‘Laat julle woorde altyd smaaklik gemaak wees met sout’
1. Wat beteken dit om ‘ons woorde smaaklik te maak met sout’?
1 “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:6). Om ons woorde smaaklik te maak met sout, beteken om die regte woorde te kies en op ’n manier te praat wat ons opmerkings vir ons toehoorder aanneemlik maak. Dit is baie belangrik om dit in die bediening te doen.
2. Hoe kon Jesus vir ’n Samaritaanse vrou getuig?
2 Jesus se voorbeeld: Terwyl Jesus naby ’n put gerus het, het hy die inisiatief geneem om met ’n Samaritaanse vrou te praat wat kom water skep het. Verskeie kere tydens die gesprek het sy gedagtes geopper wat die jare lange vyandskap tussen die Jode en die Samaritane weerspieël het. Sy het ook haar oortuiging uitgespreek dat die Samaritane van Jakob afgestam het, hoewel die Jode sterk daaroor gevoel het dat Samaritane van uitlanders afgestam het. Jesus het nie teen haar opmerkings beswaar gemaak nie, maar het eerder die gesprek positief gehou. Gevolglik kon hy ’n getuienis gee waarby sy en die manne van die stad baat gevind het.
3. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg wanneer ons in die bediening is?
3 Terwyl ons die predikingswerk doen, moet ons ons doel in gedagte hou—om “goeie nuus van goeie dinge bekend [te] maak” (Rom. 10:15). Ons wil ’n aangename en opbouende gedagte uit die Bybel met die huisbewoner bespreek, nie hom die idee gee dat ons sy persoonlike opvattings aanval nie. As hy ’n verkeerde beskouing uitspreek, hoef ons nie ’n geskilpunt daarvan te maak nie. Is daar iets in sy opmerking waarmee ons kan saamstem of op grond waarvan ons hom opreg kan prys? Miskien kan ons ’n teks inlei deur te sê: “Het jy al ooit hierdie moontlikheid oorweeg?”
4. Wat moet ons doen as die huisbewoner beledigend is?
4 Sê nou die huisbewoner is beledigend of dit is duidelik dat hy net wil stry? Ons moet aanhou om op ’n vriendelike en sagmoedige manier op te tree en te praat (2 Tim. 2:24, 25). As die persoon nie die Koninkryksboodskap waardeer nie, is dit die beste om ons taktvol te verskoon.—Matt. 7:6; 10:11-14.
5. Watter goeie resultate het dit tot gevolg gehad toe ’n suster ’n vriendelike antwoord gegee het?
5 Goeie gevolge: Toe ’n suster vir haar buurvrou probeer getuig het, het die vrou ’n woedeuitbarsting gehad en vloekwoorde gebruik. Ons suster het vriendelik gesê: “Ek is jammer dat jy so voel. Geniet die dag.” Die vrou het twee weke later aan die suster se deur geklop, verskoning gevra vir haar gedrag en gesê dat sy sal luister na wat die suster te sê het. ’n Vriendelike antwoord het dikwels goeie gevolge!—Spr. 15:1; 25:15.
6. Waarom is dit belangrik om ons woorde smaaklik te maak in die bediening?
6 Probeer om jou woorde smaaklik te maak wanneer jy die goeie nuus verkondig. Al is die huisbewoner onontvanklik, sal hy dalk volgende keer as Jehovah se Getuies hom besoek, gewilliger wees om te luister.