Dien Jehovah met ’n selfopofferende gees
“As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.”—MATTHEÜS 16:24, NW.
1. Hoe het Jesus sy dissipels van sy naderende dood vertel?
IN DIE skaduwee van die sneeubedekte berg Hermon het Jesus Christus ’n vername mylpaal in sy lewe bereik. Hy het minder as ’n jaar oor om te lewe. Hy weet dit; sy dissipels weet dit nie. Die tyd het nou aangebreek dat hulle dit moet weet. Jesus het wel vantevore op sy naderende dood gesinspeel, maar dit is nou die eerste keer dat hy dit uitdruklik noem (Mattheüs 9:15; 12:40). Mattheüs se verslag sê: “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.”—Mattheüs 16:21; Mark 8:31, 32.
2. Wat was Petrus se reaksie op Jesus se woorde oor Sy toekomstige lyding, en hoe het Jesus gereageer?
2 Jesus het min tyd oor. Maar Petrus is verontwaardig oor so ’n oënskynlik morbiede gedagte. Hy kan nie aanvaar dat die Messias werklik doodgemaak sal word nie. Petrus waag dit derhalwe om sy Heer te bestraf. Met die beste bedoelings spoor hy Jesus impulsief aan: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie bestemming hê nie!” Maar Jesus verwerp Petrus se misplaaste goedhartigheid onmiddellik, soos ’n mens die kop van ’n giftige slang sal vermorsel. “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”—Mattheüs 16:22, 23, vgl. NW.
3. (a) Hoe het Petrus homself onwetend ’n werktuig van Satan gemaak? (b) Hoe was Petrus ’n struikelblok op die weg van selfopoffering?
3 Petrus het homself onwetend ’n werktuig van Satan gemaak. Jesus se antwoord is net so beslissend soos toe hy Satan in die woestyn geantwoord het. Daar het die Duiwel Jesus probeer versoek met ’n gemaklike lewe, ’n koningskap sonder lyding (Mattheüs 4:1-10). Nou spoor Petrus hom aan om homself die lyding te spaar. Jesus weet dat dit nie sy Vader se wil is nie. Hy moet ’n selfopofferende lewe lei en nie sy eie belange najaag nie (Mattheüs 20:28). Petrus het op hierdie weg ’n struikelblok geword; sy goed bedoelde simpatie word ’n strik.a Maar Jesus besef dat hy God se goedkeuring sal verloor as hy enige gedagte oor ’n lewe sonder opoffering koester, want dan sal hy in die doodsgreep van ’n sataniese strik vasgevang word.
4. Waarom het Jesus en sy volgelinge nie ’n gemaksugtige lewe gelei nie?
4 Petrus moes dus sy denke verander. Sy woorde aan Jesus het ’n mens se gedagte weerspieël en nie God s’n nie. ’n Gemaksugtige lewe, ’n maklike manier om homself die lyding te spaar, was nie wat Jesus wou hê nie; sy volgelinge moes ook nie so ’n lewe lei nie, want Jesus sê voorts vir Petrus en die res van die dissipels: “As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg.”—Mattheüs 16:24, NW.
5. (a) Watter uitdaging hou die Christelike lewe in? (b) Watter drie belangrike dinge moet ’n Christen bereid wees om te doen?
5 Jesus het keer op keer terugverwys na hierdie belangrike tema: die uitdaging om die Christelike lewe te lei. Om ’n volgeling van Jesus te wees, moet Christene, soos hulle Leier, Jehovah met ’n selfopofferende gees dien (Mattheüs 10:37-39). Hy noem derhalwe drie belangrike dinge wat ’n Christen bereid moet wees om te doen: (1) homself verloën, (2) sy folterpaal opneem en (3) Hom voortdurend volg.
“As iemand agter My aan wil kom”
6. (a) Hoe verloën ’n mens jouself? (b) Wie moet ons ten alle tye behaag?
6 Wat beteken dit om jouself te verloën? Dit beteken dat ’n persoon homself alles moet ontsê, dat hy as ’t ware ten opsigte van homself sterf. Die grondbetekenis van die Griekse woord wat met “verloën” vertaal word, is “om nee te sê”; dit beteken “om heeltemal te versaak”. As jy dus die uitdaging van die Christelike lewe aanvaar, doen jy gewillig afstand van jou ambisies, geriewe, begeertes, geluk en plesier. In wese gee jy jou hele lewe en alles wat daarby betrokke is vir altyd aan Jehovah God. Om jouself te verloën, behels meer as om jouself net nou en dan sekere plesiere te ontsê. Dit beteken eerder dat ’n mens eienaarskap van jouself aan Jehovah moet oorgee (1 Korinthiërs 6:19, 20). Iemand wat homself verloën het, lewe, nie vir homself nie, maar om God te behaag (Romeine 14:8; 15:3). Dit beteken dat hy elke oomblik van sy lewe nee sê vir selfsugtige begeertes en ja vir Jehovah.
7. Wat is die Christen se folterpaal, en hoe dra hy dit?
7 Om jou folterpaal op te neem, het dus ernstige implikasies. As jy ’n folterpaal dra, dra jy ’n las en is dit ’n simbool van die dood. Die Christen is bereid om te ly, indien nodig, of om oneer te ly, gemartel te word of selfs doodgemaak te word omdat hy ’n volgeling van Jesus Christus is. Jesus het gesê: ‘Wie sy folterpaal nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie’ (Mattheüs 10:38). Nie almal wat ly, dra die folterpaal nie. Die goddelose het baie “smarte”, maar hulle dra nie ’n folterpaal nie (Psalm 32:10). Maar die Christen se lewe is ’n lewe waartydens hy die folterpaal van opofferende diens aan Jehovah dra.
8. Watter voorbeeld het Jesus vir sy volgelinge nagelaat?
8 Die laaste voorwaarde wat Jesus genoem het, is dat ons hom voortdurend moet volg. Jesus vereis nie net dat ons aanvaar en glo wat hy geleer het nie, maar dat ons die res van ons lewe die voorbeeld wat hy gestel het voortdurend sal volg. En wat is party van die vernaamste kenmerke wat ons in die voorbeeld van sy lewe sien? Toe hy sy volgelinge hulle laaste opdrag gegee het, het hy gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Jesus het die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en aan ander geleer. Sy eerste dissipels en, trouens, die hele vroeë Christengemeente het dit gedoen. Hulle ywer in hierdie bedrywigheid, asook die feit dat hulle geen deel van die wêreld was nie, het die haat en teëstand van die wêreld oor hulle gebring, wat daartoe gelei het dat hulle folterpaal selfs swaarder was om te dra.—Johannes 15:19, 20; Handelinge 8:4.
9. Hoe het Jesus ander mense behandel?
9 Nog ’n belangrike voorbeeld wat ons in Jesus se lewe sien, is die manier waarop hy ander mense behandel het. Hy was goedhartig en “sagmoedig en nederig”. Sy luisteraars is dus verkwik en is deur sy teenwoordigheid aangespoor (Mattheüs 11:29). Hy het hulle nie geforseer om hom te volg of reël na reël neergelê oor hoe hulle dit moet doen nie; hy het ook nie skuldgevoelens by hulle laat ontstaan om hulle te dwing om sy dissipels te wees nie. Ten spyte van hulle selfopofferende lewe het hulle ware vreugde uitgestraal. Hoe baie verskil hulle tog van diegene met die wêreldse gees van gemaksug wat “die laaste dae” kenmerk!—2 Timotheüs 3:1-4.
Hoe ons die selfopofferende gees van Jesus kan aankweek en behou
10. (a) Hoe het Christus homself volgens Filippense 2:5-8 verloën? (b) Watter gesindheid moet ons openbaar as ons volgelinge van Christus is?
10 Jesus het die voorbeeld gestel deur homself te verloën. Hy het sy folterpaal opgeneem en dit voortdurend gedra deur sy Vader se wil te doen. Paulus het aan Christene in Filippi geskryf: “Hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood aan die [folterpaal]” (Filippense 2:5-8). Wie kon homself in groter mate verloën? As jy aan Christus Jesus behoort en jy een van sy volgelinge is, moet jy hierdie selfde gesindheid hê.
11. Volgens wie se wil moet ons lewe as ons ’n selfopofferende lewe wil lei?
11 Petrus, nog een van die apostels, sê vir ons dat Christene hulleself, soos goed voorbereide soldate, moet wapen met dieselfde gesindheid wat Christus gehad het, aangesien Jesus vir ons gely en gesterf het. Hy skryf: “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God” (1 Petrus 3:18; 4:1, 2). Jesus se selfopofferende handelswyse het duidelik getoon hoe hy daaroor gevoel het. In sy toewyding het hy net een doel voor oë gehad, naamlik om sy Vader se wil altyd die voorkeur te gee, al het dit beteken dat hy ’n skandelike dood moes sterf.—Mattheüs 6:10; Lukas 22:42.
12. Was ’n selfopofferende lewe vir Jesus iets onaangenaams? Verduidelik.
12 Hoewel Jesus se selfopofferende lewe beteken het dat hy ’n moeilike en veeleisende weg moes volg, was dit nie vir hom iets onaangenaams nie. Jesus het eerder behae daarin geskep om hom aan die Goddelike wil te onderwerp. Dit was vir hom soos voedsel om sy Vader se werk te doen. Dit het hom ware tevredenheid verskaf, net soos ’n mens tevredenheid ervaar wanneer jy ’n goeie maaltyd geniet het (Mattheüs 4:4; Johannes 4:34). As jy in jou lewe werklik voldoening wil smaak, kan jy dus niks beters doen nie as om die voorbeeld van Jesus na te volg deur sy gesindheid aan te kweek.
13. Hoe is liefde die dryfkrag agter ’n selfopofferende gees?
13 Wat is werklik die dryfkrag agter ’n selfopofferende gees? In een woord: liefde. Jesus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:37-39). ’n Christen kan nie tegelykertyd selfsugtig wees en daardie woorde gehoorsaam nie. Sy eie geluk en belange moet allereers deur sy liefde vir Jehovah en dan deur sy liefde vir sy naaste beheers word. Dit is hoe Jesus sy lewe gelei het, en dit is wat hy van sy volgelinge verwag.
14. (a) Watter verantwoordelikhede word in Hebreërs 13:15, 16 verduidelik? (b) Wat spoor ons aan om die goeie nuus met ywer te verkondig?
14 Die apostel Paulus het hierdie wet van liefde verstaan. Hy het geskryf: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers” (Hebreërs 13:15, 16). Christene offer nie diereoffers en dies meer aan Jehovah nie; daarom het hulle nie ’n menslike priester by ’n materiële tempel nodig om in hulle aanbidding ten behoewe van hulle op te tree nie. Ons bring ons lofoffer deur Christus Jesus. En dit is hoofsaaklik deur daardie lofoffer, die vrug van die lippe wat sy naam bely, dat ons ons liefde vir God betoon. Dit is veral ons onselfsugtige gees wat sy oorsprong in liefde het wat ons aanspoor om die goeie nuus met ywer te verkondig en daarna te strewe om altyd bereid te wees om aan God die vrug van ons lippe te bring. Op hierdie manier betoon ons ook liefde vir ons naaste.
Selfopoffering bring ryk seëninge mee
15. Watter ondersoekende vrae kan ons ons oor selfopoffering afvra?
15 Staan ’n oomblik stil en dink oor die volgende vrae na: Toon my huidige lewe dat ek ’n weg van selfopoffering volg? Toon my doelwitte dat ek so ’n lewe lei? Maai my gesinslede geestelike voordele as gevolg van my voorbeeld? (Vergelyk 1 Timotheüs 5:8.) Wat van wese en weduwees? Vind hulle ook by my selfopofferende gees baat? (Jakobus 1:27). Kan ek meer tyd aan my openbare lofoffer bestee? Kan ek na die voorreg streef om pionier-, Bethel- of sendingdiens te doen of kan ek na ’n gebied verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?
16. Hoe kan vindingrykheid ons help om ’n selfopofferende lewe te lei?
16 Soms is net ’n bietjie vindingrykheid nodig as ons ons volle potensiaal wil bereik om Jehovah met ’n selfopofferende gees te dien. Janet, ’n gewone pionier in Ecuador, het byvoorbeeld ’n voltydse sekulêre werk gehad. Kort voor lank het haar rooster dit vir haar moeilik gemaak om die uurvereiste vir gewone pioniers met ’n vreugdevolle gees te bereik. Sy het besluit om die probleem aan haar werkgewer te verduidelik en te vra of sy minder ure kan werk. Aangesien hy haar nie minder ure wou laat werk nie, het sy besluit om Maria saam te neem, wat ’n deeltydse werk gesoek het sodat sy ’n pionier kon word. Hulle albei het aangebied om halfdag te werk en sodoende ’n volle dag se werk te deel. Die werkgewer het die voorstel aanvaar. Albei susters is nou gewone pioniers. Toe Kaffa, wat ook uitgeput was omdat sy voltyds vir dieselfde firma gewerk het en met haar pioniertyd gesukkel het, die wonderlike resultaat hiervan sien, het sy Magali saamgeneem en dieselfde voorstel gedoen. Dit is ook aanvaar. Vier susters kan gevolglik pionierdiens doen, pleks van twee wat op die punt gestaan het om die voltydse diens te verlaat. Vindingrykheid en inisiatief het goeie resultate tot gevolg gehad.
17-21. Hoe het een egpaar hulle doel in die lewe in heroorweging geneem, en met watter resultaat?
17 Kyk vervolgens na die selfopofferende weg wat Evonne die afgelope tien jaar gevolg het. Sy het in Mei 1991 die volgende aan die Wagtoringgenootskap geskryf:
18 “In Oktober 1982 het ek en my familie op ’n toer deur Brooklyn-Bethel gegaan. Ek was só beïndruk dat ek aansoek wou doen om daar te werk. Ek het ’n aansoekvorm gelees, en daar was een opvallende vraag: ‘Wat is jou gemiddelde velddiensure vir die afgelope ses maande? As gemiddelde ure onder tien is, verduidelik waarom.’ Ek kon aan geen geldige rede dink nie, daarom het ek vir my ’n doelwit gestel en dit vyf maande lank bereik.
19 “Al kon ek aan ’n paar verskonings dink om nie pionierdiens te doen nie, was ek oortuig toe ek die 1983 Yearbook of Jehovah’s Witnesses gelees het dat ander groter struikelblokke as ek te bowe gekom het om pionierdiens te kan doen. Daarom het ek op 1 April 1983 uit my lonende voltydse betrekking bedank en ’n hulppionier geword, en ek het op 1 September 1983 by die geledere van die gewone pioniers aangesluit.
20 “In April 1985 het ek die vreugde gehad om met ’n gawe bedieningskneg te trou. Drie jaar later het ’n streekbyeenkomstoespraak oor pionierdiens my man laat oorleun en vra: ‘Kan jy aan enige rede dink waarom ek nie op 1 September ’n pionier kan word nie?’ Die volgende twee jaar het hy by my in hierdie werk aangesluit.
21 “My man het ook aangebied om twee weke lank bouwerk by Brooklyn-Bethel te doen en het aansoek gedoen om lid van die Internasionale Program te word. In Mei 1989 is ons dus na Nigerië om ’n maand met die bouwerk aan die takkantoor te help. Môre vertrek ons na Duitsland waar daar reëlings getref sal word vir ons visums sodat ons na Pole kan gaan. Ons is verheug om by so ’n geskiedkundige bouprojek betrokke te wees en om deel van hierdie nuwe aspek van voltydse diens te wees.”
22. (a) Hoe kan ons, soos Petrus, onwetend ’n struikelblok word? (b) Waarvan is diens aan Jehovah met ’n selfopofferende gees nie afhanklik nie?
22 Kan jy, as jy nie self ’n pionier kan wees nie, diegene wat in die voltydse diens is, aanmoedig om hulle voorreg te behou en hulle miskien selfs help om dit te doen? Of sal jy soos party welmenende familielede of vriende wees wat, soos Petrus, dalk vir ’n voltydse kneg sê om hom nie so in te span nie, om homself te spaar, terwyl hulle nie besef hoe dit dalk ’n struikelblok kan wees nie? As ’n pionier se gesondheid wel daaronder ly of as hy sy Christelike verantwoordelikhede nalaat, moet hy die voltydse diens dalk ’n tyd lank verlaat. Om Jehovah met ’n selfopofferende gees te dien, hang nie van ’n titel, soos pionier, Betheliet of iets dergliks, af nie. Dit hang eerder af van wat ons as mense is—hoe ons dink, wat ons doen, hoe ons ander behandel, hoe ons ons lewe lei.
23. (a) Hoe kan ons die vreugde bly smaak om ’n medewerker van God te wees? (b) Watter versekering kry ons in Hebreërs 6:10-12?
23 As ons werklik ’n selfopofferende gees het, sal ons die vreugde smaak om God se medewerkers te wees (1 Korinthiërs 3:9). Ons sal die bevrediging hê om te weet dat ons Jehovah se hart verbly (Spreuke 27:11). En ons het die versekering dat Jehovah ons nooit sal vergeet of verlaat solank ons getrou aan hom bly nie.—Hebreërs 6:10-12.
[Voetnoot]
a In Grieks was “struikelblok” (σκάνδαλον, skanʹda·lon) oorspronklik “die naam van die deel van die strik waaraan die aas vasgemaak word, gevolglik die strik of wip self”.—Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words.
Wat dink jy?
◻ Hoe het Petrus onwetend ’n struikelblok op die weg van selfopoffering geword?
◻ Wat beteken dit om jou te verloën?
◻ Hoe dra ’n Christen sy folterpaal?
◻ Hoe kan ons ’n selfopofferende gees aankweek en behou?
◻ Wat is die dryfkrag agter die gees van selfopoffering?
[Prent op bladsy 10]
Is jy bereid om jouself te verloën, jou folterpaal op te neem en Jesus voortdurend te volg?