarde broers op ongerieflike plekke probeer sitplek kry omdat jongeres in die deel gesit het wat vir bejaardes gereserveer was. Ons kan ongelukkig nie aan versoeke voldoen om aparte areas of kamers af te sonder vir diegene wat probleme soos allergieë het nie.
Persoonlike items: Ons stel voor dat julle so min moontlik persoonlike items na die byeenkoms toe bring. As ’n item nie onder jou stoel pas nie, is dit dalk beter om dit by die huis of in jou motor se bagasiebak te laat. Groot koelsakke word om veiligheidsredes nie in die paadjies toegelaat nie, en as jy dit op die stoel langs jou sit, sal iemand dalk nie ’n sitplek hê nie.
Voedseldiens: ’n Voedseldiens sal by al die byeenkomste voorsien word. Ons wil almal teenwoordig aanmoedig om van die voedseldiens gebruik te maak. Ons wil ook meld dat dit weens die stygende koste van die byeenkomsterreine vir die voedseldiensafdeling moeilik geword het om die onkoste van die terrein te dek. Alle bydraes word baie waardeer, en die Genootskap wil julle by voorbaat bedank vir julle vriendelike en verenigde ondersteuning van Koninkryksbelange op hierdie manier.—Luk. 6:38.
18 Uit liefdevolle bedagsaamheid teenoor ander moet julle beplan om elke dag vroeg op te daag, veral Donderdag wanneer dit moontlik langer as gewoonlik sal neem om parkering en sitplek te kry.
19 Hoe bevoorreg is ons tog om deur Jehovah onderrig te word! As ons ons tyd, energie en materiële middele gebruik om die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms te ondersteun, sal dit blywende geestelike voordele vir ons sowel as ons gesin tot gevolg hê.
Herinnerings in verband met die streekbyeenkoms
Gepaste gedrag: Dit is belangrik dat almal wat die byeenkoms bywoon hulle op ’n gepaste wyse gedra en ’n eerbiedige beskouing van die byeenkomsterrein as “die huis van God” het (Ps. 55:15). Vermy asseblief enigiets gedurende die toesprake, dramas, liedere en veral die gebede wat ander se aandag van die program sal aftrek. Dit sal oneerbiedig wees om onnodig rond te beweeg, te gesels, kameras met flitse of video-opnemers só te gebruik dat dit die aandag aftrek van dié wat probeer konsentreer op wat gesê word. Ons bedagsaamheid en goeie gedrag sal toon dat ons Goddelike onderrigting opreg waardeer en dat ons na die byeenkoms gekom het om deur Jehovah geleer te word.
Huisvesting: Julle samewerking met betrekking tot die huisvesting wat julle gebruik, soos deur die byeenkoms voorsien word, word hoog op prys gestel. As julle beplan om in die byeenkomsstad te oornag en nog nie huisvesting bevestig het nie, moet dit asseblief onmiddellik gedoen word.
Gemeentelike sekretarisse moet seker maak dat Kameraansoekvorms onmiddellik na die betrokke byeenkomsadres gestuur word. As jy huisvesting moet kanselleer wat deur die Huisvestingsafdeling gereël is, moet jy die eienaar of die hotel sowel as die byeenkoms se Huisvestingsafdeling onmiddellik daarvan in kennis stel sodat die kamer weer beskikbaar gestel kan word.
Kinderwaentjies: Die Brandweerafdeling stel voor dat dit nie in ’n ouditorium ingeneem word en dan in deurgange en paadjies of tussen rye sitplekke geplaas word nie. Aangesien groot skares samedromming kan veroorsaak, is kinderwaentjies potensieel gevaarlik, nie net vir die baba nie, maar ook vir enigiemand wat daaroor kan struikel. Moet dit dus asseblief nie in die ouditorium inbring nie. Babastoeltjies of reisstoeltjies is egter toelaatbaar, aangesien dit aan stoele langs die ouers vasgemaak kan word. Ons sal julle samewerking in hierdie verband waardeer. Die Byeenkomskomitee sal waar moontlik ’n kamer probeer reël waar moeders na hulle babas kan omsien, indien nodig.
Doop: Doopkandidate moet hulle sitplek in die aangewese gedeelte inneem vóór die program Saterdagoggend begin. Elkeen wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. Ná die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter kortliks instruksies aan die doopkandidate gee en dan die lied aankondig. Ná die laaste vers gesing is, sal die saalwagters die doopkandidate na die doopplek lei of na voertuie wat hulle daarheen sal neem. Aangesien doop as ’n simbool van ’n mens se toewyding ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah is, is daar geen voorsiening vir gesamentlike doop waartydens twee of meer doopkandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word nie.
Vrywilligerdiens: Vrywilligers se hulp is nodig om ’n streekbyeenkoms glad te laat verloop. Al kan jy net vir ’n gedeelte van die byeenkoms werk, sal jou dienste waardeer word. As jy kan help, moet jy asseblief by die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms aanmeld. Kinders onder 16 jaar kan ook tot die sukses van die byeenkoms bydra, maar hulle moet saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene werk.
Liedere: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere te oefen wat ’n deel van die program sal wees:
91, 59, 111, 148, 191, 113, 114, 164, 183, 166, 156, 202, 105, 151, 181, 70, 42, 106, 53, 79 en 85. (Ons stel voor dat gemeentes begin om ná elke vergadering ten minste een lied te oefen.)
Bethelvergadering: Daar sal op die tweede dag ’n vergadering gehou word vir enige toegewyde verkondigers tussen 19 en 35 jaar wat graag in Bethel wil dien. Aankondigings oor die tyd en plek vir hierdie vergadering sal by die byeenkoms gedoen word.
Lapelkaarte: Dra asseblief die spesiaal ontwerpte lapelkaart by die byeenkoms en terwyl julle na en van die byeenkomsterrein reis. Dit gee ons dikwels die geleentheid om ’n goeie getuienis te gee terwyl ons reis. Julle moet die lapelkaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. (Gemeentes neem asseblief kennis: Bestellings wat ons ná 1 November 1993 bereik, sal nie opgemaak word nie. Sien Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1993 onder Aankondigings.)
Persoonlike identifikasie: Bo en behalwe die lapelkaart vir die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms word elkeen ook aangemoedig om sy “Advance Medical Directive”-kaart by hom te hê. Lede van die Bethelgesin en pioniers moet ook hulle identifikasiekaart by hulle hê.
’n Woordjie van waarskuwing: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit enigiets oop en bloot in jou motor laat nie, ongeag waar jy parkeer. Sluit jou besittings in die bagasiebak toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkoms gelaat moet word nie. Daar was al selfs ’n paar berigte van gewetenlose mense wat jong kinders van die byeenkomsterrein af probeer weglok het. Wees asseblief versigtig.
Daar is berig dat party hotelle maklike toegang verleen tot onsedelike televisierolprente of selfs rolprente wat pornografies van aard is. Dit beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om te verhoed dat kinders by hierdie verblyfplekke sonder toesig TV kyk.
Party broers en belangstellendes het die bestuur van die byeenkomsfasiliteite geskakel vir inligting oor die begintye van die sessies en ander sake. Moet dit asseblief nie doen nie. As jy nie die inligting wat jy nodig het in Ons Koninkryksbediening kan vind nie, moet jy na die byeenkomsadres skryf wat jy by julle gemeentelike sekretaris kan kry.