Deel 12: Hou progressiewe Bybelstudies
Help studente om Bybelstudies te begin en te hou
1 Wanneer ons Bybelstudente aan die veldbediening begin deelneem, is hulle dalk skrikkerig vir die idee om hulle eie Bybelstudies te begin en te hou. Hoe kan ons hulle help om ’n positiewe gesindheid teenoor hierdie noodsaaklike deel van ons bediening aan te kweek?—Matt. 24:14; 28:19, 20.
2 Wanneer ’n Bybelstudent aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger te wees, vind hy waarskynlik reeds ten volle baat by die Teokratiese Bedieningskool. Die opleiding wat hy ontvang deur studentetoesprake voor te berei en te hou, sal hom help om die onderrigvermoë te ontwikkel wat benodig word deur “’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer”.—2 Tim. 2:15.
3 Leer hulle deur jou voorbeeld: Jesus het sy dissipels opgelei deur duidelike onderrigting te gee en ’n goeie voorbeeld te stel. Hy het gesê: “Elkeen wat volmaak onderrig is, sal soos sy leermeester wees” (Luk. 6:40). Dit is noodsaaklik dat jy Jesus navolg deur ’n goeie voorbeeld in jou eie bediening te stel. Wanneer jou student jou voorbeeld in die bediening sien, sal hy besef dat die doel van herbesoeke is om Bybelstudies te begin.
4 Verduidelik dat dit gewoonlik nie nodig is om die studiereëling in besonderhede te beskryf wanneer ons ’n studie aanbied nie. Dit is dikwels die beste om die studie te demonstreer deur een of miskien twee paragrawe in ’n studiepublikasie te gebruik. Nuttige wenke in dié verband kan op bladsy 8 gevind word, sowel as op bladsy 6 van Ons Koninkryksbediening vir Januarie 2002.
5 Wanneer dit gepas is, kan jy die student nooi om saam met jou of ’n ander ervare verkondiger na ander Bybelstudies te gaan. Hy kan dalk oor ’n paragraaf of ’n sleutelteks kommentaar lewer. Wanneer hy ander op hierdie manier waarneem, sal die student baie leer oor hoe om progressiewe Bybelstudies te hou (Spr. 27:17; 2 Tim. 2:2). Prys hom, en bespreek hoe hy kan verbeter.
6 As ons nuwe verkondigers oplei om onderrigters van God se Woord te wees, sal dit hulle toerus vir die “goeie werk” om hulle eie studies te begin en te hou (2 Tim. 3:17). Hoe bevredigend is dit tog om sy aan sy saam met hulle te werk om die liefdevolle uitnodiging te rig: “Laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet”!—Op. 22:17.