Kodninkryksverkondigers berig
Onkreukbaarheid tydens ’n verbod
IN EEN land in Suidoos-Asië word die predikingswerk al 11 jaar lank amptelik deur die regering verbied. In die laaste jare het die broers egter rede gehad om te glo dat sommige verantwoordelike persone in die regering die situasie wil verander. Blykbaar het die sterk invloed wat die Christendom se godsdienste in regeringskringe uitoefen aanleiding tot die verbod gegee.
Die broers is met tye dopgehou, gearresteer en deurdringend ondervra. Die wat vir staatsinstellings werk, is met terugsetting in posisie of verpligte aftrede gedreig indien hulle nie by die politieke party van die Staat aansluit nie. ’n Groep verkondigers is wreed geslaan.
Getuies is ook hulle wetlike regte ontneem, soos die dienste van siviele howe en die reg om begrafnisse waar te neem. (Die owerheid stel ’n geestelike hiervoor aan.) Op sommige plekke weier hulle selfs om Getuies se huwelike te registreer!
Die wat toesig oor die werk in daardie land het, berig nietemin: “Wanneer broers die geskil moedig onder die oë sien en ’n eerbiedige getuienis met behulp van die Bybel gee, hou die ondervragings sonder uitsondering na ’n ruk op en word hulle nie meer so streng dopgehou nie, wat die broers in staat stel om die predikings- en dissipelmaakwerk met welslae voort te sit.”—Mattheüs 28:19.
’n Suster is byvoorbeeld tydens ondervraging gevra waar ons aan die naam Jehovah kom. Sy het onbevrees haar Bybel by Exodus 15:3 oopgemaak waar die naam voorkom. Die ondervraer, ’n militêre bevelvoerder, het dit saam met haar in die Bybel gelees en gesê: “Ja, sowaar. Dit is in die Bybel.” Toe het hy hom tot ’n geestelike gewend wat ook aan die ondervraging deelgeneem het en gevra: “Waarom vertel jy die mense nie van die naam nie?” Die geestelike het floutjies geantwoord: “O ja, die naam is in die Ou Testament. Maar aangesien hierdie land nie diplomatieke betrekkinge met Israel het nie, gebruik ons nie die naam nie.” Die suster is onmiddellik vrygelaat!
Nadat die polisie inligting van ’n “belangstellende” ontvang het, het hulle die eerste van drie streekbyeenkomste op die vooraand daarvan gekanselleer! Verskeie goedgesinde persone in die polisiemag het egter gehelp om die daaropvolgende ondervragings stop te sit. Die broers het onverskrokke die ander twee byeenkomste gehou.
Ondanks hewige godsdiensteenkanting in hierdie land is daar tog nog diegene wat geregtigheid liefhet. Een werkgewer het byvoorbeeld gesien hoe lojaal die broers aan hulle beginsels en geloof is en het sodoende selfs groter vertroue in hulle gekry. Hulle ontvang groter verantwoordelikheid by die werk.
Die skoolkinders het soortgelyke ervaringe. Regskape onderwysers bewonder hulle weens die onwrikbare standpunt wat hulle vir hulle geloof inneem.
Hoewel die situasie in die veld nou makliker word vir die broers, sit die kerke steeds hulle teenkanting voort en probeer hulle die getuieniswerk op elke moontlike manier stopsit. Soms probeer hulle om diegene wat die Bybel saam met die Getuies bestudeer fisies te beseer. Maar belangstellendes stroom steeds na Jehovah se organisasie. Een ondervinding is dié van ’n ouma wat in die sewentig is. Nadat sy ’n operasie op een van haar oë ondergaan het, het sy haar begeerte om hulppionierdiens te doen uitgespreek. Weens haar ouderdom het sy eers gedink dat die vereiste 60 uur te veel vir haar is, maar na sy aan die werk gespring het, het sy gevind dat dit binne haar bereik is. Trouens, gedurende die eerste tien dae het sy 38 uur aan die veldbediening bestee, twee boeke, drie boekies en twee tydskrifte in ’n moeilike gebied versprei; en twee Bybelstudies begin. Sy was verheug!
Die velddienssituasie in die land is oor die algemeen baie goed. Die broers kon veral sedert die algemene verkiesing groter aandag aan verskeie aspekte van die getuieniswerk skenk. Dit het die werk beslis bespoedig. ’n Gewone verkondiger het dalk tussen sewe en tien Bybelstudies. Huisbewoners was voorheen baie nuuskierig oor wie ons was, waarvandaan ons gekom het, ensovoorts. Nou hoef die broers hulle skaars bekend te stel. Die mense honger na bevredigende geestelike voedsel. Die veld is inderdaad reg om geoes te word.—Mattheüs 9:37, 38.
Ondanks beproewing het die broers in hierdie land voorwaar onkreukbaarheid gehandhaaf en onlangs ’n vermeerdering van sewe persent in die verkondigerhoogtepunt gehad! Hulle neem dieselfde standpunt in as die psalmis Dawid toe hy gesê het: “Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel.”—Psalm 26:11, NW.