Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 11/15 bl. 21-23
  • Gryp hierdie unieke geleentheid aan!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gryp hierdie unieke geleentheid aan!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wyse besluit
  • Ons tyd is spesiaal
  • ‘Die goeie nuus moet eers verkondig word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • ‘Hou aan om eers die koninkryk te soek’
    Aanbid die enigste ware God
  • ’n Bediening vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Voer jy jou bediening ten volle uit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 11/15 bl. 21-23

Gryp hierdie unieke geleentheid aan!

PETER was ver gevorderd in sy mediese studies toe hy in die Bybel se boodskap van redding begin belangstel het. Toe hy gegradueer en as ’n dokter in ’n hospitaal begin werk het, het sy meerderes hom voortdurend aangespoor om as ’n neurochirurg te spesialiseer. Dit was ’n geleentheid wat talle nuwe dokters sonder aarseling sou aangryp.

Tog het Petera besluit om hierdie geleentheid te laat verbygaan. Waarom? Het hy net nie die nodige ambisie en dryfkrag gehad nie? Nee, want Peter het wel goed oor die aanbod nagedink. Nadat hy ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah geword het, wou hy soveel tyd moontlik in die verskillende aspekte van die Christelike bediening deurbring. As hy eers as ’n neurochirurg gekwalifiseer het, het hy geredeneer, sou sy beroep meer en meer van sy tyd en energie in beslag neem. Was hy dwaas om hierdie besonderse vooruitsig prys te gee of was hy wys?

Vir party was Peter se besluit dalk dwaas. Hy het egter Bybeltekste soos Efesiërs 5:15, 16 in ag geneem. Daar het die apostel Paulus mede-Christene aangespoor: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is.”

Let asseblief op die uitdrukking “geleë tyd”. Dit is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat meestal in die Bybel gebruik word om na ’n tyd of periode te verwys wat deur sekere gebeure gekenmerk word of vir spesifieke bedrywighede gepas is. Hier het Paulus beklemtoon dat Christene tyd vir belangrike sake moet inruim. Trouens, hulle moet “seker . . . maak van wat die belangriker dinge is” (Filippense 1:10). Dit kom daarop aan dat ons prioriteite moet stel.

Wat is dus die Goddelike voorneme vir ons tyd? Wat is God se wil vir diegene wat hom liefhet? Bybelprofesieë identifiseer ons dag duidelik as “die tyd van die einde” of “die laaste dae” (Daniël 12:4; 2 Timoteus 3:1). Christus Jesus het geen twyfel gelaat oor wat vir ons dag van die allergrootste belang sou wees nie. Hy het spesifiek gesê dat ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde verkondig sal word tot ’n getuienis vir al die nasies’ voor die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge. Slegs dan sal die einde kom.—Matteus 24:3, 14.

Ons moet derhalwe elke geleentheid aangryp om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Matteus 28:19, 20). Aangesien hierdie werk nooit weer gedoen sal word nie, is dit ons laaste geleentheid om ons ten volle in hierdie lewensreddende werk uit te giet. “Nou is die besonder aanneemlike tyd.” Voorwaar, “nou is die dag van redding”.—2 Korintiërs 6:2.

’n Wyse besluit

Peter—die jong man wat aan die begin gemeld is—het goed oor sy besluit nagedink en al die moontlikhede oorweeg. Hy het besef dat dit nie vir hom verkeerd sou wees om te studeer met die doel om ’n neurochirurg te word nie. Maar wat was vir hom die belangrikste? In die lig van die dringendheid van die Christelike bediening was dit sy deelname aan hierdie werk. Terselfdertyd het hy verpligtinge gehad om na te kom. Hy is getroud en moet sy vrou onderhou wat aan die voltydse predikingswerk deelneem (1 Timoteus 5:8). Peter moes ook die skuld wat met sy opleiding verband gehou het, terugbetaal. Wat het hy dus besluit om te doen?

Peter het besluit om in radiologie te spesialiseer en ultraklankaftasting te doen. Dit was werk wat ’n normale werksdag sou vereis. Hy sou ook sy opleiding gedurende gewone werksure ontvang. Ja, party beskou dit dalk as ’n laer betrekking, maar dit sou hom die geleentheid bied om meer tyd aan geestelike doelwitte te wy.

Daar was nog iets wat tot Peter se besluit aanleiding gegee het. Hoewel hy nie ander oordeel wat dalk anders besluit het nie, het hy geweet dat dit vir ’n Christen gevaar inhou as hy te betrokke raak by sekulêre sake. Dit kan daartoe lei dat hy geestelike verantwoordelikhede verwaarloos. Dit word deur ’n ander voorbeeld toegelig wat met werk verband gehou het.

’n Sekere voltydse Koninkryksverkondiger was ’n opgeleide kunstenaar. Hy was in staat om homself finansieel te onderhou deur sy skilderye te verkoop. Terwyl hy die meeste van sy tyd aan die allerbelangrikste Christelike bediening bestee het, kon hy ’n gerieflike bestaan maak. Maar ’n begeerte het begin ontwikkel om sy loopbaan in die skilderkuns te bevorder. Hy het meer by die skilderkuns en die kunswêreld betrokke geraak, die voltydse bediening verlaat en uiteindelik heeltemal onbedrywig in die Koninkryksverkondigingswerk geword. Mettertyd het hy hom aan onskriftuurlike gedrag skuldig gemaak, met die gevolg dat hy nie meer ’n lid van die Christengemeente is nie.—1 Korintiërs 5:11-13.

Ons tyd is spesiaal

As persone wat Jehovah nou dien, wil ons ongetwyfeld getrou aan hom bly. Ons weet dat ons in die uitsonderlikste tyd in die mensegeskiedenis lewe. Ten einde God te bly dien en die huidige omstandighede met welslae die hoof te bied, sal ons dalk verskillende aanpassings moet maak. Ons kan dit met die oestyd vir ’n boer vergelyk. Dit is ’n tyd van spesiale bedrywigheid, wanneer daar van plaaswerkers verwag word om hulle meer as gewoonlik in te span en langer ure te werk. Waarom? Omdat die oes in ’n beperkte tyd ingesamel moet word.

Daar is slegs ’n beperkte tyd oor vir die huidige goddelose stelsel van dinge. ’n Ware Christen moet hom nou meer as ooit tevore inspan om Jesus se voorbeeld na te volg en in sy voetstappe te wandel. Sy lewenswandel op aarde het duidelik getoon wat vir hom van die grootste belang was. Hy het gesê: “Ons moet die werke verrig van hom wat my gestuur het terwyl dit dag is; die nag kom wanneer geen mens kan werk nie” (Johannes 9:4). Deur te sê dat die nag kom, het Jesus na die tyd verwys wanneer hy verhoor, aan ’n paal gehang en doodgemaak sou word, wanneer sy aardse bediening sou eindig en hy nie aan die werk van sy hemelse Vader sou kon deelneem nie.

Jesus het weliswaar gedurende sy bediening van drie en ’n half jaar ’n deel van sy tyd gebruik om wonderwerke te verrig en siekes te genees. Maar hy het die meeste van sy tyd gebruik om die Koninkryksboodskap te verkondig en om “’n vrylating aan die gevangenes [van valse godsdiens] te verkondig” (Lukas 4:18; Matteus 4:17). Jesus het sy bediening met ywerige inspanning uitgevoer en het ook tyd geneem om sy dissipels op te lei sodat hulle op die fondament kon bou wat hy gelê het en op doeltreffende wyse met die predikingswerk kon voortgaan. Jesus het elke geleentheid aangegryp om Koninkryksbelange te bevorder en wou hê dat sy dissipels dieselfde moes doen.—Matteus 5:14-16; Johannes 8:12.

Soos Jesus moet ons as sy hedendaagse volgelinge die mensdom se situasie beskou soos Jehovah God dit beskou. Die tyd vir hierdie stelsel van dinge word min, en God wil uit sy barmhartigheid hê dat almal die geleentheid moet kry om gered te word (2 Petrus 3:9). Sal dit derhalwe nie wys wees om die doen van Jehovah se wil voorkeur te gee bo alle ander strewes nie? (Matteus 6:25-33). Veral gedurende hierdie spesiale tyd waarin ons lewe, sal iets wat normaalweg as belangrik beskou sou word moontlik in ons lewe as Christene minder belangrik word.

Sal enigeen van ons ooit spyt wees dat ons God se wil eerste in ons lewe gestel het? Beslis nie, want die Christelike weg van selfopoffering is uiters lonend. Jesus het byvoorbeeld vir sy dissipels gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle: Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye, met vervolginge, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe.”—Markus 10:29, 30.

Niemand kan ’n geldelike waarde heg aan die belonings wat diegene ontvang wat hulle tyd gebruik om Jehovah te loof en die Koninkryksboodskap te verkondig nie. Hulle geniet soveel seëninge! Dit sluit in ware vriende, die bevrediging dat hulle die Goddelike wil doen, God se goedkeuring en die vooruitsig op eindelose lewe (Openbaring 21:3, 4). En wat ’n seën is dit tog om mense geestelik te help en Jehovah se heilige naam as sy Getuies te eer! Om ‘die geleë tyd uit te koop’, is ongetwyfeld ’n waarlik wyse en lonende weg. Dit is nou meer as ooit tevore die tyd om aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk deel te neem. Sal jy hierdie unieke geleentheid aangryp en daaraan vashou?

[Voetnoot]

a Nie sy regte naam nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel