Regering
Definisie: Die reëling vir wetgewing en wetstoepassing. Regerings word dikwels geklassifiseer volgens die bron en omvang van hulle gesag. Jehovah God is die Universele Soewerein wat gesag aan ander gee in ooreenstemming met sy wil en voorneme. Maar Satan die Duiwel, die aartsrebel teen Jehovah se soewereiniteit, is “die owerste van hierdie wêreld”—met God se toelating vir ’n beperkte tyd. Die Bybel beeld die wêreldwye stelsel van politieke heerskappy as ’n dier uit en sê: “Die draak [Satan die Duiwel] het hom [die dier] sy krag gegee en sy troon en groot mag”.—Joh. 14:30; Openb. 13:2; 1 Joh. 5:19.
Is dit vir mense moontlik om ’n regering op te rig wat werklik blywende geluk sal bring?
Wat toon die mensegeskiedenis?
Pred. 8:9: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.” (Dit is waar selfs al het sommige regerings en heersers met hoë ideale begin.)
“Elke beskawing wat nog ooit bestaan het, het uiteindelik ineengestort. Die geskiedenis is die verhaal van pogings wat misluk het, van begeertes wat nie verwesenlik is nie. . . . As ’n geskiedkundige moet ’n mens dus lewe met ’n gevoel dat tragedie onvermydelik is.”—Henry Kissinger, politoloog en professor in die staatsleer, soos aangehaal in The New York Times, 13 Oktober 1974, bl. 30B.
Wat belemmer mensepogings op die gebied van regering?
Jer. 10:23: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” (God het nie sy menseskepping gemagtig om hulle eie koers onafhanklik van God te bepaal nie.)
Gen. 8:21: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.” (Nie alleen die heersers nie, maar ook die onderdane word almal in sonde gebore, met selfsugtige neigings.)
2 Tim. 3:1-4: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, . . . onversoenlik, . . . verwaand.” (Die probleme waarmee die mens vandag te kampe het, kan nie permanent deur net een nasie opgelos word nie; dit verg volkome internasionale samewerking. Maar selfsugtige belange verhinder dit en is ook ’n ernstige hindernis in die weg van ware samewerking onder die verskillende organisasies in nasies.)
Die Bybel openbaar ook dat bomenslike magte menseaangeleenthede manipuleer. “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Joh. 5:19). “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:12). “Dit is geeste van duiwels . . . wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.”—Openb. 16:14.
Hoe kan mense blywende verligting van die verdorwenheid en verdrukking van regerings kry?
Sal dit die probleem oplos as ander mense aan die bewind gestel word?
Is dit nie so dat in lande waar daar vrye verkiesings is die manne wat aan die bewind is gewoonlik na ’n betreklik kort tydperk uitgestem word nie? Waarom? ’n Meerderheid is nie tevrede met hulle hantering van sake nie.
Ps. 146:3, 4: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Enige programme wat deur heersers in die lewe geroep word om sake te verbeter, beland gou in ander se hande en word dikwels gestaak.)
Ongeag wie die heerser is, hy sal steeds ’n deel wees van hierdie wêreld wat in Satan se mag lê.—1 Joh. 5:19.
Is gewelddadige revolusie die oplossing?
Selfs al word verdorwe heersers vervang en onregverdige wette nietig verklaar, sal die nuwe regering uit onvolmaakte mense bestaan en sal dit steeds ’n deel wees van die politieke stelsel wat die Bybel duidelik sê onder die beheer van Satan is.
Matt. 26:52: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Jesus het dit vir een van sy apostels gesê op ’n tydstip dat regeringsgesag op onregverdige wyse teen die Seun van God self gebruik is. Vir watter verdiensteliker saak kon ’n mens veg, indien dit die regte ding was om te doen?)
Spr. 24:21, 22: “My seun, vrees die HERE en die koning, laat jou nie in met oproerige mense nie. Want skielik sal hulle ongeluk opkom, en die uitgang van hulle jare, wie weet dit?”
Wat is dan die oplossing vir die probleme met verdorwenheid en verdrukking?
Dan. 2:44: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk [’n regering] verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”
Ps. 72:12-14: “Hy [Jehovah se aangestelde Koning, Jesus Christus] sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.” (Sy besorgdheid oor sulke mense toe hy op die aarde was—die feit dat hy hulle genees, menigtes gevoed en selfs sy lewe vir hulle afgelê het—toon dat hy waarlik die soort heerser sal wees wat in die profesie voorspel is.)
Kyk ook bladsye 248-252, onder “Koninkryk”.
Waarom moet ons ernstig nadink oor wat die Bybel oor die toekoms van regerings sê?
Menseheersers voorsien nie wat die mensdom broodnodig het nie
Beskou die volgende dinge wat mense oral nodig het, wat menseregerings nie voorsien nie maar wat God beloof het: (1) Die lewe in ’n wêreld waar daar geen bedreiging van oorlog is nie.—Jes. 2:4; Ps. 46:10, 11. (2) Oorgenoeg voedsel vir almal.—Ps. 72:16. (3) Gerieflike huise vir almal.—Jes. 65:21. (4) Bevredigende werk vir almal wat dit nodig het, sodat hulle vir hulleself en hulle gesinne kan sorg.—Jes. 65:22. (5) ’n Lewe wat nie bederf word deur siekte en kwale nie.—Openb. 21:3, 4. (6) Geregtigheid; vryheid van godsdiens-, rasse-, ekonomiese en volksvooroordeel.—Jes. 9:6; 11:3-5. (7) Veiligheid, met geen misdadigers wat die persoon of eiendom van ander in gevaar stel nie.—Miga 4:4; Spr. 2:22. (8) ’n Wêreld waarin liefde, vriendelikheid, besorgdheid oor ander en trou onder die mees gesogte eienskappe sal wees.—Ps. 85:11, 12; Gal. 5:22.
Politieke heersers beloof hulle mense al duisende jare lank beter toestande. Met watter gevolge? Hoewel die mense in baie nasies meer materiële besittings het, is hulle nie gelukkiger nie, en is die probleme waarmee hulle te kampe het ingewikkelder as ooit.
Bybelprofesieë was volkome betroubaar
’n Eeu voor die tyd het God se Woord Babilon se posisie van wêreldoorheersing voorspel, ook hoe sy krag eindelik verbreek sou word en die feit dat hierdie hoofstad nie weer bewoon sou word nadat dit verwoes is nie (Jes. 13:17-22). Byna twee eeue voor die tyd, selfs nog voor Kores gebore is, het die Bybel hom by name voorspel en ook aangedui wat sy rol in internasionale aangeleenthede sou wees (Jes. 44:28; 45:1, 2). Voordat Medo-Persië ’n wêreldmoondheid geword het, is sy opgang, sy tweeledige aard en die wyse waarop hy sou val, alles voorspel. Meer as twee eeue tevore is die weg van die Griekse wêreldryk onder sy eerste koning voorspel, asook die daaropvolgende verdeling van die ryk in vier dele.—Dan. 8:1-8, 20-22.
Die Bybel het die wêreldtoestande van ons dag in besonderhede voorspel, en dit het ons verwittig dat alle menseregerings deur God se toedoen vernietig sal word en dat God se Koninkryk in die hande van sy Seun, Jesus Christus, oor die hele mensdom gaan regeer.—Dan. 2:44; 7:13, 14.
Is dit nie verstandig om ag te slaan op ’n bron van informasie wat konsekwent so betroubaar was nie?
Regering deur God is die enigste ware oplossing vir die probleme van die mensdom
Die probleme wat opgelos moet word, vereis krag, vermoëns en eienskappe wat mense nie besit nie. God kan die mensdom bevry van die invloed van die Duiwel en sy demone, en Hy het beloof om dit te doen, maar geen mens kan dit doen nie. God het voorsiening gemaak om te doen wat die mediese wetenskap nooit kan bereik nie—hy gaan sonde wegneem en sodoende ’n einde aan siekte en die dood maak en dit vir mense moontlik maak om die soort persone te wees wat hulle werklik wil wees. Die Skepper het die nodige kennis (van die aarde en van alle lewensprosesse) om die probleme met voedselproduksie op te los en gevaarlike besoedeling te voorkom, maar mensepogings skep dikwels meer probleme. God se Woord hervorm reeds lewens sodat diegene wat op die leiding daarvan reageer vriendeliker, liefdevoller persone met hoë sedes word, ’n gemeenskap wat weier om die wapens teen hulle medemens op te neem en wat in ware vrede en broederskap lewe hoewel hulle uit alle nasies, rasse en taalgroepe kom.
Wanneer sal God se Koninkryk van die teenswoordige wêreldstelsel ontslae raak? Kyk onder “Jaartalle” en “Laaste dae”.