Jehovah se seën maak ons ryk
1 ’n Mens se sukses word dikwels gemeet aan hoe groot jou salaris is. Dit is waarom baie mense diegene met geld as die gelukkigste en mees vergenoegde mense beskou. Maar mense wat voel dat geld geluk kan koop, het dit hopeloos mis (Pred. 5:12). Daar is geen blywende vreugde vir diegene wat “vasbeslote is om ryk te wees” op materiële gebied nie (1 Tim. 6:9). Daarenteen is Jehovah se knegte waarlik vreugdevol en is hulle die rykste mense ter wêreld (Spr. 10:22; Op. 2:9). Hoe so?
2 Bewyse van ons rykdom: Ons besit ryk geestelike insig en ’n begrip van God se Woord, die Bybel. Deur sy aardse organisasie leer Jehovah ons voortdurend van homself en sy Seun, tot ons ewige voordeel. Juiste begrip maak dit vir ons moontlik om na aan Jehovah te kom en ’n intieme verhouding met hom te hê (Jak. 4:8). As ons tussen goed en sleg onderskei en God se wette gehoorsaam, sal ons teen sekere siektes en gevare beskerm word. Ons het die vertroue dat Jehovah vir ons sal sorg, wat tot godvrugtige vergenoegdheid en gemoedsrus lei.—Matt. 6:33.
3 Ons geniet vrede en eenheid binne ons geestelike broederskap, want ons kweek die vrugte van God se gees aan. Omdat ons deur ’n sterk band van liefde verenig is, hoef ons in tye van rampspoed nooit te voel dat God of ons broers ons verlaat het nie.—Gal. 6:10.
4 Ons lewe is waarlik sinvol en doelgerig. Dit is vir ons ’n wonderlike voorreg om aan die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus deel te neem. Dit bring blywende vreugde mee wanneer ons ander help om ’n goeie verhouding met God te verkry en om in eenheid saam met ons te dien in ware aanbidding. Die kosbare skat wat ons in die bediening het, eer Jehovah en gee ons die bevrediging om tot die heiliging van sy naam by te dra. Ons handhaaf ’n positiewe geestesgesindheid in die wete dat ons hoop vir die toekoms binnekort verwesenlik gaan word.
5 Ons waardering: Mag ons altyd Jehovah se seëninge waardeer, wat ons waarlik die rykste mense op aarde maak (Spr. 22:4). As ons elke dag tyd neem om te peins oor wat ons het, sal dit ons beweeg om Jehovah te dank vir sy oorvloedige liefde en voort te gaan om hom ons uitsluitlike toegewydheid te gee.