Beskeidenheid in kleredrag en persoonsversorging
1 “Al die mans, selfs jong seuns, dra ’n das. Al die vroue en meisies, adolessente sowel as klein dogtertjies, dra ’n rok of ’n romp. Daar is nêrens ’n denimbroek of ’n oop kraag te sien nie. Almal hier is stralend.” Dit is wat ’n nuusberig gesê het. Watter soort skare het dit beskryf? ’n Politieke saamtrek? ’n Sportgebeurtenis? ’n Rockkonsert? Beslis nie! Dit het ’n groep broers en susters by ’n groot streekbyeenkoms beskryf.
2 In ’n ander byeenkomsstad het ’n koerantverslaggewer hierdie beskrywing van die skare Getuies gegee: “Al die mans is netjies en het ’n pak en ’n das aan. Die vroue trek beskeie maar smaakvol aan.” ’n Ander waarnemer, ’n veiligheidswag, het gesê: “Julle is goed gemanierde, eerbiedige, skoon en netjiese mense. Wat ek sien, is pragtig. In hierdie smerige wêreld het julle dit reggekry om van die vuilheid ontslae te raak!” Watter uitstekende aanbevelings is dit tog vir ons! Is ons nie dankbaar dat ons broederskap so geprys kon word nie? Almal in die skare het natuurlik deur hulle voorbeeldige voorkoms tot die goeie verslae bygedra.
3 Ons is wêreldwyd daarvoor bekend dat ons voorkoms opmerklik anders is (Mal. 3:18). Waarom? Omdat ons ag slaan op die skriftuurlike vermaning om ons “met goed versorgde kleredrag [te] versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, . . . soos dit [diegene] betaam wat bely dat hulle God vereer”.—1 Tim. 2:9, 10.
4 Wat toon jou kleredrag en persoonsversorging? Die klere wat ons dra en die manier waarop ons dit dra, sê beslis iets omtrent ons—ons oortuigings, gesindheid en bedoelings. Die style wat ons kies, sê wie ons is en wat ons voorstaan. Ons moet nooit die verdorwe denke en gedrag bevorder wat in die wêreld gewild is nie. Wat vir ons van belang is, is nie dat ’n sekere styl hoog in die mode is nie, maar eerder dat dit gepas is vir iemand wat sê dat hy ’n bedienaar van God is (Rom. 12:2). Ons wil nie ’n voorkoms kies wat duidelik wys dat ons ’n onafhanklike gees het of wat te kenne gee dat ons ’n onsedelike lewe lei nie, maar ons wil eerder toon dat ons ‘God waarlik verheerlik’.—1 Pet. 2:12.
5 Soms sal iemand wat nuut, onervare of geestelik swak is, dalk enigiets aanneem wat die wêreld bevorder wat kleredrag en persoonsversorging betref, sonder om eers daaroor na te dink of dit Jehovah en sy organisasie oneer aandoen. Ons almal kan gerus ’n bietjie selfondersoek doen om te sien of ons deur die wêreld se denke beïnvloed word. Ons kan ’n gerespekteerde, geestelik volwasse broer of suster nader en hulle eerlike mening oor ons kleredrag en persoonsversorging vra en dan hulle wenke ernstig oorweeg.
6 Party stem geredelik saam dat hulle moet let op wat hulle aantrek terwyl hulle die streekbyeenkoms bywoon. Maar dan verlaag hulle hulle standaard wanneer hulle ná die sessies ontspan. Handhaaf die hoë standaard wat vir Christenbedienaars gepas is (2 Kor. 6:3, 4). Waar ons ook al in die openbaar is, identifiseer ons byeenkomslapelkaarte sowel as ons gepaste kleredrag en persoonsversorging ons as Jehovah se Getuies. Daarom moet ons klere altyd goed versorg en beskeie wees en toon dat ons “geen deel van die wêreld” is nie.—Joh. 15:19.
7 Laat ons by vanjaar se “Ywerige Koninkryksverkondigers”-streekbyeenkoms alles in ons vermoë doen om te bewys dat ons “’n heilige volk vir Jehovah [ons] God” is. Die goeie indruk wat dit skep, sal bydra tot Jehovah se “lof en roem en prag”.—Deut. 26:19.
[Venster op bladsy 10]
Hoe om Jehovah te verheerlik:
■ Dra klere wat vir ’n bedienaar van God gepas is.
■ Vermy style wat die gees van die wêreld navolg.
■ Lê beskeidenheid aan die dag, wat gesonde verstand weerspieël.