Ons almal moet help om die werk gedoen te kry
1 Elke dissipel van Jesus Christus moet besef dat sy pogings om die Koninkrykspredikingswerk te ondersteun en daaraan deel te neem baie belangrik is. Jesus het besef dat sy dissipels nie almal dieselfde hoeveelheid Koninkryksvrugte sou voortbring nie (Matt. 13:23). Hoewel ’n aansienlike deel van die predikingswerk deur talle hardwerkende pioniers gedoen word, moet almal geprys word wat ywerig voortgaan om God te verheerlik deur soveel vrug moontlik te dra.—Joh. 15:8.
2 Gesamentlike pogings bereik baie: Jesus het voorspel dat die gesamentlike pogings van al sy dissipels groter werke as syne sou oplewer (Joh. 14:12). Hetsy ons persoonlike omstandighede beperk wat ons kan doen of ons toelaat om baie tyd aan die Koninkrykspredikingswerk te bestee, ons almal is nodig om die werk gedoen te kry. Dit is net soos Paulus gesê het: “Die hele liggaam [bevorder] die groei van die liggaam . . . deurdat dit harmonies saamgeheg is en tot samewerking gebring word deur middel van elke gewrig wat gee wat nodig is, volgens die werking van elke onderskeie lid in die regte mate.”—Ef. 4:16.
3 Party voel dalk dat hulle pogings nie veel beteken nie. Maar wat in Jehovah se oë belangrik is, is dat ons diens heelhartig moet wees. Alles wat ons vir hom doen, is kosbaar en word waardeer.—Vergelyk Lukas 21:1-4.
4 Gaan voort om die werk te ondersteun: Ons almal het die voorreg om materieel tot die wêreldwye werk by te dra. Party kan ook met die fisiese arbeid help wat met die ondersteuning van die Koninkrykswerk gepaardgaan. Elkeen kan probeer om goed voorbereide kommentare by die vergaderinge te gee en aan die Teokratiese Bedieningskool deel te neem. As ons geleenthede benut om ander aan te moedig, lewer ons ’n waardevolle bydrae tot die geestelikheid van die gemeente en vergroot dit die gemeente se vermoë om die werk uit te voer wat daaraan toevertrou is.
5 Ja, ons almal moet help om die werk gedoen te kry. Niemand moet voel dat hy nie nodig is nie. Ons gesamentlike pogings, groot sowel as klein, in Jehovah se diens onderskei ons as die enigste ware aanbidders van God (Mal. 3:18). Elkeen van ons kan ’n betekenisvolle aandeel daaraan hê om Jehovah te verheerlik en ander te help om hom te leer ken en te dien.