Hoofstuk 17
Byeenkomste—bewys van ons broederskap
BYEENKOMSTE het ’n kenmerk van die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies geword. Maar aanbidders van Jehovah het lank voor die 20ste eeu al op nasionale en internasionale skaal bymekaargekom.
Jehovah het vereis dat al die manspersone in eertydse Israel elke jaar vir drie seisoenfeeste in Jerusalem bymekaarkom. Party mans het hulle hele gesin saamgebring. Trouens, die Mosaïese Wet het vereis dat elke gesinslid—mans, vrouens en kinders—by sekere geleenthede teenwoordig moes wees (Ex. 23:14-17; Deut. 31:10-13; Luk. 2:41-43). Aanvanklik is hierdie feeste bygewoon deur diegene wat binne die grense van Israel gewoon het. Later, toe die Jode baie verspreid geraak het, het mense uit talle nasies dit bygewoon (Hand. 2:1, 5-11). Hulle het nie net bymekaargekom omdat Israel en Abraham hulle voorvaders was nie, maar omdat hulle Jehovah as hulle groot hemelse Vader erken het (Jes. 63:16). Hierdie feeste was vreugdevolle geleenthede. Hulle het diegene wat teenwoordig was ook gehelp om hulle aandag op God se Woord gevestig te hou en nie so betrokke te raak by alledaagse dinge dat hulle miskien die belangriker geestelike sake vergeet nie.
Jehovah se Getuies se byeenkomste in hedendaagse tye draai eweneens om geestelike belange. Vir opregte waarnemers lewer hierdie byeenkomste onweerlegbare bewys dat die Getuies deur sterk bande van Christenbroederskap saamgebind word.
Vroeë byeenkomste van die Bybelstudente
Die reëlings vir samekomste van die Bybelstudente uit verskeie stede en lande het geleidelik ontwikkel. In teenstelling met tradisionele kerkgroepe het die Bybelstudente medegelowiges op ander plekke gou deur middel van hulle byeenkomste leer ken. Hierdie byeenkomste is aanvanklik in Allegheny, Pennsilvanië, gehou saam met die jaarlikse herdenking van die Here se dood. In 1891 is daar spesifiek aangekondig dat daar ’n “byeenkoms vir Bybelstudie en vir die viering van die Here se Gedenkmaal sou wees”. Die volgende jaar het daar ’n groot opskrif in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) verskyn wat die volgende aangekondig het: “BYEENKOMS VIR GELOWIGES, IN ALLEGHENY, PA., . . . VAN 7 TOT EN MET 14 APRIL 1892.”
Die publiek is nie na daardie vroeë byeenkomste genooi nie. Maar in 1892 was daar sowat 400 mense teenwoordig wat getoon het dat hulle geloof in die losprys stel en opreg in die Here se werk belangstel. Die program het vyf dae van intensiewe Bybelstudie ingesluit en nog twee dae waartydens daar nuttige raad aan die kolporteurs gegee is.
Iemand wat een van hierdie vergaderinge vir die eerste keer bygewoon het, het gesê: “Ek het al baie Samekomste bygewoon, maar nog nooit een soos hierdie nie, waar God se wil en plan van die oggend tot die aand die enigste en voortdurende onderwerp van bespreking is, in die huis, op straat, wanneer hulle mekaar ontmoet, tydens middagete en oral.” Iemand uit Wisconsin, VSA, het oor die gees van die byeenkomsgangers geskryf: “Ek was diep beïndruk deur die gees van liefde en broederlike goedhartigheid wat te alle tye aan die dag gelê is.”
In 1893 het daar ’n verandering ten opsigte van die jaarlikse byeenkomsreëlings plaasgevind. Sodat hulle die goedkoop spoorwegtarief weens die Columbus-tentoonstelling daardie somer kon benut, het die Bybelstudente van 20 tot 24 Augustus in Chicago, Illinois, bymekaargekom. Dit was hulle eerste byeenkoms buite die Pittsburgh-gebied. Daarna het hulle egter ’n paar jaar lank nie algemene byeenkomste gehou nie, sodat hulle hulle tyd en geld so goed moontlik vir die Here se werk kon gebruik.
Van 1898 af het die Bybelstudente op verskillende plekke begin om plaaslik die inisiatief te neem en byeenkomste te reël wat deur mense in ’n beperkte gebied bygewoon sou word. In 1900 het die Genootskap 3 algemene byeenkomste gereël; maar daar was ook 13 plaaslike byeenkomste in die Verenigde State en Kanada, waarvan die meeste net een dag lank was en dikwels tydens die besoek van een van die pelgrims gehou is. Die getalle het bly styg. Teen 1909 is daar ten minste 45 plaaslike byeenkomste in Noord-Amerika gehou benewens die byeenkomste wat deur broer Russell bedien is tydens spesiale reise wat hom na verskillende dele van die vasteland geneem het. ’n Groot deel van die program wat tydens eendagbyeenkomste aangebied is, was daarop gemik om die publiek se belangstelling te wek. Bywoningsyfers het gewissel van bykans honderd tot ’n paar duisend.
Daarteenoor het algemene byeenkomste, wat hoofsaaklik deur die Bybelstudente bygewoon is, veral onderrigting bevat vir diegene wat taamlik goed in die weg van die waarheid gevestig was. Spesiale treine vol byeenkomsgangers het van groot stede af na hierdie byeenkomste toe gekom. Soms het tot 4 000 hierdie byeenkomste bygewoon, met selfs ’n paar byeenkomsgangers uit Europa. Dit was tye van ware geestelike verkwikking wat Jehovah se volk tot groter ywer en liefde aangespoor het. Een broer het aan die einde van so ’n byeenkoms in 1903 gesê: “Ek sal nie eers duisend dollar aanvaar vir al die goeie dinge wat ek by hierdie Byeenkoms ontvang het nie—en ek is maar ’n arm man.”
Pelgrimbroers wat in die gebied was, het toesprake by die byeenkomste gehou. Broer Russell het ook probeer om plaaslike byeenkomste asook groter byeenkomste in die Verenigde State, en dikwels tot in Kanada, by te woon en aan die program deel te neem. Daarvoor moes hy baie reis. Hy het dit meestal oor naweke gedoen. Maar in 1909 het ’n broer in Chicago etlike treinwaens gehuur om byeenkomsgangers te vervoer wat saam met broer Russell van die een byeenkoms na die ander gereis het. In 1911 en 1913 het dieselfde broer hele treine gehuur om honderde byeenkomsgangers op byeenkomsreise van ’n maand of langer in die weste van die Verenigde State en Kanada te neem.
Hierdie byeenkomstreinreise was ’n onvergeetlike ondervinding. In 1913 het Malinda Keefer in Chicago, Illinois, op een geklim. Sy het jare later gesê: “Kort voor lank het ek besef dat ons een groot gesin is . . . en die trein was ’n maand lank ons tuiste.” Toe die trein die stasie verlaat het, het diegene wat hulle daar kom groet het, gesing: “Mag God julle behoed tot ons weer ontmoet” terwyl hulle met hulle hoede en sakdoeke gewaai het totdat die trein buite sig was. Suster Keefer het bygevoeg: “Oral waar die trein stilgehou het, is byeenkomste gehou—die meeste het drie dae geduur, en ons het een dag by elke byeenkoms gebly. Broer Russell het twee toesprake gehou wanneer ons vir hierdie byeenkomste stilgehou het, een in die middag vir die vriende en nog een in die aand vir die publiek oor die onderwerp ‘Anderkant die graf’.”
Die aantal byeenkomste het in ander lande ook toegeneem. Hulle was dikwels baie klein. Ongeveer 15 het die eerste een in Noorweë in 1905 bygewoon; maar dit was ’n begin. Toe broer Russell Noorweë ses jaar later besoek het, is daar ’n spesiale poging aangewend om die publiek te nooi, en by daardie geleentheid was die opkoms ongeveer 1 200. In 1909, toe hy byeenkomste in Skotland bygewoon het, het hy ongeveer 2 000 in Glasgow en nog 2 500 in Edinburg toegespreek oor die interessante onderwerp “Die dief in die Paradys, die ryk man in die hel en Lasarus aan die boesem van Abraham”.
Die broers het vroeër na afloop van die byeenkomste ’n sogenoemde liefdesmaaltyd gehou, wat hulle Christenbroederskap weerspieël het. Wat het hierdie “liefdesmaaltyd” behels? Die sprekers het byvoorbeeld in ’n ry gestaan met borde met stukkies brood op, en die gehoor het dan in ’n ry verby hulle geloop, van die brood geëet, hande geskud en “Geseënd is die band wat ons harte in Christelike liefde bind” gesing. Trane van vreugde het dikwels oor hulle wange gerol terwyl hulle gesing het. Later, toe hulle meer geword het, het hulle opgehou om hand te skud en die brood te breek, maar hulle het met sang en gebed en dikwels langgerekte applous afgesluit om hulle waardering te betuig.
’n Wêreldwye kampanje van Koninkryksverkondiging begin
Die eerste groot byeenkoms ná die Eerste Wêreldoorlog is van 1 tot 8 September 1919 in Cedar Point, Ohio (langs die Eriemeer, 96 kilometer wes van Cleveland), gehou. Ná broer Russell se dood het party prominente persone in die organisasie afvallig geword. Die broers is kwaai beproef. Die Genootskap se president en sy metgeselle is vroeër in 1919 ná hulle onregverdige opsluiting vrygelaat. Daar het dus groot afwagting geheers. Hoewel die opkoms die eerste dag taamlik swak was, het meer byeenkomsgangers later die dag op spesiale treine daar aangekom. Daarna is die hotelle wat huisvesting vir die byeenkomsgangers aangebied het met besprekings oorval. R. J. Martin en A. H. Macmillan (wat albei in die groep was wat kort tevore uit die gevangenis vrygelaat is) het aangebied om te help. Hulle het tot ná middernag kamers aangewys, en broer Rutherford en baie van die ander het dit geniet om hoteljoggies te speel en die vriende se bagasie te dra en hulle na hulle kamers te vergesel. Daar het ’n aansteeklike geesdriftigheid onder hulle almal geheers.
’n Opkoms van 2 500 is verwag. Maar die byeenkoms het in alle opsigte hulle verwagtinge oortref. Die ouditorium was die tweede dag reeds oorvol en bykomende sale is gebruik. Toe dit nie genoeg was nie, is die byeenkoms buite gehou waar daar heelwat bome was. Ongeveer 6 000 Bybelstudente uit die Verenigde State en Kanada het die byeenkoms bygewoon.
Die hooftoespraak Sondag is ook deur ten minste 1 000 lede van die publiek bygewoon, wat die gehoor se getalle tot 7 000 laat styg het, en die spreker het hulle in die buitelug sonder ’n mikrofoon of klankversterker toegespreek. In daardie toespraak, “Die hoop vir die bekommerde mensdom”, het J. F. Rutherford dit duidelik gestel dat God se Messiaanse Koninkryk die oplossing vir die mensdom se probleme is, en hy het ook getoon dat die Volkebond (wat destyds in wording was en wat reeds die geestelikes se steun geniet het) hoegenaamd nie ’n politieke beliggaming van God se Koninkryk was nie. Die Register van Sandusky (’n plaaslike koerant) het ’n volledige berig oor daardie openbare toespraak bevat sowel as ’n oorsig van die Bybelstudente se bedrywighede. Eksemplare van daardie koerant is aan koerante deur die hele Verenigde State en Kanada gestuur. Maar die publisiteit wat aan hierdie byeenkoms gegee is, was ook in baie ander opsigte belangrik.
Die werklike hoogtepunt van die hele byeenkoms was broer Rutherford se “Toespraak aan medearbeiders”, wat later onder die titel “Kondig die Koninkryk aan” gepubliseer is. Dit was tot die Bybelstudente self gerig. Die betekenis van die letters GA wat op die byeenkomsprogram en op verskeie plekke op die byeenkomsterrein verskyn het, het gedurende daardie toespraak duidelik geword. ’n Aankondiging is gedoen oor die toekomstige publikasie van ’n nuwe tydskrif, The Golden Age, wat gebruik sou word om mense se aandag op die Messiaanse Koninkryk te vestig. Nadat broer Rutherford ’n oorsig gegee het van die werk wat gedoen moes word, het hy vir die gehoor gesê: “Die deur van geleentheid gaan vir julle oop. Gaan gou daardeur in. Wanneer julle hierdie werk doen, moet julle onthou dat julle nie net as die agent van ’n tydskrif werk nie, maar dat julle ambassadeurs is van die Koning van die konings en die Here van die here wat op hierdie waardige manier vir die mense vertel van die inkomende Goue Eeu, die glorieryke koninkryk van ons Heer en Meester, iets wat al eeue lank deel uitmaak van Christene se hoop en gebede.” (Sien Openbaring 3:8.) Dit was besielend om die geesdriftige reaksie te sien toe die spreker gevra het wie graag aan daardie werk wou deelneem. Die gehoor van 6 000 het soos een man opgestaan. Teen die volgende jaar het meer as 10 000 velddiens gedoen. Die hele byeenkoms het ’n verenigende en versterkende uitwerking gehad op diegene wat daar was.
Nog ’n onvergeetlike byeenkoms is drie jaar later, in 1922, in Cedar Point gehou. Dit was ’n negedaagse program wat van 5 tot 13 September geduur het. Benewens die byeenkomsgangers uit die Verenigde State en Kanada was daar sommige wat uit Europa gekom het. Programme is in tien tale aangebied. Die gemiddelde daaglikse opkoms was ongeveer 10 000; en soveel lede van die publiek het die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” bygewoon dat die bywoningsyfer byna verdubbel het.
Die Bybelstudente het nie by hierdie byeenkoms bymekaargekom met die gedagte dat hulle hulle voorberei vir werk hier op die aarde wat dekades lank in die toekoms sou strek nie. Trouens, hulle het gesê dat dit heel moontlik hulle laaste algemene byeenkoms sou wees voor “die verlossing van die kerk . . . na die hemelse fase van die koninkryk van God, en inderdaad na die werklike teenwoordigheid van ons Here en ons God”. Maar hoe kort die tyd ook al sou wees, dit was vir hulle van die allergrootste belang om God se wil te doen. Daarmee in gedagte het broer Rutherford op Vrydag, 8 September, die onvergeetlike toespraak “Die Koninkryk” gehou.
Vroeër is daar groot baniere met die letters ADV daarop in verskeie dele van die terrein opgehang. Die betekenis van daardie letters het duidelik geword tydens die toespraak toe die spreker hulle aangespoor het: “Wees getroue en ware getuies vir die Here. Gaan voort met die stryd totdat elke oorblyfsel van Babilon verlate lê. Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Op daardie oomblik is ’n groot banier van 11 meter lank voor die gehoor oopgevou. Daarop het die besielende slagspreuk “Adverteer die Koning en Koninkryk” verskyn. Dit was ’n dramatiese oomblik. Die gehoor se applous was geesdriftig. Die bejaarde broer Pfannebecker, in die byeenkomsorkes, het sy viool bo sy kop gewaai en hard met sy swaar Duitse aksent gesê: “Nou ja! Laat ons dit dan doen.” En hulle het.
Vier dae later, terwyl die byeenkoms nog aan die gang was, het broer Rutherford persoonlik saam met ander byeenkomsgangers gegaan om die Koninkryk van huis tot huis te verkondig in ’n gebied binne 72 kilometer van die byeenkomsterrein. Dit het nie daar opgehou nie. Die Koninkryksverkondigingswerk het ’n kragtige stoot gekry wat ’n wêreldwye uitwerking sou hê. Daardie jaar het meer as 17 000 ywerige werkers in 58 lande aan die getuieniswerk deelgeneem. George Gangas, wat daardie byeenkoms bygewoon het en later ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, het dekades later oor daardie program in Cedar Point gesê: “Dit was iets wat onuitwisbaar in my verstand en hart ingeprent is, iets wat ek nooit sal vergeet solank ek lewe nie.”
Mylpale in geestelike groei
Byeenkomste was nog altyd tye van verkwikking en onderrigting in God se Woord. Maar sommige word dekades lank as geestelike mylpale onthou.
Sewe van hulle is agtereenvolgend van 1922 tot 1928 in die Verenigde State, Kanada en Brittanje gehou. Een rede waarom hierdie byeenkomste so belangrik was, was die kragtige resolusies wat daar aangeneem is, waarvan al sewe in die venster op die volgende bladsy verskyn. Hoewel daar betreklik min Getuies was, het hulle tot 45 miljoen eksemplare van een resolusie en 50 miljoen van verskeie ander wêreldwyd in baie tale versprei. Sommige is deur middel van internasionale radioverbindings uitgesaai. ’n Buitengewone getuienis is so gegee.
Nog ’n geskiedkundige byeenkoms is in 1931 in Columbus, Ohio, gehou. Op Sondag, 26 Julie, het die Bybelstudente, nadat hulle die skriftuurlike redes daarvoor gehoor het, ’n nuwe naam—Jehovah se Getuies—aangeneem. Hoe gepas tog! Hier is ’n naam wat die aandag in die eerste plek op die Skepper self vestig en wat duidelik toon wat die verantwoordelikheid is van diegene wat hom aanbid (Jes. 43:10-12, NW). Die aanneming van daardie naam het die broers tot groter ywer as verkondigers van God se naam en Koninkryk as ooit tevore aangespoor. Soos ’n brief wat daardie jaar deur ’n Deense Getuie geskryf is, sê: “O, wat ’n wonderlike naam, Jehovah se Getuies, ja, mag ons almal Getuies van Jehovah wees.”
In 1935 is daar nog ’n onvergeetlike byeenkoms in Washington, DC, gehou. Op Vrydag, 31 Mei, die tweede dag van daardie byeenkoms, het broer Rutherford die groot menigte bespreek waarvan daar in Openbaring 7:9-17 gepraat word. Die Bybelstudente het ’n halfeeu lank vergeefs probeer om daardie groep reg te identifiseer. Nou, op Jehovah se regte tyd en in die lig van gebeure wat reeds besig was om plaas te vind, is daar getoon dat dit mense is wat die vooruitsig het om vir ewig hier op die aarde te woon. Hierdie begrip het die evangelisasiewerk nuwe betekenis gegee en het ’n groot verandering in die samestelling van die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies wat destyds net begin het skriftuurlik verduidelik.
Baie wat in 1941 by die byeenkoms in St. Louis, Missouri, was, onthou nog die toespraak “Onkreukbaarheid” wat op die eerste dag gehou is en waarin broer Rutherford die aandag op die groot geskil gevestig het waarvoor die hele intelligente skepping staan. Vandat die toespraak “Heerser vir die mense” in 1928 gehou is, is daar herhaaldelik aandag geskenk aan die geskille wat deur Satan se opstand geopper is. Maar daar is nou daarop gewys dat ‘die hoofgeskil wat deur Satan se uittartende uitdaging geopper is die geskil van UNIVERSELE HEERSKAPPY was en is’. ’n Begrip van daardie geskil en van die belangrikheid daarvan om onkreukbaarheid aan Jehovah as die Universele Soewerein te behou, is ’n kragtige motiverende faktor in die lewe van Jehovah se knegte.
In 1942, te midde van die Tweede Wêreldoorlog, toe sommige gewonder het of die predikingswerk nie so te sê klaar was nie, het N. H. Knorr, die pas aangestelde president van die Wagtoringgenootskap, die toespraak “Vrede—Kan dit duur?” gehou. Daardie toespraak se verduideliking van die simboliese “skarlakenrooi dier” van Openbaring hoofstuk 17 het Jehovah se Getuies laat sien dat daar ’n tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog sou wees waartydens hulle geleentheid sou hê om nog meer mense na God se Koninkryk te rig. Dit het stukrag verleen aan ’n wêreldwye kampanje wat deur die jare heen in meer as 235 lande gevoer is en nog nie klaar is nie.
Nog ’n mylpaal is op 2 Augustus 1950 tydens ’n byeenkoms in New York se Yankee-stadion bereik. By daardie geleentheid was ’n verbaasde en vreugdevolle gehoor die eerstes wat die New World Translation of the Christian Greek Scriptures ontvang het. Die res van die New World Translation is oor die daaropvolgende dekade in gedeeltes uitgereik. Hierdie weergawe van die Heilige Skrif in moderne taal het God se persoonlike naam in sy regmatige plek in sy Woord herstel. Hierdie vertaling se getrouheid aan wat in die oorspronklike Bybeltale staan, het dit ’n geweldige aanwins vir Jehovah se Getuies in hulle eie studie van die Skrif sowel as in hulle evangelisasiewerk gemaak.
F. W. Franz, wat destyds die visepresident van die Wagtoringgenootskap was, het die gehoor op die voorlaaste dag van daardie byeenkoms oor “Nuwe stelsels van dinge” toegespreek. Jehovah se Getuies het baie jare lank geglo dat sommige van Jehovah se voor-Christelike knegte al voor Armageddon uit die dood opgewek sal word om, ter vervulling van Psalm 45:17, vorste in die nuwe wêreld te wees. Jy kan jou dus die uitwerking op die ontsaglike gehoor voorstel toe die spreker gevra het: “Sal dit hierdie internasionale samekoms bly maak om te weet dat daar vanaand, hier, in ons midde, ’n aantal toekomstige vorste van die nuwe aarde is?” Daar was ’n geweldige en langgerekte applous asook uitroepe van vreugde. Toe het die spreker getoon dat die Bybelse gebruik van die woord wat met “vors” vertaal word sowel as die rekord van getrouheid van baie van die “ander skape” in hedendaagse tye wel kan beteken dat sommige wat nou lewe heel moontlik deur Jesus Christus gekies sal word om as vorste te dien. Maar hy het ook daarop gewys dat diegene aan wie hierdie diens toevertrou word nie eretitels sal hê nie. Hy het sy toespraak met hierdie aansporing afgesluit: “Laat ons dan almal saam voortdurend voorwaarts gaan as ’n Nuwewêreld-gemeenskap!”
Daar is al talle ander uiters betekenisvolle toesprake by byeenkomste van Jehovah se Getuies gehou: In 1953 was “Nuwewêreld-gemeenskap uit die verre Noorde aangeval” ’n aangrypende verduideliking van die aanval van Gog van Magog soos dit in Esegiël hoofstukke 38 en 39 beskryf word. Daardie selfde jaar het die toespraak “Om die huis met heerlikheid te vul” diegene wat daarna geluister het, aangegryp toe hulle met hulle eie oë tasbare bewys gesien het van die vervulling van Jehovah se belofte in Haggai 2:7 om die skatte, die begeerlike dinge, uit al die nasies na Jehovah se huis te bring.
Die merkwaardigste byeenkoms in hedendaagse tye is egter in 1958 in New York gehou toe meer as ’n kwart miljoen mense in die grootste byeenkomsterrein wat beskikbaar was, ingestroom het om na die toespraak “God se Koninkryk heers—Is die wêreld se einde naby?” te luister. Daar was byeenkomsgangers uit 123 lande, en hulle verslae aan die byeenkomsgehoor het gehelp om die bande van internasionale broederskap hegter te maak. Gedurende daardie buitengewone byeenkoms is publikasies in 54 tale uitgereik wat sou bydra tot die geestelike groei van die byeenkomsgangers en wat hulle kon gebruik om ander te onderrig.
In 1962 het ’n reeks toesprake met die tema “Onderdanigheid aan die hoëre owerhede” die Getuies se begrip van Romeine 13:1-7 reggestel. In 1964 het “Oorgaan uit die dood in die lewe” en “Uit die grafte tot ’n opstanding” hulle waardering vergroot vir Jehovah se groot barmhartigheid soos dit in die voorsiening van die opstanding geopenbaar word. En baie, baie meer byeenkomshoogtepunte kan genoem word.
Tienduisende, ja, honderdduisende nuwelinge woon elke jaar die byeenkomste by. Hoewel die inligting wat aangebied word nie altyd vir die organisasie as geheel nuut is nie, help dit nuwe byeenkomsgangers dikwels om die Goddelike wil te verstaan, wat hulle groot vreugde verskaf. Hulle word moontlik bewus gemaak van diensgeleenthede wat hulle hele lewe sal verander en word dalk beweeg om dit aan te gryp.
By baie byeenkomste is die aandag op die betekenis van sekere Bybelboeke gevestig. In 1958 en weer in 1977 is daar byvoorbeeld boeke uitgereik wat die profesieë bespreek het wat deur die profeet Daniël opgeteken is oor God se voorneme om een wêreldregering met Christus as Koning te hê. In 1971 is die aandag gevestig op die boek Esegiël met sy Goddelike verklaring: “Die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is” (Eseg. 36:23, NW). In 1972 is profesieë wat deur Sagaria en Haggai opgeteken is breedvoerig bespreek. In 1963, 1969 en 1988 was daar breedvoerige besprekings oor die opwindende profesieë van Openbaring, wat Babilon die Grote se val en God se inkomende, heerlike nuwe hemele en nuwe aarde op aanskoulike wyse voorstel.
Die byeenkomste het verskillende temas beklemtoon—Teokrasie se Vermeerdering, Rein Aanbidding, Verenigde Aanbidders, Moedige Evangeliedienaars, Vrug van die Gees, Maak Dissipels, Goeie Nuus vir al die Nasies, Goddelike Naam, Goddelike Soewereiniteit, Heilige Diens, Seëvierende Geloof, Koninkrykslojaliteit, Handhawers van Onkreukbaarheid, Vertrou op Jehovah, Godvrugtige Toegewydheid, Ligdraers en nog baie meer. Al hierdie byeenkomste het bygedra tot die geestelike groei van die organisasie en diegene wat met die organisasie omgaan.
’n Aansporing tot die evangelisasiewerk
Groot streekbyeenkomste sowel as kleiner kringbyeenkomste was nog altyd ’n bron van groot aanmoediging ten opsigte van die verkondiging van die goeie nuus. Toesprake en demonstrasies voorsien praktiese onderrig. Ondervindinge wat in die veldbediening geniet word sowel as dié wat deur mense vertel word wat onlangs gehelp is om Bybelwaarhede te leer, maak altyd deel uit van die program. Daarbenewens was die velddiens wat jare lank ’n deel van byeenkomste was iets baie nuttigs. Dit het tot ’n goeie getuienis in die byeenkomsstad gelei en was ’n bron van groot aanmoediging vir die Getuies self.
Velddiens het in Januarie 1922 in Winnipeg, Manitoba, Kanada, deel van die gereelde byeenkomsbedrywigheid begin uitmaak. Dit het later daardie jaar ook deel uitgemaak van die algemene byeenkoms in Cedar Point, Ohio. Daarna is daar gereeld ’n dag, ’n gedeelte van ’n dag of gedeeltes van verskeie dae opsygesit sodat byeenkomsgangers saam in en om die byeenkomsstad aan die predikingsbedrywigheid kon deelneem. Dit het die mense in grootstadsgebiede met wie die Getuies selde in aanraking gekom het die geleentheid gegee om die goeie nuus te hoor oor God se voorneme om liefhebbers van geregtigheid die ewige lewe te gee.
In Denemarke is die eerste van hierdie velddiensdae by ’n byeenkoms in 1925 gereël toe tussen 400 en 500 by Nørrevold bymekaargekom het. Talle van die 275 wat by daardie byeenkoms velddiens gedoen het, het dit toe vir die eerste keer gedoen. Sommige was huiwerig. Maar toe hulle dit eers gedoen het, het hulle ook in hulle tuisgebiede geesdriftige evangeliedienaars geword. Ná daardie byeenkoms en tot aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog is daar baie eendaagse diensbyeenkomste in Denemarke gehou, en die broers in omliggende dorpe is daarheen genooi. Dit was duidelik dat hulle met ywer vervul was wanneer hulle saam aan die bediening deelgeneem en dan bymekaargekom het om na toesprake te luister. Soortgelyke diensbyeenkomste—maar twee dae lank—is in Brittanje en die Verenigde State gehou.
By groter byeenkomste het die byeenkomsgangers se predikingswerk enorme afmetings aangeneem. Van 1936 af is die byeenkoms se openbare toespraak geadverteer deur middel van ordelike optogte waartydens Getuies reklameborde gedra en strooibiljette onder die publiek versprei het. (Daardie reklameborde is aanvanklik “sandwich signs” genoem omdat een voor en een agter gedra is.) Soms het duisend of meer Getuies aan sulke optogte by byeenkomste deelgeneem. Ander het van huis tot huis gegaan en almal genooi om na die program te kom luister. Dit was vir individuele Getuies baie aanmoedigend om saam met ander te werk en te sien hoe honderde, selfs duisende, ander Getuies saam met hulle aan die bediening deelneem. Die publiek binne ’n aansienlike omtrek het terselfdertyd gesien dat Jehovah se Getuies in die dorp is; mense kon dus self uitvind wat die Getuies leer en sien hoe hulle hulle gedra.
Dikwels het baie meer mense as net die sigbare gehoor die toesprake gehoor wat by die byeenkomste gehou is. Toe broer Rutherford in 1927 die toespraak “Vryheid vir die volke” by ’n byeenkoms in Toronto, Kanada, gehou het, was dit die eerste keer in die geskiedenis dat ’n toespraak oor ’n netwerk van 53 radiostasies aan ’n ontsaglike, internasionale radiogehoor uitgesaai is. Die daaropvolgende jaar is die toespraak “Heerser vir die mense” uit Detroit, Michigan (VSA), oor dubbel soveel stasies uitgesaai, en dit het luisteraars deur middel van kortgolfradio tot in Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika bereik.
In 1931 het groot radionetwerke geweier om hulle samewerking te gee met planne om een van broer Rutherford se byeenkomstoesprake uit te saai; en daarom het die Wagtoringgenootskap sy eie netwerk van 163 stasies met die hulp van die Amerikaanse Telefoon- en Telegraafmaatskappy gemaak, wat die grootste netwerk ingesluit het wat destyds telegrafies verbind en uitgesaai is om die boodskap “Die Koninkryk, die hoop van die wêreld” uit te dra. Daarbenewens het meer as 300 ander stasies in baie wêrelddele die program deur middel van grammofoonplate uitgesaai.
Broer Rutherford het in 1935 gedurende die byeenkoms in Washington, DC, oor die onderwerp “Regering” gepraat en die aandag op kragtige wyse gevestig op die feit dat Jehovah se Koninkryk onder Christus binnekort alle menseregerings gaan vervang. Meer as 20 000 in die Washington-ouditorium het die toespraak gehoor. Die toespraak is ook deur middel van die radio en telefoonlyne wêreldwyd uitgesaai na plekke soos Sentraal- en Suid-Amerika, Europa, Suid-Afrika, die eilande van die Stille Oseaan en Oosterse lande. Daar was heel waarskynlik miljoene wat hierdie toespraak gehoor het. Twee toonaangewende koerante in Washington het hulle kontrak om die toespraak te publiseer, verbreek. Maar die broers het klankmotors na 3 dele in die stad en na 40 ander plekke om Washington geneem, en die toespraak is van daar af heruitgesaai na ’n gehoor van nog sowat 120 000.
Toe, in 1938, is die toespraak “Hou rekening met die feite” van die Royal Albert-saal, in Londen, Engeland, af na sowat 50 byeenkomsstede, waar altesaam sowat 200 000 vergader het, dwarsdeur die wêreld uitgedra. Daarbenewens het ’n ontsaglike radiogehoor daardie toespraak gehoor.
Hoewel daar dus relatief min Getuies van Jehovah was, het hulle byeenkomste ’n belangrike rol gespeel in die openbare verkondiging van die Koninkryksboodskap.
Naoorlogse byeenkomste in Europa
Vir diegene wat daar teenwoordig was, oortref sekere byeenkomste al die ander. Dit was die geval met die byeenkomste in Europa wat direk ná die Tweede Wêreldoorlog gehou is.
Een van hierdie byeenkomste is op 5 Augustus 1945, skaars vier maande nadat die Getuies uit die Duitse konsentrasiekampe vrygelaat is, in Amsterdam, Nederland, gehou. Daar is sowat 2 500 byeenkomsgangers verwag; 2 000 van hulle moes huisvesting kry. Om genoeg slaapplek te voorsien, het plaaslike Getuies strooi op die vloer van hulle huise uitgesprei. Die byeenkomsgangers het uit alle rigtings op enige moontlike manier gekom—per boot, in vragmotors, op fietse en sommige het geryloop.
By daardie byeenkoms het hulle gelag en gehuil, gesing en Jehovah vir sy goedheid gedank. Soos een byeenkomsganger gesê het: “Hulle het die onuitspreeklike vreugde ervaar van ’n teokratiese organisasie wat so pas uit gevangenskap vrygelaat is!” Voor die oorlog was daar minder as 500 Getuies in Nederland. Altesaam 426 is gevange geneem; van hulle het 117 regstreeks weens vervolging gesterf. Watter vreugde was daar tog wanneer sommige hulle geliefdes by die byeenkoms aangetref het wat hulle gedink het dood was! Ander het trane gestort terwyl hulle tevergeefs gesoek het. Daardie aand het 4 000 mense met gespanne aandag na die openbare toespraak geluister wat verduidelik het waarom Jehovah se Getuies so kwaai vervolg is. Ondanks hulle ontberinge het hulle hulle begin organiseer om hulle godgegewe werk voort te sit.
Die volgende jaar, 1946, het die broers in Duitsland reëlings getref vir ’n byeenkoms in Neurenberg. Hulle kon die Zeppelinwiese, wat vroeër Hitler se paradeterrein was, daarvoor gebruik. Erich Frost, wat persoonlik die Gestapo se wreedaardigheid ervaar en jare in ’n Nazi-konsentrasiekamp deurgebring het, het op die tweede dag van die byeenkoms die openbare toespraak “Christene in die smeltkroes” gehou. Drieduisend lede van die Neurenbergse publiek het hulle vir die geleentheid aangesluit by die 6 000 Getuies wat daar was.
Die laaste dag van daardie byeenkoms was die dag waarop die vonnisse in die oorlogsmisdaadsake in Neurenberg uitgespreek is. Die militêre owerheid het ’n aandklokreël vir daardie dag ingestel, maar ná lang onderhandelings het hulle besluit dat Jehovah se Getuies se standpunt ten opsigte van Nazi-oorheersing dit onvanpas sal maak om hulle te keer om hulle byeenkoms in vrede af te sluit. Die broers het dus op daardie laaste dag bymekaargekom om na die besielende toespraak “Vreesloos ondanks die wêreldkomplot” te luister.
Hulle het gesien dat Jehovah ’n aandeel in die gebeure het. Op dieselfde dag dat manne gevonnis is wat ’n deel was van ’n regime wat Jehovah se Getuies probeer uitwis het, het die Getuies bymekaargekom om Jehovah te aanbid op die plek waar Hitler van sy skouspelagtigste vertonings van Nazi-mag gehou het. Die byeenkomsvoorsitter het gesê: “Net om hierdie dag te kon beleef, wat net ’n voorskou is van die oorwinning van God se volk oor hulle vyande tydens die slag van Armageddon, was die nege jaar in ’n konsentrasiekamp werd.”
Ander onvergeetlike byeenkomste
Namate die bedrywigheid van Jehovah se Getuies uitgebrei het, is byeenkomste reg rondom die wêreld gehou. Al hierdie byeenkomste het besondere kenmerke gehad vir diegene wat dit bygewoon het.
In 1952 is daar in Kitwe, Noord-Rhodesië (nou Zambië), in die middel van die Koperstreek, ’n byeenkoms gereël wat met die president van die Wagtoringgenootskap se besoek daardie jaar sou saamval. Die byeenkomsterrein was ’n groot gebied in die buitewyke van een van die mynkampe op ’n plek wat nou as Chamboli bekend staan. Die bokant van ’n leë miershoop is gelykgemaak en ’n grasafdak is bo-op gebou sodat dit as verhoog kon dien. Nog grasafdakke van 180 meter lank met twee vlakke is vir slaapdoeleindes soos die speke van ’n wiel rondom die gedeelte opgerig waar die gehoor gesit het. Die mans en seuns het in party geslaap; die vroue en meisies in ander. Sommige byeenkomsgangers het twee weke per fiets gereis om daar te wees. Ander het dae lank geloop en die laaste gedeelte in ’n primitiewe bus afgelê.
Die gehoor het gedurende die sessies baie aandagtig geluister hoewel hulle op harde bamboesbankies in die ope lug gesit het. Hulle het gekom om te luister, en hulle wou alles hoor. Daardie gehoor van 20 000 se sang was so pragtig dat dit trane in die oë laat opwel het. Daar was geen musikale begeleiding nie, maar die harmonie van die stemme was ongelooflik mooi. Al het hierdie Getuies uit talle agtergronde en stamme gekom, het die eenheid onder hulle nie net duidelik uit hulle sang geblyk nie, maar uit alles wat gedoen is.
En kan jy jou voorstel hoe Jehovah se Getuies in Portugal gevoel het toe hulle ná ’n stryd om godsdiensvryheid wat byna 50 jaar geduur het op 18 Desember 1974 wetlike erkenning verkry het. Destyds was hulle maar ongeveer 14 000. Binne ’n paar dae het 7 586 van hulle ’n sportstadion in Porto volgepak. Die volgende dag het nog 39 284 ’n sokkerstadion in Lissabon stampvol gesit. Broer Knorr en broer Franz was saam met hulle daar vir daardie vreugdevolle geleentheid, een wat talle nooit sal vergeet nie.
Internasionale samekomste word georganiseer
Jehovah se Getuies hou al meer as ’n halfeeu lank groot, multistedelike byeenkomste wat gelyktydig in baie lande gehou word. Hulle gevoel van internasionale broederskap word tydens hierdie geleenthede versterk wanneer hulle almal na belangrike toesprake kan luister wat in ’n sleutelstad gehou word.
Maar byeenkomsgangers uit baie wêrelddele het in 1946 eers in een stad vir ’n groot internasionale byeenkoms bymekaargekom. Dit was in Cleveland, Ohio. Hoewel dit in die naoorlogse tydperk nog moeilik was om te reis, het 80 000 daardie byeenkoms bygewoon, waaronder 302 byeenkomsgangers uit 32 lande buite die Verenigde State. Sessies is in 20 tale gehou. Baie praktiese onderrig is gegee met die oog op die uitbreiding van die evangelisasiewerk. Een van die byeenkomshoogtepunte was broer Knorr se toespraak oor die probleme van herbouing en uitbreiding. Die gehoor se applous was geesdriftig toe hulle gehoor het van planne om die druk- en kantoorfasiliteite van die Genootskap se hoofkwartier asook sy radio-uitsaaifasiliteite te vergroot, takkantore in vername lande van die wêreld te stig en die sendingwerk uit te brei. Onmiddellik ná die byeenkoms is daar reëlings getref sodat broer Knorr en broer Henschel op ’n wêreldreis kon vertrek om die planne wat daar bespreek is in werking te stel.
In die daaropvolgende jare is daar waarlik geskiedkundige byeenkomste in New York-stad se Yankee-stadion gehou. By die eerste van hierdie byeenkomste wat van 30 Julie tot 6 Augustus 1950 gehou is, was daar byeenkomsgangers uit 67 lande. Takkantoorknegte, sendelinge en ander afgevaardigdes het kort verslae tydens die program gelewer. Dit het die byeenkomsgangers opwindende kykies gegee op die deeglike evangelisasiewerk wat in al die lande gedoen word waar hulle vandaan gekom het. Die bywoningsyfer het die laaste dag gestyg tot 123 707 vir die toespraak “Kan u vir ewig in geluk op aarde lewe?” Die byeenkomstema was “Teokrasie se Vermeerdering”. Die aandag is gevestig op die geweldige groei wat plaasgevind het. Maar soos die voorsitter, Grant Suiter, nadruklik gesê het, is dit nie gedoen om enige briljante verstande in die sigbare organisasie te verheerlik nie. Inteendeel, het hy gesê: “Die nuwe getalsterkte strek Jehovah tot eer. Dit is hoe dit moet wees, en ons wil glad nie hê dit moet anders wees nie.”
In 1953 is daar nog ’n byeenkoms in die Yankee-stadion in New York gehou. Hierdie keer het ’n hoogtepunt van 165 829 die byeenkoms bygewoon. Soos met die eerste byeenkoms wat daar gehou is, was die program vol besprekings van opwindende Bybelprofesieë, praktiese raad oor hoe om die goeie nuus te verkondig en verslae uit baie lande. Hoewel sessies om ongeveer 9:30 vm. begin het, het hulle gewoonlik nie voor 9:00 of 9:30 nm. afgesluit nie. Die byeenkoms het agt dae van vreugdevolle geestelike voeding voorsien.
Vir hulle grootste byeenkoms wat in 1958 in New York gehou is, moes nie net die Yankee-stadion gebruik word nie, maar ook die nabygeleë Polo-terrein asook gedeeltes buite die stadion sodat die byeenkomsskare sitplek kon hê. Die laaste dag, toe elke sitplek vol was, is spesiale toestemming verkry om selfs die speelveld van die Yankee-stadion te gebruik, en hoe wonderlik was dit tog om te sien hoe duisende instroom, hulle skoene uittrek en op die gras gaan sit! Volgens die telling het 253 922 opgedaag om na die openbare toespraak te luister. Nog ’n bewys van Jehovah se seën op sy knegte se bediening is gesien toe 7 136 by hierdie byeenkoms hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer het—dit is heelwat meer as dubbel soveel as wat volgens die Bybel tydens die geskiedkundige geleentheid met Pinkster 33 G.J. gedoop is!—Hand. 2:41.
Die algehele werking van hierdie byeenkomste het bewys gelewer van iets baie groters as net doeltreffende organisering. Dit was ’n blyk van God se gees wat onder sy volk aan die werk was. Broederliefde met liefde vir God as grondslag was oral duidelik te sien. Daar was geen hoog besoldigde organiseerders nie. Elke afdeling is deur onbetaalde vrywilligers beman. Christenbroers en -susters, dikwels gesinne, het na die verversingstalletjies omgesien. Hulle het ook warm maaltye voorberei, en hulle het tot duisend byeenkomsgangers per minuut in reusetente buite die stadion bedien. Tienduisende—almal bly dat hulle met die werk kon help—het as saalwagters gedien en na die nodige konstruksiewerk, die kook en bediening van maaltye, die skoonmaakwerk en baie meer omgesien.
Ander vrywilligers het honderdduisende ure daaraan bestee om die byeenkomsgangers van huisvesting te voorsien. Sommige jare is woonwa- en tentstede georganiseer om in die behoeftes van ten minste sommige van die byeenkomsgangers te voorsien. In 1953 het die Getuies 16 hektaar graan gratis geoes vir ’n boer in New Jersey wat sy land aan hulle verhuur het vir hulle woonwastad. Sanitêre geriewe, beligting, storte, waskamers, kafeteriageriewe en kruidenierswinkels is voorsien vir ’n bevolking van meer as 45 000. Toe hulle begin aankom het, het daar oornag ’n stad ontstaan. Duisende ander is in hotelle en privaat wonings in en om New York gehuisves. Dit was ’n reusetaak. Met Jehovah se seën is dit suksesvol gedoen.
Vooruitgang met byeenkomste
Die lede van hierdie internasionale broederskap toon groot belangstelling in mede-Getuies in ander lande. Gevolglik het hulle geleenthede aangegryp om byeenkomste buite hulle tuislande by te woon.
Toe die eerste in die reeks van Rein Aanbidding-byeenkomste in 1951 in die Wembley-stadion in Londen, Engeland, gehou is, het Getuies uit 40 lande dit bygewoon. Die program het die praktiese sy van ware aanbidding beklemtoon, asook dat ’n mens die bediening jou loopbaan moet maak. Baie Getuies het van Engeland af na die Europese Vasteland gereis waar daar gedurende die volgende twee maande nog nege byeenkomste gehou sou word. Die grootste hiervan was in Frankfurt am Main, Duitsland, waar 47 432 uit 24 lande teenwoordig was. Die broers se hartlikheid is aan die einde van die program getoon toe ’n orkes begin speel en die Duitse broers spontaan ’n afskeidslied begin sing het waarin hulle hulle mede-Getuies wat uit die buiteland gekom het om by hulle te wees aan God se sorg toevertrou het. Hulle het met hulle sakdoeke gewaai en honderde het oor die veld gestroom om persoonlik hulle waardering vir hierdie wonderlike teokratiese fees uit te spreek.
In 1955 het nog Getuies gereël om hulle Christenbroers in die buiteland gedurende die byeenkomstyd te besoek. Byeenkomsgangers uit die Verenigde State en Kanada het twee skepe (elk met 700 passasiers) en 42 vliegtuie gehuur om na Europa toe te gaan. Die Europese uitgawe van die koerant The Stars and Stripes, wat in Duitsland gepubliseer word, het die instroming van Getuies beskryf as “waarskynlik die grootste massa-beweging van Amerikaners deur Europa sedert die Geallieerdes se inval gedurende die Tweede Wêreldoorlog”. Ander byeenkomsgangers het van Sentraal- en Suid-Amerika, Asië, Afrika en Australië af gekom. Ondanks pogings van die geestelikes van die Christendom om die Getuies te keer om hulle byeenkomste in Rome en Neurenberg te hou, is hierdie twee byeenkomste, asook ses ander, gedurende die somer in Europa gehou. Bywoningsyfers het gewissel van 4 351 in Rome tot 107 423 in Neurenberg. Nog ’n groep van 17 729 het by die Waldbühne bymekaargekom in wat destyds as Wes-Berlyn bekend gestaan het, omdat dit vir die broers uit die destydse Oostelike sone nie so gevaarlik sou wees om daarheen te gaan nie. Baie van hierdie broers was vroeër in die gevangenis vir hulle geloof of het familie gehad wat toe in die gevangenis was, maar hulle was steeds standvastig in die geloof. Hoe gepas was die byeenkomstema—“Triomfantelike Koninkryk”—tog!
Hoewel daar reeds baie internasionale byeenkomste was, was dit wat in 1963 gebeur het die eerste van sy soort. Dit was ’n byeenkoms wat om die wêreld gereis het. Dit het in Milwaukee, Wisconsin, in die Verenigde State, begin en toe na New York toe beweeg; daarna na vier groot stede in Europa; deur die Midde-Ooste; na Indië, Birma (nou Myanma), Thailand, Hongkong, Singapoer, die Filippyne, Indonesië, Australië, Taiwan, Japan, Nieu-Seeland, Fidji, die Republiek van Korea en Hawaii en toe terug na die Noord-Amerikaanse vasteland. Byeenkomsgangers uit altesaam 161 lande het die byeenkomste bygewoon. Die totale bywoningsyfer was meer as 580 000. Daar was 583 mense uit 20 lande wat saam gereis het en die byeenkoms in die een land na die ander oor die hele wêreld bygewoon het. Spesiale toere het hulle in staat gestel om plekke van godsdienstige belang te sien, en hulle het ook saam met plaaslike broers en susters aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem. Hierdie reisigers het hulle eie koste gedek.
Daar was baie Latyns-Amerikaanse byeenkomsgangers by die meeste internasionale byeenkomste. Maar in 1966-67 was dit hulle beurt om die gasheer vir die byeenkomste te wees. Diegene wat dit bygewoon het, sal nooit die drama vergeet wat die Bybelverslag oor Jeremia uitgebeeld het en wat almal gehelp het om te sien wat dit vir ons dag beteken nie.a Bande van Christelike liefde is versterk toe besoekers eerstehands kon sien onder watter omstandighede ’n ontsaglike kampanje van Bybelonderrigting in Latyns-Amerika gedoen word. Hulle is diep getref deur die sterk geloof van medegelowiges, van wie baie skynbaar onoorkomelike struikelblokke—gesinsteenstand, vloede, verlies van besittings—oorkom het om die byeenkoms by te woon. Hulle is grootliks aangemoedig deur ondervindinge soos die een van ’n tingerige Uruguaanse suster in die spesiale pionierdiens met wie ’n onderhoud gevoer is en wat baie van die 80 mense wat sy toe reeds gehelp het om hulle vir doop te bekwaam saam met haar op die verhoog gehad het! (Teen 1992 het sy reeds 105 mense gehelp om hulle te laat doop. Sy was steeds tingerig en steeds ’n spesiale pionier!) Hoe hartverblydend was dit ook tog om sendelinge van die heel eerste Gileadklasse te ontmoet wat steeds in hulle toewysings gedien het! Daardie byeenkomste het as ’n groot aansporing gedien vir die werk wat in daardie deel van die wêreld gedoen word. In baie van daardie lande is daar nou 10, 15 of selfs 20 keer soveel lowers van Jehovah as wat daar destyds was.
’n Paar jaar later, in 1970-71, was dit vir Getuies uit die buiteland moontlik om met hulle broers te assosieer by internasionale byeenkomste wat in Afrika gehou is. Die grootste van hierdie byeenkomste is in Lagos, Nigerië, gehou waar ál die fasiliteite gebou moes word. Om byeenkomsgangers teen die warm son te beskerm, is ’n bamboesstad—sitplek, slaapsale, kafeteriageriewe en ander afdelings—gebou. Daarvoor was 100 000 bamboespale en 36 000 groot, gevlegte rietmatte nodig—wat alles deur die broers en susters gereed gekry is. Die program is gelyktydig in 17 tale gehou. Altesaam 121 128 het die byeenkoms bygewoon en 3 775 nuwe Getuies is gedoop. Talle stamgroepe is verteenwoordig, en baie van dié wat daar was, was mense wat vroeër teen mekaar oorlog gevoer het. Maar wat ’n vreugde was dit om hulle nou in die bande van ’n ware Christenbroederskap verenig te sien!
Ná die byeenkoms het van die buitelandse byeenkomsgangers per bus na Iboland gegaan om na die gebied te kyk wat die ergste deur die onlangse burgeroorlog getref is. Dit het groot opspraak verwek toe die besoekers in die een dorp na die ander deur die plaaslike Getuies gegroet en omhels is. Mense het in die strate ingestorm om dit te sien. Hulle het nog nooit so ’n blyk van liefde en eenheid onder swart en wit gesien nie.
Die aantal Getuies van Jehovah in sommige lande maak dit onmoontlik dat almal op een plek kan vergader. Soms is etlike groot byeenkomste al gelyktydig gehou, met ander byeenkomste wat in die weke daarna gevolg het. In 1969 was die eenheid wat tydens byeenkomste ervaar is opvallender omdat sommige van die hoofsprekers heen en weer tussen die byeenkomste gevlieg en sodoende al die byeenkomste bedien het. In 1983 en 1988 is ’n soortgelyke eenheid ervaar toe ’n aantal groot byeenkomste in dieselfde taal selfs internasionaal telefonies verbind is om na die sleuteltoesprake wat deur lede van die Bestuursliggaam gehou is te luister. Maar die ware grondslag van die eenheid onder Jehovah se Getuies is die feit dat hulle almal Jehovah as die enigste ware God aanbid, dat hulle almal by die Bybel as hulle gids bly, dat hulle almal by dieselfde geestelike voedingsprogram baat vind, dat hulle almal Jesus Christus as hulle Leier beskou, dat hulle almal daarna streef om die vrugte van God se gees in hulle lewe te openbaar, dat hulle almal hulle vertroue in God se Koninkryk stel en dat hulle almal die goeie nuus van daardie Koninkryk aan ander verkondig.
Georganiseer om Jehovah internasionaal te loof
Jehovah se Getuies het so toegeneem dat hulle nou meer is as die bevolking van tientalle individuele nasies. Sodat hulle byeenkomste die beste resultate sal hê, is baie sorgvuldige beplanning nodig. Maar eenvoudige, gepubliseerde versoeke oor watter byeenkomste Getuies uit verskillende gebiede moet bywoon, is gewoonlik al wat nodig is om te verseker dat daar genoeg spasie vir almal sal wees. Wanneer internasionale byeenkomste beplan word, moet die Bestuursliggaam nou dikwels nie net dink aan hoeveel Getuies uit ander lande dit sal wil bywoon en dit wel sal kan doen nie, maar ook aan die grootte van die beskikbare byeenkomsfasiliteite, die aantal plaaslike Getuies wat dit sal bywoon en hoeveel huisvesting daar vir die byeenkomsgangers beskikbaar is; dan kan ’n maksimumsyfer aan elke land toegewys word. Dit was die geval met die drie “Godvrugtige Toegewydheid”-byeenkomste wat in 1989 in Pole gehou is.
Vir daardie byeenkomste is daar sowat 90 000 Getuies van Jehovah uit Pole asook duisende belangstellendes verwag. Baie is ook uit Brittanje, Kanada en die Verenigde State genooi. Groot groepe byeenkomsgangers is ook uit Italië, Frankryk en Japan verwelkom. Ander het uit Skandinawië en Griekeland gekom. Ten minste 37 lande is verteenwoordig. Vir sekere programdele moes Poolse of Engelse toesprake in tot 16 ander tale vertaal word. Altesaam 166 518 het die byeenkomste bygewoon.
Groot groepe Getuies by hierdie byeenkomste het uit die voormalige Sowjetunie en uit Tsjeggo-Slowakye gekom; aansienlike groepe uit ander Oos-Europese lande was ook teenwoordig. Nie almal kon in hotelle en skoolkoshuise gehuisves word nie. Die Poolse Getuies het hulle harte en hulle huise in gasvryheid oopgemaak en wat hulle gehad het vreugdevol gedeel. Een gemeente van 146 het slaapplek aan meer as 1 200 byeenkomsgangers verskaf. Dit was vir sommige wat hierdie byeenkomste bygewoon het die eerste keer dat hulle ooit by ’n groot samekoms van meer as 15 of 20 van Jehovah se volk was. Hulle harte het oorgeloop van waardering wanneer hulle na die tienduisende mense in die stadions gekyk het, wanneer hulle in gebed verenig was en wanneer hulle saam met hulle lofliedere tot Jehovah gesing het. Wanneer hulle tussen sessies tussen mekaar rondbeweeg het, was daar hartlike omhelsings al het taalverskille dikwels verhinder dat hulle dit wat in hulle hart was in woorde kon uitdruk.
Hulle harte was aan die einde van die byeenkoms vol waardering teenoor Jehovah, wat dit alles moontlik gemaak het. In Warskou het die gehoor ná die voorsitter se afskeidskommentare in applous losgebars wat ten minste tien minute geduur het. Ná die slotlied en -gebed is die applous hervat en die gehoor het lank op die paviljoen getalm. Hulle het baie jare vir hierdie geleentheid gewag en hulle wou nie hê dit moes eindig nie.
Die volgende jaar, 1990, minder as vyf maande nadat ’n verbod van 40 jaar op Jehovah se Getuies in die voormalige Oos-Duitsland opgehef is, is nog ’n opwindende internasionale byeenkoms gehou, hierdie keer in Berlyn. Onder die 44 532 byeenkomsgangers was daar mense uit 65 lande. Uit sommige lande het daar net ’n paar gekom; uit Pole sowat 4 500. Woorde kon nie die diep gevoelens uitdruk van diegene wat nooit tevore die vryheid gehad het om so ’n byeenkoms by te woon nie, en toe die hele gehoor saam lofliedere tot Jehovah gesing het, kon hulle nie hulle trane van vreugde bedwing nie.
Later daardie jaar, toe ’n soortgelyke byeenkoms in Sao Paulo, Brasilië, gehou is, was twee groot stadions nodig om sitplek te verskaf aan die internasionale gehoor van 134 406. Dit is gevolg deur ’n byeenkoms in Argentinië, waar hulle weer twee stadions gelyktydig gebruik het om sitplek aan die internasionale gehoor te verskaf. Aan die begin van 1991 is daar met nog opwindende internasionale byeenkomste in die Filippyne, Taiwan en Thailand begin. Groot gehore uit baie nasies was ook daardie jaar by die byeenkomste in Oos-Europa—in Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en wat nou Kroasië is. En in 1992 het afgevaardigdes uit 28 lande dit as ’n spesiale voorreg beskou om onder die 46 214 in St. Petersburg vir hierdie internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Rusland te wees.
Geleenthede vir gereelde geestelike verkwikking
Nie al die byeenkomste wat deur Jehovah se Getuies gehou word, is internasionale samekomste nie. Maar die Bestuursliggaam reël een keer per jaar ’n groot byeenkoms, en dieselfde program word wêreldwyd in baie tale geniet. Hierdie byeenkomste is soms baie groot en bied die geleentheid om met Getuies uit baie plekke te assosieer, of hulle is soms kleiner en word in baie stede gehou, wat dit vir nuwelinge makliker maak om dit by te woon en die publiek in honderde kleiner stede in staat stel om ’n groot verskeidenheid van Jehovah se Getuies van nader te beskou.
Daarbenewens kom elke kring (wat uit om en by 20 gemeentes bestaan) een keer per jaar bymekaar vir ’n tweedaagse program van geestelike raad en aanmoediging.b Sedert September 1987 word daar ook ’n spesiale byeenkomsdag gehou—’n opbouende eendaagse program wat een keer per jaar vir elke kring gereël word. Waar moontlik word een van die Genootskap se hoofkwartierpersoneellede of iemand van die plaaslike takkantoor gestuur om aan die program deel te neem. Jehovah se Getuies waardeer hierdie programme baie. In baie gebiede is die byeenkomsterrein nie afgeleë en moeilik om te bereik nie. Maar dit is nie altyd so nie. ’n Kringopsiener vertel van ’n bejaarde egpaar wat 76 kilometer ver met tasse en komberse gestap het om ’n kringbyeenkoms in Zimbabwe by te woon.
Daar word nie meer as ’n reël tydens al hierdie byeenkomste velddiens gedoen nie, maar dit is nie omdat dit vir die Getuies van enigsins minder belang is nie. Die mense wat naby die byeenkomsterreine woon, word nou in die meeste gevalle gereeld deur die plaaslike Getuies besoek—in sommige gevalle elke paar weke. Die byeenkomsgangers soek na geleenthede om informeel te getuig, en hulle Christelike gedrag lewer op nog ’n manier ’n kragtige getuienis.
Bewys van ware broederskap
Waarnemers kan die broederskap wat onder die Getuies bestaan duidelik sien. Hulle kan sien dat daar geen partydigheid onder hulle is nie en dat daar selfs onder dié wat mekaar die eerste keer ontmoet ’n ware hartlikheid bestaan. Die New Yorkse Amsterdam News (2 Augustus) het ten tye van die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms in 1958 in New York berig: “Negers, blankes en Oosterlinge van alle stande en alle dele van die wêreld het oral vreugdevol en vryelik gemeng. . . . Die aanbiddende Getuies uit 120 lande het vreedsaam omgegaan en aanbid en vir Amerikaners getoon hoe maklik dit gedoen kan word. . . . Die Byeenkoms is ’n ligtende voorbeeld van hoe mense saam kan werk en leef.”
Meer onlangs, toe Jehovah se Getuies in 1985 gelyktydig byeenkomste in Durban en Johannesburg gehou het, het die byeenkomsgangers al die vernaamste ras- en taalgroepe in Suid-Afrika asook verteenwoordigers uit 23 ander lande ingesluit. Die hartlike broederskap onder die 77 830 wat daar teenwoordig was, kon duidelik gesien word. “Dit is pragtig”, het ’n jong Indiërvrou gesê. “Om kleurlinge, Indiërs, wittes en swartes almal met mekaar te sien meng, het my hele lewensbeskouing verander.”
Hierdie gevoel van broederskap gaan verder as ’n glimlag, ’n handdruk en om mekaar “broer” en “suster” te noem. Toe daar byvoorbeeld wêreldwyd reëlings getref is vir die “Ewige Goeie Nuus”-byeenkoms in 1963 is Jehovah se Getuies in kennis gestel dat, as hulle ander geldelik wou help om ’n byeenkoms by te woon, die Genootskap sou verseker dat broers in alle wêrelddele by die fondse sou baat vind. Hulle het geen bedelbriewe uitgestuur en geen geld geneem om die administratiewe koste te dek nie. Al die geld is gebruik vir die doel waarvoor dit gegee is. Sodoende is 8 179 gehelp om die byeenkoms by te woon. Byeenkomsgangers uit elke land in Sentraal- en Suid-Amerika asook duisende in Afrika en baie in die Midde- en Verre-Ooste is gehelp. Baie van dié wat gehelp is, was broers en susters wat baie jare lank in die voltydse bediening was.
Teen die einde van 1978 is ’n byeenkoms in Auckland, Nieu-Seeland, gereël. Getuies van die Cook-eilande het daarvan geweet en wou dit baie graag bywoon. Maar die eilande se ekonomie was van so ’n aard dat dit elkeen ’n fortuin sou kos om na die byeenkoms te reis. Maar liefdevolle geestelike broers en susters in Nieu-Seeland het bygedra om vir die heen-en-terugreis van sowat 60 van die eilandbewoners te betaal. Hoe bly was hulle tog dat hulle daar kon wees om die geestelike fees saam met hulle Maori-, Samoaanse, Niuaanse en blanke broers te deel!
Kenmerkend van die gees onder Jehovah se Getuies is dit wat in 1988 na afloop van die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms in Montreal, Kanada, gebeur het. Arabiese, Engelse, Franse, Griekse, Italiaanse, Portugese en Spaanse byeenkomsgangers het vier dae lank almal dieselfde byeenkomsprogram geniet, maar in hulle eie taal. Maar aan die einde van die laaste sessie het al 45 000 van hulle hulle broederskap en eenheid van doel op roerende wyse op die Olimpiese stadion getoon. Hulle het saam, elke groep in sy eie taal, gesing: “Kom sing die lied . . . ‘Jehovah heers; laat mense juig.’”
[Voetnote]
a Nog 70 sulke dramas is gedurende die volgende 25 jaar by byeenkomste opgevoer.
b Van 1947 tot 1987 is hulle twee keer per jaar gehou. Tot in 1972 was hulle driedaagse byeenkomste; daarna is daar met ’n tweedaagse program begin.
[Prent op bladsy 255]
“Ek was diep beïndruk deur die gees van liefde en broederlike goedhartigheid”
[Lokteks op bladsy 256]
Die byeenkomstreine gaan vertrek!
[Lokteks op bladsy 275]
Nie hoog besoldigde organiseerders nie, maar onbetaalde vrywilligers
[Lokteks op bladsy 278]
Eenheid onder swart en wit
[Venster/Prent op bladsy 261]
Sewe belangrike byeenkomsresolusies
In 1922 het die resolusie “’n Uitdaging aan wêreldleiers” hulle uitgedaag om te bewys dat mense die wysheid het om hierdie aarde te regeer of om te erken dat vrede, die lewe en eindelose geluk net van Jehovah af deur Jesus Christus kan kom.
In 1923 het “’n Waarskuwing aan alle Christene” gewaarsku hoe noodsaaklik dit is om te vlug uit organisasies wat wederregtelik beweer dat hulle God en Christus verteenwoordig.
In 1924 het “Aanklag teen die geestelikes” die onskriftuurlike leerstellings en gebruike van die Christendom se geestelikes blootgelê.
In 1925 het “Boodskap van hoop” getoon waarom diegene wat voorgee dat hulle bronne van lig vir die wêreld is nie daarin kan slaag om in die mens se grootste behoeftes te voorsien nie en hoe net God se Koninkryk dit kan doen.
In 1926 het “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld” hulle in kennis gestel dat Jehovah die enigste ware God is en dat Jesus Christus nou as die aarde se regmatige Koning regeer. Dit het die heersers aangespoor om hulle invloed te gebruik om die mense se gedagtes op die ware God te rig sodat ’n ramp hulle nie tref nie.
In 1927 het “Resolusie aan die volke van die Christendom” die finansiële, politieke en godsdienstige sameswering wat die mensdom verdruk aan die kaak gestel. Dit het die mense aangespoor om die Christendom te verlaat en hulle vertroue in Jehovah en sy Koninkryk in die hande van Christus te stel.
In 1928 het “Verklaring teen Satan en vir Jehovah” dit duidelik gestel dat Jehovah se aangestelde Koning, Jesus Christus, Satan binnekort aan bande gaan lê en sy bose organisasie gaan vernietig, en dit het almal wat geregtigheid liefhet, aangespoor om hulle standpunt vir Jehovah in te neem.
[Prente op bladsy 272, 273]
Kenmerke van sommige van die groot byeenkomste
Honderde geesdriftige byeenkomsgangers het per skip, duisende het per vliegtuig en tienduisende het per motor en per bus gekom
Goeie organisering en talle gewillige werkers was nodig om genoeg huisvesting te vind en te reël
Gedurende hierdie agtdaagse byeenkomste is warm maaltye—tienduisende daarvan— gereeld aan die byeenkomsgangers bedien
In 1953 het ’n woonwa- en tentestad meer as 45 000 byeenkomsgangers gehuisves
In 1958 in New York is 7 136 gedoop—meer as by enige ander geleentheid sedert Pinkster 33 G.J.
In 1953 in New York is verwelkomingsborde van baie lande vertoon, en sessies is in 21 tale gehou
[Prent op bladsy 256]
Byeenkomsgangers by die IBSA- byeenkoms in Winnipeg, Man., Kanada, in 1917
[Prente op bladsy 258]
J. F. Rutherford praat in Cedar Point, Ohio, in 1919. Hy het almal aangespoor om God se Koninkryk ywerig deur middel van “The Golden Age” te verkondig
[Prent op bladsy 259]
Byeenkoms in Cedar Point in 1922. Die uitnodiging is gerig: “Adverteer die Koning en Koninkryk”
[Prent op bladsy 260]
George Gangas was in 1922 in Cedar Point. Sedertdien verkondig hy God se Koninkryk al 70 jaar lank
[Prent op bladsy 262, 263]
Byeenkomsgangers by die byeenkoms in 1931 in Columbus, Ohio, wat die naam Jehovah se Getuies geesdriftig aangeneem het
[Prent op bladsy 264]
N. H. Knorr reik die “New World Translation of the Christian Greek Scriptures” in 1950 uit
[Prent op bladsy 264]
Toesprake deur F. W. Franz oor die vervulling van Bybelprofesieë was ’n byeenkomshoogtepunt (New York, 1958)
[Prente op bladsy 265]
Velddiens was baie jare lank ’n belangrike deel van elke byeenkoms.
Los Angeles, VSA, 1939 (onder); Stockholm, Swede, 1963 (inlas)
[Prente op bladsy 266]
Toe J. F. Rutherford in 1935 in Washington, DC, gepraat het, is die boodskap deur middel van radio- en telefoonverbindings na ses kontinente uitgedra
[Prent op bladsy 268]
In 1946 het Erich Frost die besielende toespraak “Christene in die smeltkroes” in Neurenberg, Duitsland, gehou
[Prent op bladsy 269]
Opelugbyeenkoms in Kitwe, Noord-Rhodesië, tydens N. H. Knorr se besoek in 1952
[Prente op bladsy 270, 271]
In 1958 het ’n gehoor van 253 922, wat twee groot stadions in New York stampvol gesit het, geluister na die boodskap “God se Koninkryk heers—Is die wêreld se einde naby?”
Polo-terrein
Yankee-stadion
[Prent op bladsy 274]
Grant Suiter, byeenkomsvoorsitter by die Yankee- stadion in 1950
[Prent op bladsy 274]
John Groh (wat sit) bespreek byeenkomsorganisering met George Couch in 1958
[Prente op bladsy 277]
In 1963 is ’n byeenkoms gehou wat om die wêreld gereis het, en byeenkomsgangers uit sowat 20 lande het saam die wêreld deurreis
Kioto, Japan (links onder), was een van 27 byeenkomsstede. Byeenkomsgangers in die Republiek van Korea het nader kennis gemaak (middel). ’n Maori-groet in Nieu-Seeland (regs onder)
[Prent op bladsy 279]
’n Byeenkoms wat 17 taalgroepe gelyktydig bedien het in ’n bamboesstad wat vir die geleentheid gebou is (Lagos, Nigerië, 1970)
[Prente op bladsy 280]
Drie groot byeenkomste is in 1989 in Pole gehou, met byeenkomsgangers uit 37 lande
T. Jaracz (regs) het die byeenkomsgangers in Poznan toegespreek
Duisende is in Chorzow gedoop
Die gehoor in Warskou se applous het baie lank geduur
Byeenkomsgangers uit wat destyds die USSR was (onder)
Dele van die program in Chorzow is in 15 tale vertaal