Herbesoeke om waardering op te bou
1 Betekenisvolle herbesoeke stimuleer en verryk ’n huisbewoner se vooruitgang progressief sodat hy ’n gelowige kan word. Wat is ’n paar praktiese wenke om in gedagte te hou wanneer ons na diegene teruggaan wat belangstelling getoon het?
2 Eerstens moet jy goed voorberei. Dit begin by die eerste besoek. Hoe so? Deur noukeurige aantekeninge te hou van belangstelling wat getoon is. Skryf die huisbewoner se naam, die onderwerp wat bespreek is, die reaksie en enige lektuur wat jy by hom gelaat het neer. Gaan dan jou huis-tot-huis-verslag na voordat jy teruggaan en oorweeg biddend wat jy gaan sê.
3 Nou is jy gereed. Wat kan jy sê? As jy tydens jou eerste besoek ’n vraag by die huisbewoner gelaat het, kan jy wanneer jy teruggaan op daardie onderwerp voortbou. Jy kan byvoorbeeld tydens die eerste besoek, nadat jy die huisbewoner se aandag op bladsy 8, paragraaf 12, van die boek Die mensdom se soeke na God gevestig het, die vraag opper: “Waarom moet jy jou godsdiens ondersoek?”
Wanneer jy teruggaan, kan jy, ná jou inleiding, sê:
◼ “Toe ons die vorige keer gesels het, het ons gevra waarom ons bereid moet wees om ons godsdiens te ondersoek. Het u intussen weer daaroor gedink? [Laat die huisbewoner antwoord.] Dink u dat God alle godsdienste goedkeur? [Laat die huisbewoner antwoord.]” Kyk na die prente op bladsye 11 en 13 van die boek Die mensdom se soeke na God. Nadat jy oor hierdie prente kommentaar gelewer het, kan jy dalk ook oor die materiaal in die venster op bladsy 14 kommentaar lewer. Wys daarop dat hoewel ons ander mense se godsdiensoortuigings respekteer, ons terselfdertyd moet seker maak dat ons God aanbid op die manier wat hy goedkeur. Om die weg te baan vir ’n volgende herbesoek kan jy een van die vrae op bladsye 17 of 18 vra en aanbied om terug te gaan om daardie vraag te beantwoord.
4 As jy tydens jou eerste besoek maniere bespreek het om die ware godsdiens te identifiseer en die boek Die mensdom se soeke na God by die huisbewoner gelaat het, is ’n goeie vraag waarop jy jou herbesoek kan grond: “Waar kom soveel godsdienste vandaan?” Wanneer jy teruggaan, kan jy oor spesifieke punte in hoofstuk 2 van daardie boek gesels.
5 ’n Woordjie van waarskuwing. Wees versigtig watter vrae jy vra wanneer jy teruggaan. Om te vra: “Het jy die publikasie gelees wat ek by jou gelaat het?” of “Onthou jy my?” of “Onthou jy waaroor ons gepraat het toe ek laas hier was?” kan die huisbewoner in ’n ongemaklike situasie plaas. Sulke vrae lewer gewoonlik nie goeie resultate nie. Aan die ander kant moet jy vriendelik, aanpasbaar en saaklik wees. Hierdie eienskappe sal die boodskap verryk.
6 Hierdie en ander benaderings kan gebruik word om waardering in die harte van belangstellendes aan te kweek. Jy kan dit gerus ’n persoonlike doelwit maak om elke week ten minste een herbesoek te doen. Pas die praktiese wenke toe wat hierbo gegee word en soek na ervare verkondigers wat jou sal help. Jou vreugde sal toeneem namate jy op die aanvanklike belangstelling voortbou deur doeltreffende herbesoeke te doen.