Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 10/15 bl. 21-26
  • Pas op dat jy nie ’n hoogmoedige hart ontwikkel nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op dat jy nie ’n hoogmoedige hart ontwikkel nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God tree teen hoogmoediges op
  • “Jou hart het hoogmoedig geword”
  • Bewaar jou hart teen hoogmoed
  • Is dit verkeerd om trots te wees?
    Ontwaak!—1999
  • Die gevolge van trots—Hoe ernstig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Sien die verskil in mense
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Jy kan teen Satan stry—en oorwin!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 10/15 bl. 21-26

Pas op dat jy nie ’n hoogmoedige hart ontwikkel nie

“God staan die hoogmoediges teë.”—JAKOBUS 4:6.

1. Gee ’n voorbeeld van gepaste gevoelens van trots.

HET die een of ander gebeurtenis al ooit jou hart van trots laat swel? Die meeste van ons het al hierdie aangename gevoel ondervind. Ons vermoë om ’n mate van trots te voel, is nie sleg nie. Byvoorbeeld, wanneer ’n Christenegpaar ’n skoolrapport lees oor hulle dogter se goeie gedrag en harde werk, straal hulle gesigte waarskynlik van tevredenheid oor haar prestasies. Die apostel Paulus en sy metgeselle was trots op ’n nuwe gemeente wat hulle help stig het, want die broers het vervolging getrou verduur.—1 Tessalonisense 1:1, 6; 2:19, 20; 2 Tessalonisense 1:1, 4.

2. Waarom is gevoelens van trots gewoonlik ongewens?

2 Uit die bogenoemde voorbeelde sien ons dat trots ’n gevoel van behaaglikheid weens die een of ander daad of besitting kan wees. Maar dikwels weerspieël trots ’n ongepaste gevoel van eiewaarde, ’n gevoel van meerderwaardigheid weens ’n mens se vermoëns, voorkoms, rykdom of status. Dit word dikwels geopenbaar deur ’n verwaande gesindheid, ’n hoogmoedige houding. Hierdie soort trots is beslis iets waarteen ons as Christene moet waak. Waarom? Omdat ons ’n ingebore neiging tot selfsug het wat ons van ons voorvader Adam geërf het (Genesis 8:21). Gevolglik kan ons hart ons maklik mislei om weens die verkeerde redes trots te voel. Christene moet byvoorbeeld die neiging weerstaan om trots te voel weens hulle ras, rykdom, geleerdheid, natuurlike vermoëns of werkverrigting in vergelyking met ander. Trots wat uit sulke dinge voortspruit, is ongepas en mishaag Jehovah.—Jeremia 9:23; Handelinge 10:34, 35; 1 Korintiërs 4:7; Galasiërs 5:26; 6:3, 4.

3. Wat is hoogmoed, en wat het Jesus daarvan gesê?

3 Daar is nog ’n rede waarom ongepaste trots verwerp moet word. As ons toelaat dat dit in ons hart wortelskiet, kan dit ontwikkel in ’n uiters veragtelike vorm van trots wat hoogmoed genoem word. Wat is hoogmoed? Behalwe dat ’n hoogmoedige persoon meerderwaardig voel, sien hy ook neer op ander, op dié wat hy of sy as minderwaardig beskou (Lukas 18:9; Johannes 7:47-49). Jesus het “hoogmoed” saam met ander goddelose eienskappe genoem wat “uit die hart” kom en ‘’n mens verontreinig’ (Markus 7:20-23). Christene kan sien hoe noodsaaklik dit is om nie ’n hoogmoedige hart te ontwikkel nie.

4. Hoe kan dit ons help as ons Bybelvoorbeelde van hoogmoed ondersoek?

4 Iets wat jou kan help om hoogmoed te vermy, is om Bybelverslae oor hoogmoedige persone te ondersoek. Dan sal jy beter in staat wees om gevoelens van ongepaste trots te identifiseer wat dalk reeds in jou is of wat mettertyd kan ontwikkel. Dit sal jou help om gedagtes of gevoelens te verwerp wat tot ’n hoogmoedige hart aanleiding kan gee. Gevolglik sal jy nie daaronder ly wanneer God in ooreenstemming met sy waarskuwing optree nie: “Ek [sal] jou hoogmoedige uitgelatenes uit jou verwyder; en jy sal nooit weer hoogmoedig wees op my heilige berg nie.”—Sefanja 3:11.

God tree teen hoogmoediges op

5, 6. Hoe het Farao hoogmoed geopenbaar, en met watter gevolg?

5 Jy kan ook Jehovah se beskouing van hoogmoed sien in die manier waarop hy teen magtige heersers soos Farao opgetree het. Daar bestaan geen twyfel dat Farao ’n hoogmoedige hart gehad het nie. Hy het homself as ’n god beskou wat aanbid moes word en het sy slawe, die Israeliete, verag. Kyk na sy reaksie toe hy gevra is om Israel na die wildernis te laat gaan om vir Jehovah ‘’n fees te vier’. “Wie is Jehovah, dat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur?” was Farao se hoogmoedige antwoord.—Eksodus 5:1, 2.

6 Nadat Farao deur ses plae getref is, het Jehovah vir Moses gesê om Egipte se heerser te vra: “Hou jy jou nog steeds hoogmoedig teen my volk deur hulle nie weg te stuur nie?” (Eksodus 9:17). Daarop het Moses die sewende plaag aangekondig—hael wat die land verwoes het. Toe die Israeliete ná die tiende plaag vry was om te gaan, het Farao van plan verander en hulle agtervolg. Uiteindelik was Farao en sy leër in die Rooi See vasgekeer. Stel jou voor wat deur hulle gedagtes gegaan het toe die water oor hulle begin stroom het! Waartoe het Farao se hoogmoed gelei? Die room van sy krygsmag het gesê: “Laat ons wegvlug van enige kontak met Israel, want Jehovah veg beslis vir hulle teen die Egiptenaars.”—Eksodus 14:25.

7. Hoe het heersers van Babilon hoogmoed geopenbaar?

7 Daar was ook ander hoogmoedige heersers wat deur Jehovah verneder is. Een was Sanherib, die koning van Assirië (Jesaja 36:1-4, 20; 37:36-38). Assirië is uiteindelik deur die Babiloniërs verower, maar twee hoogmoedige Babiloniese konings is ook verneder. Dink aan die fees wat koning Belsasar gehou het waartydens hy en sy koninklike gaste wyn gedrink het uit houers wat uit Jehovah se tempel geneem is en Babilon se gode geloof het. Skielik het die vingers van ’n mensehand verskyn en ’n boodskap op die muur geskryf. Toe die profeet Daniël gevra is om die raaiselagtige skrif te verduidelik, het hy Belsasar hieraan herinner: “Die Allerhoogste God het aan u vader Nebukadnesar die koninkryk . . . gegee. Maar toe sy hart hoogmoedig geword . . . het, is hy van die troon van sy koninkryk afgestoot, en sy waardigheid is van hom weggeneem. . . . En wat u, sy seun Belsasar, betref, u het u hart nie verneder nie, hoewel u dit alles geweet het” (Daniël 5:3, 18, 20, 22). Daardie selfde nag het die Medo-Persiese leër Babilon ingeneem en is Belsasar doodgemaak.—Daniël 5:30, 31.

8. Hoe het Jehovah teen verskeie hoogmoedige manne opgetree?

8 Dink ook aan ander hoogmoedige manne wat Jehovah se volk verag het: die Filistynse reus Goliat, die Persiese eerste minister Haman en koning Herodes Agrippa, wat oor die provinsie Judea geheers het. Omdat hierdie drie manne hoogmoedig was, het God hulle ’n vernederende dood laat sterf (1 Samuel 17:42-51; Ester 3:5, 6; 7:10; Handelinge 12:1-3, 21-23). Die manier waarop Jehovah teen hierdie hoogmoedige manne opgetree het, benadruk hierdie waarheid: “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling” (Spreuke 16:18). Daar bestaan beslis geen twyfel dat ‘God die hoogmoediges teëstaan’ nie.—Jakobus 4:6.

9. Hoe het die konings van Tirus verraderlik opgetree?

9 In teenstelling met die hoogmoedige heersers van Egipte, Assirië en Babilon, het die koning van Tirus eens op ’n tyd hulp verleen aan God se volk. Gedurende die heerskappy van koning Dawid en koning Salomo het hy vaardige vakmanne en materiaal vir koninklike geboue en vir God se tempel voorsien (2 Samuel 5:11; 2 Kronieke 2:11-16). Ongelukkig het die Tiriërs later teen Jehovah se volk gedraai. Waarom het dit gebeur?—Psalm 83:3-7; Joël 3:4-6; Amos 1:9, 10.

“Jou hart het hoogmoedig geword”

10, 11. (a) Wie kan met die konings van Tirus vergelyk word? (b) Wat het die Tiriërs se gesindheid teenoor Israel laat verander?

10 Jehovah het sy profeet Esegiël geïnspireer om Tirus se koningshuis aan die kaak te stel en te veroordeel. Daardie boodskap wat aan “die koning van Tirus” gerig is, bevat uitdrukkings wat pas by die Tiriese koningshuis sowel as die oorspronklike verraaier, Satan, wat “nie in die waarheid vasgestaan [het] nie” (Esegiël 28:12; Johannes 8:44). Satan was eens op ’n tyd ’n lojale geesskepsel in Jehovah se organisasie van hemelse seuns. Jehovah God het deur middel van Esegiël getoon wat die grondliggende oorsaak was van die ontrouheid van die Tiriese koningshuis sowel as van Satan:

11 “In Eden, die tuin van God, was jy. Allerhande edelstene was jou bedekking . . . Jy is die gesalfde gerub wat beskut . . . Jy was onberispelik in jou weë van die dag af dat jy geskep is totdat onregverdigheid in jou gevind is. Weens die oorvloed van jou handelsware het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het begin sondig. En ek sal jou . . . vernietig, o gerub wat beskut . . . Jou hart het hoogmoedig geword weens jou skoonheid. Jy het jou wysheid verderf weens jou stralende prag” (Esegiël 28:13-17). Ja, hoogmoed het Tirus se konings beweeg om gewelddadig teen Jehovah se volk op te tree. Tirus het buitengewoon welvarend geword as ’n handelsentrum en het beroemd geword vir sy pragtige produkte (Jesaja 23:8, 9). Tirus se konings het te veel van hulleself begin dink, en hulle het God se volk begin onderdruk.

12. Wat het tot Satan se verraderlike weg aanleiding gegee, en wat doen hy nog steeds?

12 Net so het die geesskepsel wat Satan geword het, eens op ’n tyd die nodige wysheid besit om enige toewysing uit te voer wat God hom gegee het. In plaas van dankbaar te wees, het hy “opgeblase van trots” geword en God se manier van regeer, begin verag (1 Timoteus 3:6). Hy het soveel van homself gedink dat hy die aanbidding van Adam en Eva begin begeer het. Hierdie goddelose begeerte het vrugbaar geword en sonde gebaar (Jakobus 1:14, 15). Satan het Eva verlei om die vrugte te eet van die enigste boom wat God hulle belet het. Toe het Satan haar gebruik om Adam sover te kry om van die verbode vrugte te eet (Genesis 3:1-6). Sodoende het die eerste mensepaar God se reg om oor hulle te regeer, verwerp en in werklikheid aanbidders van Satan geword. Sy hoogmoed ken geen perke nie. Hy het alle intelligente skepsele in die hemel en op aarde, met inbegrip van Jesus Christus, probeer verlei om hom te aanbid en sodoende Jehovah se soewereiniteit te verwerp.—Matteus 4:8-10; Openbaring 12:3, 4, 9.

13. Watter vrugte is deur hoogmoed voortgebring?

13 Jy kan dus sien dat hoogmoed by Satan ontstaan het; dit is die grondliggende oorsaak van sonde, lyding en verdorwenheid in vandag se wêreld. As “die god van hierdie stelsel van dinge” hou Satan aan om ongepaste gevoelens van trots en hoogmoed te bevorder (2 Korintiërs 4:4). Omdat hy weet dat sy tyd kort is, voer hy oorlog teen ware Christene. Sy doel is om hulle van God af weg te keer, om hulle liefhebbers van hulleself, aanmatigend en hoogmoedig te laat word. Die Bybel het voorspel dat sulke selfsugtige eienskappe in hierdie “laaste dae” algemeen sou wees.—2 Timoteus 3:1, 2, voetnoot in NW; Openbaring 12:12, 17.

14. Volgens watter reël handel Jehovah met sy intelligente skepsele?

14 Wat Jesus Christus betref, hy het die verdorwe vrugte wat deur Satan se hoogmoed voortgebring is, moedig blootgelê. By ten minste drie geleenthede en in die teenwoordigheid van selfvoldane vyande het Jesus die reël neergelê waarvolgens Jehovah met die mensdom handel: “Elkeen wat hom verhef, sal verneder word, maar hy wat hom verneder, sal verhef word.”—Lukas 14:11; 18:14; Matteus 23:12.

Bewaar jou hart teen hoogmoed

15, 16. Wat het Hagar hoogmoedig laat word?

15 Jy het moontlik opgelet dat die voorbeelde van hoogmoed wat hierbo genoem word, van vername manne was. Beteken dit dat gewone mense nie daartoe geneig is om hoogmoedig te word nie? Beslis nie. Kyk na ’n voorval in Abraham se huisgesin. Die aartsvader het nie ’n seun gehad wat sy erfgenaam kon wees nie, en sy vrou, Sara, was te oud om kinders te baar. Dit was gebruiklik vir ’n man in Abraham se situasie om ’n tweede vrou te neem en kinders te verwek. God het sulke huwelike geduld omdat sy tyd nog nie aangebreek het om sy oorspronklike standaard vir die huwelik onder ware aanbidders te herstel nie.—Matteus 19:3-9.

16 Op aandrang van sy vrou het Abraham ingestem om ’n moontlike erfgenaam deur Sara se Egiptiese diensmeisie, Hagar, te verwek. As ’n sekondêre vrou van Abraham het Hagar swanger geword. Sy moes eintlik innig dankbaar gewees het vir die eervolle posisie wat sy gekry het. Maar in plaas daarvan het sy toegelaat dat haar hart hoogmoedig word. Die Bybel sê: “Toe sy agterkom dat sy swanger is, het haar meesteres veragtelik in haar oë geword.” Hierdie gesindheid het soveel onenigheid in Abraham se huisgesin veroorsaak dat Sara vir Hagar weggejaag het. Maar daar was ’n oplossing vir die probleem. God se engel het Hagar hierdie raad gegee: “Keer terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hand” (Genesis 16:4, 9). Hagar het blykbaar hierdie raad gevolg, haar gesindheid teenoor Sara verander en die voorouer van ’n menigte geword.

17, 18. Waarom moet ons almal teen hoogmoed waak?

17 Die geval van Hagar lig toe dat ’n verbeterde situasie tot hoogmoed aanleiding kan gee. Die les is dat selfs ’n Christen wat God met ’n goeie hart gedien het, hoogmoedig kan word wanneer hy rykdom of gesag verkry. Hierdie gesindheid kan ook ontwikkel as ander hom prys vir sy sukses, wysheid of vermoëns. Ja, ’n Christen moet daarop ingestel wees om hoogmoed uit sy hart te hou. Dit is veral waar as hy sukses behaal of meer verantwoordelikheid ontvang.

18 Die kragtigste rede om hoogmoed te vermy, is God se beskouing van hierdie eienskap. Sy Woord sê: “Hoogmoedige oë en ’n trotse hart, die lamp van die goddeloses, is sonde” (Spreuke 21:4). Interessant genoeg, die Bybel se waarskuwing om nie “hooghartig”, of “hoogmoedig”, te wees nie, is in die besonder gerig aan Christene “wat ryk is in die teenswoordige stelsel van dinge” (1 Timoteus 6:17, voetnoot in NW; Deuteronomium 8:11-17). Christene wat nie ryk is nie, moet “’n afgunstige oog” vermy, en hulle moet onthou dat hoogmoed in enigiemand—ryk of arm—kan wortelskiet.—Markus 7:21-23; Jakobus 4:5.

19. Hoe het Ussia sy goeie rekord bederf?

19 Hoogmoed tesame met ander goddelose eienskappe kan ’n goeie verhouding met Jehovah laat skipbreuk ly. Neem byvoorbeeld die eerste deel van koning Ussia se heerskappy: “Hy het bly doen wat reg was in Jehovah se oë . . . En hy het voortdurend daarna gestreef om God te soek . . . ; en in die dae dat hy Jehovah gesoek het, het die ware God hom voorspoedig gemaak” (2 Kronieke 26:4, 5). Maar ongelukkig het koning Ussia sy goeie rekord bederf, want “sy hart [het] so hoogmoedig geword dat dit verderf aangerig het”. Hy het soveel van homself begin dink dat hy in die tempel ingegaan het om reukwerk te offer. Toe die priesters hom gewaarsku het om nie hierdie vermetele daad te pleeg nie, het ‘Ussia woedend geword’. Gevolglik het Jehovah hom met melaatsheid getref, en hy was tot sy dood in onguns by God.—2 Kronieke 26:16-21.

20. (a) Hoe is koning Hiskia se goeie rekord in gevaar gestel? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

20 Jy kan dit met die voorbeeld van koning Hiskia vergelyk. By een geleentheid het die gevaar bestaan dat hierdie koning se uitstekende rekord bederf kon word, want “sy hart het hoogmoedig geword”. Gelukkig het “Hiskia . . . hom verneder in die hoogmoed van sy hart” en weer God se guns verkry (2 Kronieke 32:25, 26). Let daarop dat nederigheid die teenmiddel vir Hiskia se hoogmoed was. Ja, nederigheid is die teenoorgestelde van hoogmoed. Ons sal derhalwe in die volgende artikel bespreek hoe ons Christelike nederigheid kan aankweek en behou.

21. Waarna kan nederige Christene uitsien?

21 Mag ons egter nooit vergeet watter slegte vrugte hoogmoed voortgebring het nie. Aangesien ‘God die hoogmoediges teëstaan’, moet ons vasbeslote wees om gevoelens van ongepaste trots te verwerp. Terwyl ons daarna streef om nederige Christene te wees, kan ons daarna uitsien om God se groot dag te oorleef, wanneer hoogmoediges en die vrugte wat hulle voortbring, van die aarde af verwyder sal word. Dan sal “die hoogmoed van die mens . . . neergebuig word, en die verwaandheid van die manne sal verlaag word; en Jehovah alleen sal in dié dag hoog verhef word”.—Jesaja 2:17.

Punte om oor te peins

• Hoe sou jy ’n hoogmoedige persoon beskryf?

• Waar het hoogmoed ontstaan?

• Wat kan iemand hoogmoedig laat word?

• Waarom moet ons teen hoogmoed waak?

[Prent op bladsy 23]

Farao se hoogmoed het tot sy vernedering gelei

[Prent op bladsy 24]

Hagar se verbeterde posisie het haar hoogmoedig laat word

[Prent op bladsy 25]

Hiskia het hom verneder en weer God se guns verkry

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel