Die Bybel—’n bron van bemoediging en hoop in ’n wêreld vol probleme
1 Hierdie wêreld oefen voortdurend geweldige druk op die mensdom uit en gevolglik soek hulle bemoediging en hoop. Die Bybel is die enigste bron van ware bemoediging. Dit bied hoop vir ’n nuwe wêreld van regverdigheid (Rom. 15:4; 2 Pet. 3:13). Die Insight-boek, Deel 1, sê op bladsy 311: “Sonder die Bybel sou ons Jehovah nie geken het nie, sou ons nie van die wonderlike voordele geweet het wat weens Christus se losprysoffer bestaan nie en sou ons nie die vereistes verstaan het waaraan ons moet voldoen om die ewige lewe in of onder God se regverdige Koninkryk te verkry nie.”
2 Gedurende November sal ons spesiale aandag vestig op die rol wat God se Woord, die Bybel, speel om mense te help om die druk van die wêreld die hoof te bied. Ons sal die New World Translation of the Holy Scriptures en die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? aanbied. Wat kan ons sê wat diegene met die regte gesindheid sal help om die waarde van die Bybel te besef?
3 Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy iets soos die volgende sê:
◼ “Jy sal waarskynlik saamstem dat ons omring word deur probleme wat ons gewoonlik van ons gemoedsrus beroof. Waar kan ons praktiese raad vind wat vir ons kan toon hoe om hierdie probleme die hoof te bied? [Laat die huisbewoner antwoord.] Ek het die Bybel gerusstellend gevind omdat dit ons leer hoe om gelukkig te wees. [Lees Lukas 11:28.] Die doel van ons werk is om mense aan te moedig om die Bybel te lees en by die onderrigting daarin baat te vind. Hierdie Bybelstudiehulp, Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, kan jou help om dit te doen. Let op wat dit sê oor die oorsaak van die meeste van die wêreld se probleme. [Lees die tweede sin van paragraaf9 op bladsy 187.] As jy hierdie boek graag wil lees, sal ek hierdie eksemplaar met graagte teen ’n bydrae van R3,50 by jou laat.”
4 Jy verkies dalk die volgende eenvoudige benadering:
◼ “Ons stel daarin belang om groter respek vir God se Woord, die Bybel, aan te moedig. Ek wil graag vir jou hierdie traktaat gee, Waarom jy die Bybel kan vertrou. Dit verduidelik waarom ons na die Bybel kan gaan om ware hoop vir ’n beter wêreld te vind. [Blaai na bladsy6 en lees Psalm 37:29 asook die slotparagraaf.] Lees gerus hierdie traktaat en wanneer ek jou volgende keer besoek, kan jy vir my sê wat jy dink van die hoop wat die Bybel bied.”
5 Party verkondigers wil dalk hierdie direkte benadering gebruik om ’n Bybelstudie te begin:
◼ “Ek het gekom om jou ’n gratis tuisbybelstudiekursus aan te bied. Die Bybel is deur God geïnspireer en sy riglyne kan ons help om dinge reg te stel. Die New World Translation of the Holy Scriptures met sy moderne taal is vir persoonlike studie bedoel. Dit is gewild by miljoene Bybellesers oor die hele wêreld. Laat ek kortliks demonstreer hoe jy dit kan gebruik. [Blaai na bladsy 1653 en vestig die aandag op 23A. Na gelang van die belangstelling wat getoon word, kan jy een of twee teksverwysings naslaan en die gedagte bespreek wat daar voorkom. Verduidelik hoe die tekste wat aangegee word, sal toon wat God van voorneme is om deur sy Koninkryk tot stand te bring.] Ek sal graag wil terugkom om hierdie Koninkrykshoop verder met jou te bespreek.”
6 Die Bybel is die bron van bemoediging en hoop sowel as van die waarheid wat ons na die ewige lewe kan lei (Joh. 17:3, 17). As ons Bybelkennis aan ander bekend maak, behaag ons Jehovah, “wat wil hê dat alle mense gered word”.—1 Tim. 2:4.