Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • fy hfst. 14 bl. 163-172
  • Word saam ouer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Word saam ouer
  • Die geheim van gesinsgeluk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • PAS BY JOU KINDERS SE ONAFHANKLIKHEID AAN
  • VERSTERK JULLE HUWELIKSBAND OPNUUT
  • SKEP BEHAE IN JULLE KLEINKINDERS
  • PAS AAN NAMATE JY OUER WORD
  • HOE OM DIE DOOD VAN JOU HUWELIKSMAAT TE VERWERK
  • GOD WAARDEER BEJAARDES
  • Lewe in liefde saam
    Ontwaak!—1995
  • Wat is party van die probleme?
    Ontwaak!—1995
  • Waarom het ons grootouers by ons ingetrek?
    Ontwaak!—1992
  • Grootouers—die vreugdes en uitdagings
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die geheim van gesinsgeluk
fy hfst. 14 bl. 163-172

HOOFSTUK VEERTIEN

Word saam ouer

1, 2. (a) Watter veranderings vind plaas namate ’n mens ouer word? (b) Hoe het godvrugtige manne in Bybeltye tevredenheid in hulle oudag gesmaak?

BAIE veranderings vind plaas namate ons ouer word. Liggaamlike swakheid ondermyn ons kragte. Wanneer ons in die spieël kyk, sien ons nuwe plooie en hoe ons hare geleidelik verkleur—selfs uitval. Ons raak dalk vergeetagtig. Nuwe verhoudings ontstaan wanneer die kinders trou en weer wanneer daar kleinkinders kom. Vir sommige het hulle aftrede ’n ander lewensroetine tot gevolg.

2 Om die waarheid te sê, dit kan ’n beproewing wees om ouer te word (Prediker 12:1-8). Maar beskou God se knegte in Bybeltye. Hoewel hulle uiteindelik gesterf het, het hulle wysheid en begrip verkry, wat hulle op hulle oudag groot tevredenheid verskaf het (Genesis 25:8, NW; 35:29, NW; Job 12:12, NW; 42:17, NW). Hoe het hulle daarin geslaag om ouer te word en gelukkig te bly? Dit was gewis deur in ooreenstemming met beginsels te lewe wat ons vandag in die Bybel opgeteken vind.—Psalm 119:105; 2 Timoteus 3:16, 17.

3. Watter raad het Paulus vir bejaarde manne en vroue gegee?

3 In sy brief aan Titus het die apostel Paulus goeie leiding aan diegene gegee wat ouer word. Hy het geskryf: “Laat die bejaarde manne matig in hulle gewoontes wees, ernstig, gesond van verstand, gesond in geloof, in liefde, in volharding. Laat die bejaarde vroue insgelyks godvererend wees wat hulle gedrag betref, nie laster of aan baie wyn verslaaf wees nie, leraresse van wat goed is” (Titus 2:2, 3). As jy op hierdie woorde ag slaan, kan dit jou help om die uitdagings van die ouderdom die hoof te bied.

PAS BY JOU KINDERS SE ONAFHANKLIKHEID AAN

4, 5. Hoe reageer baie ouers wanneer hulle kinders die huis verlaat, en hoe pas party by die nuwe situasie aan?

4 Wanneer die rolle verander, verg dit aanpasbaarheid. Hoe waar is dit tog nie wanneer volwasse kinders uit die huis gaan en trou nie! Vir baie ouers is dit die eerste herinnering daaraan dat hulle oud word. Hoewel ouers bly is dat hulle kinders volwassenes word, is hulle dikwels daaroor bekommerd of hulle alles moontlik gedoen het om hulle kinders vir onafhanklikheid voor te berei. En hulle mis dalk die kinders in die huis.

5 Dit is te verstane dat ouers oor die welsyn van hulle kinders besorg sal bly, selfs nadat die kinders die huis verlaat het. “As ek net meermaal van hulle kan hoor om my die versekering te gee dat alles nog in orde is—dit sal my baie gelukkig maak”, het een moeder gesê. ’n Vader sê: “Toe ons dogter die huis verlaat het, was dit ’n baie moeilike tyd. Dit het ’n groot leemte in ons gesin gelaat omdat ons altyd alles saam gedoen het.” Hoe het hierdie ouers die afwesigheid van hulle kinders oorkom? In baie gevalle deur die hand na ander te reik en hulle te help.

6. Wat help om gesinsverhoudinge in die regte perspektief te sien?

6 Wanneer kinders trou, verander die rol van die ouers. Genesis 2:24 sê: “Die man [sal] sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Ons kursiveer.) As ouers die Goddelike beginsels van hoofskap en goeie orde erken, sal dit hulle help om dinge in die regte perspektief te sien.—1 Korintiërs 11:3; 14:33, 40.

7. Watter goeie gesindheid het een vader aangekweek toe sy dogters uit die huis is om te gaan trou?

7 Nadat ’n egpaar se twee dogters getrou en weggetrek het, het die egpaar ’n leemte in hulle lewe gevoel. Aan die begin het die man sy skoonseuns kwalik geneem. Maar namate hy oor die beginsel van hoofskap nagedink het, het hy besef dat sy dogters se mans nou vir hulle onderskeie huisgesinne verantwoordelik is. Wanneer sy dogters hom dus raad gevra het, het hy hulle gevra hoe hulle mans daaroor voel, en dan het hy seker gemaak dat hy hulle sover moontlik ondersteun. Sy skoonseuns beskou hom nou as ’n vriend en verwelkom sy raad.

8, 9. Hoe het party ouers by die onafhanklikheid van hulle volwasse kinders aangepas?

8 Gestel pasgetroudes doen nie wat die ouers dink reg is nie, al doen hulle nie iets onskriftuurliks nie. “Ons help hulle altyd om Jehovah se standpunt in te sien”, verduidelik een egpaar wat getroude kinders het, “maar as ons nie met hulle besluit saamstem nie, aanvaar ons dit en ondersteun ons hulle en moedig ons hulle aan.”

9 In sekere Asiatiese lande vind party moeders dit veral moeilik om hulle seuns se onafhanklikheid te aanvaar. Maar as hulle Christelike orde en hoofskap respekteer, vind hulle dat daar minder wrywing tussen hulle en hulle skoondogters is. Die feit dat een Christenvrou se seuns die huis verlaat het, was vir haar ’n “bron van immer toenemende dankbaarheid”. Dit verskaf haar genot om te sien dat hulle die vermoë het om hulle nuwe huisgesin te bestuur. Dit weer het beteken dat die fisiese en verstandelike las verlig is wat sy en haar man moet dra namate hulle ouer word.

VERSTERK JULLE HUWELIKSBAND OPNUUT

Prente op bladsy 166

Bevestig julle liefde opnuut vir mekaar namate julle ouer word

10, 11. Watter skriftuurlike raad sal mense help om party van die strikke tydens die middeljare te vermy?

10 Mense reageer verskillend op die feit dat hulle hulle middeljare bereik. Party mans trek anders aan om jonger te probeer lyk. Baie vrouens is bekommerd oor die veranderings wat die menopouse meebring. Ongelukkig veroorsaak sommige middeljarige mense dat hulle huweliksmaat gegrief en jaloers raak omdat hulle met jonger lede van die ander geslag flankeer. Godvrugtige bejaarde mans is egter “gesond van verstand” en beteuel onbetaamlike begeertes (1 Petrus 4:7). Uit liefde vir hulle mans en omdat hulle graag Jehovah wil behaag, probeer ervare vrouens insgelyks hard om hulle huwelik bestendig te hou.

11 Onder inspirasie het koning Lemuël lof opgeteken vir die “deugsame vrou” wat haar man beloon deur “aan hom goed [te doen], en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe”. (Ons kursiveer.) ’n Christenman sal nie nalaat om waardering te toon vir die manier waarop sy vrou enige emosionele ontwrigting wat sy tydens haar middeljare ondervind die hoof probeer bied nie. Sy liefde sal hom beweeg om ‘haar te prys’.—Spreuke 31:10, 12, 28.

12. Hoe kan egpare met verloop van jare nader aan mekaar kom?

12 Tydens die besige jare toe julle julle kinders grootgemaak het, het julle albei dalk met graagte julle persoonlike belange opsy gesit om in julle kinders se behoeftes te voorsien. Ná hulle uit die huis is, is dit tyd om nuwe aandag aan julle huwelikslewe te skenk. “Toe my dogters die huis verlaat het”, sê een man, “het ek my vrou van voor af die hof begin gemaak.” ’n Ander man sê: “Ons hou ’n ogie oor mekaar se gesondheid en herinner mekaar daaraan om oefeninge te doen.” Om nie eensaam te voel nie, bewys hy en sy vrou gasvryheid aan ander lede van die gemeente. Ja, dit het seëninge tot gevolg as ’n mens belangstelling in ander toon. Wat meer is, dit behaag Jehovah.—Filippense 2:4; Hebreërs 13:2, 16.

13. Watter rol speel openhartigheid en eerlikheid namate ’n egpaar saam ouer word?

13 Moenie toelaat dat daar ’n kommunikasiegaping tussen jou en jou huweliksmaat ontstaan nie. Praat openhartig met mekaar (Spreuke 17:27). “Ons leer mekaar beter verstaan deur besorgd en bedagsaam teenoor mekaar te wees”, sê een man. Sy vrou stem saam en sê: “Namate ons ouer geword het, het ons dit begin geniet om saam tee te drink, te gesels en ons samewerking aan mekaar te gee.” As julle openhartig en eerlik met mekaar is, kan dit help om julle huweliksband heg te bind, wat julle huwelik die veerkragtigheid sal gee om die aanvalle van Satan, die huweliksverwoester, af te weer.

SKEP BEHAE IN JULLE KLEINKINDERS

14. Watter rol het Timoteus se grootmoeder klaarblyklik daarin gespeel dat hy as ’n Christen grootgeword het?

14 Kleinkinders is “’n kroon” vir bejaardes (Spreuke 17:6). Die geselskap van kleinkinders kan waarlik ’n genot wees—lewendig en verkwikkend. Die Bybel praat met lof van Loïs, ’n grootmoeder wat, tesame met haar dogter Eunice, haar geloofsoortuiging aan haar jong kleinseun Timoteus oorgedra het. Hierdie jong man het grootgeword met die besef dat Bybelwaarheid vir sy moeder en sy grootmoeder belangrik is.—2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.

15. Watter waardevolle bydrae kan grootouers met betrekking tot hulle kleinkinders lewer, maar wat moet hulle vermy?

15 Hier is dus ’n spesiale gebied waarop grootouers ’n baie waardevolle bydrae kan lewer. Grootouers, julle het alreeds julle kennis van Jehovah se voornemens aan julle kinders oorgedra. Nou kan julle dieselfde vir nog ’n geslag doen! Talle jong kinders geniet dit om te hoor hoe hulle grootouers Bybelverhale vertel. Julle neem natuurlik nie die vader se verantwoordelikheid oor om Bybelwaarhede by sy kinders in te skerp nie (Deuteronomium 6:7). Julle help eerder daarmee. Mag julle ook soos die psalmis bid: “Ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.”—Psalm 71:18; 78:5, 6.

16. Hoe kan grootouers voorkom dat hulle die oorsaak van spanning in hulle familie is?

16 Ongelukkig bederf party grootouers die kleintjies só dat daar spanning tussen die grootouers en hulle volwasse kinders ontstaan. Maar julle opregte goedhartigheid sal dit miskien vir julle kleinkinders makliker maak om julle in hulle vertroue te neem wanneer hulle nie graag sake aan hulle ouers wil openbaar nie. Soms hoop die kinders dat hulle toegeeflike grootouers hulle kant sal kies en nie hulle ouers s’n nie. Wat dan? Lê wysheid aan die dag en moedig julle kleinkinders aan om openhartig met hulle ouers te wees. Julle kan aan hulle verduidelik dat dit Jehovah behaag (Efesiërs 6:1-3). Indien nodig, kan julle aanbied om die kinders te help deur vooraf met hulle ouers te praat. Wees openhartig met julle kleinkinders oor wat julle deur die jare geleer het. Julle eerlikheid en openhartigheid kan hulle tot voordeel strek.

PAS AAN NAMATE JY OUER WORD

17. Watter vasbeslotenheid van die psalmis moet bejaarde Christene navolg?

17 Met die jare sal jy vind dat jy nie alles kan doen wat jy gewoonlik gedoen het of wat jy graag wil doen nie. Hoe kan jy jou in die verouderingsproses berus? In jou verstand voel jy dalk 30 jaar oud, maar as jy in die spieël kyk, verraai dit iets heel anders. Moenie ontmoedig raak nie. Die psalmis het Jehovah gesmeek: “Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie.” Neem jou voor om die psalmis se vasbeslotenheid na te volg. Hy het gesê: “Ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder.”—Psalm 71:9, 14.

18. Hoe kan ’n ervare Christen sy tyd benut wanneer hy aftree?

18 Baie het voor die tyd reëlings getref om hulle lof tot Jehovah te vermeerder nadat hulle afgetree het. “Ek het vooruitbeplan wat ek gaan doen wanneer ons dogter die skool verlaat”, verduidelik een vader wat nou afgetree het. “Ek het my voorgeneem om die voltydse bediening te betree, en ek het my sakeonderneming verkoop sodat ek vry sou wees om Jehovah in groter mate te dien. Ek het tot God om leiding gebid.” As jy aftree-ouderdom bereik, kan jy vertroosting put uit die verklaring van ons Grootse Skepper: “Tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra.”—Jesaja 46:4.

19. Watter raad word aan diegene gegee wat ouer word?

19 Dit is dalk nie maklik om aan te pas nadat jy afgetree het nie. Die apostel Paulus het bejaarde manne vermaan om “matig in hulle gewoontes” te wees. Dit verg selfbeheersing om nie toe te gee aan die neiging om ’n luilekker lewe te lei nie. ’n Roetine en selfdissipline is dalk selfs belangriker ná as voor jou aftrede. Bly dus besig, “terwyl [jy] altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat [jou] arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie” (1 Korintiërs 15:58). Brei jou bedrywighede uit om ander te help (2 Korintiërs 6:13). Baie Christene doen dit deur die goeie nuus ywerig te verkondig, maar teen ’n veranderde pas. Namate jy ouer word, moet jy “gesond in geloof, in liefde, in volharding” wees.—Titus 2:2.

HOE OM DIE DOOD VAN JOU HUWELIKSMAAT TE VERWERK

20, 21. (a) Wat sal ’n egpaar uiteindelik in die huidige stelsel van dinge skei? (b) Hoe het Anna ’n goeie voorbeeld vir bedroefde huweliksmaats gestel?

20 Dit is hartseer maar waar dat egpare in die huidige stelsel van dinge uiteindelik deur die dood geskei word. Bedroefde Christenhuweliksmaats weet dat hulle geliefdes nou slaap, en hulle is vol vertroue dat hulle hulle weer sal sien (Johannes 11:11, 25). Maar die verlies laat ’n mens steeds bedroef voel. Hoe kan die persoon wat agterbly dit verwerk?a

21 Dit is nuttig om in gedagte te hou wat ’n sekere Bybelkarakter gedoen het. Anna het ’n weduwee geword net sewe jaar nadat sy getroud is, en wanneer ons van haar lees, is sy 84 jaar oud. Ons kan daarvan seker wees dat sy bedroef was toe sy haar man verloor het. Hoe het sy dit oorkom? Sy het dag en nag heilige diens aan Jehovah God by die tempel verrig (Lukas 2:36-38). Anna se lewe van godvrugtige diens het ongetwyfeld die droefheid en eensaamheid wat sy as ’n weduwee ondervind het grootliks teëgewerk.

22. Hoe het party weduwees en wewenaars hulle eensaamheid te bowe gekom?

22 “My grootste uitdaging was dat ek nie ’n maat gehad het om mee te gesels nie”, verduidelik ’n 72-jarige vrou wat tien jaar gelede ’n weduwee geword het. “My man was ’n goeie luisteraar. Ons het oor die gemeente en oor ons deelname aan die Christelike bediening gepraat.” ’n Ander weduwee sê: “Hoewel die tyd wonde heel, het ek gevind dat dit nader aan die waarheid is om te sê dat dit wat ’n mens met jou tyd doen jou wonde help heel. Jy is beter daartoe in staat om ander te help.” ’n Sewe-en-sestigjarige wewenaar stem saam en sê: “’n Wonderlike manier om jou verlies te bowe te kom, is om ander te vertroos.”

GOD WAARDEER BEJAARDES

23, 24. Watter groot vertroosting put bejaardes uit die Bybel, veral diegene wie se huweliksmaat gesterf het?

23 Hoewel die dood ’n geliefde maat wegneem, bly Jehovah altyd getrou, altyd onfeilbaar. “Een ding het ek van die HERE begeer”, het koning Dawid van die ou tyd gesing, “dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.”—Psalm 27:4.

24 “Eer weduwees wat werklik weduwees is”, spoor die apostel Paulus ons aan (1 Timoteus 5:3). Die raad wat ná hierdie instruksie volg, toon dat waardige weduwees sonder bloedverwante moontlik materiële ondersteuning van die gemeente nodig gehad het. Maar die betekenis van die instruksie om te “eer”, beteken ook om hulle te waardeer. Watter vertroosting kan godvrugtige weduwees en wewenaars tog put uit die wete dat Jehovah hulle waardeer en sal onderskraag!—Jakobus 1:27.

25. Watter doelwit kan bejaardes steeds nastreef?

25 “Die versiersel van grysaards is grys hare”, sê God se geïnspireerde Woord. Dit is “’n luisterryke kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spreuke 16:31, NW; 20:29). Gaan dus voort, hetsy jy getroud of weer eens ongetroud is, om Jehovah se diens eerste in jou lewe te stel. Jy sal dan ’n goeie naam by God hê, asook die vooruitsig op ewige lewe in ’n wêreld waar die pyn wat met die ouderdom gepaardgaan nie meer sal bestaan nie.—Psalm 37:3-5; Jesaja 65:20.

a Sien die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie onderwerp.

HOE KAN HIERDIE BYBELBEGINSELS . . . EGPARE HELP NAMATE HULLE OUER WORD?

Kleinkinders is “’n kroon” vir bejaardes.—Spreuke 17:6.

Die ouderdom kan bykomende geleenthede skep om Jehovah te dien.—Psalm 71:9, 14.

Bejaardes word aangespoor om “matig in hulle gewoontes” te wees.—Titus 2:2.

Hoewel bedroefde huweliksmaats baie hartseer is, kan hulle troos uit die Bybel put.—Johannes 11:11, 25.

Jehovah waardeer getroue bejaardes.—Spreuke 16:31, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel