Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
19-25 SEPTEMBER
Soek na geestelike skatte
(Psalm 136:15) En wat Farao en sy krygsmag in die Rooi See afgeskud het: Want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd.
it-1-E 783 ¶5
Eksodus
Deur ’n skitterende vertoon van mag het Jehovah dus sy naam verheerlik en Israel bevry. Toe die Israeliete veilig op die oostelike oewer van die Rooi See was, het hulle onder Moses se leiding ’n lied gesing. Terselfdertyd het sy suster, Mirjam, die profetes, ’n tamboeryn in haar hand geneem en al die vroue gelei met tamboeryne en in danse, terwyl sy die mans in wisselsang geantwoord het (Eks 15:1, 20, 21). Dit het ’n algehele skeiding tussen die Israeliete en hulle vyande tot gevolg gehad. Toe die Israeliete uit Egipte getrek het, kon geen dier of mens hulle enige kwaad aandoen nie; ’n hond het nie eers vir hulle geknor of sy tong gretig teen hulle geroer nie (Eks 11:7). Hoewel die verslag in Eksodus nie meld dat Farao self saam met sy strydmag in die see ingegaan het en vernietig is nie, sê Psalm 136:15 wel dat Jehovah “Farao en sy krygsmag in die Rooi See afgeskud het”.
26 SEPTEMBER 2016–2 OKTOBER 2016
Soek na geestelike skatte
(Psalm 150:6) Ja, laat alles wat asemhaal, Jah loof. Loof Jah!
it-2-E 448
Mond
’n Orgaan wat deur God ontwerp is om kos te ontvang en dit voor te berei vir die maag; mense gebruik dit ook om mee te praat. Alle spraak moet lof aan God bring (Ps 34:1; 51:15; 71:8; 145:21). Die psalmis het verklaar dat alles wat asemhaal Jehovah sal loof, en daarom moet mense hulle monde gebruik om dit te doen as hulle graag wil lewe. Die apostel Paulus verduidelik dat dit nie genoeg is om net geloof in God en sy Seun te hê nie, selfs al beoefen jy geloof met jou hart. Om redding te verkry moet dit gepaardgaan met openbare bekendmaking.—Ps 150:6; Ro 10:10.
In ooreenstemming met sy voorneme en sy reg en mag as Skepper, kan Jehovah die regte woorde in die mond van een van sy knegte lê. Dit is hoe hy op ’n wonderdadige wyse sy profete geïnspireer het (Eks 4:11, 12, 15; Jer 1:9). Eenkeer het hy selfs ’n stom dier, ’n esel, laat praat (Nu 22:28, 30; 2Pe 2:15, 16). Vandag kan God se knegte sy woorde in hulle mond hê, nie deur inspirasie nie, maar deur sy geïnspireerde geskrewe Woord, wat hulle ten volle toerus vir elke goeie werk (2Ti 3:16, 17). Hulle hoef nie meer te wag totdat Christus kom om die goeie nuus aan hulle te gee nie en hulle hoef hulle ook nie tot enige ander bron te wend om uit te vind waaroor om te preek nie. Dit is binne hulle bereik, sodat hulle dit bekend kan maak, soos daar vir hulle gesê is: “Die woord is naby jou, in jou eie mond en in jou eie hart.”—Ro 10:6-9; De 30:11-14.
Kan lewe of dood beteken. Gevolglik is die behoorlike gebruik van die mond lewensbelangrik. Jehovah bevestig dit in sy Woord, want dit sê: “Die mond van die regverdige is ’n bron van lewe” (Spr 10:11). Daarom moet die mond sorgvuldig bewaak word (Ps 141:3; Spr 13:3; 21:23), want die dwase misbruik daarvan kan tot die persoon se ondergang lei (Spr 10:14; 18:7). God hou ’n persoon aanspreeklik vir die dinge wat hy uit sy mond laat kom (Mt 12:36, 37). ’n Persoon kan dalk te gou praat en oorhaastig ’n belofte maak (Pr 5:4-6). Hy gebruik dalk vleitaal wat tot iemand se ondergang of tot sy eie veroordeling kan lei (Spr 26:28). Dit is veral belangrik om ’n wag voor jou mond te plaas wanneer jy met ’n goddelose praat. Want deur selfs ’n geringe afwyking van die dinge wat God se wysheid sy knegte lei om te sê, kan ’n mens oneer op God se naam bring en dalk jou eie dood veroorsaak (Ps 39:1). Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel van onderworpenheid aan God se wil sonder om ooit te kla of sy bose teenstanders uit te skel.—Jes 53:7; Han 8:32; 1Pe 2:23.
’n Christen moet voortdurend waaksaam wees, omdat hy onvolmaak is; daarom moet hy sy hart bewaak. Jesus het gesê dat dit nie die dinge is wat in die mond ingaan wat ’n mens onrein maak nie, maar die dinge wat uit die mond uitgaan, “want uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Mt 12:34; 15:11). ’n Mens moet dus versigtig wees om nie iets by jou mond te laat uitkom sonder dat jy daaroor nagedink het en die gevolge daarvan oorweeg het nie. Dit vereis dat ’n mens sy verstand gebruik om die goeie dinge wat hy uit God se Woord geleer het, toe te pas.—Spr 13:3; 21:23.