‘Hou aan waak’
“Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie.”—MATTEUS 24:42.
1. Hoe voel knegte van Jehovah wat hom al lank dien oor hulle jare lange toegewyde diens? Noem ’n voorbeeld.
BAIE van Jehovah se knegte wat hom al jare lank dien, het die waarheid geleer toe hulle jong mans en vroue was. Soos die koopman wat ’n baie waardevolle pêrel gevind het en al sy besittings verkoop het sodat hy dit kon koop, het hierdie ywerige Bybelstudente hulleself verloën en hulle lewe aan Jehovah toegewy (Matteus 13:45, 46; Markus 8:34). Hoe voel hulle omdat hulle langer moes wag as wat hulle dalk gedink het om te sien hoe God se voornemens met betrekking tot die aarde vervul word? Hulle is glad nie spyt nie! Hulle stem saam met broer A. H. Macmillan wat ná byna 60 jaar van toegewyde diens aan God gesê het: “Ek is meer vasbeslote as ooit om in my geloof te volhard. Dit het die lewe vir my die moeite werd gemaak. Dit help my nog altyd om die toekoms sonder vrees tegemoet te gaan.”
2. (a) Watter tydige raad het Jesus vir sy volgelinge gegee? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?
2 Wat van jou? Of jy nou oud of jonk is, dink goed na oor Jesus se woorde: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matteus 24:42). ’n Baie groot waarheid lê in hierdie eenvoudige stelling. Ons weet nie op watter dag die Here gaan kom om oordeel aan hierdie goddelose stelsel te voltrek nie, en dit is nie nodig dat ons weet nie. Maar wat ons wel moet doen, is om só te lewe dat ons oor niks spyt sal wees wanneer hy wel kom nie. Watter voorbeelde in dié verband vind ons in die Bybel wat ons sal help om aan te hou waak? Hoe het Jesus die belangrikheid hiervan geïllustreer? En watter bewyse het ons vandag wat toon dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose wêreld lewe?
’n Waarskuwende voorbeeld
3. Hoe kom baie mense vandag ooreen met dié in Noag se dag?
3 Mense is vandag in baie opsigte soos die mans en vroue wat in Noag se dag gelewe het. Destyds was die aarde vol geweld, en die versinsels wat die mens in sy hart bedink het, was “altyddeur net sleg” (Genesis 6:5). Die meeste van hulle was behep met die daaglikse lewensbedrywighede. Maar voordat Jehovah die groot Vloed gebring het, het hy mense ’n kans gegee om berou te toon. Hy het Noag die opdrag gegee om te preek, en Noag het dit gehoorsaam—hy het moontlik 40 of 50 jaar of selfs langer as “’n prediker van regverdigheid” gedien (2 Petrus 2:5). Die mense het egter geen ag geslaan op Noag se waarskuwende boodskap nie. Hulle het nie gewaak nie. Op die ou end het net Noag en sy gesin dus die voltrekking van Jehovah se oordeel oorleef.—Matteus 24:37-39.
4. In watter sin kan ons sê dat Noag se bediening suksesvol was, en hoe kan dieselfde van jou predikingswerk gesê word?
4 Was Noag se bediening suksesvol? Dit moet nie gemeet word aan die min mense wat gunstig daarop gereageer het nie. Noag se predikingswerk het inderdaad aan die doel daarvan beantwoord, ongeag wat die reaksie daarop was. Hoe so? Omdat dit mense genoeg geleentheid gegee het om te kies of hulle Jehovah wil dien of nie. Wat van jou velddiensgebied? Al is daar min mense wat positief reageer, behaal jy steeds groot sukses. Hoe so? Want deur jou predikingswerk laat jy God se waarskuwing hoor, en sodoende voer jy die opdrag uit wat Jesus aan sy volgelinge gegee het.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
Hulle ignoreer God se profete
5. (a) Watter toestande was in Habakuk se dag algemeen in Juda, en hoe het die volk op sy profetiese boodskap gereageer? (b) Hoe het die mense van Juda vyandigheid teenoor Jehovah se profete geopenbaar?
5 Eeue ná die Vloed het die situasie in die koninkryk van Juda baie kommerwekkend geword. Afgodediens, ongeregtigheid, onderdrukking en selfs moord was aan die orde van die dag. Jehovah het Habakuk verwek om die volk te waarsku dat die Chaldeërs, of Babiloniërs, onheil oor hulle sou bring as hulle nie berou toon nie (Habakuk 1:5-7). Maar die volk het geweier om te luister. Hulle het moontlik geredeneer: ‘Ag, meer as honderd jaar gelede het die profeet Jesaja ’n soortgelyke waarskuwing verkondig, maar daar het nog niks gebeur nie!’ (Jesaja 39:6, 7). Baie van die amptenare van Juda het nie net onverskillig gestaan teenoor die boodskap nie, maar hulle was ook die boodskappers vyandiggesind. By een geleentheid het hulle die profeet Jeremia probeer doodmaak, en hulle sou daarin geslaag het as Ahikam hom nie gehelp het nie. ’n Ander profetiese boodskap het koning Jojakim só kwaad gemaak dat hy die profeet Uria laat doodmaak het.—Jeremia 26:21-24.
6. Hoe het Jehovah Habakuk versterk?
6 Habakuk se boodskap was net so moedig en net so ongewild soos dié van Jeremia, wat deur God geïnspireer is om te voorspel dat Juda 70 jaar lank woes sou lê (Jeremia 25:8-11). Ons kan derhalwe Habakuk se benoudheid verstaan toe hy uitgeroep het: “Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep, sonder dat u hoor? Hoe lank sal ek tot u om hulp roep teen geweld, sonder dat u red?” (Habakuk 1:2, NW). Jehovah het Habakuk liefdevol geantwoord met hierdie geloofversterkende woorde: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit bly voorthyg na die einde, en dit sal nie ’n leuen vertel nie. Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie” (Habakuk 2:3, NW). Jehovah het dus ’n “vasgestelde tyd” gehad om ’n einde aan ongeregtigheid en onderdrukking te maak. As dit gelyk het asof daar ’n vertraging was, moes Habakuk nie moedeloos word nie en hy moes nie minder bedrywig raak nie. Hy moes eerder ‘in afwagting bly’ en elke dag met ’n gevoel van dringendheid lewe. Jehovah se dag sou nie laat wees nie!
7. Waarom was Jerusalem in die eerste eeu G.J. weer eens vir vernietiging bestem?
7 Omtrent 20 jaar nadat Jehovah met Habakuk gepraat het, is Juda se hoofstad, Jerusalem, vernietig. Dit is later herbou, en baie van die onregte wat Habakuk so ontstel het, is reggestel. In die eerste eeu G.J. was die stad egter weer eens vir vernietiging bestem weens die ontrouheid van sy inwoners. Jehovah het op barmhartige wyse gereël dat regskapenes dit sou oorleef. Dié keer was die profeet wat hy gebruik het om die boodskap bekend te maak niemand minder nie as Jesus Christus. In 33 G.J. het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is dan na die berge begin vlug.”—Lukas 21:20, 21.
8. (a) Wat het mettertyd ná Jesus se dood moontlik met party Christene gebeur? (b) Hoe is Jesus se profetiese woorde omtrent Jerusalem vervul?
8 Met verloop van jare het party Christene in Jerusalem dalk gewonder presies wanneer Jesus se profesie vervul sou word. Veral as ’n mens dink aan die opofferinge wat party van hulle ongetwyfeld gemaak het. Hulle het moontlik belowende sakegeleenthede laat verbygaan omdat hulle vasbeslote was om aan te hou waak. Het hulle met verloop van tyd moeg geword? Het hulle begin dink dat hulle hulle tyd mors en geredeneer dat Jesus se woorde op ’n toekomstige geslag van toepassing is, nie op hulle s’n nie? In 66 G.J. het Jesus se profesie in vervulling begin gaan toe die Romeinse leërs Jerusalem omsingel het. Diegene wat aanhou waak het, het die teken herken, uit die stad gevlug en nie die vernietiging van Jerusalem ondervind nie.
’n Prent oor die belangrikheid van waaksaamheid
9, 10. (a) Hoe sou jy Jesus se illustrasie opsom van die slawe wat gewag het dat hulle heer van sy bruilof af terugkeer? (b) Waarom sou dit dalk vir die slawe moeilik gewees het om vir hulle heer te wag? (c) Waarom was dit voordelig vir die slawe om geduldig te wees?
9 Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is om waaksaam te wees deur sy dissipels te vergelyk met slawe wat wag dat hulle heer van sy bruilof af terugkeer. Hulle het geweet dat hy op ’n sekere nag sou terugkeer—maar hoe laat? Gedurende die eerste nagwaak? Die tweede? Die derde? Hulle het nie geweet nie. Jesus het gesê: “As [die heer] in die tweede waak daar aankom, of selfs in die derde, en hulle so vind [waaksaam], gelukkig is hulle!” (Lukas 12:35-38). Stel jou net die afwagting van hierdie slawe voor. Elke geluidjie, elke flikkerende skaduwee sou beslis hulle verwagting vergroot het: ‘Is dit dalk ons heer?’
10 Gestel die heer het gedurende die tweede nagwaak gekom, wat van omtrent nege-uur tot middernag gestrek het. Sou al die slawe, selfs dié wat van vroeg in die oggend hard gewerk het, gereed wees om hom te verwelkom, of sou party van hulle aan die slaap geraak het? Gestel die heer het gedurende die derde nagwaak teruggekeer—wat van middernag tot omtrent drie-uur die oggend gestrek het. Sou sommige van die slawe mismoedig of selfs ontevrede geword het omdat dit gelyk het of hulle heer talm?a Slegs diegene wat gewaak het toe die heer gekom het, sou gelukkig genoem word. Die woorde van Spreuke 13:12 sou beslis op hulle van toepassing wees: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom.”
11. Hoe kan gebed ons help om aan te hou waak?
11 Wat sou Jesus se volgelinge help om aan te hou waak gedurende die tyd dat dit gelyk het asof hy talm? Terwyl Jesus kort voor sy gevangeneming in die tuin van Getsemane was, het hy vir drie van sy apostels gesê: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matteus 26:41). Jare later het Petrus, wat daar teenwoordig was, soortgelyke raad aan mede-Christene gegee. Hy het geskryf: “Die einde van alle dinge het naby gekom. Wees dus gesond van verstand en wees waaksaam met die oog op gebede” (1 Petrus 4:7). Dit is duidelik dat vurige gebed deel van ons Christelike roetine moet wees. Trouens, ons moet Jehovah voortdurend smeek om ons te help om aan te hou waak.—Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 5:17.
12. Wat is die verskil tussen bespiegeling en waaksaamheid?
12 Let op dat Petrus ook gesê het: “Die einde van alle dinge het naby gekom.” Hoe naby? Dit is onmoontlik vir mense om die presiese dag en uur te bepaal (Matteus 24:36). Maar daar is ’n verskil tussen voortdurende bespiegelings, wat die Bybel nie aanmoedig nie, en om in afwagting van die einde te bly, wat die Bybel wel aanmoedig. (Vergelyk 2 Timoteus 4:3, 4; Titus 3:9.) Wat is een manier waarop ons in afwagting van die einde kan bly? Dit is deur noukeurig te let op die bewyse dat die einde naby is. Kom ons hersien dus ses bewyse wat toon dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose wêreld lewe.
Ses oortuigende bewyse
13. Hoe oortuig Paulus se profesie in 2 Timoteus hoofstuk 3 jou van die feit dat ons in “die laaste dae” lewe?
13 Eerstens sien ons die duidelike vervulling van die apostel Paulus se profesie oor “die laaste dae”. Paulus het geskryf: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën; en keer jou van hierdie mense af. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word” (2 Timoteus 3:1-5, 13). Sien ons nie hoe hierdie profesie in ons dag vervul word nie? Slegs diegene wat die feite ignoreer, kan dit ontken!b
14. Hoe word die woorde van Openbaring 12:9 omtrent die Duiwel vandag vervul, en wat gaan binnekort met hom gebeur?
14 Tweedens sien ons die uitwerking wat dit gehad het toe Satan en sy demone ter vervulling van Openbaring 12:9 uit die hemel gewerp is. Daar lees ons: “Die groot draak [is] neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger.” Dit het groot weë vir die aarde tot gevolg gehad. Daar was inderdaad veral sedert 1914 baie weë vir die mensdom. Maar die profesie in Openbaring voeg by dat die Duiwel weet dat “hy ’n kort tydperk het” nadat hy na die aarde neergewerp is (Openbaring 12:12). Gedurende hierdie tydperk voer Satan oorlog teen die gesalfde volgelinge van Christus (Openbaring 12:17). Ons ondervind beslis die gevolge van sy aanval in ons tyd.c Maar Satan gaan binnekort in die afgrond opgesluit word sodat “hy die nasies nie meer [sal] mislei” nie.—Openbaring 20:1-3.
15. Hoe voorsien Openbaring 17:9-11 bewyse dat ons in die tyd van die einde lewe?
15 Derdens lewe ons in die tyd van die agtste en laaste “koning” wat in die profesie in Openbaring 17:9-11 gemeld word. Hier praat die apostel Johannes van sewe konings, wat sewe wêreldmoondhede verteenwoordig—Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland, Rome en die Anglo-Amerikaanse tweeledige wêreldmoondheid. Hy sien ook “’n agtste koning” wat ‘uit die sewe voortspruit’. Hierdie agtste koning—die laaste een wat Johannes in sy visioen sien—verteenwoordig nou die Verenigde Nasies. Johannes sê dat hierdie agtste koning ‘in die vernietiging weggaan’, waarna geen verdere aardse konings genoem word nie.d
16. Hoe toon die vervulling van die fasette van die beeld in Nebukadnesar se droom dat ons in die laaste dae lewe?
16 Vierdens lewe ons in die tydperk wat deur die voete van die beeld in Nebukadnesar se droom voorgestel word. Die profeet Daniël het die uitlegging gegee van hierdie raaiselagtige droom van ’n reusebeeld in die vorm van ’n mens (Daniël 2:36-43). Die vier metaaldele van die beeld stel verskillende wêreldmoondhede voor, wat begin by die kop (die Babiloniese Ryk) en strek tot by die voete en tone (die regerings wat vandag heers). Al die wêreldmoondhede wat deur hierdie beeld voorgestel is, het al verskyn. Ons lewe in die tydperk wat deur die voete van die beeld voorgestel word. Daar word geen melding gemaak van ander moondhede wat nog sal kom nie.e
17. Hoe is ons Koninkrykspredikingswerk ’n verdere bewys dat ons in die tyd van die einde lewe?
17 ’n Vyfde bewys is die feit dat ons sien hoe ’n wêreldwye predikingswerk gedoen word, wat Jesus gesê het net voor die einde van hierdie stelsel sou plaasvind. Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Vandag word hierdie profesie vervul soos nog nooit tevore nie. Daar is weliswaar nog gebiede waar daar nooit getuig is nie, en dit is moontlik dat ’n groot deur wat tot groter bedrywigheid lei op Jehovah se bestemde tyd sal oopgaan (1 Korintiërs 16:9). Maar die Bybel sê nie dat Jehovah sal wag totdat elke individu op aarde ’n persoonlike getuienis ontvang het nie. Die goeie nuus moet eerder verkondig word tot Jehovah tevrede is. Dan sal die einde kom.—Vergelyk Matteus 10:23.
18. Wat sal blykbaar die geval wees met party van die gesalfdes wanneer die groot verdrukking begin, en hoe kan dit bepaal word?
18 Die sesde bewys is dat die aantal ware gesalfde dissipels van Christus al hoe minder raak, hoewel party klaarblyklik nog op die aarde sal wees wanneer die groot verdrukking begin. Die meeste van die oorblyfsel is taamlik bejaard, en deur die jare heen het die persone wat waarlik gesalf is al hoe minder geword. En tog het Jesus met verwysing na die groot verdrukking gesê: “As daardie dae nie verkort is nie, sou geen vlees gered word nie; maar weens die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matteus 24:21, 22). Party van Christus se “uitverkorenes” sal dus blykbaar nog op die aarde wees wanneer die groot verdrukking begin.f
Wat lê voor?
19, 20. Waarom is dit nou vir ons dringender as ooit om wakker te bly en aan te hou waak?
19 Wat hou die toekoms vir ons in? Daar lê nog opwindende tye voor. Paulus het gewaarsku dat “Jehovah se dag presies soos ’n dief in die nag kom”. Hy verwys na sogenaamde wêreldwyse manne en sê: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan gaan skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom.” Daarom spoor Paulus sy lesers aan: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly” (1 Tessalonisense 5:2, 3, 6). Diegene wat op die instellings van mense vertrou om vrede en veiligheid te bring, ignoreer inderdaad die werklikheid. Sulke persone is vas aan die slaap!
20 Die vernietiging van hierdie stelsel van dinge sal baie skielik kom. Bly dus in afwagting van Jehovah se dag. God self het vir Habakuk gesê: “Dit sal nie laat wees nie”! Trouens, dit is nou vir ons dringender as ooit om aan te hou waak.
[Voetnote]
a Die heer het nie ’n afspraak met sy slawe gemaak nie. Dit was dus nie vir hom nodig om rekenskap te gee van sy doen en late nie, en hy was sy slawe ook nie ’n verduideliking verskuldig omdat hy skynbaar getalm het nie.
b Sien hoofstuk 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie profesie.
c Sien bladsye 180-6 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer inligting.
e Sien hoofstuk 4 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
f In die gelykenis van die skape en die bokke kom die Seun van die mens in sy heerlikheid gedurende die tydperk van die groot verdrukking en spreek hy oordeel uit. Hy oordeel mense op grond van die ondersteuning wat hulle aan Christus se gesalfde broers gee. Om op grond hiervan te oordeel, sou sinloos gewees het as al Christus se broers teen die tyd dat die oordeel plaasvind lankal nie meer op die aarde is nie.—Matteus 25:31-46.
Onthou jy?
• Watter skriftuurlike voorbeelde kan ons help om aan te hou waak?
• Hoe het Jesus die belangrikheid van waaksaamheid geïllustreer?
• Watter ses bewyse toon dat ons in die laaste dae lewe?
[Prente op bladsy 9]
A. H. Macmillan het Jehovah byna ses dekades lank getrou gedien
[Prente op bladsy 10]
Jesus het sy dissipels met slawe vergelyk wat aanhou waak