Voel jy ontmoedig weens beperkings?
BEPERKINGS! Niemand hou werklik van hulle nie; maar ons almal moet hulle tot ’n sekere mate verdra. Voel jy egter soms ontmoedig omdat jy meen jou lewe te veel ingeperk word? Jy sal dalk beter voel as jy jou uitkyk verander. Pleks van jou te verknies oor wat jy nie kan doen nie, kan jy gerus ten volle gebruik maak van die vryhede wat jy wel geniet.
Baie mense wat op geldelike gebied arm is, wens byvoorbeeld dat hulle ryk was. Maar hoewel armoede ons inperk ten opsigte van wat ons in hierdie stelsel van dinge kan doen, is die belangrike dinge in die lewe tot almal se beskikking. Arm sowel as ryk mense raak verlief, trou, maak kinders groot, geniet goeie vriendskappe, ensovoorts. Maar nog belangriker, arm sowel as ryk mense ken Jehovah en sien uit na die beloofde nuwe wêreld. Arm sowel as ryk mense neem toe in Christelike wysheid en kennis, wat beter as rykdom is (Spreuke 2:1-9; Prediker 7:12). Almal—ryk en arm—kan vir hulle ’n uitstekende naam by Jehovah maak (Prediker 7:1). In Paulus se dag het die Christengemeente grotendeels uit nederige mense bestaan—sommige was slawe—wat enige vryheid wat hulle omstandighede hulle toegelaat het wyslik gebruik het.—1 Korinthiërs 1:26-29.
Skriftuurlike hoofskap
In ’n Christenhuwelik is die vrou aan haar man onderdanig—’n reëling wat bedoel is om die hele gesin tot voordeel te strek (Efesiërs 5:22-24). Moet ’n vrou as gevolg daarvan vernederd voel? Hoegenaamd nie. Die man en sy vrou is ’n span. Die man se hoofskap, wanneer dit op ’n Christelike wyse uitgeoefen word, plaas relatief min beperkings op sy vrou en dit gee haar baie geleentheid om haar uit te leef (Efesiërs 5:25, 31). Die “deugsame vrou” van Spreuke hoofstuk 31 het haar met talle interessante en uitdagende ondernemings besig gehou. Onderdanigheid aan haar man het haar klaarblyklik nie gefrustreer nie.—Spreuke 31:10-29.
Daar is eweneens geen voorsiening vir ’n vrou om in die teenwoordigheid van bekwame manne in die Christengemeente die leiding te neem nie (1 Korinthiërs 14:34; 1 Timotheüs 2:11, 12). Moet Christenvroue daardie beperking as ’n bron van irritasie beskou? Nee. Die meeste is dankbaar om te sien dat daar op ’n teokratiese wyse na daardie aspek van die Christelike diens omgesien word. Hulle is bly om by die herderswerk en onderrigting van aangestelde ouere manne baat te vind en hou hulle besig met die belangrike werk om te preek en dissipels te maak (Mattheüs 24:14; 28:19). Christenvroue behaal baie welslae op hierdie gebied, en dit strek hulle tot eer voor Jehovah God.—Psalm 68:12; Spreuke 3:35.
Beperkings op jongmense
Jongmense kla ook soms dat hulle lewe te veel ingeperk word, dikwels omdat hulle onder die gesag van hulle ouers is. Maar ook dít is skriftuurlik (Efesiërs 6:1). Pleks van geïrriteerd te wees oor beperkings wat hulle ouers hulle oplê, sal verstandige jong Christene hulle daarop toelê om die vryhede te geniet wat hulle wel het—wat gewoonlik vryheid van swaar verantwoordelikhede insluit. Sodoende kan hulle hulle jeugdige krag en omstandighede gebruik om hulleself vir die volwasse lewe voor te berei.
’n Voormalige kringopsiener in Brasilië onthou ’n 12-jarige seun met beperkende omstandighede in ’n afgesonderde groepie nog goed. Die broer wat in beheer van die verslae was se sekulêre werk het hom besig gehou, en hy kon nie veel aandag aan die groep skenk nie, maar hy het gereël dat hierdie jong man hom help. Hy het uitgevind waar al die vorms was en was altyd byderhand om te help. Sy belangstelling was aanmoedigend, en hy was ’n getroue metgesel in die velddiens. Daardie jong man is nou ’n aangestelde ouere man.
Daar is baie omstandighede wat ’n mens se vryheid kan beperk. Sommige word deur siekte beperk. Sommige woon in verdeelde huisgesinne en vind dat hulle vryheid deur die eise van ’n ongelowige huweliksmaat beperk word. Hoewel diegene wat met beperkings lewe moontlik wens dat dinge anders was, kan hulle steeds ’n bevredigende lewe geniet. Hierdie tydskrif het al baie verslae bevat oor sulke mense wat ’n groot aanmoediging vir ander was omdat hulle op Jehovah vertrou en hulle omstandighede ten beste benut.
Die apostel Paulus het van ’n algemene situasie in sy dag gepraat en gesê: “Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van” (1 Korinthiërs 7:21). Wat ’n gebalanseerde beskouing is dit tog! Sommige situasies verander. Jongmense word groot. Opponerende huweliksmaats aanvaar soms die waarheid. Ekonomiese situasies het al verbeter. Siek mense kan gesond word. In ander gevalle sal dinge miskien slegs verander wanneer Jehovah se nuwe wêreld hier is. Maar wat sal dit in elk geval help as jy jou ontstel omdat jy nie kan doen wat ander kan doen nie?
Het jy al ooit voëls dopgehou wanneer hulle in die lug bo die aarde rondsweef en die skoonheid en vryheid van hulle bewegings bewonder? Jy het dalk gewens dat jy so kon vlieg. Wel, jy kan nie, en jy sal ook nooit soos die voëls kan vlieg nie! Maar jy kla waarskynlik nie daaroor nie. Jy verbly jou eerder in jou godgegewe vermoëns. Jy kom goed klaar hier waar jy op die oppervlak van die aarde rondloop. Ongeag wat ons situasie in die lewe is, as ons eweneens ons aandag vestig op dít wat ons kan doen pleks van ons te ontstel oor wat ons nie kan doen nie, sal die lewe bevredigend wees en sal ons vreugde in Jehovah se diens smaak.—Psalm 126:5, 6.
[Prent op bladsy 28]
Meen jy dat jou ouers jou inperk?