Godvrugtige gesinne van die ou tyd—’n voorbeeld vir ons tyd
DIE gesin—die Verenigde Nasies het die wêreld se aandag daarop probeer vestig. Hoe? Deur 1994 die “Internasionale jaar van die gesin” te verklaar. Hoewel wêreldleiers, sosioloë en gesinsvoorligters gou gekla het oor dinge soos die toename in buite-egtelike geboortes en egskeidingsyfers wat die hoogte inskiet, was hulle glad nie so vinnig om met praktiese, realistiese oplossings vir sulke probleme vorendag te kom nie.
Het die Bybel moontlik oplossings vir gesinsprobleme? Dit lyk dalk vir party naïef om te kenne te gee dat die Bybel in hedendaagse gesinne van hulp kan wees. Dit is per slot van rekening eeue gelede in ’n Midde-Oosterse agtergrond en beskawing geskryf. In die meeste dele van die wêreld het die lewe sedert Bybeltye drasties verander. Die Bybel is nietemin deur Jehovah God geïnspireer, die een aan wie elke familie sy naam te danke het (Efesiërs 3:14, 15; 2 Timoteus 3:16). Wat sê die Bybel oor gesinsprobleme?
Jehovah weet presies wat nodig is om gesinslewe genotvol en sinvol te maak. Sy Woord, die Bybel, het derhalwe baie te sê oor gesinslewe, en van die inligting daarin is in die vorm van vermanings. Die Bybel bevat ook voorbeelde van gesinne wat Goddelike beginsels toegepas het. Hulle het gevolglik ware intiemheid en tevredenheid geniet. Kom ons beskou die gesinslewe in Bybeltye en sien watter lesse ons daaruit kan leer.
Hoofskap—’n swaar las?
Beskou byvoorbeeld die kwessie van hoofskap in die gesin. In patriargale tye was manne soos Abraham, Isak en Jakob onbetwiste “familiehoofde” (Handelinge 7:8, 9; Hebreërs 7:4). The New Manners and Customs of Bible Times, deur Ralph Gower, sê: “Die gesin was . . . ’n ‘klein koninkrykie’ wat deur die vader geregeer is. Hy het oor sy vrou, kinders, kleinkinders en bediendes—almal in die huis—geregeer.” Trouens, die aartsvaders het dikwels ook gesag oor hulle seuns se gesin gehad.—Vergelyk Genesis 42:37.
Het dit mans nie die vryheid gegee om hulle vrouens en kinders te onderdruk nie? Geensins. God het weliswaar vir die eerste vrou, Eva, gesê: “Na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Daardie woorde was ’n aanduiding van hoe die situasie vir getroude vroue oor die algemeen sou wees, maar dit was nie ’n beskrywing van hoe dinge onder God se ware aanbidders moes wees nie. Godvresende mans moes Jehovah se oorspronklike voorneme in gedagte hou. Jehovah het die vrou gemaak om die man se “hulp as ’n komplement van hom” te wees, nie sy slaaf nie (Genesis 2:20, NW). Aangesien godvrugtige mans van vroeë tye hulle eie onderdanigheid en aanspreeklikheid teenoor God erken het, het hulle nie hulle gesag misbruik nie. Hulle het nie hulle vrouens en kinders as blote slawe behandel nie, inteendeel, godvresende aartsvaders het ware liefde en geneentheid aan hulle betoon.
In Genesis 50:23 kry ons ’n kykie na die liefde wat kinders gewoonlik ontvang het. Daar praat dit van die agterkleinkinders van Josef en sê dat hulle “op Josef se knieë gebore” is. Hoewel dit bloot kan beteken dat Josef die kinders as sy nakomelinge erken het, kan dit ook aandui dat hy op liefdevolle wyse met die kinders gespeel het en hulle op sy knieë laat ry het. Dit sal goed wees as hedendaagse vaders soortgelyke liefde aan hulle kinders betoon.
As gesinshoofde het die godvresende aartsvaders ook in die geestelike behoeftes van hulle gesin voorsien. Toe hy ná die aardwye Vloed uit die ark gekom het, het ‘Noag vir die HERE ’n altaar gebou en brandoffers op die altaar gebring’. (Genesis 8:20; vergelyk Job 1:5.) Die getroue aartsvader Abraham het ’n goeie voorbeeld gestel deur vir sy gesinslede persoonlike onderrigting te gee. Hy het ‘aan sy kinders en sy huis ná hom bevel gegee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen’ (Genesis 18:19). Liefdevolle hoofskap het dus tot die emosionele en geestelike welsyn van gesinne bygedra.
Hedendaagse Christenmans volg hierdie voorbeeld na. Hulle oefen hoofskap uit in sake wat met aanbidding verband hou deur hulle gesin te help om God se vereistes na te kom en deur self ’n goeie voorbeeld te stel (Matteus 28:19, 20; Hebreërs 10:24, 25). Soos die aartsvaders ruim Christenmans en -vaders ook tyd in om vir hulle gesinslede persoonlike onderrigting te gee.
Daadwerklike optrede
Nadat die aartsvader Jakob uiteindelik ’n groot skuld aan sy skoonvader afbetaal het, het hy gevra: ‘Wanneer sal ek ook vir my huis werk?’ (Genesis 30:30). Soos alle vaders was Jakob aan druk onderhewig om in die materiële behoeftes van sy gesin te voorsien, en hy het hard gewerk om dit te doen. Genesis 30:43 sê: “Die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.”
Maar ’n paar jaar later was Jakob, nadat hy na die land Kanaän getrek het, blykbaar onbewus van die feit dat sy dogter Dina in die gevaarlike gewoonte verval het om met die heidense Kanaäniete om te gaan (Genesis 34:1).a Hy het ook versuim om op te tree toe hy van heidense artikels in sy huis bewus geword het. Ná die tragiese verkragting van Dina deur ’n Kanaäniet het Jakob egter daadwerklik opgetree. “Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle”, het hy beveel.—Genesis 35:2-4.
Christenvaders moet waaksaam wees wat die geestelikheid van hulle gesin betref. As daar dinge is wat ’n ernstige bedreiging vir die gesin se geestelike welsyn inhou, soos onsedelike lektuur of onheilsame musiek in die huis, moet hulle daadwerklik optree.
Dit is interessant dat vroue van geloof soos Sara, Rebekka en Ragel ook ’n betekenisvolle invloed op die gesin uitgeoefen het. Hoewel hulle aan hulle mans onderdanig was, is hulle nie verhinder om die inisiatief te neem wanneer dit gepas en nodig was nie. Ons lees byvoorbeeld in Exodus 4:24-26 van die tyd toe Moses en sy gesin na Egipte gegaan het en ‘die HERE [“Jehovah se engel”, Septuagint] hom teëgekom het en hom [Moses se seun] wou doodmaak’. Moses se seun het klaarblyklik gevaar geloop om gedood te word omdat Moses hom nie besny het nie. Sippora het vinnig opgetree en haar seun besny. Gevolglik het die engel hom laat staan. Hedendaagse Christenvrouens kan ook die inisiatief neem wanneer die situasie dit regverdig.
Vaderlike onderrigting onder die Mosaïese Wet
In 1513 v.G.J., toe Israel ’n nasie geword het, het die patriargale tydperk geëindig (Exodus 24:3-8). Vaders het voortgegaan om as familiehoofde te dien. Maar gesinswette het ondergeskik geword aan die nasionale Wet wat God aan Moses gegee het en wat deur aangestelde regters uitgeoefen is (Exodus 18:13-26). Die Levitiese priesterdom het die aspekte van aanbidding wat met offerandes verband hou, oorgeneem. Die vader het nietemin voortgegaan om ’n belangrike rol te speel. Moses het gemaan: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:6, 7.
Die Wet het geleenthede, soos die Pasga, gebied waartydens onderrigting formeel sowel as informeel gegee kon word. Namate die Pasga, 14 Nisan, nader gekom het, sou Joodse gesinne vir hulle gebruiklike reis na Jerusalem begin voorberei. (Deuteronomium 16:16; vergelyk Lukas 2:41.) Watter kind sou nie opgewonde geraak het tydens hierdie voorbereidings nie? Die reis self sou ’n genot wees. Teen daardie tyd was die reënseisoen verby, en die lenteson het die ergste winterkoue uit die lug begin wegneem. Namate die sneeu van die berg Hermon gesmelt het, sou die Jordaanrivier sy walle oorstroom.
Langs die pad kon vaders hulle kinders leer, nie net omtrent die aardrykskunde van hulle land nie, maar ook omtrent die ryk geskiedenis in verband met die plekke waarby hulle dalk verbygegaan het. Dit kon die berg Ebal en die berg Gerisim ingesluit het, waar die vervloekinge en seëninge van die Wet gelees is. Hulle het dalk ook verby Bet-el gegaan, waar Jakob sy droomvisioen van die leer na die hemel gehad het. Watter aangrypende gesprekke sou tog daaruit voortvloei! Namate die reis gevorder het en reisigers vanuit ander dele van die land hulle by gesinsgroepe aangesluit het, sou almal opbouende omgang geniet.
Uiteindelik sou die gesin in Jerusalem, “die volkomenheid van skoonheid”, aankom (Psalm 50:2). Geleerde Alfred Edersheim sê: “Baie van hierdie pelgrims het seker buite die stadsmure kamp opgeslaan. Diegene wat binne die stad tuisgegaan het, is gratis gehuisves.” Ja, Hebreeuse kinders het ’n eerstehandse les in broederliefde en gasvryheid ontvang. Jaarlikse byeenkomste van Jehovah se Getuies bereik vandag dieselfde doel.
Dan het 14 Nisan uiteindelik aangebreek. Die Pasgadier sou geslag en etlike ure lank gebraai word. Omtrent middernag het die gesin die lam, die ongesuurde brood en bitter kruie geëet. Volgens gebruik sou ’n seun vra: “Wat beteken die diens daar?” Vaders sou dan formele onderrigting gee en sê: “Dit is ’n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het.”—Exodus 12:26, 27; 13:8.
Israel se koning Salomo het gesê: ‘Daar is ’n tyd om te lag en ’n tyd om van vreugde rond te spring’ (Prediker 3:4). Israelitiese kinders het tyd vir ontspanning gekry. Jesus Christus het blykbaar kinders dopgehou wat op die markpleine speel (Sagaria 8:5; Matteus 11:16). En dit was niks ongewoons vir welgestelde ouers om genotvolle gesinsgesellighede te reël waar daar gesing, gedans en feesgevier is nie (Lukas 15:25). Hedendaagse Christenouers neem eweneens die inisiatief om heilsame ontspanning en assosiasie vir hulle kinders te voorsien.
Moeders en kinders in die Joodse gemeenskap
Watter rol het moeders onder die Mosaïese Wet gespeel? Spreuke 1:8 het beveel: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” Binne die raamwerk van haar man se gesag het die Joodse vrou godgegewe vereistes in die gesinslewe toegepas. Sy moes deur haar kinders geëer word, selfs nadat sy oud geword het.—Spreuke 23:22.
Die moeder het ook ’n groot aandeel aan die opleiding van haar kinders gehad. Sy het byna uitsluitlik vir ’n baba gesorg totdat hy oud genoeg was om gespeen te word, wat ongetwyfeld tot ’n hegte band tussen moeder en kind gelei het (Jesaja 49:15). Terwyl vaders hulle seuns ’n ambag geleer het, het moeders hulle dogters huishoudelike vaardighede geleer. Moeders het ook ’n sterk invloed op hulle seuns gehad. Lemuel die koning het byvoorbeeld baat gevind by “die gewigtige boodskap wat sy moeder hom by wyse van teregwysing gegee het”.—Spreuke 31:1, NW.
’n Deugsame Joodse vrou het ook aansienlike vryheid geniet om ‘opmerksaam die werksaamhede van haar huis na te gaan’. Volgens Spreuke 31:10-31 kon sy huishoudelike voorraad koop, eiendomsbeleggings maak en selfs ’n klein besigheid bestuur. Vir die waarderende man was haar waarde “ver bo korale”!
’n Voorbeeld vir vandag
In Bybeltye het die gesinsreëling die emosionele en geestelike vooruitgang van al sy lede tot gevolg gehad. Vaders moes hulle gesag liefdevol uitoefen tot die voordeel van hulle gesin. Hulle moes die leiding in aanbidding neem. Vaders sowel as moeders het belangstelling in hulle kinders getoon—hulle geleer en opgelei, saam met hulle aanbid en vir hulle ontspanning verskaf. Godvrugtige moeders was kosbare helpers wat die hoofskap van hulle man gerespekteer het terwyl hulle die inisiatief ten behoewe van hulle gesin geneem het. Gehoorsame kinders het hulle ouers en Jehovah God vreugde verskaf. Die godvresende gesin van Bybeltye was inderdaad ’n uitstekende voorbeeld vir ons tyd.
[Voetnoot]
a Ons moet daarop let dat Jakob voor hierdie gebeure ferm opgetree het om sy gesin teen die invloed van die Kanaäniete te beskerm. Hy het ’n altaar gebou, waarvan die styl hom ongetwyfeld van sy Kanaänitiese bure afgeskei het (Genesis 33:20; Exodus 20:24, 25). Daarbenewens het hy sy laer buite die stad Sigem opgeslaan en gesorg dat hy sy eie watervoorraad het (Genesis 33:18; Johannes 4:6, 12). Dina was dus deeglik bewus van die feit dat Jakob nie wou hê dat sy met die Kanaäniete moet assosieer nie.
[Prent op bladsy 23]
Jou gesin kan so gelukkig wees soos gesinne wat Jehovah in Bybeltye aanbid het