Help ander om by die losprys baat te vind
Herdenking van Christus se dood wat op 12 April gehou sal word
1. Wat is een manier waarop God se volk hulle waardering vir die losprys toon?
1 “Ons dank God vir sy onbeskryflike vrye gawe” (2 Kor. 9:15). Hierdie woorde is ’n goeie beskrywing van hoe ons voel oor die goedheid en liefderyke goedhartigheid wat God deur sy Seun, Jesus Christus, aan sy volk betoon. Sulke waardering sal veral getoon word wanneer ons op 12 April vir die Herdenking van Christus se dood vergader.
2. Wie benewens Jehovah se knegte woon die Gedenkmaalviering by, en wat moet hulle doen om by die losprys baat te vind?
2 Benewens Jehovah se knegte woon ongeveer tienmiljoen ander mense elke jaar die Gedenkmaalviering by. Sodoende toon hulle ’n mate van waardering vir Christus se offerande. Maar om by die losprys baat te vind, moet hulle geloof daarin beoefen (Joh. 3:16, 36). Hoe kan ons hulle help om sulke geloof aan te kweek? Tydens hierdie Gedenkmaalseisoen kan ons hulle aanspoor om ’n persoonlike Bybelstudie te hê en om die weeklikse gemeentelike vergaderinge by te woon. Kyk na die volgende wenke.
3. Hoe kan ons ’n Bybelstudie begin wanneer ons iemand na die Gedenkmaal nooi?
3 Bybelstudies: Wanneer jy belangstellendes na die Gedenkmaal nooi, kan jy gerus ’n Bybelstudie in die Leer Bybel-boek met hulle probeer begin. Bied aan om die Gedenkmaalviering aan die persoon te verduidelik deur by bladsye 206-8 oop te maak en die onderwerp “Die Here se Aandmaal—’n Viering wat God eer” te bespreek. Jy sal die inligting dalk tydens een of twee besoeke kan bespreek, miskien as ’n Bybelstudie by die deur. Wanneer julle met hierdie inligting klaar is, sal die persoon dalk instem om hoofstuk 5, “Die losprys—God se grootste geskenk”, te bespreek. Sodra ’n gereelde Bybelstudie begin is, moet jy teruggaan en die eerste vier hoofstukke van die boek bespreek.
4. Met wie kan ons tydens hierdie Gedenkmaalseisoen ’n Bybelstudie begin?
4 Met wie kan ons ’n Bybelstudie begin deur hierdie benadering te gebruik? Miskien sal party van jou werksmaats, skoolmaats of bure tot sulke besprekings instem. Broers kan die ongelowige mans van susters in die gemeente nader. En moenie vergeet van jou eie familielede wat nie Getuies is nie. Ons moet ook ’n spesiale poging aanwend om diegene wat vroeër met die gemeente omgegaan het, na die Gedenkmaal te nooi (Luk. 15:3-7). Laat ons al hierdie mense probeer help om by die losprys baat te vind.
5. Hoe kan ons Bybelstudente en ander belangstellendes aanspoor om die weeklikse gemeentelike vergaderinge by te woon?
5 Gemeentelike vergaderinge: Die Gedenkmaal is dikwels die eerste vergadering wat Bybelstudente en ander belangstellendes bywoon. Maar hoe kan ons hulle aanspoor om by ons ander gemeentelike vergaderinge baat te vind? Ons Koninkryksbediening vir April 2005, bladsy 8, het hierdie wenke gegee: “Meld die tema van die volgende openbare toespraak. Wys vir hulle die inligting wat by die Wagtoring-studie en by die Gemeentelike Boekstudie bespreek sal word. Beskryf die Teokratiese Bedieningskool en die Diensvergadering. Wanneer jy ’n toewysing op die skool het, kan jy dit saam met hulle deurgaan. Vertel hulle van interessante gedagtes wat by die vergaderinge gemeld is. Gebruik foto’s in ons publikasies om hulle te help om hulle voor te stel wat daar gebeur. Nooi hulle van die heel eerste studie af om die vergaderinge by te woon.”
6. Op watter twee maniere kan ons opregtes van hart help om by die losprys baat te vind?
6 Wanneer opregtes van hart ’n gereelde Bybelstudie het en gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon, maak hulle dikwels vinnig geestelike vooruitgang. Mag ons ander dus aanspoor om hierdie geestelike voorsienings te benut en baat te vind by God se grootste geskenk—die losprys.