Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 1/15 bl. 10-14
  • Die mensdom het die kennis van God nodig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die mensdom het die kennis van God nodig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die kennis van God”
  • Die oes is groot!
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—1996
  • Help waarheidsoekers in hulle soeke na God
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Soek jy verborge skatte?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Help ander om die kennis op te doen wat tot die lewe lei
    Ons Koninkryksbediening—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 1/15 bl. 10-14

Die mensdom het die kennis van God nodig

“Jy [sal] die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”—SPREUKE 2:5.

1. Waarom kan daar gesê word dat die mensehart ’n meesterstuk van die Goddelike skepping is?

ONGEVEER 5 600 000 000 menseharte klop op hierdie oomblik op die aarde. Jou hart klop elke dag 100 000 keer en pomp die ekwivalent van 7 600 liter bloed deur jou liggaam se 100 000 kilometer lange hart-bloedvatestelsel. Geen ander spier werk harder as hierdie meesterstuk van die Goddelike skepping nie.

2. Hoe sal jy die figuurlike hart beskryf?

2 Daar is ook 5 600 000 000 figuurlike harte op die aarde. Ons emosies, ons beweegredes en ons begeertes is in die figuurlike hart gevestig. Dit is die setel van ons denke, ons begrip, ons wil. Die figuurlike hart kan trots of nederig wees, swaarmoedig of vrolik, verduister of verlig.—Nehemia 2:2, NW; Spreuke 16:5; Matteus 11:29; Handelinge 14:17; 2 Korintiërs 4:6; Efesiërs 1:16-18.

3, 4. Hoe word harte met die goeie nuus bereik?

3 Jehovah God kan die menslike hart lees. Spreuke 17:3 sê: “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.” Maar Jehovah lees nie bloot elke hart en spreek dan oordeel uit nie; hy gebruik eerder sy Getuies om mense se harte met die goeie nuus te bereik. Dit kom ooreen met die apostel Paulus se woorde: “‘Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.’ Maar hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek? En hoe sal hulle preek tensy hulle uitgestuur is? Net soos daar geskrywe staan: ‘Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!’”—Romeine 10:13-15.

4 Dit het Jehovah behaag om sy Getuies na die uithoeke van die aarde te stuur om ‘goeie nuus van goeie dinge bekend te maak’ en om diegene te vind wat ’n ontvanklike hart het. Ons is nou meer as 5 000 000—’n verhouding van 1 Getuie tot sowat 1 200 mense op die aarde. Dit is nie maklik om die miljarde mense op die aarde met die goeie nuus te bereik nie. Maar God rig hierdie werk deur middel van Jesus Christus en trek opregtes van hart. Die profesie wat in Jesaja 60:22 opgeteken is, word dus vervul: “Die kleine self sal duisend word‚ en die geringe ’n magtige nasie. Ek self‚ Jehovah‚ sal dit op sy tyd bespoedig.”—NW.

5. Wat is kennis, en wat kan van die wêreld se wysheid gesê word?

5 Dit is nóú daardie tyd, en een ding is duidelik—die miljarde mense op die aarde het kennis nodig. Kennis beteken basies om vertroud te wees met feite wat deur ondervinding, waarneming of studie ingewin is. Die wêreld het baie kennis opgedoen. Vooruitgang is op die gebied van vervoer, gesondheidsorg en kommunikasie gemaak. Maar is dit wêreldse kennis wat die mensdom werklik nodig het? Nouliks! Oorlog, verdrukking, siekte en die dood teister steeds die mensdom. Die wêreld se wysheid was al dikwels soos waaisand in ’n woestynstorm.

6. Hoe vergelyk die kennis van God met wêreldse wysheid wat bloed betref?

6 Ter toeligting: ’n Paar eeue gelede was dit gebruiklik om die toevlug tot bloedlating te neem as ’n sogenaamde geneeswyse. Gedurende die laaste paar uur van George Washington, die eerste president van die Verenigde State, se lewe is sy bloed herhaaldelik afgetap. Op een stadium het hy gesê: “Laat my stil sterf; ek kan nie veel langer hou nie.” Hy was reg, want hy het daardie selfde dag—14 Desember 1799—gesterf. In plaas van bloedlating word daar vandag klem gelê op die oortapping van bloed in die menseliggaam in. Albei prosedures het al met dodelike probleme gepaardgegaan. Maar God se Woord het nog altyd gesê: ‘Onthou julle voortdurend van bloed’ (Handelinge 15:29). Die kennis van God is altyd reg, betroubaar en op die hoogte van die tyd.

7. Hoe vergelyk juiste skriftuurlike kennis met wêreldse wysheid wat die grootmaak van kinders betref?

7 Beskou nog ’n voorbeeld van onbetroubare wêreldse wysheid. Jare lank het sielkundiges permissiewe metodes van kinderopvoeding aanbeveel, maar een van die voorstanders hiervan het later erken dat dit ’n fout was. Die Duitse Filologiese Vereniging het eenkeer gesê dat permissiwiteit “ten minste indirek verantwoordelik [is] vir die probleme wat ons nou met jongmense het”. Wêreldse wysheid verander miskien asof met elke wind, maar juiste skriftuurlike kennis is bestendig. Die Bybel gee gebalanseerde raad oor kinderopleiding. “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf”, sê Spreuke 29:17. Sulke dissipline moet met liefde uitgeoefen word, want Paulus het geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—Efesiërs 6:4.

“Die kennis van God”

8, 9. Hoe sal jy verduidelik wat Spreuke 2:1-6 oor die kennis sê wat die mensdom werklik nodig het?

8 Hoewel Paulus ’n geleerde man was, het hy gesê: “As iemand onder julle dink dat hy wys is in hierdie stelsel van dinge, laat hom ’n dwaas word, sodat hy wys kan word. Want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God” (1 Korintiërs 3:18, 19). God alleen kan die kennis verskaf wat die mensdom werklik nodig het. Spreuke 2:1-6 sê oor sulke kennis: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind . . . want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand.”

9 Diegene wat deur ’n goeie hart beweeg word, luister na wysheid deur godgegewe kennis reg te gebruik. Hulle neig hulle hart tot verstand en oorweeg die feite wat hulle leer noukeurig. Hulle roep as ’t ware na insig, of die vermoë om te sien hoe die aspekte van ’n onderwerp met mekaar verband hou. Regskapenes werk asof hulle na silwer delf en verborge skatte soek. Maar watter groot skat vind diegene wat ’n ontvanklike hart het? Dit is “die kennis van God”. Wat is dit? Om dit eenvoudig te stel, dit is die kennis wat in God se Woord, die Bybel, gevind word.

10. Wat moet ons doen om goeie geestelike gesondheid te geniet?

10 Die kennis van God is betroubaar, bestendig, lewegewend. Dit bevorder geestelike gesondheid. Paulus het Timoteus aangespoor: “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het, met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is” (2 Timoteus 1:13). ’n Taal het ’n patroon van woorde. Net so het die “suiwer taal” van skriftuurlike waarheid “die patroon van gesonde woorde”, wat hoofsaaklik gegrond is op die Bybel se tema van die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit deur middel van die Koninkryk (Sefanja 3:9, NW). Ons moet hierdie patroon van gesonde woorde in ons verstand en hart bewaar. As ons figuurlike hartprobleme wil vermy en geestelik gesond wil bly, moet ons die Bybel in ons lewe toepas en die geestelike voorsienings wat God deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” maak ten volle benut (Matteus 24:45-47; Titus 2:2). Laat ons altyd onthou dat ons die kennis van God nodig het as ons goeie geestelike gesondheid wil geniet.

11. Wat is van die redes waarom die mensdom die kennis van God nodig het?

11 Dink bietjie aan ander redes waarom die miljarde mense op die aarde die kennis van God nodig het. Weet hulle almal hoe die aarde en mense ontstaan het? Nee, hulle weet nie. Ken die hele mensdom die ware God en sy Seun? Is almal bewus van die geskille wat Satan oor Goddelike soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid geopper het? Weer eens nee. Weet mense oor die algemeen waarom ons oud word en sterf? Weer moet ons nee sê. Weet al die aarde se bewoners dat God se Koninkryk tans heers en dat ons in die laaste dae lewe? Is hulle bewus van bose geesmagte? Het alle mense betroubare kennis oor hoe om ’n gelukkige gesinslewe te hê? En weet die meerderheid dat ons Skepper se voorneme vir die gehoorsame mensdom ’n vreugdevolle lewe in die Paradys is? Ook op hierdie vrae is die antwoord nee. Dit is dus duidelik dat die mensdom die kennis van God nodig het.

12. Hoe kan ons God “met gees en waarheid aanbid”?

12 Jesus het op die laaste nag van sy aardse lewe nog ’n rede in gebed verstrek waarom die mensdom die kennis van God nodig het. Dit moes sy apostels diep geraak het om hom te hoor sê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Om sulke kennis toe te pas, is die enigste manier om God op aanvaarbare wyse te dien. “God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid”, het Jesus gesê (Johannes 4:24). Ons aanbid God “met gees” wanneer ons deur harte gevul met geloof en liefde beweeg word. Hoe aanbid ons hom ‘met waarheid’? Deur sy Woord te bestudeer en hom te aanbid ooreenkomstig sy geopenbaarde waarheid—“die kennis van God”.

13. Watter voorval is in Handelinge 16:25-34 opgeteken, en wat kan ons daaruit leer?

13 Elke jaar begin duisende mense Jehovah aanbid. Maar moet ons oor ’n lang tydperk Bybelstudies met belangstellendes hou, of is dit moontlik om opregtes van hart te help om die punt van doop gouer te bereik? Wel, dink aan wat in die geval van die tronkbewaarder en sy huisgenote gebeur het soos in Handelinge 16:25-34 gemeld word. Paulus en Silas is in Filippi in die tronk opgesluit, maar om middernag het ’n groot aardbewing die tronkdeure geopen. Omdat die tronkbewaarder gedink het dat al die gevangenes ontsnap het en dat hy swaar gestraf sou word, was hy op die punt om selfmoord te pleeg toe Paulus vir hom gesê het dat hulle almal daar is. Paulus en Silas “het die woord van Jehovah tot hom en tot almal in sy huis gespreek”. Daardie tronkbewaarder en sy gesin was nie-Jode wat geen agtergrond in die Heilige Skrif gehad het nie. Tog het hulle in daardie een nag gelowiges geword. Wat meer is, ‘hy en sy huis is almal sonder uitsondering gedoop’. Dit was buitengewone omstandighede, maar nuwelinge is basiese waarhede geleer en daarna ander dinge by gemeentelike vergaderinge geleer. Dit behoort moontlik te wees om vandag iets soortgelyks te doen.

Die oes is groot!

14. Waarom is daar ’n behoefte om ’n groter aantal doeltreffende Bybelstudies oor ’n korter tydperk te hou?

14 Dit sou goed wees as Jehovah se Getuies ’n groter aantal doeltreffende Bybelstudies oor ’n korter tydperk kon hou. Daar is ’n groot behoefte hieraan. In Oos-Europese lande moet mense byvoorbeeld op ’n waglys vir Bybelstudies geplaas word. Dit is ook elders die geval. In een dorp in die Dominikaanse Republiek het vyf Getuies soveel versoeke ontvang dat hulle nie al die studies kon behartig nie. Wat het hulle gedoen? Hulle het belangstellendes aangespoor om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon en hulle name op ’n waglys vir Bybelstudies te plaas. Ons vind dieselfde situasie in baie plekke rondom die aarde.

15, 16. Wat is voorsien om die kennis van God vinniger te versprei, en wat is ’n paar feite daaromtrent?

15 Uitgestrekte gebiede—groot lande om geoes te word—gaan vir God se volk oop. Hoewel Jehovah, “die Heer van die oes”, meer werkers uitstuur, is daar nog baie om te doen (Matteus 9:37, 38). Om die kennis van God dus vinniger te versprei, het die ‘getroue slaaf’ iets voorsien wat spesifieke inligting bondig verstrek sodat Bybelstudente met elke les geestelik vooruitgang kan maak. Dit is ’n nuwe publikasie wat redelik gou met tuisbybelstudies gedek kan word—miskien binne ’n paar maande. En dit kan maklik in ons velddienstas, ons handsak of selfs ons sak pas! Die honderdduisende wat by die “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies byeen was, was verheug om hierdie nuwe boek met die titel Kennis wat tot die ewige lewe lei, met 192 bladsye, te ontvang.

16 Skrywers in verskillende lande het materiaal voorberei wat met sorg vir die Kennis-boek gefinaliseer is. Die boek behoort dus wêreldwyd byval te vind. Maar sal dit lank duur voordat hierdie nuwe publikasie in die tale van mense rondom die wêreld uitgegee word? Nee, want ’n boek met 192 bladsye kan vinniger as groter boeke vertaal word. Teen Oktober 1995 het die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam dit goedgekeur dat hierdie boek uit Engels in meer as 130 tale vertaal word.

17. Watter faktore behoort dit maklik te maak om die Kennis-boek te gebruik?

17 Die duidelik gestelde grondwaarhede in elke hoofstuk van die Kennis-boek behoort dit vir studente moontlik te maak om redelik vinnig geestelike vooruitgang te maak. Die boek bied skriftuurlike waarhede op ’n opbouende wyse aan. Dit wei nie uit oor valse leerstellings nie. Duidelike taal en logiese ontwikkeling sal dit maklik maak om die boek te gebruik om Bybelstudies te hou en mense te help om die kennis van God te verstaan. Benewens aangehaalde tekste is daar verwysings na Bybeltekste wat die student ter voorbereiding vir die bespreking kan naslaan. Dit kan gedurende die studie gelees word as die tyd dit toelaat, hoewel dit nie verstandig sal wees om ekstra materiaal in te bring wat die hoofgedagtes kan vertroebel nie. Diegene wat die Bybelstudies hou, moet probeer verstaan wat die boek in elke hoofstuk bewys en dít eerder aan die student probeer oordra. Dit beteken dat die onderrigter ywerig moet studeer sodat hy die hoofgedagtes baie duidelik in sy gedagtes het.

18. Watter voorstelle word aangaande die gebruik van die Kennis-boek gedoen?

18 Hoe kan die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei die dissipelmaakwerk bespoedig? Hierdie boek met 192 bladsye kan in ’n betreklike kort tydjie bestudeer word, en diegene “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, behoort deur ’n studie daarvan genoeg te leer om hulle aan Jehovah toe te wy en hulle te laat doop (Handelinge 13:48). Laat ons dus goed van die Kennis-boek gebruik maak in die bediening. As ’n Bybelstudent ’n ander boek feitlik klaar bestudeer het, sal dit dalk prakties wees om dit te voltooi. Anders wil ons voorstel dat Bybelstudies na die Kennis-boek oorslaan. Nadat hierdie nuwe publikasie voltooi is, stel ons nie voor dat ’n studie met dieselfde student uit ’n tweede boek gehou word nie. Diegene wat die waarheid aanneem, kan hulle kennis uitbrei deur die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon en deur die Bybel en verskeie Christelike publikasies op hulle eie te lees.—2 Johannes 1.

19. Waarom sal dit nuttig wees om bladsye 175 tot 218 in die boek Georganiseer om ons bediening te vervul te hersien voordat Bybelstudies in die Kennis-boek gehou word?

19 Die Kennis-boek is geskryf met die doel om ’n persoon te help om al die vrae te beantwoord wat die ouer manne hersien met ongedoopte verkondigers wat as Getuies van Jehovah gedoop wil word. Voordat jy dus jou huidige Bybelstudies in hierdie nuwe publikasie begin hou, beveel ons aan dat jy ’n paar uur daaraan bestee om die vrae te hersien op bladsye 175 tot 218 van die boek Georganiseer om ons bediening te vervul.a Dit sal jou help om die antwoorde op sulke vrae gedurende Bybelstudies in die Kennis-boek te beklemtoon.

20. Wat is jy van plan om met die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei te doen?

20 Mense in alle wêrelddele moet die goeie nuus hoor. Ja, die mensdom het die kennis van God nodig, en Jehovah het sy Getuies om dit bekend te maak. Nou het ons ’n nuwe boek wat ons liefdevolle hemelse Vader deur die getroue en verstandige slaaf voorsien het. Sal jy dit gebruik om ander die waarheid te leer en Jehovah se heilige naam te eer? Jehovah sal jou sekerlik seën terwyl jy alles in jou vermoë doen om die kennis wat tot die ewige lewe lei aan baie beskikbaar te stel.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe sal jy die figuurlike hart beskryf?

◻ Wat is die kennis van God?

◻ Waarom het die mensdom die kennis van God nodig?

◻ Watter nuwe boek is beskikbaar, en hoe gaan jy dit gebruik?

[Prent op bladsy 10]

Daar is baie redes waarom die miljarde mense op die aarde die kennis van God nodig het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel