’n Progressiewe kykie na die dringende dissipelmaakwerk
1 Voordat Jesus die aarde verlaat het, het hy sy volgelinge beveel om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies’. Dit het vereis dat hulle ’n intensiewe predikings- en onderrigtingskampanje moes aanpak en hulle bedrywighede tot die hele bewoonde aarde moes uitbrei (Matt. 28:19, 20; Hand. 1:8). Het hulle hierdie opdrag as ’n las beskou wat te moeilik was om te dra? Nie volgens die apostel Johannes nie. Ná 65 jaar van dissipelmaakwerk het hy geskryf: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou; en tog is sy gebooie nie swaar nie.”—1 Joh. 5:3.
2 Die Bybelverslag van die werk van die vroeë Christene toon dat hulle hulle opdrag om dissipels van Jesus Christus te maak dringend uitgevoer het (2 Tim. 4:1, 2). Hulle het dit nie net weens ’n pligsgevoel gedoen nie, maar weens hulle liefdevolle begeerte om God te loof en aan ander die hoop van redding te bring (Hand. 13:47-49). Omdat almal wat dissipels geword het self daarna dissipelmakers was, het die Christengemeente in die eerste eeu vinnig gegroei.—Hand. 5:14; 6:7; 16:5.
3 Die dissipelmaakwerk kry groter momentum: Die grootste dissipelmaakwerk van alle tye word in hierdie 20ste eeu verrig! Tot dusver het miljoene mense die goeie nuus aanvaar en daarop gereageer (Luk. 8:15). Aangesien tyd vinnig minder word vir die huidige stelsel van dinge, het “die getroue en verstandige slaaf” ons van die instrumente voorsien wat dit vir opregtes van hart moontlik maak om die waarheid vinnig te leer.—Matt. 24:45.
4 In 1995 het ons die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei ontvang en in 1996 is dit gevolg deur die brosjure Wat vereis God van ons? Die Wagtoring van 15 Januarie 1996, bladsy 14, het aangaande die Kennis-boek gesê: “Hierdie boek met 192 bladsye kan in ’n betreklike kort tydjie bestudeer word, en diegene ‘wat die regte gesindheid vir die ewige lewe’ het, behoort deur ’n studie daarvan genoeg te leer om hulle aan Jehovah toe te wy en hulle te laat doop.”—Hand. 13:48.
5 Die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Junie 1996, “Hoe om dissipels te maak met die Kennis-boek”, het ons hierdie doelwit gegee: “Na gelang van die omstandighede en die vermoë van die student sal jy moontlik die meeste hoofstukke in een sessie van ’n uur of wat kan dek, sonder om deur die studie te jaag. Studente sal beter vordering maak wanneer die onderrigter sowel as die student elke week hulle afspraak vir die studie nakom.” Die artikel het verder gesê: “Daar kan tereg verwag word dat ’n persoon se opregtheid en die mate waarin hy belangstel om God te dien duidelik sal wees teen die tyd dat hy ’n studie van die Kennis-boek voltooi het.” Die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1996 het verduidelik: “Daar word verwag dat ’n doeltreffende onderrigter binne ’n relatief kort tydperk ’n opregte, gemiddelde student sal kan help om genoeg kennis op te doen om ’n ingeligte besluit te neem om Jehovah te dien.”
6 Die Kennis-boek verkry resultate: Toe ’n jong vrou gedoop is, het sy vertel hoe sy oor die studie in die Kennis-boek gevoel het. Sy het al ’n ruk lank die Paradys op aarde-boek bestudeer. Toe die Kennis-boek vrygestel is, het die suster wat haar studie gehou het na die nuwe boek oorgeskakel. Die student kon gou sien dat dit ’n besluit van haar sou verg, en sy is sedertdien beweeg om vinnig vooruitgang te maak. Die jong vrou, wat nou ons suster is, sê: “Die Paradys op aarde-boek het my gehelp om Jehovah lief te hê, maar die Kennis-boek het my gehelp om die besluit te neem om hom te dien.”
7 Kyk net hoe vinnig het ’n ander vrou die waarheid geleer. Ná haar tweede studie het sy ’n vergadering by die Koninkryksaal gedurende die kringopsiener se besoek bygewoon. Gedurende daardie week, by haar derde studie, het sy vir hom gesê dat sy haar aan Jehovah toegewy het en dat sy ’n ongedoopte verkondiger wil word. Die ouer manne het met haar vergader, haar as ’n verkondiger goedgekeur, en die volgende week het sy in die velddiens begin uitgaan. Sy het so betrokke geraak by haar Bybelstudie dat sy verlof geneem het sodat haar studie twee of drie maal per week gehou kon word en sy meer tyd in die bediening kon bestee. Soms het hulle twee of drie hoofstukke per sessie gedek. Sy het dit wat sy geleer het in alle aspekte van haar lewe begin toepas, die Kennis-boek in vier weke voltooi en tot doop gevorder!
8 ’n Suster se man het homself as “’n tipiese ongelowige huweliksmaat” beskryf. Eendag het ’n broer hom ’n Bybelstudie in die Kennis-boek aangebied en ooreengekom dat die man ná die eerste studie of enige tyd daarna kon ophou studeer. Die man het ingestem om dit te probeer ondanks die feit dat hy nie ’n goeie student op skool was nie en meer as 20 jaar laas enige godsdienslektuur bestudeer het. Hoe het hy op ’n studie van die Kennis-boek gereageer? Hy het gesê: “Dit was werklik ’n vreugde om te vind dat hierdie Bybelstudiehulp so eenvoudig geskryf is. Die inligting is so duidelik en logies aangebied dat ek kort voor lank met groot afwagting na my volgende studie uitgesien het. My onderrigter het op bekwame wyse die Genootskap se metodes gevolg om dissipels te maak, en met die hulp van Jehovah se gees is ek vier maande later gedoop. Ek kan waarlik sê dat ons die baie spesiale voorreg kan hê om dissipels te maak as ons ’n liefde vir die dissipelmaakwerk ontwikkel, voortdurend na daardie regskapenes in die veldbediening soek, gebruik maak van die Kennis-boek en ander Bybelstudiehulpe wat deur die Genootskap voorsien word en, die heel belangrikste, tot Jehovah bid vir leiding.” Die ondervindinge hierbo is waarlik uitsonderlik. Die meeste van ons studente kom nie so vinnig in die waarheid nie.
9 Studente maak nie ewe vinnig vooruitgang nie: Ons moet erken dat die vermoëns van onderrigters sowel as studente van God se Woord aansienlik kan verskil. Geestelike groei kan stadig of vinnig wees. Vir party studente neem dit dalk baie langer om dieselfde vooruitgang te maak as wat ander binne ’n paar maande maak. Die tempo waarteen ’n persoon geestelik groei, word beïnvloed deur sy opvoedkundige agtergrond, deur sy waardering vir geestelike dinge en deur die diepte van sy toegewydheid aan Jehovah. Nie almal met wie ons studeer, het “die grootste gretigheid van verstand” om die Skrif daagliks te bestudeer nie, soos in die geval van die eertydse Bereane wat gelowiges geword het.—Hand. 17:11, 12.
10 Dit is waarom die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir April 1998, “Op soek na meer Bybelstudies”, hierdie realistiese riglyn gee: “Nie alle Bybelstudente vorder natuurlik ewe vinnig nie. Party is nie so geestelikgesind soos ander nie en neem ook nie die dinge wat geleer word so vinnig in nie. Ander lei baie besige lewens en kan dalk nie die tyd afstaan wat nodig is om elke week ’n volle hoofstuk te dek nie. Dit kan dus in party gevalle nodig wees om meer as een studiesessie te hê om sekere hoofstukke te dek en ’n paar ekstra maande te neem om die boek te voltooi.”
11 Dissipelmakers behou ’n gebalanseerde uitkyk: Dit is noodsaaklik om die pas van die studie by die omstandighede en vermoë van die student aan te pas. Aangesien ons aangemoedig word om studies in die Vereis-brosjure te begin, kan dit twee tot drie maande neem om dit te dek voordat daar met die Kennis-boek begin word. As ons al die voorstelle gebruik wat in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Junie 1996 uiteengesit word, kan dit maklik nog ses tot nege maande neem om die Kennis-boek te voltooi. Party wat pas ’n studie in die Kennis-boek begin het, het na die Vereis-brosjure oorgeskakel om die student te help om basiese Bybelwaarhede vinniger te leer. Daarna is die studie in die Kennis-boek hervat. As ’n studie in die Kennis-boek begin is en goed vorder, sal dit dalk nuttig wees om die Vereis-brosjure te bestudeer nadat die studie in die boek voltooi is, en sodoende ’n vinnige hersiening doen van die basiese waarhede van God se Woord. Hoe dit ook al sy, ons wil nie ter wille van spoed verhinder dat die student ’n duidelike begrip verkry nie. Elke student het ’n stewige grondslag vir sy nuwe geloof in God se Woord nodig.
12 Met die oog op waar ons in die tydstroom is, is dit belangriker as ooit tevore dat ons ander help om die waarheid te leer. Buiten dat ons voortdurend moet bid om nuwe Bybelstudies te begin, moet ons ook vir diegene bid met wie ons reeds studeer. Dan sal ons die vreugde hê om voortdurend meer dissipels te doop “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge”.—Matt. 28:20.