Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
6-12 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 6-7
“Nou sal jy sien wat ek aan Farao sal doen”
(Eksodus 6:1) Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Nou sal jy sien wat ek aan Farao sal doen. ’n Magtige hand sal hom dwing om hulle weg te stuur, en ’n magtige hand sal hom dwing om hulle uit sy land uit te dryf.”
(Eksodus 6:6, 7) “Daarom moet jy vir die Israeliete sê: ‘Ek is Jehovah, en ek sal julle bevry van die onderdrukking van die Egiptenare en van julle slawerny aan hulle, en ek sal julle met ’n uitgestrekte arm en met groot oordele verlos. 7 Ek sal julle as my volk neem, en ek sal julle God wees, en julle sal beslis weet dat ek Jehovah is, julle God wat julle bevry van die onderdrukking van Egipte.
it-2-E 436 ¶3
Moses
Daar was ook ’n duidelike verandering in die manne van Israel. In die begin het hulle Moses se kwalifikasies aanvaar, maar nadat Farao hulle onder moeiliker omstandighede laat werk het, het hulle baie teen Moses gekla. Dit het Moses so mismoedig gemaak dat hy vir Jehovah gevra het wat hy moet doen (Eks 4:29-31; 5:19-23). Die Allerhoogste het hom toe versterk deur vir hom te sê dat hy dit waarna Abraham, Isak en Jakob uitgesien het nou gaan vervul, dat hy die betekenis van sy naam, Jehovah, bekend sou maak deur Israel te red en Israel ’n groot nasie te maak in die land wat hy aan hulle beloof het (Eks 6:1-8). Die manne van Israel het toe nog steeds nie na Moses geluister nie. Maar nou, na die negende plaag, het hulle hom heeltemal ondersteun en met hom saamgewerk sodat hy hulle ná die tiende plaag “ordelik, soos groepe soldate” kon organiseer en uitlei. – Eks 13:18.
(Eksodus 7:4, 5) Maar Farao sal nie na julle luister nie, en ek sal my hand teen Egipte moet oplig en my menigtes, my volk, die Israeliete, met groot oordele uit Egipte moet uitlei. 5 En die Egiptenare sal beslis weet dat ek Jehovah is wanneer ek my hand teen Egipte uitstrek en die Israeliete onder hulle uitlei.”
it-2-E 436 ¶1-2
Moses
Voor Farao van Egipte. Moses en Aäron het nou ’n baie belangrike rol gespeel in ’n ‘stryd van die gode’. Deur die towerpriesters te laat roep, waarvan die hoofde heel moontlik Jannes en Jambres was (2Ti 3:8), het Farao die krag van al die gode in Egipte bymekaargemaak om teen Jehovah se krag te stry. Die eerste wonderwerk wat Aäron onder Moses se leiding voor Farao gedoen het, het bewys dat Jehovah magtiger is as die gode van Egipte. Tog het Farao nog hardkoppiger geword (Eks 7:8-13). Later, met die derde plaag, moes selfs die priesters erken: “Dit is die vinger van God!” En hulle was so erg getref deur die plaag van swere dat hulle nie eers na Farao toe kon gaan om Moses gedurende daardie plaag teë te staan nie. – Eks 8:16-19; 9:10-12.
Die plae maak party sagter en ander harder. Moses en Aäron het elkeen van die Tien Plae aangekondig. Soos daar gesê is, het die plae gekom en dit het bewys dat Moses as Jehovah se verteenwoordiger aangestel was. Jehovah se naam was in Egipte bekendgemaak en mense het baie daaroor gepraat, en dit het veroorsaak dat party ’n sagte gesindheid en ander ’n harde gesindheid teenoor daardie naam ontwikkel het. Die Israeliete en party van die Egiptenare het ’n sagte gesindheid ontwikkel, maar Farao en sy raadgewers en ondersteuners het ’n harde gesindheid ontwikkel (Eks 9:16; 11:10; 12:29-39). In plaas daarvan om te glo dat hulle hulle gode kwaad gemaak het, het die Egiptenare geweet dat dit Jehovah was wat besig was om hulle gode te oordeel. En teen die tyd dat die negende plaag begin het, het Moses ’n “hoogs gerespekteerde man in Egipte geword onder Farao se knegte en onder die volk”. – Eks 11:3.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 6:3) Ek het altyd aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige, maar wat my naam Jehovah betref, ek het my nie deur middel daarvan aan hulle geopenbaar nie.
it-1-E 78 ¶3-4
Die Almagtige
Jehovah het die titel “God die Almagtige” (ʼEl Shad·daiʹ) gebruik toe hy die belofte oor Isak se geboorte aan Abraham gemaak het. Abraham moes sterk geloof hê om te glo dat God die krag het om daardie belofte te vervul. Die woorde “God die Almagtige” was daarna gebruik toe daar van God gepraat was as die een wat vir Isak en Jakob sou seën as erfgename van die Abrahamitiese verbond. – Ge 17:1; 28:3; 35:11; 48:3.
In ooreenstemming hiermee kon Jehovah later vir Moses sê: “Ek het altyd aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige [beʼElʹ Shad·daiʹ], maar wat my naam Jehovah betref, ek het my nie deur middel daarvan aan hulle geopenbaar nie” (Eks 6:3). Dit kon nie beteken dat hierdie aartsvaders nie geweet het wat Jehovah se naam is nie omdat hulle, en ander voor hulle, gereeld daardie naam gebruik het (Ge 4:1, 26; 14:22; 27:27; 28:16). Om die waarheid te sê, in die boek Genesis, wat vir ons van die lewens van die aartsvaders vertel, word die woorde “die Almagtige” net 6 keer gebruik, maar die persoonlike naam Jehovah is 172 keer in die oorspronklike Hebreeuse teks neergeskryf. Maar al het hierdie aartsvaders deur persoonlike ondervinding verstaan dat God die reg en kwalifikasies het om die titel “die Almagtige” te hê, het hulle nie die geleentheid gehad om die volle betekenis van sy persoonlike naam Jehovah te verstaan nie. The Illustrated Bible Dictionary (Vol. 1, bl. 572) sê hieroor: “Die vorige bekendmaking aan die aartsvaders het gegaan oor beloftes wat eers later in die toekoms vervul sou word; die doel daarvan was om hulle te verseker dat hy, Jahweh, ’n God (ʼel) is wat die vermoë het (een moontlike betekenis van sadday) om sy beloftes te vervul. Die bekendmaking by die bos was groter en intiemer; God se krag en sy onmiddellike en aanhoudende teenwoordigheid by hulle – alles saamgevat in die bekende naam Jahweh.” – Geredigeer deur J. D. Douglas, 1980.
(Eksodus 7:1) Jehovah het toe vir Moses gesê: “Kyk, ek het jou soos God gemaak vir Farao, en jou eie broer Aäron sal jou profeet word.
it-2-E 435 ¶5
Moses
Die feit dat Moses bang was, het hom nie gediskwalifiseer nie. Maar Moses was bang en het gesê dat hy nie vlot kan praat nie. Moses was nou ’n ander mens, heel anders as 40 jaar gelede toe hy uit sy eie gesê het dat hy Israel sal verlos. Hy het aangehou om met Jehovah teë te praat en het Jehovah uiteindelik gevra om hom nie te stuur nie. Al het God kwaad geword, het hy Moses nie verwerp nie en het hy Moses se broer Aäron as ’n woordvoerder gestuur. Omdat Moses God verteenwoordig het, het Moses “soos God” vir Aäron geword wat namens hom gepraat het. Dit lyk asof God vir Moses instruksies en bevele gegee het toe hy daarna met die ouer manne van Israel en later met Farao moes gaan praat. Moses het dit toe aan Aäron oorgedra sodat Aäron die eintlike praatwerk kon doen voor Farao (’n opvolger van die Farao van wie Moses 40 jaar tevore af weggevlug het) (Eks 2:23; 4:10-17). Later het Jehovah van Aäron as Moses se “profeet” gepraat, en dit het beteken dat net soos Moses God se profeet was en na God moes luister, moes Aäron ook na Moses luister. Daar was ook vir Moses gesê dat hy “soos God . . . vir Farao” gemaak sou word, wat beteken het dat hy goddelike gesag en krag oor Farao sou kry. So daar was nou geen rede vir hom om bang te wees vir die koning van Egipte nie. – Eks 7:1, 2.
13-19 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 8-9
“Die trotse Farao het nie besef dat hy eintlik help om God se doel te bereik nie”
(Eksodus 8:15) Toe Farao sien dat daar verligting is, het hy sy hart verhard, en hy het geweier om na hulle te luister, net soos Jehovah gesê het.
it-2-E 1040-1041
Hardkoppigheid
Wanneer dit by mense kom, was Jehovah God nog altyd geduldig en het hy individue en nasies toegelaat om te bly lewe al het hulle die dood verdien (Ge 15:16; 2Pe 3:9). Terwyl party positief gereageer het deur te doen wat nodig was om God se genade te kry (Jos 2:8-14; 6:22, 23; 9:3-15), het ander hulleself nog meer teen Jehovah en sy volk verhard (De 2:30-33; Jos 11:19, 20). Aangesien Jehovah nie keer dat mense hardkoppig word nie, word daar van hom gesê dat hy ‘toelaat dat hulle hardkoppig word’ of ‘hulle hart hard maak’. Wanneer hy uiteindelik wraak neem teen die hardkoppiges wys dit sy groot krag en word sy naam bekendgemaak. – Vergelyk Eks 4:21; Joh 12:40; Ro 9:14-18.
(Eksodus 8:18, 19) Die towerpriesters het dieselfde probeer doen en muggies deur hulle geheime kunste probeer voortbring, maar hulle kon dit nie doen nie. En die muggies het op mens en dier gekom. 19 Die towerpriesters het dus vir Farao gesê: “Dit is die vinger van God!” Maar Farao het hardkoppig gebly, en hy het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah gesê het.
(Eksodus 9:15-17) Want ek kon my hand nou al uitgesteek het om jou en jou volk met ’n verwoestende plaag te tref, en jy sou van die aarde af uitgewis gewees het. 16 Maar om dié rede het ek jou nog laat bestaan: sodat ek jou my krag kan wys en sodat my naam oor die hele aarde bekend gemaak kan word. 17 Hou jy jou nog steeds hoogmoedig teenoor my volk deur hulle nie weg te stuur nie?
it-2-E 1181 ¶3-5
Goddeloosheid
Jehovah God gebruik omstandighede ook op so ’n manier dat die goddeloses hom help om sy doel te bereik sonder dat hulle dit besef. Al staan hulle God teë, kan hy hulle beperk sodat hy sy lojale knegte kan bewaar en hy kan maak dat die optrede van selfs sulke mense wys hoe regverdig hy is (Ro 3:3-5, 23-26; 8:35-39; Ps 76:10). Hierdie gedagte word genoem in Spreuke 16:4: “Jehovah laat alles tot sy voorneme bydra, selfs die goddeloses op die dag van rampspoed.”
’n Goeie voorbeeld hiervan is toe Jehovah deur Moses en Aäron vir Farao gesê het om die Israeliete uit slawerny vry te laat. God het nie hierdie Egiptiese heerser goddeloos gemaak nie, maar hy het toegelaat dat hy bly lewe en het dinge so laat gebeur dat ’n mens duidelik kon sien dat Farao goddeloos is en dat hy die dood verdien. Eksodus 9:16 wys vir ons wat Jehovah se rede daarvoor is: “Om dié rede het ek jou nog laat bestaan: sodat ek jou my krag kan wys en sodat my naam oor die hele aarde bekend gemaak kan word.”
Die Tien Plae wat oor Egipte gebring is, het ’n hoogtepunt bereik toe Farao en sy leërmag in die Rooisee vernietig is. Dit was ’n indrukwekkende bewys van Jehovah se krag (Eks 7:14–12:30; Ps 78:43-51; 136:15). Vir jare daarna het die nasies om hulle nog steeds daaroor gepraat, en God se naam is so oor die hele aarde bekendgemaak (Jos 2:10, 11; 1Sa 4:8). As Jehovah Farao dadelik doodgemaak het, sou so ’n groot daad nie moontlik gewees het nie, maar nou het dit Sy krag gewys, Hom verheerlik en Sy volk gered.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 8:21) Maar as jy nie my volk wegstuur nie, sal ek steekvlieë na jou, jou knegte, jou volk en jou huise stuur. Die huise van Egipte sal vol steekvlieë wees, en hulle sal selfs die grond bedek waarop die Egiptenare staan.
it-1-E 878
Steekvlieë
Daar is onsekerheid oor die spesifieke insek waarna die oorspronklike Hebreeuse woord in die Bybel verwys wanneer dit van die vierde plaag praat wat oor Egipte gekom het. Dit was die eerste plaag wat nie die Israeliete in Gosen geraak het nie (Eks 8:21, 22, 24, 29, 31; Ps 78:45; 105:31). ʽA·rovʹ is al vertaal as “steekvlieë” (JB, NW, Ro), “kewer” (Yg), “vlieë” (AS, KJ, RS), “muggies” (AT) en “hondevlieg” (LXX).
Die Engelse woord “steekvlieë” verwys na verskillende soorte perdevlieë en botvlieë. Vroulike perdevlieë steek ’n gaatjie in die vel van diere en mense en suig dan hulle bloed. In die larwestadium lewe botvlieë as parasiete in die liggame van diere en mense; dié wat in mense lewe, word in die trope gevind. So, ’n plaag van steekvlieë sou veroorsaak dat die Egiptenare en hulle diere baie swaarkry en in party gevalle selfs sou doodgaan.
20-26 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 10-11
“Moses en Aäron wys dat hulle baie moedig is”
(Eksodus 10:24-26) Farao het Moses toe geroep en gesê: “Gaan, dien Jehovah. Net julle skape en julle beeste moet agterbly. Selfs julle kinders mag saam met julle gaan.” 25 Maar Moses het gesê: “U moet ook vir ons offerandes en brandoffers gee, en ons sal dit aan Jehovah ons God offer. 26 Ons vee sal ook saam met ons gaan. Nie ’n dier mag agterbly nie, want ons sal van die diere gebruik om Jehovah ons God te aanbid, en ons weet nie wat ons in aanbidding aan Jehovah sal offer totdat ons daar aankom nie.”
(Eksodus 10:28) Farao het vir hom gesê: “Maak dat jy wegkom! Moet dit nie waag om weer voor my te verskyn nie, want die dag dat jy weer hiernatoe kom, sal jy sterf.”
(Eksodus 11:4-8) Moses het toe gesê: “Dít is wat Jehovah gesê het: ‘Omtrent middernag sal ek deur Egipte gaan, 5 en elke eersgeborene in Egipte sal sterf, van die eersgeborene van Farao wat op sy troon sit tot die eersgeborene van die slavin wat by die handmeul werk, en elke eersgeborene van die vee. 6 Regoor Egipte sal daar ’n groot gehuil wees, soos daar nog nooit vantevore was nie en nooit weer sal wees nie. 7 Maar nie eers ’n hond sal vir die Israeliete of hulle vee blaf nie, sodat julle kan weet dat Jehovah ’n onderskeid kan maak tussen die Egiptenare en die Israeliete.’ 8 En al u knegte sal beslis na my toe kom en voor my neerbuig en sê: ‘Gaan, jy en almal wat jou volg.’ En daarna sal ek vertrek.” Toe het hy woedend van Farao af weggegaan.
it-2-E 436 ¶4
Moses
Moed en geloof was nodig om voor Farao te staan. Dit was net omdat Jehovah hulle die krag gegee het en omdat sy heilige gees hulle gehelp het dat Moses en Aäron die werk kon doen wat Jehovah vir hulle gegee het. Dink aan die hof van Farao. Hy was die koning van Egipte wat oral bekend was as die wêreldmag van daardie tyd. In hierdie hof was daar prag en glans wat nêrens anders gesien kon word nie; die trotse Farao, wat self as ’n god beskou is, omring deur sy raadgewers, militêre bevelvoerders, wagte en slawe. Daar was ook die godsdiensleiers, die towerpriesters, wat Moses veral teëgestaan het. Buiten Farao was hulle die magtigste manne in Egipte. Hierdie hele indrukwekkende versameling was bedoel om Farao te help om die gode van Egipte te ondersteun. En Moses en Aäron het nie net eenkeer nie, maar baie keer voor Farao gekom; en Farao se hart het elke keer harder geword omdat hy vasbeslote was om nie sy waardevolle Hebreeuse slawe te laat gaan nie. Om die waarheid te sê, nadat Moses en Aäron gesê het wat die agtste plaag gaan wees, is hulle van Farao af weggejaag, en ná die negende plaag het Farao vir hulle gesê om nie weer voor hom te verskyn nie anders sou hulle sterf. – Eks 10:11, 28.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 11:7) Maar nie eers ’n hond sal vir die Israeliete of hulle vee blaf nie, sodat julle kan weet dat Jehovah ’n onderskeid kan maak tussen die Egiptenare en die Israeliete.’
it-1-E 783 ¶5
Eksodus
Jehovah het op ’n buitengewone manier sy krag gewys en so sy naam verheerlik en Israel gered. Toe hulle veilig aan die oostekant van die Rooisee was, het Moses en die manne van Israel ’n lied gesing terwyl sy suster Mirjam, die profetes, ’n tamboeryn in haar hand gevat het, en al die vrouens het haar gevolg met tamboeryne en met danse en het gesing in antwoord op die manne se lied (Eks 15:1, 20, 21). Israel was nou heeltemal afgesny van hulle vyande. Toe hulle uit Egipte uitgegaan het, is geen mens of dier toegelaat om hulle seer te maak nie; nie eers ’n hond het vir die Israeliete gegrom of geblaf nie (Eks 11:7). Al sê Eksodus nie dat Farao saam met sy leërmag in die see ingegaan en vernietig is nie, sê Psalm 136:15 dat Jehovah “Farao en sy leërmag in die Rooisee afgeskud” het.
27 JULIE–2 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | EKSODUS 12
“Die Pasga – Wat dit vir Christene beteken”
(Eksodus 12:12, 13) Want ek sal in hierdie nag deur Egipte gaan en elke eersgeborene in Egipte doodmaak, mens sowel as dier. Ek sal al die gode van Egipte oordeel en straf. Ek is Jehovah. 13 Die bloed sal dien as julle teken op die huise waarin julle is, en ek sal die bloed sien en by julle verbygaan, en die plaag sal nie oor julle kom om julle te vernietig wanneer ek Egipte tref nie.
it-2-E 583 ¶6
Die Pasga
Sekere kenmerke van die Pasgaviering is deur Jesus vervul. Een manier hoe hy dit gedoen het, is deur die feit dat die bloed aan die huise in Egipte die eersgeborenes gered het toe God se engel gekom het om hulle dood te maak. Paulus noem gesalfde Christene die gemeente van die eersgeborenes (Heb 12:23), en hy noem Christus hulle redder deur sy bloed (1Te 1:10; Ef 1:7). Geen bene van die Pasgalam moes gebreek word nie. Daar was voorspel dat nie een van Jesus se bene gebreek sou word nie, en dit was vervul by sy dood (Ps 34:20; Joh 19:36). So, die Pasga wat vir eeue lank deur die Jode gehou is, was een van daardie dinge van die Wet wat ’n skaduwee van die toekomstige dinge was en wat gewys het na Jesus Christus as “die Lam van God”. – Heb 10:1; Joh 1:29.
Soek na geestelike skatte
(Eksodus 12:12) Want ek sal in hierdie nag deur Egipte gaan en elke eersgeborene in Egipte doodmaak, mens sowel as dier. Ek sal al die gode van Egipte oordeel en straf. Ek is Jehovah.
it-2-E 582 ¶2
Die Pasga
Die Tien Plae wat oor Egipte gekom het, was almal ’n oordeel teen die gode van Egipte, veral die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes (Eks 12:12). Omdat die ram (manlike skaap) heilig was vir die god Ra, was dit soos godslastering in die oë van die Egiptenare toe die bloed van die Pasgalam op die deurposte gespat is. Die bul was ook heilig, en die vernietiging van die eersgeborenes van die bulle sou soos ’n klap in die gesig wees vir die god Osiris. Farao self was vereer as ’n seun van Ra. Die dood van Farao se eie eersgeborene sou wys hoe magteloos Ra en Farao is.
(Eksodus 12:14-16) “‘Julle moet hierdie dag herdenk, en julle moet in al julle geslagte ’n fees vir Jehovah vier op hierdie dag. Dit is ’n permanente wetsbepaling dat julle hierdie dag vier. 15 Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet. Ja, op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder, want elkeen wat van die eerste dag af tot die sewende dag toe iets eet wat met suurdeeg gemaak is, moet doodgemaak word en so uit Israel verwyder word. 16 Op die eerste dag sal julle ’n heilige byeenkoms hou, en op die sewende dag nog ’n heilige byeenkoms. Geen werk moet op hierdie dae gedoen word nie. Julle mag net die kos voorberei wat elkeen nodig het.
it-1-E 504 ¶1
Byeenkoms
’n Unieke kenmerk van al hierdie “heilige byeenkomste” was dat die mense geen harde werk in daardie tyd moes doen nie. Byvoorbeeld, die eerste en sewende dae van die Fees van die Ongesuurde Brode was “heilige byeenkomste” waarvan Jehovah gesê het: “Geen werk moet op hierdie dae gedoen word nie. Julle mag net die kos voorberei wat elkeen nodig het” (Eks 12:15, 16). Maar gedurende “heilige byeenkomste” was die priesters besig met offerandes aan Jehovah (Le 23:37, 38). Dit was glad nie in stryd met Jehovah se opdrag om geen normale, daaglikse werk te doen nie. By hierdie geleenthede het die res van die volk nie net rondgesit en niks gedoen nie, want hulle het baie geestelike voordele geniet. Op die weeklikse Sabbatdag het die mense bymekaargekom om te aanbid en om geleer te word. Hulle is dan geestelik opgebou wanneer God se geskrewe Woord gelees en verduidelik is, soos dit later ook in die sinagoges gedoen is (Han 15:21). Daarom, al het die mense nie harde werk op die Sabbatdag of gedurende die ander “heilige byeenkomste” gedoen nie, sou hulle hulle tyd gebruik om te bid en te peins oor die Skepper en dit wat hy gaan doen. – Sien “ASSEMBLY” in it-1-E.