Gesinsrooster—gemeentelike vergaderinge
1 As jy ’n Christenouer is, wil jy hê dat jou kinders volwassenes moet word wat Jehovah liefhet en dien en uiteindelik die ewige lewe in God se beloofde nuwe wêreld verkry. Hoe kan jy hulle help om die aanbidding van Jehovah eerste in hulle lewe te stel? ’n Belangrike manier is deur jou voorbeeld (Spr. 20:7). ’n Suster het oor die voorbeeld van haar gelowige moeder gesê: “Ons het nooit gewonder of ons vergadering toe gaan of nie.” Dit het ’n blywende indruk op haar gemaak.
2 Besef julle gesin wat die doel van gemeentelike vergaderinge is? Die onderrigting wat ons by hierdie vergaderinge ontvang, versterk ons om voort te gaan om God se wil te doen, en die omgang wat ons met ons broers geniet, is ’n waardevolle bron van aanmoediging (Jes. 54:13; Rom. 1:11, 12). Maar die hoofdoel van hierdie vergaderinge is om Jehovah “onder die versamelde menigtes” te loof (Ps. 26:12). Christelike vergaderinge bied ons geleenthede om ons liefde vir Jehovah te toon en hom te aanbid.
3 ‘Let voortdurend streng op’: Waardering vir die heilige doel van ons vergaderinge sal ons beweeg om ‘voortdurend streng daarop te let’ dat ons nie geleidelik die gewoonte aanleer om van vergaderinge af weg te bly om na minder belangrike sake om te sien nie (Ef. 5:15, 16; Heb. 10:24, 25). Wanneer julle julle gesinsrooster opstel, kan julle eerstens die tye van julle gemeentelike vergaderinge daarop aandui. Sorg dan dat ander bedrywighede nie daarop inbreuk maak nie. Maak seker dat vergaderingbywoning in julle gesin voorkeur geniet.
4 Roer dit ons nie wanneer ons lees van ons broers wat struikelblokke oorkom het om vergaderinge en byeenkomste by te woon nie? Al is julle omstandighede dalk nie so buitengewoon nie, moet julle waarskynlik ook uitdagings die hoof bied. Satan maak dit al hoe moeiliker vir God se volk om Jehovah te aanbid. Maar wees verseker dat julle kinders beslis julle gesin se vasbeslote pogings om gemeentelike vergaderinge by te woon, sal raaksien. Trouens, deur dit te doen, sal julle hulle moontlik ’n geestelike gawe gee wat hulle nooit sal vergeet nie.