Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/15 bl. 16-21
  • Voorbereiding vir verlossing tot in ’n nuwe wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voorbereiding vir verlossing tot in ’n nuwe wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe ons op die wêreld se lewenswyse reageer
  • Wie of wat is die belangrikste in die lewe?
  • Liefdevolle voorbereidsels vir ’n groter verlossing
  • Waarom besliste optrede nou dringend is
  • Goddelike hulp met die oog op verlossing
  • Dink aan die vrou van Lot
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Lot se vrou het omgekyk
    My boek met Bybelverhale
  • Die skyn bedrieg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Skep moed terwyl verlossing nader kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/15 bl. 16-21

Voorbereiding vir verlossing tot in ’n nuwe wêreld

“Dink aan die vrou van Lot!”—LUKAS 17:32.

1. Watter geskiedkundige voorbeeld van goddelike verlossing word in ons les vir vandag beklemtoon, en hoe kan dit ons tot voordeel strek?

NADAT hy vertel het van die wonderbaarlike wyse waarop Jehovah Noag en sy gesin verlos het, meld die apostel Petrus nog ’n geskiedkundige voorbeeld. Hy vestig die aandag op die behoud van die regverdige Lot toe Sodom en Gomorra tot as verbrand is, soos ons in 2 Petrus 2:6-8 lees. Die besonderhede is tot ons voordeel bewaar (Romeine 15:4). As ons die gebeure in verband met daardie verlossing ter harte neem, kan dit ons help om in aanmerking te kom vir bewaring tot in God se nuwe wêreld.

Hoe ons op die wêreld se lewenswyse reageer

2. Watter gedrag in Sodom en Gomorra het daartoe gelei dat God hulle vernietig het?

2 Waarom is daardie stede en hulle inwoners vernietig? Die apostel Petrus praat van hulle “losbandige lewe” (2 Petrus 2:7). Die gebruik van die Griekse term wat met daardie uitdrukking vertaal word, dui daarop dat die mense van Sodom en Gomorra wandade gepleeg het op ’n wyse wat onbeskaamde oneerbiedigheid teenoor, selfs veragting vir, wet en gesag geopenbaar het. Judas 7 (NW) sê dat hulle “buitensporig hoerery bedryf het” en ‘vir onnatuurlike gebruik agter vlees aangegaan het’. Die slegtheid van hulle gedrag is geopenbaar toe die manne van Sodom, “jonk en oud, die hele bevolking, almal saam,” Lot se huis omsingel het en geëis het dat hy sy gaste na hulle uitstuur sodat die manne van Sodom hulle perverse drange kon bevredig. En hulle het Lot al skreeuende gedreig omdat hy geweier het om aan hulle verdorwe eise toe te gee.—Genesis 13:13; 19:4, 5, 9.

3. (a) Hoe het dit gekom dat Lot en sy gesin in so ’n korrupte omgewing soos Sodom gewoon het? (b) Wat was Lot se reaksie op die losbandigheid van die mense in Sodom?

3 Lot het oorspronklik in die gebied naby Sodom ingetrek vanweë die gebied se potensiaal vir materiële welvaart. Mettertyd het hy in die stad self gaan woon (Genesis 13:8-12; 14:12; 19:1). Maar hy was dit nie eens met die ontugtige gebruike van die manne van die stad nie, en hulle het hom nie as een van hulle beskou nie, want hy en sy gesin het blykbaar nie aan hulle sosiale lewe deelgeneem nie. Soos 2 Petrus 2:7, 8 sê: “Lot . . . [het] hom baie gekwel . . . oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke.” Daardie toestande was ’n kwaai beproewing vir Lot, omdat hy, as ’n regverdige man, sulke gedrag verafsku het.

4. (a) In watter opsigte is toestande vandag soos dié in eertydse Sodom? (b) As ons soos regverdige Lot is, hoe reageer ons op huidige korrupte toestande?

4 In ons dag het die sedelike vlak van die mensegemeenskap ook baie laag gedaal. In baie lande maak al hoe meer hulle aan voorhuwelikse of buite-egtelike seks skuldig. Selfs baie jongmense op skool is dikwels diep verwikkel in hierdie lewenswyse, en hulle bespot diegene wat nie by hulle aansluit nie. Homoseksuele identifiseer hulleself openlik en hou optogte deur die strate van groot stede om erkenning te eis. Die geestelikes het ook by die losbandigheid betrokke geraak. Amptelik is daar nie baie kerke wat homoseksuele en hoereerders orden nie. Maar soos nuusberigte herhaaldelik getoon het, is dit in werklikheid glad nie moeilik om homoseksuele, hoereerders en egbrekers in die geledere van die geestelikes te vind nie. Trouens, party godsdiensleiers is weens seksskandale na ander stede oorgeplaas of selfs gedwing om hulle amp neer te lê. Liefhebbers van regverdigheid is dit nie eens met sulke goddeloosheid nie; hulle “verafsku wat sleg is” (Romeine 12:9). Dit grief hulle veral wanneer die gedrag van mense wat beweer dat hulle God dien sy naam oneer aandoen en oningeligte mense alle godsdiens met walging die rug laat toekeer.—Romeine 2:24.

5. Watter vraag beantwoord Jehovah se vernietiging van Sodom en Gomorra vir ons?

5 Die situasie word elke jaar erger. Sal daar ooit ’n einde aan kom? Ja, daar sal! Wat Jehovah aan eertydse Sodom en Gomorra gedoen het, toon duidelik dat hy op sy vasgestelde tyd oordeel sal voltrek. Hy sal die goddeloses geheel en al vernietig, maar hy sal sy lojale knegte verlos!

Wie of wat is die belangrikste in die lewe?

6. (a) Watter tydige les is daar in die verslag oor die jong mans wat op die punt gestaan het om met Lot se dogters te trou? (b) Hoe het die gesindheid van hulle toekomstige huweliksmaats Lot se dogters op die proef gestel?

6 Net diegene wat ware godvrugtige toegewydheid aan die dag lê, sal gespaar word. Beskou in hierdie verband wat Jehovah se engele vir Lot gesê het voordat Sodom en Gomorra vernietig is. “Wie het jy hier nog? ’n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat jy het in die stad—bring hulle uit die plek uit; want ons gaan hierdie plek verwoes.” Daarom het Lot uitgegaan om met die jong mans te praat wat van plan was om met sy dogters te trou. Hy het hulle herhaaldelik aangespoor: “Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad verwoes”! Hulle bande met Lot se huisgesin het hulle ’n spesiale geleentheid gebied om verlos te word, maar hulle moes persoonlik optree. Hulle moes tasbare bewys lewer van gehoorsaamheid aan Jehovah. Pleks daarvan was Lot in hulle oë “soos een wat gekskeer” (Genesis 19:12-14). Jy kan jou voorstel hoe Lot se dogters gevoel het toe hulle gehoor het wat gebeur het. Dit het hulle lojaliteit aan God op die proef gestel.

7, 8. (a) Hoe het Lot gereageer toe die engele hom aangespoor het om sy gesin te neem en te vlug, en waarom was dit onverstandig? (b) Wat was lewensbelangrik vir Lot en sy gesin om verlos te word?

7 Die volgende oggend met dagbreek het die engele by Lot begin aandring om te vertrek. Hulle het gesê: “Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie”! Maar hy het “nog getalm” (Genesis 19:15, 16). Waarom? Wat het hom teruggehou? Was dit materiële belange wat hy daar in Sodom gehad het—die einste ding wat hom in die eerste plek na die gebied gelok het? As hy aan hierdie dinge sou vasklou, sou hy saam met Sodom vernietig word.

8 Uit medelye het die engele hom en sy gesin aan die hand gegryp en hulle vinnig tot buite die stad gebring. Aan die rand van die stad het Jehovah se engel beveel: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!” Lot het steeds gehuiwer. Nadat die engele ingestem het dat hy na ’n plek kon gaan wat nie te ver daarvandaan was nie, het hy en sy gesin uiteindelik gevlug (Genesis 19:17-22). Daar kon geen verdere uitstel wees nie; gehoorsaamheid was lewensbelangrik.

9, 10. (a) Waarom was die feit dat sy by haar man was nie genoeg om behoud vir Lot se vrou te verseker nie? (b) Voor watter verdere toets het Lot en sy dogters te staan gekom toe Lot se vrou gedood is?

9 Maar die verlossing was nog nie volkome nadat hulle van Sodom weggekom het nie. Genesis 19:23-25 deel ons mee: “Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom. En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel, en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.” Maar waar was Lot se vrou?

10 Sy het saam met haar man gevlug. Maar was sy dit heeltemal eens met wat hy gedoen het? Daar is niks wat daarop dui dat sy die onsedelikheid van Sodom enigsins goedgekeur het nie. Maar was haar liefde vir God sterker as haar gehegtheid aan haar huis en die materiële dinge wat sy daar gehad het? (Vergelyk Lukas 17:31, 32.) Toe sy onder druk was, het wat in haar hart was aan die lig gekom. Klaarblyklik was hulle reeds naby Soar, dalk het hulle op die punt gestaan om die stad in te gaan, toe sy ongehoorsaam omgedraai en teruggekyk het. En soos die Bybelverslag sê, het sy “’n soutpilaar geword” (Genesis 19:26). Nou het Lot en sy dogters voor ’n verdere toets van lojaliteit te staan gekom. Was Lot se gehegtheid aan sy oorlede vrou of die meisies se gevoel vir hulle oorlede moeder sterker as hulle liefde vir Jehovah, wat hierdie ramp veroorsaak het? Sou hulle aanhou om God te gehoorsaam selfs al was iemand baie na aan hulle dislojaal teenoor hom? Met volle vertroue in Jehovah het hulle nie omgekyk nie.

11. Wat leer ons hier oor die verlossing wat Jehovah gee?

11 Ja, Jehovah weet om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos. Hy weet hoe om hele gesinne wat in ware aanbidding verenig is te verlos; hy weet ook hoe om individue te verlos. As hulle hom werklik liefhet, toon hy groot bedagsaamheid in die manier waarop hy hulle behandel. “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:13, 14). Maar sy verlossing is slegs vir diegene wat mense van godvrugtige toegewydheid is, diegene wie se toegewydheid eg is, diegene wie se gehoorsaamheid ’n blyk van lojaliteit is.

Liefdevolle voorbereidsels vir ’n groter verlossing

12. Watter liefdevolle voorbereidsels sou Jehovah tref voordat hy die verlossing bring waarop ons so gretig wag?

12 Jehovah het nie deur die gebeure in die dae van Noag en Lot alle goddelose mense vir ewig vernietig nie. Soos die teks sê, het dit eenvoudig ’n voorbeeld gestel van die dinge wat sou kom. Jehovah was voornemens om baie meer te doen om mense wat hom liefhet te bevoordeel voordat daardie dinge sou plaasvind. Hy was van voorneme om sy eniggebore Seun, Jesus Christus, na die aarde te stuur. Hier sou Jesus God se naam van blaam suiwer deur die soort toegewydheid te openbaar wat Adam as ’n volmaakte mens teenoor God kon getoon het; maar Jesus sou dit onder baie moeiliker omstandighede doen. Jesus sou sy volmaakte menselewe as ’n offerande gee, sodat nakomelinge van Adam wat geloof sou beoefen, kon hê wat Adam verloor het. Dan sou ’n “klein kuddetjie” lojale mense deur God gekies word om deelgenote van Christus in sy hemelse Koninkryk te wees en sou “’n groot menigte” uit alle nasies versamel word om die fondament van ’n nuwe mensegemeenskap te vorm (Lukas 12:32; Openbaring 7:9). Na die voltooiing daarvan sou God die groot verlossing tot stand bring waarvan gebeure in verband met die Vloed en die vernietiging van Sodom en Gomorra voorbeelde was.

Waarom besliste optrede nou dringend is

13, 14. Wat leer ons uit die feit dat Petrus die vernietiging van goddelose mense in die dae van Lot en Noag as voorbeelde gebruik het?

13 Studente van God se Woord weet dat Jehovah by baie geleenthede verlossingsdade ten behoewe van sy knegte verrig het. Maar in die meeste gevalle sê die Bybel nie: ‘Net soos dit op daardie tyd was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees’ nie. Waarom het die apostel Petrus, deur die heilige gees geïnspireer, dan hierdie twee voorbeelde geïsoleer? Wat was anders omtrent die gebeure in die dae van Lot en Noag?

14 ’n Definitiewe aanduiding word in Judas 7 gevind, waar ons lees dat “Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle . . . as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan”. Ja, die vernietiging van die growwe sondaars in daardie stede was vir ewig, net soos die vernietiging van die goddeloses aan die einde van die huidige stelsel van dinge sal wees (Mattheüs 25:46). Die Vloed van Noag se dag word eweneens in gedeeltes gemeld wat ewige oordele bespreek (2 Petrus 2:4, 5, 9-12; 3:5-7). Deur die vernietiging van goddelose mense in die dae van Lot en van Noag het Jehovah dus getoon dat hy sy knegte sal verlos deur diegene wat onregverdigheid beoefen vir ewig te vernietig.—2 Thessalonicense 1:6-10.

15. (a) Watter dringende waarskuwing word aan diegene gegee wat hulle aan goddelose gebruike skuldig maak? (b) Waarom sal almal wat in onregverdigheid volhard, gestraf word?

15 Jehovah skep nie behae in die vernietiging van die goddeloses nie, en sy knegte skep ook nie behae daarin nie. Deur middel van sy Getuies spoor Jehovah mense aan: “Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe?” (Esegiël 33:11). Wanneer mense egter geen begeerte toon om ag te slaan op sy liefdevolle oproep nie maar in hulle eie selfsugtige lewenswyse volhard, vereis Jehovah se respek vir sy eie heilige naam en sy liefde vir sy lojale knegte wat ly onder die goddelose mense nietemin dat hy sulke mense straf.

16. (a) Waarom kan ons vol vertroue wees dat die voorspelde verlossing baie naby is? (b) Waaruit en tot in wat sal die verlossing wees?

16 God se tyd om verlossing te bring is baie naby! Die gesindhede en gebeure wat Jesus voorspel het as die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge kan duidelik gesien word. Die kenmerke van daardie teken het byna 75 jaar gelede vir die eerste keer begin verskyn, en Jesus het gesê dat “hierdie geslag” beslis nie sal verbygaan voordat God oordeel aan hierdie goddelose wêreld voltrek het nie. Wanneer Jehovah bepaal dat die Koninkryksboodskap in toereikende mate verkondig is in die hele bewoonde wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies, dan sal die einde van hierdie goddelose wêreld kom, en daarmee saam verlossing vir mense van godvrugtige toegewydheid (Mattheüs 24:3-34; Lukas 21:28-33). Verlossing waaruit? Uit die beproewings waaraan die goddeloses hulle onderwerp het, uit omstandighede wat hulle as liefhebbers van geregtigheid daagliks gekwel het. Dit sal ook verlossing wees tot in ’n nuwe wêreld waarin daar nie meer siekte en dood sal wees nie.

Goddelike hulp met die oog op verlossing

17. (a) Watter gedagteprikkelende vraag kan ons ons afvra? (b) Hoe kan ons bewys lewer dat ons, soos Noag, deur “godvrugtige vrees” beweeg word?

17 Die vraag wat ons persoonlik moet ondersoek, is: ‘Is ek reg vir daardie daad van God?’ As ons op onsself of op ons eie begrip van regverdigheid staatmaak, is ons nie reg nie. Maar as ons, soos Noag, deur “godvrugtige vrees” beweeg word, dan reageer ons in geloof op die leiding wat Jehovah ons gee, en dit sal tot ons verlossing lei.—Hebreërs 11:7, NW.

18. Waarom is hartgrondige respek vir teokratiese gesag ’n belangrike deel van ons voorbereiding vir verlossing tot in die nuwe wêreld?

18 Psalm 91:1, 2 gee ’n pragtige beskrywing van diegene wat selfs nou die beskerming geniet wat Jehovah gee, en sê: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.” Hier is ’n groep mense wat deur God beskerm word soos jong voëltjies onder die kragtige vlerke van ’n ouer. Hulle vertrou ten volle op Jehovah. Hulle erken dat hy die Allerhoogste, die Almagtige, is. Gevolglik respekteer hulle teokratiese gesag en onderwerp hulle hul daaraan, hetsy dit deur ouers of deur “die getroue en verstandige dienskneg” uitgeoefen word (Mattheüs 24:45-47). Is dit die geval met ons as individue? Leer ons, soos Noag, om te doen ‘net soos God ons beveel’ en om dinge op sy manier te doen? (Genesis 6:22). Dan reageer ons positief op die wyse waarop Jehovah ons voorberei vir verlossing tot in sy regverdige nuwe wêreld.

19. (a) Wat is ons figuurlike hart, en waarom is dit lewensbelangrik dat ons aandag daaraan skenk? (Spreuke 4:23). (b) Hoe kan Lot se voorbeeld ons help wat ons reaksie op wêreldse verlokkinge betref?

19 Daardie voorbereiding behels ook dat ons aandag moet skenk aan ons figuurlike hart. “Die HERE toets die harte” (Spreuke 17:3). Hy help ons om te besef dat die uiterlike indruk wat ons skep nie die belangrike ding is nie, maar eerder die innerlike mens, die hart. Hoewel ons nie gewelddadig of onsedelik optree soos die wêreld om ons nie, moet ons waak sodat ons nie deur hierdie dinge verlok of vermaak word nie. Soos Lot, moet die blote bestaan van sulke goddelose dade ons kwel. Diegene wat die kwaad haat, sal nie maniere soek waarop hulle dit kan beoefen nie; maar mense wat dit nie haat nie, weerhou hulle dalk fisies daarvan terwyl hulle verstandelik wens dat hulle daaraan kan deelneem. “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!”—Psalm 97:10.

20. (a) Hoe waarsku die Bybel ons teen ’n materialistiese lewenswyse? (b) Hoe kan ons weet of die Bybel se noodsaaklike lesse oor materialisme in ons hart posgevat het?

20 Jehovah leer ons liefdevol om nie net onsedelike gedrag nie, maar ook ’n materialistiese lewenswyse te vermy. ‘Wees vergenoeg met voedsel en klere’, maan sy Woord ons (1 Timotheüs 6:8). Noag en sy seuns moes hulle huise agterlaat toe hulle in die ark ingegaan het. Lot en sy gesin moes ook hulle huis en besittings verlaat om hulle lewens te red. Wat het ons die liefste? “Dink aan die vrou van Lot!” (Lukas 17:32). Jesus het ons aangespoor: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Mattheüs 6:33). Doen ons dit? As Jehovah se regverdige standaarde ons lei en as die verkondiging van die goeie nuus van sy Koninkryk die belangrikste ding in ons lewe is, dan reageer ons inderdaad op die feit dat hy ’n volk voorberei vir verlossing tot in sy nuwe wêreld.

21. Waarom kan ons tereg verwag dat Jehovah se belofte van verlossing spoedig vervul sal word?

21 Jesus het vir mense van godvrugtige toegewydheid wat die vervulling van die teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag sou sien, gesê: “Kyk . . . na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Het jy daardie teken gesien namate dit tot in die fynste besonderhede ontwikkel het? Dan kan jy vol vertroue wees dat die vervulling van Jehovah se belofte van verlossing baie naby is! Wees vas oortuig dat ‘Jehovah weet om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos’.—2 Petrus 2:9, NW.

Wat het jy geleer?

◻ Hoe moet ons, soos Lot, op die wêreld se lewenswyse reageer?

◻ Voor watter toetse het Lot en sy gesin te staan gekom selfs terwyl hulle uit Sodom gevlug het?

◻ Hoe beklemtoon die voorbeelde wat Petrus gebruik dat dit belangrik is om nou standpunt aan Jehovah se kant in te neem?

◻ Watter belangrike lesse leer Jehovah sy volk om hulle vir verlossing voor te berei?

[Prent op bladsy 18]

God se volk word deur hom beskerm soos jong voëltjies onder hulle ouers se kragtige vlerke

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel