Hulle hou met medelye oor die skape toesig
VAN al die diere wat naby die mens woon, is daar nie nog ’n dier soos die skaap nie. Die meeste diere besit die nodige krag en instink om kos te soek en diere te ontwyk wat op hulle jag maak, maar ’n skaap is anders. Hy is ’n maklike prooi vir roofdiere en kan nie veel doen om hom te verdedig nie. Sonder ’n herder is ’n skaap bang en hulpeloos. As hy van die kudde geskei word, verdwaal hy maklik. Gedweë skape het dus oorweldigende redes om geheg aan hulle herder te wees. Sonder hom is hulle kanse om aan die lewe te bly maar skraal. As gevolg van hierdie eienskappe gebruik die Bybel skape in figuurlike sin om onskuldige, mishandelde of weerlose mense af te beeld.
Een ding is seker, ’n herder verdien beslis sy beloning. Sy lewe is nie maklik nie. Hy word aan hitte sowel as koue blootgestel, en hy ervaar slapelose nagte. Hy moet die kudde teen roofdiere beskerm, wat dikwels sy eie lewe in gevaar stel. Aangesien ’n herder die kudde bymekaar moet hou, bestee hy baie van sy tyd daaraan om na afgedwaalde of verlore skape te soek. Hy moet die siekes en die beseerdes versorg. Lammers wat swak of uitgeput is, moet gedra word. Daar is gedurig die bekommernis oor waar om genoeg kos en water te kry. Dit is niks ongewoons dat ’n herder oornag in die veld slaap sodat hy die veiligheid van die kudde kan verseker nie. ’n Herder lei dus ’n moeilike lewe en moet ’n dapper, hardwerkende en vindingryke man wees. Hy moet bowenal ware besorgdheid kan toon vir die kudde wat aan sy sorg toevertrou is.
Herderswerk onder God se kudde
Die Bybel beeld God se volk as sagmoedige skape en diegene wat oor hulle toesig hou as herders uit. Jehovah is ‘die Herder en Opsiener van ons siele’ (1 Petrus 2:25). Jesus Christus, “die goeie herder”, het sy wens uitgespreek dat die skape met medelye versorg word toe hy vir die apostel Petrus gesê het: ‘Laat my lammers wei, pas my skape op, laat my skape wei’ (Johannes 10:11; 21:15-17). Christenopsieners is die ernstige verantwoordelikheid opgelê om “as herders die gemeente van God te versorg” (Handelinge 20:28). En hulle werk as geestelike herders vereis die eienskappe van ’n goeie letterlike herder—dapperheid, hardwerkendheid, vindingrykheid en, bowenal, innige besorgdheid oor die welsyn van die kudde.
In die dae van God se profeet Esegiël het die meeste herders wat aangestel was om na die behoeftes van Jehovah se volk in Israel om te sien hulle pligte versuim. God se kudde het as gevolg daarvan baie gely, en die meeste het ware aanbidding verlaat (Esegiël 34:1-10). Vandag beweer die geestelikes van die Christendom dat hulle die herders van die sogenaamde Christelike gemeente is, maar daardie gemeente se geestelike siek toestand bewys dat die geestelikes soos die goddelose bedrieërs is wat die mense verwaarloos en sleg behandel het toe Jesus op die aarde was. Die Christendom se godsdiensleiers is soos “die huurling” wat “niks vir die skape omgee nie” (Johannes 10:12, 13). Hulle is glad nie bereid, in staat of bekwaam om as herders oor die kudde van God toesig te hou nie.
Herders wat werklik omgee
Jesus het die volmaakte voorbeeld gestel vir almal wat as herders oor Jehovah se kudde sou toesig hou. Hy was in alle opsigte liefdevol, goedhartig, medelydend en behulpsaam teenoor sy dissipels. Hy het die inisiatief geneem om diegene te soek wat hulp nodig gehad het. Hoewel Jesus besig en dikwels moeg was, het hy altyd tyd ingeruim om na hulle probleme te luister en hulle te bemoedig. Sy bereidwilligheid om sy lewe vir hulle op te offer, was die grootste liefdeblyk.—Johannes 15:13.
Vandag rus hierdie verantwoordelikheid teenoor die kudde op al die aangestelde gemeentelike ouere manne sowel as op die bedieningsknegte. Daarom sal die meeste van hierdie verantwoordelike manne, selfs wanneer daar die moontlikheid van materiële voordele in ’n ander land bestaan, nie sommer verhuis en die gemeentes sonder genoeg hulp en toesig laat nie. Omdat ons in “swaar tye” lewe, het die kudde bemoediging en leiding nodig (2 Timotheüs 3:1-5). Daar is natuurlik ’n voortdurende gevaar dat party slagoffers van Satan sal word, wat ‘rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind’ (1 Petrus 5:8). Dit is nou belangriker as ooit tevore dat Christenherders ‘die onordelikes vermaan, die kleinmoediges bemoedig en die swakkes ondersteun’ (1 Thessalonicense 5:14). Voortdurende waaksaamheid is noodsaaklik as hulle wil verhoed dat swakkeres van die kudde afvallig word.—1 Timotheüs 4:1.
Hoe kan die herder vasstel wanneer ’n skaap hulp nodig het? Party van die ooglopender tekens is dat hy nie Christelike vergaderinge bywoon nie, nie gereeld aan die veldbediening deelneem nie en geneig is om noue omgang met ander te vermy. Swakhede kan ook bespeur word as ’n mens noukeurig op die skape se gesindheid en die strekking van hulle gesprekke let. Hulle is dalk geneig om krities oor ander te wees, wat miskien ’n aanduiding is dat hulle oor iets gegrief is. Hulle gesprekke draai dalk hoofsaaklik om materiële strewes pleks van geestelike doelwitte. ’n Algemene gebrek aan geesdrif, optimisme en vreugde kan beteken dat hulle geloof swak geword het. ’n Swaarmoedige gesindheid kan ’n aanduiding wees dat ongelowige familielede of wêreldse vriende druk op hulle uitoefen. As die herder op hierdie tekens let, kan dit hom help om te bepaal watter soort hulp nodig is.
Wanneer Christenherders ’n medegelowige besoek om hom te help, moet hulle hulle hoofdoel in gedagte hou. Dit is nie net ’n gesellige kuiertjie om oor koeitjies en kalfies te gesels nie. Die rede waarom die apostel Paulus sy broers besoek het, was sodat hy ‘’n geestelike gawe aan hulle kon oordra om hulle te versterk en sodat hulle deur mekaar se geloof bemoedig kon word’ (Romeine 1:11, 12, NAV). Voorbereiding is nodig om dit te kan doen.
Eers moet die persoon ontleed word en moet die herders probeer vasstel wat sy geestelike toestand is. Wanneer dit bepaal is, moet daar nagedink word oor watter soort riglyne, bemoediging en raad die nuttigste sal wees. God se Woord, die Bybel, moet die vernaamste inligtingsbron wees, want dit is “kragtig” (Hebreërs 4:12). Die Wagtoring en die Ontwaak! kan geraadpleeg word vir artikels wat handel oor die spesifieke behoeftes van skape wat met besondere probleme te kampe het. Daar is bemoedigende en verkwikkende ondervindinge in die Yearbook of Jehovah’s Witnesses. Die doel is om iets geesteliks oor te dra wat ‘goed is vir die persoon en hom kan opbou’.—Romeine 15:2, NAV.
Herderswerk wat opbou
’n Herder van ’n kudde letterlike skape weet dat hulle van hom afhanklik is vir beskerming en sorg. Afdwaling, siekte, moegheid, beserings en roofdiere hou die grootste gevaar in. Die geestelike herders moet ook soortgelyke gevare herken wat die welsyn van die kudde bedreig en hulle daarteen beskerm. Hier volg ’n paar tipiese probleme en ’n paar wenke oor wat gesê kan word om geestelik opbouende inligting oor te dra.
(1) Net soos onbehoedsame skape dwaal sommige Christene weg van God se kudde af omdat hulle deur oënskynlik onskuldige en genotvolle dinge verlok word. Hulle aandag word dalk afgetrek en hulle dryf miskien selfs weg omdat hulle doelwitte nastreef wat met materialisme, ontspanning en vermaak verband hou (Hebreërs 2:1). Sulke persone kan herinner word aan die dringendheid van die tye, aan die noodsaaklikheid daarvan om na aan Jehovah se organisasie te bly en aan die belangrikheid daarvan om Koninkryksbelange eerste in hulle lewe te stel (Mattheüs 6:25-33; Lukas 21:34-36; 1 Timotheüs 6:8-10). Daar is nuttige raad in die artikel “Behou jou balans—Hoe?” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1984, bladsye 27-30.
(2) ’n Herder moet skape versorg wat siek geword het. Geestelike herders moet eweneens Christene help wat as gevolg van negatiewe faktore in hulle lewe geestelik siek word (Jakobus 5:14, 15). Hulle is miskien werkloos, het dalk ’n ernstige gesondheidsprobleem of ondervind moontlik probleme in hulle gesinslewe. Sulke mense het miskien nie ’n sterk begeerte na geestelike voedsel of na omgang met God se volk nie. Dit veroorsaak dan weer dat hulle hulle afsonder en ontmoedig raak. Hulle moet daarvan verseker word dat Jehovah vir hulle omgee en hulle deur moeilike tye sal onderskraag (Psalm 55:23; Mattheüs 18:12-14; 2 Korinthiërs 4:16-18; 1 Petrus 1:6, 7; 5:6, 7). Dit sal ook nuttig wees om die artikel “Kyk reguit vorentoe as ’n Christen” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1980, bladsye 11-14, te hersien.
(3) Die herder moet op die uitkyk wees vir skape wat moeg word. Party volhard al jare lank getrou in Jehovah se diens. Hulle het al baie toetse en beproewinge deurstaan. Nou is daar tekens dat hulle moeg word om goed te doen, en hulle twyfel dalk selfs of sulke intensiewe predikingswerk nodig is. Hulle moet met nuwe moed besiel word en hulle waardering moet weer opgebou word vir die vreugdes en seëninge wat uit heelhartige diens aan God in navolging van Jesus Christus voortspruit (Galasiërs 6:9, 10; Hebreërs 12:1–3). Miskien kan hulle gehelp word om te besef dat Jehovah hulle lojale diens waardeer en dat hy hulle kan versterk vir toekomstige bedrywighede wat tot sy lof sal strek (Jesaja 40:29, 30; Hebreërs 6:10–12). Dit sal goed wees om gedagtes uit die artikel “Moenie moeg word om goed te doen nie” op bladsye 9-14 van Die Wagtoring van 15 Julie 1988 met hulle te bespreek.
(4) Soos skape wat beseer word, is sommige Christene al seergemaak deur wat hulle as aanstootlike optrede beskou. Maar as ons vergewensgesind teenoor ander is, sal ons vergifnis van ons hemelse Vader ontvang wanneer ons dit nodig het (Kolossense 3:12–14; 1 Petrus 4:8). Party broers of susters het miskien raad of tugtiging ontvang wat hulle voel onregverdig was. Ons kan egter almal by geestelike raad en tugtiging baat vind, en dit is vertroostend om te weet dat Jehovah diegene tugtig wat hy liefhet (Hebreërs 12:4–11). Ander het toegelaat dat daar ’n skeuring tussen hulle en die gemeente ontwikkel vanweë gekrenkte gevoelens omdat hulle nie die diensvoorregte gegee is waarvoor hulle meen hulle kwalifiseer nie. Maar as ons ons van Jehovah se organisasie afskei, is daar geen ander plek waarheen ons vir redding en ware vreugde kan gaan nie. (Vergelyk Johannes 6:66–69.) Nuttige inligting in hierdie verband verskyn in die artikel “Bewaar ons Christelike eenheid” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1988, bladsye 28-30.
(5) Skape moet teen roofdiere beskerm word. Dit kan vergelyk word met party wat deur ongelowige familielede of werkmaats teëgestaan en geïntimideer word. Hulle onkreukbaarheid kan bedreig word wanneer druk op hulle uitgeoefen word om hulle diens aan God te beperk of hulle deelname aan die Christelike bediening te staak. Dit versterk hulle egter wanneer hulle gehelp word om te besef dat ’n mens teenstand moet verwag en dat dit eintlik een van die bewyse is dat ons ware dissipels van Jesus Christus is (Mattheüs 5:11, 12; 10:32-39; 24:9; 2 Timotheüs 3:12). Dit kan voordelig wees om hulle daarop te wys dat Jehovah hulle nooit sal verlaat nie en hulle volharding sal beloon as hulle getrou bly (2 Korinthiërs 4:7–9; Jakobus 1:2–4, 12; 1 Petrus 5:8–10). Die artikel “Volhard vreugdevol ondanks vervolging” in Die Wagtoring van 1 Julie 1982, bladsye 15-21, voorsien verdere bemoediging.
Herders—Kom julle verantwoordelikhede na
Die behoeftes van God se kudde is talryk, en behoorlike waaksame sorg is ’n veeleisende werk. Christenherders moet derhalwe medelye en opregte besorgdheid toon en moet die begeerte hê om behulpsaam te wees. Geduld en onderskeidingsvermoë is belangrik. Terwyl sommige persone raad en vermaning nodig het, vind ander die meeste by bemoediging baat. In party gevalle is ’n paar persoonlike besoeke dalk genoeg, terwyl ’n gereelde Bybelstudie in ander gevalle nodig mag wees. Die hoofdoel is altyd om geestelik opbouende leiding of liefdevolle raad te verskaf wat die persoon sal motiveer om goeie studiegewoontes aan te kweek, om te begin of aan te hou om gemeentelike vergaderinge by te woon en om ’n aktiewe deelname aan die Christelike bediening te hê. Hierdie is van die vernaamste maniere om aan medegelowiges bystand te verleen en hulle te help om die weg te open sodat Jehovah se heilige gees vryelik kan vloei.
Herders wat daardie soort ondersteuning gee, verrig ’n uiters waardevolle diens ten behoewe van God se kudde. (Sien Die Wagtoring van 15 November 1985, bladsye 23-7.) Die kudde het innige waardering vir wat die geestelike herders doen. Nadat sulke hulp verleen is, het een gesinshoof gesê: ‘Nadat ons 22 jaar in die waarheid was, het ons vanweë materialisme by die wêreld betrokke geraak. Dikwels wou ons vergaderinge bywoon, maar dit was net altyd asof ons nie daar kon uitkom nie. Ons het nie werklik in Satan se wêreld ingepas nie, en daarom was ons heeltemal afgesny, afgesonderd. Dit het ons gefrusteerd en terneergedruk laat voel. Ons het woorde van bemoediging nodig gehad. Toe ’n ouere man ons besoek het, het ons dadelik tot ’n Bybelstudie in ons huis ingestem. Nou geniet ons almal weer die veiligheid wat Jehovah se organisasie bied. Ek kan my vreugde nie in woorde uitdruk nie!’
Daar is rede tot groot vreugde wanneer ons broers en susters wat afgedwaal het of mismoedig was geestelik verlewendig of weer bedrywig word (Lukas 15:4–7). Jehovah se voorneme ten opsigte van sy volk word verwesenlik wanneer hulle “soos skape in ’n kraal” verenig is (Miga 2:12). In hierdie veilige skuilplek ‘vind hulle verkwikking vir hulle siel’ deur middel van die hulp wat die Goeie Herder, Jesus Christus, voorsien (Mattheüs 11:28–30, NW). Die verenigde, wêreldwye kudde ontvang leiding, vertroosting en beskerming asook ’n oorvloed van geestelike voedsel.
Vandag sorg Jehovah deur middel van hierdie herderswerk dat ’n liefdevolle werk gedoen word wat in ooreenstemming is met sy eertydse belofte: “Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg. . . . Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is . . . Op ’n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei . . . Die wat verlore is, sal Ek soek, . . . en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk” (Esegiël 34:11–16). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah ons Herder is!—Psalm 23:1–4.
Omdat ons as Jehovah se knegte die Goddelike voorsiening het van herders wat na die kudde van God omsien, kan ons dieselfde as Dawid sê: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon” (Psalm 4:9). Ja, Jehovah se volk voel veilig onder sy liefdevolle sorg en hulle is dankbaar dat Christen- ouere manne met medelye as herders oor die kudde toesig hou.
[Foto-erkenning op bladsy 20]
Potter’s Complete Bible Encyclopedia