Berei voor vir die Gedenkmaal met ’n vreugdevolle hart
1. Watter spesiale geleentheid bied die Gedenkmaalseisoen ons?
1 Die Gedenkmaal op Dinsdag 26 Maart bied ons ’n uitstekende geleentheid om ons te verheug in God se middel tot redding (Jes. 61:10). Nog voor die komende herdenking sal ’n vreugdevolle gees ons help om goed voorbereid te wees. Hoe so?
2. Wat beweeg ons om vir die Gedenkmaal voor te berei?
2 Berei voor vir die herdenking: Die Here se Aandmaal is ’n belangrike en tog eenvoudige herdenking. Dit verg nogtans goeie vooruitbeplanning sodat belangrike besonderhede nie oor die hoof gesien word nie (Spr. 21:5). Die tyd asook ’n gepaste plek moet gekies word. Die regte embleme moet verkry word. Die vergaderplek moet skoongemaak en gereedgekry word. Die spreker moet goed voorberei, en die bedieners en saalwagters moet georganiseer word. Baie van hierdie reëlings is ongetwyfeld reeds getref. Dankbaarheid vir die reddingskrag van die losprys beweeg ons om goed voor te berei vir hierdie heilige geleentheid.—1 Pet. 1:8, 9.
3. Hoe kan ons ons hart vir die Here se Aandmaal voorberei?
3 Berei jou hart voor: Dit is ook belangrik om ons hart voor te berei sodat ons die volle betekenis van die Gedenkmaal kan begryp (Esra 7:10). Ons moet dus tyd opsy sit om die spesiale Bybelleesgedeelte vir die Gedenkmaal te lees en dan na te dink oor die laaste dae van Jesus se lewe hier op aarde. As ons oor Jesus se selfopofferende gees peins, sal dit ons beweeg om hom na te volg.—Gal. 2:20.
4. Watter voordeel van die losprys gee jou die grootste vreugde?
4 Christus se dood regverdig Jehovah se soewereiniteit. Dit bevry ons van sonde en die dood (1 Joh. 2:2). Dit maak ’n vreedsame verhouding met God sowel as die ewige lewe moontlik (Kol. 1:21, 22). Dit help ons ook om meer vasbeslote te wees om ons toewyding aan Jehovah na te leef en as Christus se dissipels standvastig te bly (Matt. 16:24). Mag julle vreugde toeneem terwyl julle vir die komende Gedenkmaal voorberei en dit bywoon!