Help hulle om “weer hieromtrent” te hoor
1 “Ons sal u weer hieromtrent hoor” (Hand. 17:32). Dit is hoe party op Paulus se bekende toespraak op Marsheuwel gereageer het. Net so is party vandag gewillig om meer te hoor aangaande die Koninkryksboodskap waaroor ons tydens ons eerste besoek gesels het.
2 Die meeste van ons onderrig geskied wanneer ons teruggaan om die belangstelling verder aan te wakker. Goeie voorbereiding sal ons help om positiewe resultate te verkry. Bladsy 51 van die Skoolhandleiding raai ons aan: “Kry eers ... die argumente wat die stof staaf helder in gedagte. Probeer vasstel hoekom ’n ding so is. Kyk of jy die gedagtes in jou eie woorde kan stel. Kry ’n goeie begrip van die skriftuurlike bewyse. Wees gereed om die tekste doeltreffend toe te pas.”
3 As jy die boek “Die Bybel—God se woord of die mens s’n?” gelaat het, kan jy iets soos die volgende sê:
◼ “Toe ons voorheen gesels het, het ons die redes bespreek waarom ons vertroue in die Bybel kan stel. Die boek wat ek by jou gelaat het, vra die vraag: ‘Waarom moet ons die Bybel lees?’ [Lees die inleiding op bladsy 5 en laat die huisbewoner kommentaar lewer op die slotvraag.] Die Bybel sê vir ons dat God self binnekort al die mensdom se verwarrende probleme gaan oplos en dit wys vir ons wat ons moet doen om die seëninge van daardie gelukkige tyd te geniet. [Lees Psalm 119:105.] Hierdie boek is saamgestel om as ’n hulpmiddel vir persoonlike en gesinstudie van die Bybel te dien. Ek sal graag vir jou wil wys hoe om dit te gebruik.”
4 By persone waar jy die traktaat “Waarom jy die Bybel kan vertrou” gelaat het, kan jy sê:
◼ “Ons almal wil graag weet wat die toekoms inhou. Wat dink jy sal, met die oog op die huidige wêreldtoestande, gebeur? [Laat die huisbewoner antwoord.] Hoewel die mens net kan spekuleer oor wat gaan gebeur, weet God presies wat gaan plaasvind. [Lees Jesaja 46:10.] Jy sal miskien verbaas wees om uit te vind dat die Bybel voorspel dat ons binnekort die seëninge van ’n paradysagtige nuwe wêreld gaan geniet. [Lees die eerste paragraaf op bladsy 4.] Laat ek jou meer omtrent hierdie wonderlike belofte vertel.”
5 As jy ’n herbesoek doen by iemand by wie jy die “New World Translation” gelaat het, sal hierdie aanbieding dalk doeltreffend wees:
◼ “Ek het onlangs ’n eksemplaar van die Bybel by jou gelaat en ek het belowe om terug te kom om jou te help om ten volle daarby baat te vind. Ons wonder miskien soms hoe ons vriendskaplike verhoudinge met ander kan behou. Die Bybel gee goeie raad en die New World Translation maak dit maklik om die tekste waarna ons soek op te spoor. [Blaai na bladsy 1595 en kyk onder die opskrif “Love(s)”. Vestig die aandag op tekste soos 1 Korinthiërs 13:4; Kolossense 3:14 en 1 Petrus 4:8. Verduidelik kortliks hoe die toepassing van hierdie beginsels goeie resultate kan oplewer.] Dit is een voorbeeld wat toon hoe die Bybel praktiese oplossings vir ons probleme bied. Ek sal graag volgende keer vir jou ’n ander manier wil wys waarop die Bybel ons kan help om geluk en gemoedsrus te vind.”
6 Daar is geen groter skat wat ons aan ander kan oordra as ’n juiste kennis van God se Woord nie. Sulke kennis kan mense die vrees van Jehovah leer en hulle aanmoedig om in sy weg te wandel, wat ewige seëninge meebring.—Spr. 2:20,21.