STUDIE 19
Gebruik van die Bybel aangemoedig
ONS wil graag almal se aandag op God se Woord, die Bybel, vestig. Hierdie heilige boek is die grondslag van die boodskap wat ons verkondig, en ons wil hê mense moet besef dat wat ons sê, nie uit onsself is nie, maar van God kom. Mense moet vertroue in die Bybel opbou.
In die veldbediening. Wanneer jy vir die veldbediening voorberei, moet jy altyd een of meer tekste kies wat jy vir mense kan wys wat bereid is om te luister. Al is jy van plan om Bybellektuur net kortliks aan te bied, is dit dikwels goed om ’n gepaste Bybelteks te lees. Die Bybel kan ’n groter uitwerking op skaapgeaarde mense hê as enigiets wat ons self kan sê. Waar jy nie uit die Bybel self kan lees nie, sal jy dalk daaruit wil aanhaal. In die eerste eeu was boekrolle van die Skrif nie algemeen beskikbaar nie. En tog het Jesus en sy apostels dikwels uit die Skrif aangehaal. Ons moet ook ’n poging aanwend om tekste te memoriseer en dit goed in ons bediening te gebruik, al haal ons dit soms net aan.
Wanneer jy wel uit die Bybel kan lees, moet jy dit so hou dat die huisbewoner kan volg terwyl jy lees. As die huisbewoner in sy eie Bybel volg, sal hy moontlik selfs gunstiger reageer op wat hy lees.
Jy moet egter besef dat party Bybelvertalers hulle sekere vryhede met God se Woord veroorloof het. Hulle vertalings stem moontlik nie in alle opsigte ooreen met wat in die oorspronklike Bybeltale gesê is nie. ’n Aantal moderne vertalings het God se persoonlike naam daaruit verwyder, het verberg wat die teks in die oorspronklike tale oor die toestand van die dooies sê en het versluier wat die Bybel oor God se voorneme met die aarde sê. As jy vir iemand wil wys wat gedoen is, sal jy dalk sleuteltekste uit verskillende Bybels of uit vroeëre vertalings in dieselfde taal moet vergelyk. Redenering uit die Skrif vergelyk by ’n aantal onderwerpe hoe verskillende vertalings belangrike uitdrukkings weergee in verse wat dikwels gebruik word. Enigiemand wat lief is vir waarheid, sal dankbaar wees om oor hierdie feite ingelig te word.
By gemeentelike vergaderinge. Almal moet aangemoedig word om hulle Bybel by gemeentelike vergaderinge te gebruik. Dit hou etlike voordele in. Dit help om die gehoor se aandag te hou op wat bespreek word. Dit gee ook visuele trefkrag aan die spreker se mondelinge onderrigting. En dit toon duidelik aan nuwe belangstellendes dat die Bybel werklik die bron van ons oortuigings is.
Of jou gehoor in hulle eie Bybels gaan volg wanneer jy Bybeltekste lees, sal grootliks afhang van hoe jy hulle aanmoedig om dit te doen. Een van die beste metodes is om hulle direk te nooi.
Jy, die spreker, moet besluit watter tekste jy wil beklemtoon deur die gehoor te vra om dit na te slaan. Dit is die beste om tekste te lees wat jou sal help om jou hoofpunte te ontwikkel. Voeg dan na gelang van die tyd ’n paar ander by wat jou redenasie ondersteun.
Jy sal natuurlik in die meeste gevalle meer moet doen as om ’n teksverwysing bloot te noem of die gehoor te nooi om ’n teks na te slaan. As jy een teks lees en dan na ’n ander oorgaan voordat jou gehoor eers tyd gehad het om die eerste een te vind, sal hulle gou ontmoedig raak en nie meer in die Bybel probeer volg nie. Wees oplettend. Lees die teks wanneer die meeste in die gehoor dit gevind het.
Dink vooruit. Noem jou teks lank genoeg voor jy dit gaan lees. Sodoende sal jy nie baie tyd verloor omdat jy vir die gehoor wag om die teks te vind nie. Hoewel minder materiaal gedek sal word as jy die gehoor tyd gee om die tekste na te slaan, sal die voordele wat dit inhou, dit die moeite werd maak.