Vrae van lesers
Hoe beskou Jehovah se Getuies die koop van gesteelde goedere?
Christene vermy dit om doelbewus enige aandeel te hê in die koop van gesteelde handelsware of materiale.
Om te steel, is beslis verkeerd. God se Wet aan Israel het onomwonde gesê: “Jy mag nie steel nie” (Exodus 20:15; Levitikus 19:11). As ’n dief gevang is, moes hy, na gelang van die omstandighede, tweevoudig, viervoudig of vyfvoudig daarvoor vergoed.
Van die vroegste tye af het diewe al probeer om van gesteelde goedere ontslae te raak om ’n vinnige wins te maak en om nie met die bewys van hulle skuld betrap te word nie. Gevolglik verkoop hulle dikwels gesteelde goedere teen ’n lae prys wat baie kopers moeilik vind om van die hand te wys. So ’n praktyk was dalk betrokke by wat ons in Exodus 22:1 lees: “As iemand ’n bees of ’n stuk kleinvee steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste vir ’n bees vergoed en vier stuks kleinvee vir ’n stuk kleinvee.”
Rabbi Abraham Chill besef die implikasies in sulke wette en skryf: “Om gesteelde goedere te koop of te aanvaar word verbied selfs al weet jy nie dat dit gesteel is nie. Daarom moet ’n mens nie ’n bok van ’n veewagter koop nie, omdat hy waarskynlik sonder die medewete van sy werkgewer die bok verkoop en voornemens is om die geld te hou.”—The Mitzvot—The Commandments and Their Rationale.
God se wet verbied ons in werklikheid nie ‘om ’n bok van ’n veewagter te koop’ net omdat ons vermoed dat hy dalk sy werkgewer se geld sal hou nie; wat daarop sal neerkom dat hy ’n gesteelde bok verkoop. Knegte van Jehovah moet daarenteen nie wetend betrokke raak by ’n transaksie (bok of enige ander voorwerp) wanneer dit duidelik is dat die verkoper dit nie besit nie of dat dit dalk gesteel is. God se wet toon dat Hy private eiendom erken, maar ’n dief beroof ’n eienaar van sy eiendom. Iemand wat weet dat hy gesteelde goedere koop, is dalk op sigself nie ’n dief nie, maar deur dit te koop verminder hy die moontlikheid dat die eienaar ooit sy eiendom sal terugkry.—Spreuke 16:19; vergelyk 1 Thessalonicense 4:6.
Ons besef almal dat kopers handelsware teen die beste prys wil koop. Dwarsdeur die wêreld soek vroue na goeie kopies, probeer hulle hul inkope uitstel tot die seisoen wanneer pryse laag is of koop hulle by markte of winkels wat by die groot maat verkoop met min algemene koste en dus teen beter pryse (Spreuke 31:14). Tog moet sulke pogings om ’n winskopie te kry sedelike perke hê. Getroues in die dae van Nehemia het geweier om op die Sabbat te koop, selfs al kon hulle op daardie dae ’n slag slaan. (Nehemia 10:31; vergelyk Amos 8:4-6.) Dieselfde geld vir Christene. Omdat hulle diefstal verwerp, help dit hulle om enige versoeking te weerstaan om goedere wat klaarblyklik gesteel is teen ’n lae prys te koop.
Dit is dalk algemeen bekend dat sekere verkopers met gesteelde goedere handel dryf. Of ’n prys wat onderlangs genoem word, is dalk so uitsonderlik dat enige normale persoon tot die gevolgtrekking sal kom dat die handelsware waarskynlik onwettig bekom is. Selfs die landswet erken dalk die behoefte aan sulke redelikheid. ’n Bundel oor regsgeleerdheid sê:
“Dit is nie nodig vir die vereiste wederregtelikheidsbewussyn dat die beskuldigde weet van wie of deur wie die eiendom gesteel is of wanneer of waar dit gesteel is of die omstandighede waaronder dit gesteel is nie, maar dit is voldoende dat hy weet dat dit gesteel is. . . . Party howe gaan van die standpunt uit dat die bestaan van wederregtelikheidsbewussyn vasgestel kan word op grond van die feit dat die verweerde die eiendom onder omstandighede ontvang het wat ’n man van gewone intelligensie en omsigtigheid sou oortuig dat dit gesteel is.”
Dit is nog ’n goeie rede waarom ’n Christen nie gesteelde goedere sal koop nie. As hy sulke goedere koop, kan hy die wet verbreek. Trouens, in sommige lande is ’n persoon skuldig as hy gesteelde goedere onder enige omstandighede koop. Baie mense het geen gewetensbeswaar daarteen om die wet te oortree as hulle dink dat hulle daarmee kan wegkom nie. Dit is nie die geval met Christene wat hulle wil “onderwerp aan die magte wat oor [hulle] gestel is” nie. Deur wetsgehoorsaam te wees word hulle beskerm teen vervolging as kriminele, en dit dra daartoe by dat hulle ’n goeie gewete voor Jehovah behou.—Romeine 13:1, 4, 5.
God se vriend Abraham het ’n goeie voorbeeld gestel ten opsigte van gewete. In sy dag het vier heersers uit die ooste die konings verslaan waar Lot gewoon het en baie kosbaarhede as buit weggevoer. Abraham het die vyande agternagesit, hulle oorwin en die gesteelde goedere teruggebring. Die koning van Sodom het vir Abraham gesê: “Neem die goed vir uself” as ’n beloning. In plaas daarvan het Abraham die goedere aan hulle regmatige eienaar oorhandig en gesê: “Ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abraham ryk gemaak.”—Genesis 14:1-24.
Christene stel nie in enige finansiële gewin belang wat deur gesteelde goedere moontlik is nie. Jeremia het geskryf: “’n Voël wat eiers uitbroei sonder dat hy dit gelê het, is hy wat rykdom verwerf maar nie eerlik nie” (Jeremia 17:11). Behalwe dat Christene verstandig wil optree deur nie die Keiser se wette oor gesteelde goedere te oortree nie, wil hulle graag God se geregtigheid ondersteun deur te weier om enigiets met die ongeregtigheid van diefstal te doen te hê. Dawid het gepas geskryf: “’n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose.”—Psalm 37:16.