Sit tyd vir tydskrifwerk opsy
1 Jehovah het bepaal dat daar ‘vrede en ’n hoopvolle toekoms’ vir diegene sal wees wat sy weë volg (Jer. 29:11). Tydige inligting oor hierdie vooruitsig word in Die Wagtoring en die Ontwaak! aangebied. Hierdie tydskrifte kan alle soorte mense onder enige omstandighede tot voordeel strek (1 Tim. 2:4). Sit jy en jou gesin gereeld tyd vir tydskrifverspreiding opsy?
2 Wat kan jy doen as jou tydskrifverspreiding afgeneem het? Een noodsaaklike vereiste is om jou waardering vir die inhoud van ons tydskrifte lewendig te hou. Een man het geskryf: “Dit is waarlik ’n vreugdevolle ondervinding om julle tydskrifte te lees. Hulle is nie goedkoop, lae gehalte-‘vertroosters’ nie, maar bevat riglyne oor hoe om die lewe betekenisvol te maak.” Die Wagtoring en die Ontwaak! is die gevolg van noukeurige navorsing en is voorsienings van “die getroue en verstandige dienskneg” (Matt. 24:45). Hulle is effektiewe instrumente waarmee mense se harte bereik kan word.
3 Wees vertroud met die artikels in die tydskrifte wat jy aanbied. Let op na punte wat oor huidige probleme in jou gemeenskap handel. Dit is goed om jou voor te berei om met mans, vrouens en jongmense te kan praat wat jy dalk by die deure of op straat teëkom. Wees voorbereid om te kan toon hoe die tydskrifte op individue en gesinne as ’n geheel van toepassing is.
4 Wees tydskrifbewus: Tydskrifgetuieniswerk moet ’n belangrike deel van jou velddiensrooster uitmaak. Wat is vir jou die beste tyd om tydskrifte aan te bied? Het jy al probeer om voor julle Gemeentelike Boekstudie ongeveer ’n uur in die laatmiddag of aand van huis tot huis te werk? Aandgetuieniswerk is in party gebiede baie produktief. Saterdag is ’n ideale dag om tydskrifte op verskeie maniere te versprei, maar ander dae kan ook daarvoor gebruik word. Die huis-tot-huis-werk en getuieniswerk van winkel tot winkel moet ’n gereelde aspek van ons Tydskrifdag wees.
5 Elkeen moet ’n gereelde bestelling vir ’n vasgestelde aantal tydskrifte van elke nommer hê wat hy kan versprei. Wanneer jy soms ouer nommers byderhand het, kan hulle gebruik word om huisbewoners die verskeidenheid onderwerpe te wys wat in die tydskrifte bespreek word. Van tyd tot tyd kan ’n stel ouer eksemplare by ouetehuise, verpleeginrigtings en hospitale gelaat word, indien hulle dit toelaat. Sulke tydskrifte moet as verspreide tydskrifte getel word en moet elke maand op jou “Velddiensrapport”-vorm gerapporteer word.
6 As jy die voorafgaande wenke toepas, sal jy ongetwyfeld ’n toename in jou tydskrifverspreiding sien. Opregtes van hart wat gebuk gaan onder die lewe in dié bose stelsel van dinge waardeer die verkwikkende inligting wat in Die Wagtoring en die Ontwaak! gevind word. Hierdie tydskrifte voorsien waarlik die geestelike voedsel wat diegene nodig het wat Jehovah se goedkeuring wil wegdra. Wees dus tydskrifbewus en soek na maniere om meer van hierdie kosbare publikasies in jou gebied te versprei.