Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
3-9 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 1-2
“Jesus doen sy eerste wonderwerk”
(Johannes 2:4-11) Maar Jesus het vir haar gesê: “Wat het ek met u te doen, vrou? My uur het nog nie gekom nie.” 5 Sy moeder het vir die dienaars gesê: “Doen wat hy ook al vir julle sê.” 6 En daar het ses waterkruike van klip daar gestaan, soos vereis volgens die reinigingsvoorskrifte van die Jode, wat elk twee of drie vloeistofmate kon hou. 7 Jesus het vir hulle gesê: “Maak die waterkruike vol water.” En hulle het hulle tot aan die rand vol gemaak. 8 En hy het vir hulle gesê: “Skep nou daarvan uit en neem dit na die feesleier toe.” Toe het hulle dit geneem. 9 En toe die feesleier die water proe wat in wyn verander is, maar nie geweet het uit watter bron dit was nie, hoewel die dienaars wat die water uitgeskep het, geweet het, het die feesleier die bruidegom geroep 10 en vir hom gesê: “Elke ander mens sit eers die goeie wyn voor, en wanneer mense dronk is, die minderwaardige. Jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” 11 Jesus het dit in Kana in Galileʹa gedoen as die begin van sy tekens, en hy het sy heerlikheid openbaar gemaak; en sy dissipels het geloof in hom gestel.
jy-E 41 ¶6
Sy eerste wonderwerk
Dit is Jesus se eerste wonderwerk. Wanneer sy nuwe dissipels dit sien, versterk dit hulle geloof. Daarna gaan Jesus, sy ma en sy halfbroers na die stad Kapernaum op die noordwestelike oewer van die See van Galilea.
Soek na geestelike skatte
(Johannes 1:1) In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was ’n god.
Studienotas oor Joh 1:1 in nwtsty
die Woord: Of, “die Logos”. Grieks, ho loʹgos. Dit word hier as ’n titel gebruik, net soos in Joh 1:14 en Op 19:13. Johannes het die een geïdentifiseer aan wie hierdie titel behoort, naamlik Jesus. Hierdie titel het na Jesus verwys gedurende sy voormenslike bestaan as ’n geespersoon, gedurende sy bediening op die aarde as ’n volmaakte mens en nadat hy weer na die hemel teruggegaan het. Jesus was God se Woord, of Woordvoerder, deur wie hy gekommunikeer het. Die Skepper het hom gebruik om vir Sy ander geesseuns en vir mense inligting en instruksies te gee. Daarom is dit redelik om te aanvaar dat Jesus, ’n engel, voordat hy na die aarde toe gekom het, as Jehovah se Woord, of mondstuk, gebruik is om met mense te kommunikeer. — Ge 16:7-11; 22:11; 31:11; Eks 3:2-5; Rig 2:1-4; 6:11, 12; 13:3.
by: Lett., “in die rigting van”. In hierdie konteks gee die Griekse voorsetsel pros die idee van persone wat naby aan mekaar is en wat deelgenote is. Dit wys ook dat dit twee verskillende persone is; in hierdie geval die Woord en die enigste ware God.
die Woord was ’n god: Of, “die Woord was goddelik [of, “’n goddelike een”]”. Hierdie woorde van Johannes beskryf ’n eienskap of kenmerk van “die Woord” (Grieks, ho loʹgos; sien studienota oor die Woord in hierdie vers), dit wil sê Jesus Christus. Die Woord se voortreflike posisie as die eersgebore Seun van God deur wie God alle ander dinge geskep het, is een van die redes waarom hy beskryf word as “’n god; ’n goddelike een; goddelik; ’n goddelike wese”. Baie vertalers vertaal dit as “die Woord was God”. Dit stel Jesus gelyk aan God die Almagtige. Maar Johannes het nie bedoel dat “die Woord” dieselfde as God die Almagtige is nie, en ons sê dit met goeie rede. Eerstens, die voorafgaande sinsdeel en die volgende sinsdeel wys albei duidelik dat “die Woord” “by God” was. Tweedens, die Griekse woord the·osʹ verskyn drie keer in verse 1 en 2. Die bepaalde lidwoord verskyn die eerste en derde keer voor die woord the·osʹ, maar waar the·osʹ die tweede keer gebruik word, is daar geen lidwoord nie. Baie geleerdes stem met mekaar saam dat dit baie belangrik is dat daar nie ’n bepaalde lidwoord voor die tweede the·osʹ is nie. Wanneer die lidwoord in hierdie konteks gebruik word, verwys the·osʹ na God die Almagtige. Maar waar daar geen lidwoord voor die woord the·osʹ is nie, soos in hierdie sinsdeel, het dit ’n kwalitatiewe betekenis en beskryf dit ’n eienskap van “die Woord”. Daarom vertaal ’n hele aantal Bybelvertalings in Duits, Engels en Frans hierdie vers soortgelyk aan die Nuwe Wêreld-vertaling en beskryf dit “die Woord” as “’n god; goddelik, ’n goddelike wese; van goddelike aard”. Ou Bybelvertalings van die Evangelie van Johannes in die Saïdiese en Bohaïriese dialekte van die Koptiese taal, wat waarskynlik in die derde en vierde eeu HJ vertaal is, ondersteun hierdie gedagte. Hulle vertaal die woord the·osʹ in die eerste deel van Joh 1:1 anders as in die tweede deel. Hierdie vertalings beklemtoon ’n eienskap van “die Woord”, dat hy in wese soos God is, maar hulle stel hom nie gelyk aan sy Vader, die almagtige God, nie. In ooreenstemming met hierdie vers sê Kol 2:9 dat Christus “die hele volheid van die goddelike hoedanigheid” het. En volgens 2Pe 1:4 sou selfs Christus se mede-erfgename “deelgenote in die goddelike natuur” word. En in die Septuagint-vertaling is die Griekse woord the·osʹ gewoonlik dieselfde as die Hebreeuse woorde ʼel en ʼelo·himʹ wat vertaal word as “God”, en wat basies die gedagte oordra van “Magtige Een; Sterk Een”. Hierdie Hebreeuse woorde word gebruik in verband met die almagtige God, ander gode en mense. (Sien die studienota oor Joh 10:34.) Die feit dat die Woord “’n god” of “’n magtige een” genoem word, stem ooreen met die profesie in Jes 9:6 waar dit voorspel dat die Messias “Magtige God” (nie “God die Almagtige” nie) genoem sou word, en dat hy die “Ewige Vader” sal wees van almal wat die voorreg sal hê om sy onderdane te wees. Die ywer van sy eie Vader, “Jehovah van die leërs”, sal dit laat gebeur. — Jes 9:7.
(Johannes 1:29) Die volgende dag het hy Jesus na hom toe sien kom, en hy het gesê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
Studienota oor Joh 1:29 in nwtsty
die Lam van God: Nadat Jesus gedoop is en teruggekom het nadat hy deur die Duiwel versoek is, het Johannes die Doper hom as “die Lam van God” bekend gestel. Hierdie uitdrukking verskyn net hier en in Joh 1:36. (Sien sgd, deel 4, bl. 20.) Dit is gepas dat Jesus met ’n lam vergelyk word. Skape is regdeur die Bybel geoffer wanneer mense hulle sondes erken het of met God wou praat. Dit het Jesus se offerande voorgestel waardeur hy sy volmaakte menselewe namens die mensdom sou gee. Die woorde “die Lam van God” kan van toepassing wees op ’n hele aantal dele in die Bybel. Omdat Johannes die Doper die Hebreeuse Geskrifte so goed geken het, het sy woorde dalk een of meer van die volgende bedoel: die manlike skaap wat Abraham in die plek van sy eie seun Isak geoffer het (Ge 22:13), die Pasgalam wat in Egipte geslag is sodat die Israeliete uit slawerny verlos kon word (Eks 12:1-13), of die manlike lam wat elke oggend en aand op God se altaar in Jerusalem geoffer is (Eks 29:38-42). Johannes het dalk ook aan Jesaja se profesie gedink waar die een wat deur Jehovah “my kneg” genoem word “net soos ’n skaap na die slagplek gelei” word (Jes 52:13; 53:5, 7, 11). Toe die apostel Paulus sy eerste brief aan die Korintiërs geskryf het, het hy Jesus “ons pasga”, of Pasgalam, genoem (1Ko 5:7). Die apostel Petrus het gepraat van Christus se “kosbare bloed, soos dié van ’n smetlose en vlekkelose lam” (1Pe 1:19). En in die boek Openbaring word daar meer as 25 keer in figuurlike sin van die verheerlikte Jesus as “die Lam” gepraat. — ’n Paar voorbeelde hiervan is: Op 5:8; 6:1; 7:9; 12:11; 13:8; 14:1; 15:3; 17:14; 19:7; 21:9; 22:1.
10-16 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 3-4
“Jesus getuig vir ’n Samaritaanse vrou”
(Johannes 4:6, 7) Trouens, Jakob se fontein was daar. En Jesus, wat moeg was van die reis, het net soos hy was, by die fontein gesit. Dit was omtrent die sesde uur. 7 ’n Vrou van Samariʹa het gekom om water te skep. Jesus het vir haar gesê: “Gee my ’n bietjie water om te drink.”
Studienota oor Joh 4:6 in nwtsty
moeg was: Dit is die enigste plek in die Bybel waar daar gesê word dat Jesus “moeg was”. Dit was omtrent 12 uur die middag, en daardie oggend het Jesus waarskynlik die reis aangepak van die Jordaanvallei in Judea na Sigar in Samaria, wat ’n steil opdraande van 900 m of meer was. — Joh 4:3-5; sien sgd, deel 4, bl. 20.
(Johannes 4:21-24) Jesus het vir haar gesê: “Vrou, glo my: Die uur kom wanneer julle die Vader nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie. 22 Julle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want redding het sy oorsprong by die Jode. 23 Maar die uur kom, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid. 24 God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid.”
(Johannes 4:39-41) En baie van die Samaritane uit daardie stad het geloof in hom gestel weens die woord van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40 Toe die Samaritane by hom kom, het hulle hom dus begin vra om by hulle te bly; en hy het twee dae daar gebly. 41 Gevolglik het baie meer geglo op grond van wat hy gesê het,
Soek na geestelike skatte
(Johannes 3:29) Hy wat die bruid het, is die bruidegom. Die vriend van die bruidegom ervaar egter groot vreugde weens die stem van die bruidegom wanneer hy staan en hom hoor. Daarom is hierdie vreugde van my volkome gemaak.
Studienota oor Joh 3:29 in nwtsty
Die vriend van die bruidegom: In Bybeltye het iemand wat die bruidegom baie goed geken het as sy wetlike verteenwoordiger opgetree en ’n belangrike rol in die troureëlings gespeel. Hy is beskou as die een wat die bruid en die bruidegom bymekaar gebring het. Op die troudag het die bruidsgevolg na die huis van die bruidegom of na die huis van sy pa gegaan, waar die huweliksfees gehou sou word. Gedurende die fees sou die vriend van die bruidegom baie bly wees wanneer hy die stem van die bruidegom hoor terwyl hy met sy bruid praat, want die vriend sou dan voel dat hy sy plig goed gedoen het. Johannes die Doper het homself vergelyk met die “vriend van die bruidegom”. In hierdie geval was Jesus die bruidegom, en sy dissipels as ’n klas het sy simboliese bruid uitgemaak. Johannes die Doper, wat die weg vir die Messias berei het, het die eerste lede van “die bruid” aan Jesus Christus bekend gestel (Joh 1:29, 35; 2Ko 11:2; Ef 5:22-27; Op 21:2, 9). Wanneer “die vriend van die bruidegom” almal aan mekaar voorgestel het, het hy sy plig gedoen; hy het dan nie meer so ’n groot rol gespeel nie. Daarom het Johannes van homself met betrekking tot Jesus gesê: “Hy moet bly toeneem, maar ek moet bly afneem.” — Joh 3:30.
(Johannes 4:10) Jesus het geantwoord en vir haar gesê: “As jy die vrye gawe van God geken het en geweet het wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee my ’n bietjie water om te drink’, sou jy hom gevra het, en hy sou vir jou lewende water gegee het.”
Studienota oor Joh 4:10 in nwtsty
lewende water: Hierdie Griekse uitdrukking word in ’n letterlike sin gebruik en verwys na die vloeiende water, fonteinwater of vars water in ’n put. Hierdie water kom van fonteine af en dit is anders as staande water in ’n reënput. In Le 14:5 beteken die Hebreeuse uitdrukking vir “lopende water” letterlik “lewende water”. In Jer 2:13 en 17:13 word Jehovah beskryf as “die bron [of, “fontein”] van lewende water”, dit wil sê lewegewende simboliese water. Toe Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat het, het hy die woorde “lewende water” figuurlik gebruik, maar dit lyk asof sy hierdie woorde eers letterlik opgeneem het. — Joh 4:11; sien die studienota oor Joh 4:14.
17-23 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 5-6
“Wees ’n volgeling van Jesus vir die regte rede”
(Johannes 6:9-11) “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het. Maar wat is dit onder so baie?” 10 Jesus het gesê: “LAAT die mense gaan sit soos by ’n maaltyd.” En daar was baie gras op die plek. Die manne het dus gaan sit, omtrent vyfduisend in getal. 11 Toe het Jesus die brode geneem, en nadat hy gedank het, het hy dit uitgedeel aan dié wat daar gesit het, so ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê.
Studienota oor Joh 6:10 in nwtsty
Die manne het dus gaan sit, omtrent vyfduisend in getal: Met hierdie wonderwerk is dit net Matteus se verslag wat byvoeg “buiten die vroue en jong kinders” (Mt 14:21). Dit is moontlik dat baie meer as 15 000 mense deur hierdie wonderwerk kos gekry het.
(Johannes 6:14) Toe die mense derhalwe die tekens sien wat hy gedoen het, het hulle begin sê: “Dit is vir seker die profeet wat in die wêreld sou inkom.”
(Johannes 6:24) Toe die skare dan sien dat nie Jesus of sy dissipels daar is nie, het hulle in hulle bootjies geklim en na Kaperʹnaum gekom om Jesus te soek.
Studienota oor Joh 6:14 in nwtsty
die profeet: In De 18:15, 18 praat dit van ’n profeet soos Moses. Baie Jode in die eerste eeu HJ het verwag dat hierdie profeet die Messias sou wees. In hierdie konteks verwys die uitdrukking in die wêreld sou inkom blykbaar na die verwagte verskyning van die Messias. Net Johannes het geskryf oor die gebeure in hierdie vers.
(Johannes 6:25-27) En toe hulle hom aan die oorkant van die see vind, het hulle vir hom gesê: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?” 26 Jesus het hulle geantwoord en gesê: “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Julle soek my, nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. 27 Moenie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat vir die ewige lewe bly, wat die Seun van die mens julle sal gee; want op hom het die Vader, ja, God, sy seël van goedkeuring gedruk.”
(Johannes 6:54) Hy wat hom met my vlees voed en my bloed drink, het die ewige lewe, en ek sal hom op die laaste dag opwek;
(Johannes 6:60) Daarom het baie van sy dissipels, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is skokkend; wie kan daarna luister?”
(Johannes 6:66-69) As gevolg hiervan het baie van sy dissipels teruggegaan na die dinge wat hulle agtergelaat het en nie meer saam met hom gewandel nie. 67 Daarom het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” 68 Simon Petrus het hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe; 69 en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is.”
Studienotas oor Joh 6:27, 54 in nwtsty
voedsel wat vergaan . . . voedsel wat vir die ewige lewe bly: Jesus het besef dat party mense hom en sy dissipels net gevolg het omdat hulle materiële voordele daaruit kon kry. Mense het elke dag fisiese voedsel nodig om te kan lewe, maar “voedsel” uit God se Woord sal dit vir mense moontlik maak om vir ewig te lewe. Jesus spoor die skare aan om te werk vir “die voedsel wat vir die ewige lewe bly”, dit wil sê, om moeite te doen om geestelike voedsel in te neem en om geloof te stel in wat hulle leer. — Mt 4:4; 5:3; Joh 6:28-39.
wat hom met my vlees voed en my bloed drink: Die konteks wys dat diegene wat eet en drink dit in figuurlike sin doen deur geloof in Jesus Christus te stel (Joh 6:35, 40). Jesus het hierdie woorde in 32 HJ gesê. Hy het dus nie van die Here se Aandmaal gepraat wat hy eers ’n jaar later sou instel nie. Hy het dit gesê net voor “die pasga, die fees van die Jode” (Joh 6:4). Dit sou sy luisteraars herinner aan die naderende fees en hoe belangrik die lam se bloed was om lewens te red die nag toe Israel Egipte verlaat het (Eks 12:24-27). Jesus het beklemtoon dat sy bloed net so belangrik sou wees om dit vir sy dissipels moontlik te maak om die ewige lewe te verkry.
Soek na geestelike skatte
(Johannes 6:44) Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie; en ek sal hom in die laaste dag opwek.
Studienota oor Joh 6:44 in nwtsty
hom trek: Die Griekse werkwoord vir “trek” verwys na visse wat in ’n net getrek word (Joh 21:6, 11), maar dit beteken nie dat God mense teen hulle wil na hom toe trek nie. Hierdie werkwoord kan ook beteken “om aan te trek”, en Jesus se woorde verwys dalk na Jer 31:3 waar Jehovah vir sy eertydse volk gesê het: “Ek [het] jou met liefderyke goedhartigheid getrek.” (Die Septuagint gebruik hier dieselfde Griekse werkwoord.) Net so trek Jesus alle soorte mense na hom toe, soos ons in Joh 12:32 kan sien. Die Bybel wys dat Jehovah mense wilsvryheid gegee het. Almal het die keuse of hulle Hom wil dien of nie (De 30:19, 20). God trek dié wat die regte gesindheid in hulle hart het saggies na hom toe (Ps 11:5; Spr 21:2; Han 13:48). Jehovah doen dit deur die Bybel se boodskap en deur sy heilige gees. Die profesie in Jes 54:13 wat in Joh 6:45 aangehaal word, is van toepassing op diegene wat deur die Vader getrek word. — Vergelyk Joh 6:65.
(Johannes 6:64) Maar daar is party van julle wat nie glo nie.” Want Jesus het van die begin af geweet wie dié was wat nie geglo het nie en wie die een was wat hom sou verraai.
Studienotas oor Joh 6:64 in nwtsty
Jesus het . . . geweet . . . wie die een was wat hom sou verraai: Jesus het van Judas Iskariot gepraat. Jesus het die hele nag tot sy Vader gebid voordat hy die 12 apostels gekies het (Lu 6:12-16). Judas was dus aan die begin getrou aan God. Maar Jesus het die profesieë in die Hebreeuse Geskrifte geken en hy het geweet dat een van sy goeie vriende hom sou verraai (Ps 41:9; 109:8; Joh 13:18, 19). Toe Judas sleg begin word het, het Jesus, wat harte en gedagtes kon lees, agtergekom dat hy begin verander het (Mt 9:4). Deur sy voorkennis te gebruik het God geweet dat een van Jesus se vriende wat hy vertrou het hom sou verraai. Maar God se eienskappe en sy optrede in die verlede wys dat dit onmoontlik is dat Hy besluit het dat Judas die een sou wees wat Jesus sou verraai, asof dit voorbestem was.
van die begin af: Hierdie woorde praat nie van Judas se geboorte nie. Dit praat ook nie van die tyd toe hy as ’n apostel gekies is nie, wat eers gebeur het nadat Jesus die hele nag gebid het (Lu 6:12-16). Dit verwys eerder na die tyd toe Judas bedrieglik begin optree het, iets wat Jesus dadelik agtergekom het. (Joh 2:24, 25; Op 1:1; 2:23; sien die studienotas oor Joh 6:70; 13:11.) Dit wys ook dat Judas lank oor sy optrede gedink en dit beplan het. Dit was nie omdat sy gesindheid skielik verander het nie. Die betekenis van die woord “begin” (Grieks, ar·kheʹ) in die Christelike Griekse Geskrifte is relatief, met ander woorde dit hang af van die konteks. Byvoorbeeld, in 2Pe 3:4 verwys hierdie woord na die begin van die skepping. Maar in die meeste gevalle het dit ’n meer beperkte betekenis. Petrus het byvoorbeeld gesê dat die heilige gees op die heidene geval het “net soos ook op ons in die begin” (Han 11:15). Petrus het hier nie verwys na sy geboorte of na die tyd toe hy as ’n apostel gekies is nie. Hy het eerder verwys na Pinkster 33 HJ, “die begin” van die uitstorting van heilige gees vir ’n spesifieke doel (Han 2:1-4). In Lu 1:2; Joh 15:27 en 1Jo 2:7 is daar nog voorbeelde wat wys hoe die konteks die betekenis van die woord “begin” beïnvloed.
24-30 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | JOHANNES 7-8
Soek na geestelike skatte
(Johannes 8:58) Jesus het vir hulle gesê: “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Voordat Abraham in aansyn gekom het, was ek.”
Studienota oor Joh 8:58 in nwtsty
was ek: Die vyandige Jode wou Jesus stenig omdat hy gesê het dat hy “Abraham gesien” het, al was Jesus, volgens hulle, “nog nie vyftig jaar oud nie” (Joh 8:57). Jesus het hulle geantwoord deur hulle te vertel van sy voormenslike bestaan as ’n magtige geesskepsel in die hemel voordat Abraham gebore was. Party meen dat hierdie vers sê dat Jesus God is. Hulle redenasie is dat die Griekse uitdrukking wat hier gebruik word, e·goʹ ei·miʹ (wat in party Bybels as “is ek” vertaal word) na die Septuagint se weergawe van Eks 3:14 verwys, en dat albei verse dieselfde vertaal moet word. (Sien studienota oor Joh 4:26.) Maar in hierdie konteks het die aksie wat deur die Griekse werkwoord ei·miʹ uitgedruk word, begin “voordat Abraham in aansyn gekom het” en was dit steeds aan die gang. Dit word dus tereg vertaal as “was ek” in plaas van “is ek”, en ’n hele aantal ou en moderne vertalings gebruik woorde soortgelyk aan “was ek”. En in Joh 14:9 word dieselfde vorm van die Griekse werkwoord ei·miʹ gebruik vir Jesus se woorde: “Was ek so ’n lang tyd by julle, en tog het jy my nie leer ken nie, Filippus?” Die meeste vertalings gebruik soortgelyke bewoording, wat wys dat dit glad nie taalkundig verkeerd is wanneer ei·miʹ, na gelang van die konteks, as “was ek” vertaal word nie. (In Lu 2:48; 13:7; 15:29; Joh 1:9; 5:6; 15:27; Han 15:21; 2Kor 12:19 en 1Jo 3:8 is daar nog voorbeelde wat wys hoe ’n Griekse werkwoord in die teenwoordige tyd vertaal word deur middel van ’n werkwoord in die voltooide teenwoordige tyd.) Jesus se woorde in Joh 8:54, 55 wys ook dat hy nie probeer sê het dat hy sy Vader is nie.