Wees ywerig vir wat goed is!
1 Noudat ons die 2003-Gedenkmaalseisoen ingaan, het ons baie redes om ‘ywerig te wees vir wat goed is’ (1 Pet. 3:13). Een van die vernaamste redes is die losprysoffer van Jesus Christus (Matt. 20:28; Joh. 3:16). Die apostel Petrus het hieroor geskryf: “Julle [is] nie met verderflike dinge, met silwer of goud, verlos . . . van julle vrugtelose gedragswyse . . . nie. Maar dit was met kosbare bloed, soos dié van ’n smetlose en vlekkelose lam, ja, Christus s’n” (1 Pet. 1:18, 19). Dankbaarheid vir hierdie buitengewone blyk van liefde beweeg ons om besig te bly met goeie werke, in die wete dat Jesus “homself vir ons gegee het om ons van elke soort wetteloosheid te verlos en vir homself ’n volk te reinig wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke”.—Tit. 2:14; 2 Kor. 5:14, 15.
2 Wanneer ons doen wat God behaag, geniet ons ’n goeie verhouding met hom en ondervind ons sy liefdevolle sorg. Petrus het verder gesê: “Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, . . . laat hy afwyk van wat sleg is en doen wat goed is; laat hom vrede soek en dit nastreef. Want die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking” (1 Pet. 3:10-12). Wat ’n seën is dit tog om in hierdie gevaarlike tye te weet dat Jehovah oor ons waak en dat hy gereed is om ten behoewe van ons op te tree “om [ons] te bewaar soos die appel van sy oog”.—Deut. 32:10; 2 Kron. 16:9.
3 Ondanks beproewinge was die vroeë Christene aan wie Petrus geskryf het, met onblusbare ywer besiel, en hulle het die goeie nuus oral verkondig (1 Pet. 1:6; 4:12). Dit is vandag ook waar van God se knegte. Hoewel ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, beweeg waardering vir Jehovah se goedheid ons om God se wil ywerig te doen (2 Tim. 3:1; Ps. 145:7). Kom ons kyk na van die goeie werke waarmee ons gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen besig sal wees.
4 Nooi ander na die Gedenkmaal: Een manier waarop ons ons waardering vir die uitsonderlike gawe van die losprys kan toon, is deur die jaarlikse herdenking van Jesus se dood by te woon, wat vanjaar op Woensdag, 16 April, ná sononder gehou sal word (Luk. 22:19, 20). Verlede jaar het die 94 600 gemeentes wat regoor die wêreld gerapporteer het, ’n uitstekende bywoningsyfer van altesaam 15 597 746 gehad! Dit was oor die 220 000 meer as die vorige jaar.
5 Hoeveel sal dit vanjaar bywoon? Dit sal baie afhang van ons ywerige pogings om ander aan te moedig om dit saam met ons by te woon. Begin deur ’n lys te maak van almal wat jy graag wil nooi. Boaan die lys moet jou gesinslede wees. As jy ’n ongelowige maat het, moet jy vir jou maat sê hoe graag jy wil hê dat hy of sy dit saam met jou moet bywoon. Een ongelowige man het gesê dat hy verlede jaar die Gedenkmaal bygewoon het omdat hy kon sien hoeveel sy teenwoordigheid vir sy vrou beteken het. Volgende op jou lys kan familielede, bure, werksmaats of skoolmaats wees. Maak seker dat jy jou Bybelstudente nooi.
6 Nadat jy ’n lys gemaak het, moet jy tyd opsy sit om elkeen persoonlik te nooi. Gebruik die gedrukte Gedenkmaaluitnodigings. Om mense te help onthou wanneer en waar die viering gehou gaan word, kan jy die tyd en plek van die Gedenkmaal onderaan die uitnodiging tik of netjies skryf. Namate 16 April nader kom, moet jy diegene op jou lys persoonlik of per telefoon daaraan herinner. Laat ons soveel moontlik help om hierdie baie spesiale geleentheid by te woon.
7 Help diegene wat die Gedenkmaal bywoon: Die aand van die Gedenkmaal is altyd ’n opwindende geleentheid. Ons kan mense verwelkom wat nie gewoonlik ons vergaderinge bywoon nie. Tref reëlings om, na gelang van plaaslike omstandighede, vroeg te kom en laat te bly. Neem die inisiatief om nuwelinge wat dit bywoon, beter te leer ken. Wees hartlik en gasvry.—Rom. 12:13.
8 Kan party wat die Gedenkmaal bywoon, gehelp word om deur middel van ’n tuisbybelstudie groter geestelike vooruitgang te maak? Probeer om die naam en adres te kry van nuwelinge wat nie tans deur iemand besoek word nie sodat jy die belangstelling kan opvolg. Met liefdevolle hulp sal party van hulle dalk vooruitgang maak en voor volgende jaar se Gedenkmaal aan die vereistes voldoen om ongedoopte verkondigers te word. Wanneer jy opvolgbesoeke doen by diegene wat die Gedenkmaal bygewoon het, kan jy hulle na die spesiale toespraak op 27 April nooi.
9 Kan jy hierdie jaar hulppionierdiens doen? Elke jaar beweeg ons ywer vir Jehovah ons om ons ten volle in die bediening in te span gedurende die maande van spesiale teokratiese bedrywigheid. Tydens Maart en April 2002 het altesaam 14 186 hulppionierdiens gedoen in Suid-Afrika en die lande onder ons tak. Hierdie getal is nie net ’n hoogtepunt nie, maar verteenwoordig die verenigde pogings van hele gemeentes wat die goeie nuus ywerig gedurende die Gedenkmaalseisoen verkondig het.
10 Een gemeente met 107 verkondigers en 9 gewone pioniers het gesê dat hulle verlede April ’n “uitstekende maand” gehad het, met 53 wat as hulppioniers gedien het, wat al die ouer manne en bedieningsknegte ingesluit het. Hoe het die ouer manne geesdrif gewek vir hulppionierdiens daardie maand? Hulle het dit vroeg begin doen en soveel moontlik aangemoedig om deel te neem. Velddiensvergaderinge is op verskillende tye gedurende die dag gehou sodat almal in die gemeente aan die bediening kon deelneem. Telefoongetuieniswerk is beklemtoon, veral vir dié met gesondheidsprobleme.
11 ’n Suster wat 86 jaar oud is en weens gesondheidsprobleme nie kan loop nie, het besluit om hulppionierdiens te doen. Sy het in die oggend begin en ’n paar uur telefoongetuieniswerk gedoen terwyl sy by die kombuistafel gesit het; daarna het sy ’n paar uur gerus en dan teruggekom om verder te getuig. Sy het met ’n vrou gepraat wat haar man en twee tienerseuns in die afgelope twee jaar aan die dood afgestaan het en nie kon verstaan waarom God toelaat dat sulke verskriklike dinge gebeur nie. ’n Goeie getuienis is gegee, en ’n Bybelstudie is begin. Telefoongetuieniswerk in die aande en op ander tye is ’n doeltreffende manier om in aanraking te kom met mense wat in geboue of gebiede woon waar ’n mens nie kan inkom nie. Dit stel verkondigers ook in staat om mense te bereik wat bedags nie tuis is nie.
12 Die ouer manne het hulle verslag afgesluit met die woorde: “Ons het so ’n wonderlike tyd gehad en waardeer die voorregte en seëninge wat Jehovah vir elkeen van ons moontlik gemaak het.” Met behoorlike beplanning kan julle gemeente ook sulke seëninge geniet.
13 Streef na ’n 100-persent-deelname aan die bediening: Ons liefde vir God en ons naaste beweeg ons om elke maand tyd uit te koop om die goeie nuus aan ander te verkondig (Matt. 22:37-39). Gemeentelike Boekstudieopsieners en hulle assistente moet diegene in hulle groep probeer help om elke maand aan die bediening deel te neem. ’n Goeie manier om dit te doen, is deur vooraf reëlings te tref om saam met spesifieke persone in die groep in die bediening te werk. Moenie wag tot die einde van die maand om dit te doen nie, begin vroeg. Dit sal jou meer geleenthede gee om liefdevolle hulp te voorsien.
14 Is daar verkondigers met gesondheidsprobleme in julle boekstudiegroep wat dit baie moeilik vind om aan die bediening deel te neem? As party in versorgingsentrums is of aan hulle huis gekluister is, is dit verstaanbaar dat hulle nie baie geleenthede het om te getuig nie. Maar deur gebruik te maak van hulle beperkte geleenthede om hulle lig te laat skyn, kan hulle diegene wat hulle goeie werke sien, beweeg om opregte belangstelling in die waarheid te toon (Matt. 5:16). Boekstudieopsieners moet seker maak dat hierdie verkondigers weet dat hulle hulle velddiens in eenhede van 15 minute kan rapporteer. Die feit dat hulle hierdie velddienstyd kan rapporteer, moedig hierdie getroue verkondigers aan en verskaf hulle groot bevrediging. Dit help ook om te verseker dat die wêreldrapport van die bedrywighede van God se volk akkuraat is.
15 Jongmense wat met goeie werke besig is! Hoe verkwikkend is dit tog om te sien dat Christenjongmense hulle krag en energie in die diens van Jehovah gebruik! (Spr. 20:29). As jy jonk is, hoe kan jy jou ywer vir Jehovah gedurende hierdie spesiale maande van bedrywigheid toon?
16 Kan jy uitreik vir die voorreg om ’n ongedoopte verkondiger in die gemeente te word as jy nog nie een is nie? Vra jou die volgende vrae af: ‘Het ek ’n basiese kennis van Bybelwaarheid? Wil ek aan Koninkryksdiens deelneem? Is my gedrag voorbeeldig? Kan ek uitdrukking gee aan my geloof deur met ander oor die goeie nuus te praat? Word ek uit my hart beweeg om dit te doen?’ As jy ja op hierdie vrae kan antwoord, moet jy met jou ouers praat oor jou begeerte om ’n verkondiger te word. Jou ouers kan een van die ouer manne op die dienskomitee nader.
17 Kan jy, as jy reeds ’n verkondiger van die goeie nuus is, jou skoolvakansie gebruik om ’n groter deelname aan die bediening te hê? ’n Goeie rooster en die hulp van ouers en ander het talle gedoopte jongmense al in staat gestel om hulppionierdiens te doen. As dit nie moontlik is nie, moet jy vasbeslote wees om meer in die veldbediening te doen. Stel vir jou ’n doelwit. Moenie net ’n doelwit stel wat ure betref nie, maar stel ook ’n doelwit om die gehalte van jou bediening te verbeter. Miskien kan jy probeer om ’n teks by elke deur te lees, die gehalte van jou herbesoeke te verbeter, ’n Bybelstudie te begin of jou bediening uit te brei deur telefoongetuieniswerk te doen of aan ’n ander aspek van die bediening deel te neem. Wat van die doelwit om ’n buurman, skoolmaat of familielid sover te kry om die Gedenkmaal hierdie jaar saam met jou by te woon? ’n Volle deelname aan teokratiese bedrywighede sal lonend wees en ander in die gemeente beslis aanmoedig.—1 Tess. 5:11.
18 Help nuwelinge om te vorder: Gedurende die afgelope diensjaar is ’n gemiddelde van byna 90 000 tuisbybelstudies elke maand in Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië, St. Helena en Swaziland gehou. Mettertyd sal baie van hierdie studente tot toewyding en doop vorder. Maar voordat hulle daardie doelwit bereik, moet ons hulle help om as verkondigers van die goeie nuus te kwalifiseer. Dit is ’n belangrike stap wanneer nuwelinge geleer word om volgelinge van Jesus Christus te wees (Matt. 9:9; Luk. 6:40). Het jy ’n Bybelstudent wat gereed is om hierdie stap te neem?
19 As jy onseker is oor jou student se vordering, kan jy jou boekstudieopsiener of die diensopsiener se hulp vra. Miskien kan jy hom nooi om tydens die studie by te sit. Hierdie broers het waardevolle ondervinding en kan help om die student se geestelike vordering te bepaal. Hulle sal jou moontlik wenke kan gee wat die student sal help om geestelik aan te hou vorder.
20 Wanneer jou student die begeerte uitspreek om ’n ongedoopte verkondiger te word en jy voel dat hy aan die vereistes voldoen, moet jy met die presiderende opsiener gesels. Hy sal reël dat twee ouer manne met jou en die student vergader om met behulp van die inligting op bladsye 98-9 van Ons bediening-boek vas te stel of hy aan die vereistes voldoen. (Sien Die Wagtoring, 15 November 1988, bladsy 17.) As die student as ’n verkondiger goedgekeur word, moet jy hom onmiddellik begin oplei. Sodra die student ’n velddiensrapport ingee, sal die gemeente in kennis gestel word dat hy ’n ongedoopte verkondiger is. Ons hoop dat duisende nuwe verkondigers, jonk sowel as oud, dié belangrike mylpaal gedurende hierdie spesiale maande van bedrywigheid kan bereik.
21 Beplanning bring goeie resultate mee: Vooruitbeplanning sal bydra tot die sukses van ons teokratiese bedrywighede gedurende hierdie Gedenkmaalseisoen (Spr. 21:5). Daar is baie sake waaraan die ouer manne aandag moet skenk.
22 Om die gemeente te help om soveel moontlik in die veldbediening te doen, moet die ouer manne praktiese reëlings tref om velddiensvergaderinge regdeur die week en op naweke te hou. Die diensopsiener moet die leiding daarin neem om hierdie reëlings te tref. Kan bykomende vergaderinge vroegoggend, laatmiddag of vroegaand gereël word? Die gemeente moet van die reëlings in kennis gestel word. Dit sal dalk nuttig wees as die rooster op die kennisgewingbord geplaas word.
23 Die ouer manne moet seker maak dat reëlings vir die Gedenkmaal lank voor 16 April getref is. Dit sluit reëlings in om die gebruik van die Koninkryksaal te koördineer met ander gemeentes wat ook daar vergader, die Koninkryksaal skoon te maak, saalwagters en bedieners te kies en die embleme te kry. Die gemeente moet in kennis gestel word van die tyd en plek van die Gedenkmaal en van enige veranderinge in die vergaderingrooster vir die week. As daar ywerig omgesien word na hierdie dinge, sal die viering “welvoeglik en volgens reëling geskied”.—1 Kor. 14:40.
24 Gesinshoofde kan tydens hulle gesinstudie bespreek hoe die gesin gedurende die Gedenkmaalseisoen ’n deelname aan die groter bedrywighede kan hê. Kan die hele gesin hulppionierdiens doen? Of kan een of meer gesinslede ondersteun word om dit te doen? As dit nie moontlik is nie, kan die gesin spesifieke doelwitte stel om meer tyd in die bediening deur te bring. Is daar ’n jonger lid van die gesin wat met ’n bietjie aanmoediging en hulp as ’n ongedoopte verkondiger kan kwalifiseer? Hoeveel mense kan julle gesin hierdie jaar na die Gedenkmaal nooi? Goeie beplanning sal baie seëninge en vreugde vir julle gesin meebring.
25 Maak ten volle gebruik van die oorblywende tyd: Toe die apostel Petrus aan die eerste-eeuse Christene geskryf het, het hy hulle herinner aan die dringendheid van die tye omdat die einde van die Joodse stelsel van dinge naby gekom het (1 Pet. 4:7). Vandag dui al die getuienis daarop dat die einde van die huidige wêreldstelsel van dinge op hande is. Ons lewenswyse moet hierdie oortuiging dag na dag weerspieël. As ywerige knegte van Jehovah moet ons ons toespits op die dringende werk om die goeie nuus te verkondig.—Tit. 2:13, 14.
26 Dit is nou die tyd om ywerig te wees en op te tree! Dink na oor wat Jehovah vir jou, jou gesin en die gemeente gedoen het. Hoewel ons Jehovah nooit kan vergoed vir alles wat hy tot ons voordeel gedoen het nie, kan ons hom heelhartig dien (Ps. 116:12-14). Ons ywerige pogings sal beloon word met seëninge van bo (Spr. 10:22). Mag ons almal “ywerig [wees] vir wat goed is” gedurende hierdie spesiale tyd van groter bedrywigheid “sodat God in alles deur middel van Jesus Christus verheerlik kan word”.—1 Pet. 3:13; 4:11.
[Venster op bladsy 3]
Wêreldwye Gedenkmaalopkoms
1999 14 088 751
2000 14 872 086
2001 15 374 986
2002 15 597 746
[Venster op bladsy 4]
Wie gaan jy na die Gedenkmaal nooi?
□ Gesins- en familielede
□ Bure en kennisse
□ Werks- en skoolmaats
□ Herbesoeke en Bybelstudente
[Venster op bladsy 5]
Help diegene wat die Gedenkmaal bywoon
□ Verwelkom hulle hartlik
□ Doen opvolgbesoeke
□ Bied vir hulle ’n Bybelstudie aan
□ Nooi hulle na die spesiale toespraak
[Venster op bladsy 6]
Wat is jou doelwitte vir die Gedenkmaalseisoen?
□ Kry iemand wat jy genooi het, sover om die Gedenkmaal by te woon
□ Kwalifiseer as ’n verkondiger van die goeie nuus
□ Bestee ’n sekere aantal ure in die bediening
□ Verbeter in ’n sekere aspek van die bediening
□ Dien as ’n hulppionier