Wanneer sal blywende vrede werklik kom?
“OORLOG is een van die konstantes in die geskiedenis, en dit het nie met die beskawing of demokrasie afgeneem nie”, het Will en Ariel Durant in hulle boek The Lessons of History geskryf. “Vrede is ’n onstabiele ewewig wat slegs deur ’n erkende oppergesag of gelyke mag gehandhaaf kan word.”
Blywende vrede het die mens tot dusver, ten spyte van intense pogings, inderdaad ontwyk. Waarom? Omdat die oorsake van oorlog veel dieper lê as die politieke, gebieds- of sosiale struwelinge wat ons op die oog af sien. Die Durants het gesê: “Die oorsake van oorlog is dieselfde as die oorsake van mededinging onder individue: inhaligheid, veglus en trots; die begeerte na voedsel, grondgebied, grondstowwe, brandstof en mag.”
Maar die Bybel identifiseer juis die grondoorsaak van onenigheid en oorlog tussen individue en op ’n groter skaal. Ons lees: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog.”—Jakobus 4:1, 2.
Die geskil kom dus hierop neer: Vir ware vrede moet ons nie net die simptome—oorloë, opstande, staatsgrepe, revolusies—uitskakel nie, maar ook die grondoorsake—agterdog, hebsug, haat, vyandigheid—in alle mense. Dit moet vervang word deur dade wat in ooreenstemming is met sulke onselfsugtige eienskappe soos liefde, goedheid, vertroue en vrygewigheid. Is daar enigiemand wat dit tot stand kan bring? As dit van onvolmaakte, sterflike mense afhang, sal die antwoord nee wees. Maar daar is iemand vir wie dit nie te moeilik is nie. Dit is die Een wat die antwoord op hierdie vraag ken: Wanneer sal vrede werklik kom?
Die Een wat vrede kan bring
Sowat 28 eeue gelede is die profeet Jesaja geïnspireer om te sê: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”—Jesaja 9:5, 6.
Later is dié een wat vrede sonder einde gaan bring, geïdentifiseer as niemand anders nie as Jesus Christus, “Seun van die Allerhoogste” (Lukas 1:30-33; Mattheüs 1:18-23). Maar waarom sal hierdie een slaag terwyl al die ander prinse en heersers gefaal het? Let eerstens daarop dat die beloofde “kind” nie vir altyd ’n hulpelose baba sou bly soos sommige hom afbeeld nie. Hy sou eerder sy “heerskappy” uitoefen as die “Vredevors” tot ewige seën van die mensdom.
Daar is meer aan Jesus se heerskappy verbonde. As ’n “Raadsman” wat buitengewone begrip van die menslike natuur en voortreflike bekwaamhede het, sal hy tot die kern van moeilike geskille kan deurdring en sodoende die netelige probleme oplos waarmee wêreldleiers vandag te kampe het en wat hulle frustreer (Mattheüs 7:28, 29; Markus 12:13-17; Lukas 11:14-20). Dan, as “Sterke God”, sal die verrese goddelike een, Jesus Christus, wat nou as Messiaanse Koning in die hemel op die troon geplaas is, hom vir vrede beywer deur op ’n groot skaal te herhaal wat hy gedoen het terwyl hy op aarde was—hy het mense met ongeneeslike siektes genees, voedsel en drank aan menigtes voorsien en selfs die weer beheer (Mattheüs 14:14-21; Markus 4:36-39; Lukas 17:11-14; Johannes 2:1-11). As “Ewige Vader” het Jesus die mag om diegene wat dood is lewend te maak en die ewige lewe aan hulle te gee. En hy self sal vir ewig lewe, en op dié manier verseker dat sy heerskappy en die vrede geen einde sal hê nie.—Mattheüs 20:28; Johannes 11:25, 26; Romeine 6:9.
Aangesien Jesus Christus so toegerus is, is hy onteenseglik die een wat die diepgewortelde oorsake van oorlog en struweling kan uitwis. Hy sal nie net ’n vredesverdrag of ’n plan vir sogenoemde vreedsame naasbestaan tussen die nasies uitwerk, net sodat dit deur nog ’n oorlog verydel word nie. Hy sal eerder alle politieke, gebieds-, sosiale en ekonomiese ongelykhede verwyder deur die hele mensdom onder een heerskappy, dié van sy Messiaanse Koninkryk, te verenig. Wanneer hy alle mense in die aanbidding van die een ware God, Jehovah, lei, sal hy dít uitwis wat dikwels die onderliggende oorsaak van oorlog is—valse godsdiens. Dit ly geen twyfel nie dat Jesus Christus, die Vredevors, dit alles tot stand sal bring. Die vraag is: Wanneer?
Gebeure wat tot ewige vrede lei
Ná sy opstanding en hemelvaart in 33 G.J. moes Jesus tot die vasgestelde tyd wag voordat hy kon optree. Dit was volgens Jehovah se bevel: “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete. U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande” (Psalm 110:1, 2; Lukas 22:69; Efesiërs 1:20; Hebreërs 10:12, 13). Wanneer gebeur dit? Jehovah se Getuies verkondig al langer as 70 jaar wêreldwyd die goeie nuus dat Jesus Christus in die jaar 1914 in God se Koninkryk in die hemel begin regeer het.a
Maar jy sê dalk: ‘Daar was nog glad nie vrede sedert 1914 nie. Inteendeel, toestande het sedertdien van kwaad tot erger versleg.’ Jy is heeltemal reg. Dit bewys in werklikheid dat gebeure plaasvind soos dit voorspel is. Die Bybel sê dat ‘die nasies vertoornd was toe die koninkryke van die wêreld die eiendom van onse Here en van sy Christus geword het’ (Openbaring 11:15, 18). In plaas daarvan dat die nasies hulle aan die heerskappy van Jehovah God en sy Vredevors onderwerp, werp hulle hulle in ’n koorsagtige stryd om wêreldoorheersing en raak hulle veral vertoornd teen Christene wat van God se opgerigte Koninkryk getuig.
Die boek Openbaring wys ook dat Jesus Christus onmiddellik opgetree het toe hy Koninkryksmag aanvaar het deur Satan en sy demone uit die hemel te verwyder: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.” Met watter gevolg? Die verslag gaan voort: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:10, 12.
’n Finale teken
Dit help ons om te verstaan waarom die nasies ten spyte van al hulle pogings nie vrede kon bring nie. Die Duiwel se groot woede, wat in die nasies se eie woede weerspieël word, het die wêreld in beroering en in verwarring gehou soos nog nooit vantevore in die mens se geskiedenis nie. Wanneer sal dit alles eindig? Die Bybel gee ’n belangrike leidraad: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle.”—1 Thessalonicense 5:3.
Besef jy wat die betekenis van hierdie waarskuwing is? Wêreldgebeure soos dié wat ons in die vorige artikel bespreek het, toon dat heersers en baie mense oor vrede praat en daarna streef soos nog nooit vantevore nie. Aangesien die Koue Oorlog beëindig is, meen party dat die bedreiging van ’n kernslagting iets van die verlede is. Ja, die nasies het al baie oor vrede en veiligheid gesê. Maar beweeg die wêreldsituasie werklik in daardie rigting? Onthou, Jesus het van diegene wat deur die laaste dae, wat in 1914 begin het, sou lewe, gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:34). Ja, vrede sal werklik binne hierdie geslag kom, maar nie deur die nasies se pogings nie. Die blywende, onpartydige en regverdige vrede wat deur Jehovah God belowe word, kan slegs deur die komende heerskappy van sy Vredevors, Jesus Christus, kom.—Jesaja 9:6.
As jy uitsien na die dag wanneer vrede werklik sal kom, en dit saam met jou geliefdes wil ervaar, dan moet jy op die Vredevors vertrou en sy bemoedigende woorde altyd in gedagte hou: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”—Lukas 21:36.
[Voetnoot]
a Sien hoofstukke 12 tot 14 van die boek “Let Your Kingdom Come” wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word vir besonderhede oor Bybelchronologie en vervulde Bybelprofesieë.
[Venster op bladsy 6]
WAT DIE DEFINISIE VAN VREDE IS
Die meeste mense dink vandag aan vrede as die afwesigheid van oorlog of struweling. Dit is egter ’n baie beperkte definisie van die woord. In Bybelse tye is die woord “vrede” (Hebreeus, sha·lohmʹ) of die uitdrukking “Vrede vir jou!” algemeen gebruik as ’n vorm van groet (Rigters 19:20; Daniël 10:19; Johannes 20:19, 21, 26). Dit verwys ongetwyfeld nie net na die afwesigheid van oorlog nie. Let op wat die boek The Concept of Peace hieroor sê: “Wanneer die woord shalom vir vrede gebruik is, het diegene wat dit gebruik het oorspronklik ’n toestand in die wêreld of onder die mensegemeenskap in gedagte gehad waar daar volkomenheid, eenheid, onverdeeldheid en volheid is. . . . Waar daar vrede is, het beide die geheel en sy samestellende dele hulle maksimale en optimale bestaansvlakke bereik.” Wanneer God vrede bring, sal mense nie net nie “meer leer om oorlog te voer nie”, maar ‘elkeen sal sit onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom’.—Miga 4:3, 4.
[Prent op bladsy 7]
Daar was ’n merkbare afwesigheid van vrede sedert die Eerste Wêreldoorlog