Stiptheid en jy
’N CHRISTENOPSIENER in ’n Suid-Amerikaanse gemeente het baie goeie eienskappe gehad. Maar sy beste vriende het hom skertsend Armageddon genoem. Waarom? “Ons weet hy kom”, het hulle gesê, “maar die Vader alleen weet wanneer!”
Ja, stiptheid—of die gebrek daaraan—het baie met ’n mens se reputasie te doen. Wyse koning Salomo het dit so toegelig: “Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; ’n bietjie dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer” (Prediker 10:1). ’n Christen het moontlik talle goeie eienskappe, maar hy sal sy goeie naam weggooi as hy nie bewus is van tyd nie.
“Stiptelike mense boesem vertroue by my in”, het ’n opsiener gesê. “Ek verkies dit om saam met hulle te werk.” Hulle word ook in die sakewêreld waardeer. “Kom betyds by die werk; wees stiptelik vir vergaderinge; lewer verslae betyds in”, sê Emily Post’s Etiquette. Op soortgelyke trant stel The New Etiquette (1987) die volgende as algemene reël: “Laatkommers is ongemanierd.” Die skrywers sê vervolgens: “Dit is ook onvanpas om laat op te daag by godsdiensoefeninge.”
Ons waardeer dit almal wanneer ander stiptelik is. Die apostel Paulus het blykbaar so gevoel, want hy het aan die Christene in Kolosse geskryf: “Ek [is] by julle in die gees, en ek verbly my om julle goeie orde te sien” (Kolossense 2:5). En ons is dit sekerlik eens met koning Dawid toe hy van Jehovah se beloftes in die Psalms gesê het: “My God, vertoef tog nie!”—Psalm 40:18; 70:6.
‘Wees navolgers van God’
Jehovah is nooit laat nie. Hy is uiters bewus van tyd. Dit word in al sy skeppingswerke getoon. Van die grenslose heelal tot die kleinste lewende wesens funksioneer alles asof dit deur ’n onsigbare horlosie beheer word. ’n Soort seelelie naby Japan laat byvoorbeeld sy geslagselle een maal per jaar in Oktober omstreeks drie-uur die middag op die dag van die maan se eerste of laaste kwartier vry. ’n Sekere soort vis begin sy broeisiklus in die lente, binne enkele minute na hoogwater aan die kus van Kalifornië.
Jehovah se tydsbepaling is ook presies wat die vervulling van sy belofte betref. Ons lees byvoorbeeld in Exodus 12:41: “Ná verloop van vierhonderd-en-dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.” Jehovah het sodoende die belofte nagekom wat hy eeue tevore aan Abram gedoen het.—Genesis 15:13-16; Galasiërs 3:17.a
Jehovah het sy Seun, die Messias, in die wêreld gestuur presies op die tyd wat die profeet Daniël meer as vyf eeue vroeër voorspel het, sodat hy “op die regte tyd vir die goddelose gesterwe” het (Romeine 5:6; Daniël 9:25). Die Bybel toon dat Jehovah “dié dag en dié uur” vir die einde van hierdie stelsel van dinge ken (Mattheüs 24:36). Hy sal nie laat wees nie. Jehovah se voorbeeld van stiptheid is beslis navolgenswaardig.—Efesiërs 5:1.
“Op die bepaalde tyd”
Jehovah het nog altyd verwag dat sy knegte tydsbewus moet wees, veral wat sy aanbidding betref. Die Israeliete het ’n “daaglikse rooster” gevolg wanneer hulle hul offerandes gebring het. Jehovah het hulle beveel: “Julle moet daarvoor sorg om my offer . . . op die bepaalde tyd aan My te bring.” Hy het ook aan Moses hierdie instruksie oor vergaderinge gegee: “Die hele vergadering moet hulle afspraak . . . nakom.”—Levitikus 23:37, NW; Numeri 10:3, NW; 28:2.
Later het die Jode “die uur van die reukoffer” gehou (Lukas 1:10). “Die Jode en ander het die uur van gebed, die negende uur” gehou (Handelinge 3:1; 10:3, 4, 30). En Paulus het aangaande Christenvergaderinge geskryf: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”—1 Korinthiërs 14:40.
Wat sou al hierdie dinge van die Israeliete en die vroeë Christene geverg het? Dat hulle hul afsprake stiptelik moes nakom, veral wat hulle aanbidding betref het. Daar is geen rede om te dink dat Jehovah enigsins minder van sy hedendaagse knegte sal verwag nie.
Waarom party dit moeilik vind
Die beskouing van tyd verskil aansienlik in verskillende dele van die wêreld. ’n Sendeling in ’n klein Suid-Amerikaanse dorpie vertel dat sy vrou soms die enigste persoon in die gehoor was wanneer hy die openingslied van ’n Christenvergadering aangekondig het. Maar wanneer hy die slotlied aangekondig het, was daar 70 teenwoordig. Aan die ander kant is ongeveer duisend mense in ’n Wes-Europese land gevra: “As jy na ’n ete om 7:00 nm. genooi is, sal jy vyf of tien minute vroeg, vyf of tien minute laat, of net betyds daar opdaag?” Die meeste het gesê: “Hoflikheid vereis nougesette respek vir die gasheer en dat jy presies op tyd daar opdaag.”
Stiptheid is nietemin meer as ’n saak van plaaslike voorkeur. Dit is ’n gewoonte, net soos dit ’n saak van gewoonte is om skoon, netjies of beleef te wees. Ons word natuurlik nie met sulke gewoontes gebore nie; ons moet hulle aankweek. As jy as kind geleer is om stiptelik te wees, is dit baie goed. Maar baie mense kom uit gesinne en agtergronde waar daar min tydgrense was en waar dit nie baie nodig was om hulle pogings met dié van ander te koördineer nie. Die nodigheid van stiptheid het eers vir hulle ’n werklikheid geword toe hulle deel geword het van die Christengemeente en aan vergaderinge en die openbare bediening begin deelneem het. Hulle sukkel dalk om die gewoonte van traagheid, wat hulle vroeg in hulle lewe aangeleer het, af te leer. Liefde vir Jehovah God en ons naaste kan egter maak dat ’n mens verander. Maar waarom moet ’n mens verander?
Waarom stiptelik wees?
“Het jy die lewe lief?” het Benjamin Franklin eenmaal gevra. “Moet dan nie tyd mors nie, want dit is waaruit die lewe bestaan.” Ons besef almal hoe waar daardie woorde is. Maar dit is vir Christene net so belangrik om nie ander se tyd te mors nie. “Die laatkommer”, sê ’n sendeling, “sê blykbaar deur sy optrede: ‘My tyd is kosbaarder as joune, jy kan wag tot ek gereed is.’” Die persoon wat nie stiptelik is nie, kom nie net ongeorganiseerd en onbetroubaar voor nie, maar ook ietwat egoïsties en onbedagsaam. Ware Christene wil niks “uit selfsug of uit ydele eer [doen] nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”.—Filippense 2:3.
Party voel dalk dat hulle nie daarvan hou om so streng volgens die horlosie te leef nie, en dat alles wat hulle doen daardeur beheer word nie. Maar stiptheid beteken nie bloot dat jy deur die horlosie oorheers word nie. Dit beteken dat jy ander mense se belange op die hart dra, dat ’n mens “nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n”.—Filippense 2:4.
Dink byvoorbeeld aan die Bybel se raad: “Verwelkom mekaar, net soos die Christus ons ook verwelkom het” (Romeine 15:7, NW). In die mate waarvoor dit vir ’n letterlike groet geld, is dit baie moeiliker om hierdie raad toe te pas as ons gewoonlik laat is vir die vergaderinge. As ’n mens vroeg by vergaderinge opdaag, kan jy in groter mate tot die liefdevolle, vriendelike en verwelkomende gees van sulke samekomste bydra. En dit sal jou ook tot voordeel strek. As jy vroeg is, kan jy deelneem aan die openingslied en -gebed—’n belangrike deel van verenigde gemeentelike aanbidding. As ons hoor wanneer die tema of titel aangekondig word, sal dit ons help om die ontwikkeling van die program beter te volg.
As jy stiptelik is, help dit ander om hulle pogings te koördineer, en baie kan as gevolg daarvan vermag word. Toe Josua die stad Ai aangeval het, het hy ’n deel van sy leër gestuur om die vyand van die stad af weg te lok terwyl die res van sy manne ’n hinderlaag gestel het om die stad in te neem. En toe, op die kritieke oomblik, gee Josua die teken. Sy manne het “gestorm net toe hy sy hand uitgesteek het”, en die stad het voor hulle geval. Kan jy jou voorstel wat sou gebeur het as hulle nie stiptelik opgetree het nie?—Josua 8:6-8, 18, 19.
Christenbedienaars het vandag ook baie redes om tydsbewus te wees. Wanneer ons saam met ander aan die Koninkryksprediking deelneem, byeenkoms- of vergaderingdele oefen, selfs die Koninkryksaal skoonmaak, vereis dit dat ons ons dade met ander s’n koördineer. Deur stiptelik te wees, kan ons meer bereik. Dit geld selfs vir iets eenvoudigs soos om jou predikingsaktiwiteit aan die einde van die maand te rapporteer. As almal saamwerk en dit stiptelik doen, kan akkurate en aanmoedigende gemeentelike en wêreldrapporte saamgestel word.
Stiptheid beteken ook dat ons afsprake en tydsgrense nakom, en daar is daagliks baie van hulle. Party is belangrik, ander onbeduidend. Jou troue moet byvoorbeeld op die vasgestelde tyd begin. Jy hou dalk van ’n eier wat net só lank gekook is. Hoe dit ook al sy, die stiptelike persoon het nie nodig om naarstig van die een ding na die ander te jaag omdat hy altyd laat is nie. Hy is eerder kalm en georganiseerd. Hy kry meer gedoen, omdat hy sy dag beplan en betyds of selfs ’n bietjie vroeg begin.
Ja, daar is baie redes waarom Christene tydsbewus moet wees. Dit is bowenal ’n manier waarop ons ons onselfsugtige liefde vir mede-Christene en ons respek vir teokratiese reëlings vir ware aanbidding kan betoon.
Maar hoe kan ’n mens die gewoonte van stiptheid aankweek?
‘Ken die bepaalde tye’
Die Bybel sê “selfs ’n groot sprinkaanvoël . . . ken sy bepaalde tye” om te trek, en die mier ‘maak sy brood in die somer klaar’ sodat hy vir die winter gereed is (Jeremia 8:7; Spreuke 6:8). Hierin lê die geheim om stiptelik te wees en om dinge gedoen te kry.
Ons moet ook ‘ons bepaalde tye ken’. Hoewel ons nie onbuigsaam of fanaties moet wees nie, moet ons tydsbewus wees. Ons moet nie net weet wat ons moet doen nie maar ook wanneer ons dit moet doen. Ons moet die gewoonte aanleer om vooruit te dink, voorsiening te maak vir moontlike vertragings en bereid wees om iets waarmee ons besig is, kort te knip ter wille van iets belangrikers, soos ons vergaderinge, velddiens en ander teokratiese bedrywighede.
In hierdie saak is samewerking in die gesin noodsaaklik. Daar is gemerk dat die vader dit dikwels aan die vrou oorlaat om te sorg dat die gesin gereed is. Dan gaan hy alleen by die deur uit en roep hy oor sy skouer: “Maak gou, julle gaan laat wees!” Jakob was nie so nie; hy was behulpsaam en het ‘sy kinders en vroue op die kamele gelaai’ toe dit tyd was om te vertrek.—Genesis 31:17.
Hoe kan die vader dan sy gesin help? Kinders kan geleer word om tyd opsy te sit om vir belangrike dinge gereed te maak pleks van alles tot op die nippertjie te los. Hulle kan gehelp word om verantwoordelikheid te leer en om daarop trots te wees as hulle dinge stiptelik doen. Bespreek as gesin Bybelvoorbeelde wat toon hoe belangrik dit is om gereed en betyds te wees (Genesis 19:16; Exodus 12:11; Lukas 17:31). Die beste of doeltreffendste les word seker deur die ouers se goeie voorbeeld voorsien.
Christenopsieners kan die gemeente ook help deur die regte voorbeeld te stel. Hulle sou nie aangestel gewees het as hulle nie “ordelik” was nie (1 Timotheüs 3:2, NW). Ander broers en susters sal waarskynlik meer stiptelik wees as hulle weet dat ouere manne daar sal wees om hulle te groet en die leiding te neem. Pligsgetroue opsieners sal dus probeer om vroeg by die Koninkryksaal te wees om die gemeente te help. Bedieningsknegte wat vroeg is sodat hulle hul broers kan groet en help, word ook grootliks waardeer.
Dit verg natuurlik selfbeheersing en dissipline om stiptelik te wees. Nee, nie om militêre presisie te bereik nie, maar omdat ons ons mede-Christene liefhet en teokratiese orde respekteer. Dit is ’n deel van die nuwe persoonlikheid waarmee ons ons probeer beklee (Kolossense 3:10, 12). Bowenal wil ons soos ons hemelse Vader, Jehovah God, wees, wat ons leer dat ‘alles sy bepaalde uur het’.—Prediker 3:1.
[Voetnote]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 460-1 en 776-7 vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie profesie.