Verwerp “waardelose dinge”
“Wie waardelose dinge najaag, het nie ’n verstandige hart nie.”—SPR. 12:11.
1. Wat is party van ons waardevolle dinge, en wat is die beste manier om dit te gebruik?
AS Christene besit ons almal waardevolle dinge van die een of ander aard. Dit kan ’n mate van gesondheid en krag, aangebore verstandelike vermoëns of finansiële middele insluit. Omdat ons Jehovah liefhet, gebruik ons hierdie dinge met graagte in sy diens en gee ons sodoende gehoor aan die geïnspireerde aansporing: “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge.”—Spr. 3:9.
2. Watter waarskuwing gee die Bybel oor waardelose dinge, en hoe is hierdie waarskuwing letterlik van toepassing?
2 Maar die Bybel praat ook van waardelose dinge en waarsku ons om nie ons middele in die najaging daarvan te verkwis nie. Kyk in hierdie opsig na die woorde van Spreuke 12:11: “Wie sy grond bewerk, sal met brood versadig word, maar wie waardelose dinge najaag, het nie ’n verstandige hart nie.” Dit is nie moeilik om te sien hoe hierdie spreuk letterlik van toepassing is nie. As ’n man sy tyd en energie gebruik om hard te werk om vir sy gesin te sorg, staan hy ’n goeie kans om ’n redelike mate van veiligheid te geniet (1 Tim. 5:8). Maar as hy sy middele verkwis in die najaging van waardelose dinge, toon hy dat hy “nie ’n verstandige hart [het] nie”, oftewel nie goeie oordeel en goeie beweegredes het nie. So ’n man sal heel waarskynlik gebrek ly.
3. Hoe is die Bybel se waarskuwing oor waardelose dinge op ons aanbidding van toepassing?
3 Maar gestel ons pas die beginsel van die spreuk op ons aanbidding toe. Dan sien ons dat ’n Christen wat Jehovah ywerig en getrou dien, ware veiligheid geniet. Hy kan seker wees dat God hom nou sal seën en hy het ’n onwankelbare hoop vir die toekoms (Matt. 6:33; 1 Tim. 4:10). Maar ’n Christen wie se aandag deur waardelose dinge afgelei word, stel sy verhouding met Jehovah en sy vooruitsigte op die ewige lewe in gevaar. Hoe kan ons dit voorkom? Ons moet onderskei watter dinge in ons lewe ‘waardeloos’ is en vasbeslote wees om dit te verwerp.—Lees Titus 2:11, 12.
4. In ’n breë sin, wat is waardelose dinge?
4 Wat is waardelose dinge? In ’n breë sin kan dit enigiets wees wat ons aandag aflei sodat ons Jehovah nie heelhartig dien nie. Dit kan byvoorbeeld verskillende vorme van ontspanning insluit. Ontspanning het natuurlik sy plek. Maar wanneer ons te veel tyd aan “pret” bestee ten koste van bedrywighede wat met ons aanbidding verband hou, word ontspanning ’n waardelose ding, wat ons geestelike welsyn benadeel (Pred. 2:24; 4:6). Om dit te voorkom, moet ’n Christen leer om gebalanseerd te wees en noukeurig let op hoe hy sy waardevolle tyd bestee. (Lees Kolossense 4:5.) Daar is egter waardelose dinge wat baie gevaarliker is as ontspanning. Een hiervan is valse gode.
Verwerp waardelose gode
5. Hoe pas die Bybel dikwels die woord “waardeloos” toe?
5 Interessant genoeg, in die meeste Bybelverse waar die woord “waardeloos” gebruik word, word dit op valse gode toegepas. Jehovah het byvoorbeeld vir Israel gesê: “Julle mag vir julle geen waardelose gode maak nie, en julle mag vir julle geen gesnede beeld of heilige pilaar oprig nie, en julle mag geen klip as ’n vertoonstuk in julle land sit om julle daarvoor neer te buig nie” (Lev. 26:1). Koning Dawid het geskryf: “Jehovah is groot en baie lofwaardig, en hy moet meer as alle ander gode gevrees word. Want al die gode van die volke is waardelose gode. Wat Jehovah betref, hy het die hemele gemaak.”—1 Kron. 16:25, 26.
6. Waarom is valse gode waardeloos?
6 Soos Dawid getoon het, is ons omring deur bewyse van Jehovah se grootheid (Ps. 139:14; 148:1-10). Wat ’n voorreg was dit tog vir die Israeliete om in ’n verbondsverhouding met Jehovah te wees! Hoe dwaas was dit tog van hulle om hulle van hom af te keer en hulle voor gesnede beelde en heilige pilare neer te buig! In krisistye was hulle valse gode werklik waardeloos, magteloos om hulleself te red, wat nog te sê hulle aanbidders.—Rigt. 10:14, 15; Jes. 46:5-7.
7, 8. Hoe kan “Rykdom” soos ’n god word?
7 In baie lande buig mense hulle vandag nog steeds voor mensgemaakte beelde neer, en hierdie gode is nou nog net so nutteloos as wat hulle in die verlede was (1 Joh. 5:21). Maar die Bybel beskryf ander dinge benewens beelde as gode. Beskou byvoorbeeld hierdie woorde van Jesus: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.”—Matt. 6:24.
8 Hoe kan “Rykdom” soos ’n god word? Wel, dink byvoorbeeld aan ’n klip wat in eertydse Israel in die veld gelê het. Hierdie klip kon gebruik word om ’n huis of ’n muur te bou. Maar indien dit as ’n “heilige pilaar” of as “’n vertoonstuk” gebruik is, het dit ’n struikelblok vir Jehovah se volk geword (Lev. 26:1). Net so het geld sy plek. Ons het dit nodig om ons te onderhou, en ons kan dit goed gebruik in Jehovah se diens (Pred. 7:12; Luk. 16:9). Maar as ons die najaging van geld bo ons Christelike diens stel, word geld in werklikheid vir ons ’n god. (Lees 1 Timoteus 6:9, 10.) In hierdie wêreld, waar die najaging van finansiële gewin vir mense so belangrik is, moet ons seker maak dat ons ’n gebalanseerde beskouing in hierdie opsig behou.—1 Tim. 6:17-19.
9, 10. (a) Hoe beskou ’n Christen opvoeding? (b) Watter gevaar hou hoër onderwys in?
9 Nog ’n voorbeeld van iets nuttigs wat ’n waardelose ding kan word, is sekulêre opvoeding. Ons wil hê dat ons kinders ’n goeie opvoeding moet ontvang sodat hulle ’n bestaan kan maak. Nog belangriker, ’n Christen met ’n goeie opvoeding is beter in staat om die Bybel met begrip te lees, om oor probleme te redeneer en goeie gevolgtrekkings te maak en om Bybelwaarhede op ’n duidelike en oortuigende wyse aan ander te leer. Dit neem tyd om ’n goeie opvoeding te kry, maar dit is tyd wat goed bestee word.
10 Maar wat van hoër onderwys, wat by ’n kollege of ’n universiteit ontvang word? Die algemene beskouing is dat dít noodsaaklik is vir sukses. Maar baie wat sulke opleiding nastreef, sit op die ou end met ’n kop vol skadelike propaganda. Sulke opleiding verkwis waardevolle jeugjare wat ten beste in Jehovah se diens gebruik kan word (Pred. 12:1). Dit is miskien nie verbasend nie dat mense in lande waar baie sulke opleiding ontvang het, minder geloof in God het as ooit tevore. In plaas van op die gevorderde onderwysstelsels van hierdie wêreld staat te maak vir veiligheid, vertrou ’n Christen op Jehovah.—Spr. 3:5.
Moenie toelaat dat vleeslike begeertes ’n god word nie
11, 12. Waarom het Paulus van party gesê: “Hulle god is hulle buik”?
11 In sy brief aan die Filippense wys die apostel Paulus op iets anders wat ’n god kan word. Hy praat van party wat vroeër medeaanbidders was en sê: “Daar is baie, ek het hulle dikwels genoem, maar nou noem ek hulle ook met gehuil, wat as die vyande van die folterpaal van die Christus wandel, en hulle einde is vernietiging, en hulle god is hulle buik, . . . en hulle verstande is gerig op dinge op die aarde” (Fil. 3:18, 19). Hoe kan ’n mens se maag, of buik, ’n god wees?
12 Vir daardie kennisse van Paulus het ’n begeerte om vleeslike begeertes na te jaag, blykbaar belangriker geword as om Jehovah saam met Paulus te dien. Party het miskien letterlik soveel geëet of gedrink dat hulle hulle aan vraatsug of dronkenskap skuldig gemaak het. (Spr. 23:20, 21; vergelyk Deuteronomium 21:18-21.) Ander het dalk besluit om die geleenthede wat in die eerste-eeuse wêreld beskikbaar was, ten volle te benut en is so van hulle diens aan Jehovah afgelei. Mag ons nooit toelaat dat ’n begeerte na die sogenaamde goeie lewe ons laat traag word in ons heelhartige diens aan Jehovah nie.—Kol. 3:23, 24.
13. (a) Wat is hebsug, en hoe het Paulus dit beskryf? (b) Hoe kan ons hebsug vermy?
13 Paulus het valse aanbidding ook in ’n ander konteks gemeld. Hy het geskryf: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is” (Kol. 3:5). Hebsug is ’n sterk begeerte na iets wat ons nie besit nie. Dit kan materiële dinge wees. Dit kan selfs ongeoorloofde geslagsdrange insluit (Eks. 20:17). Stem dit ons nie tot ernstige nadenke dat sulke begeertes op afgodediens, die aanbidding van ’n valse god, neerkom nie? Jesus het ’n treffende beskrywing gegee van hoe belangrik dit is om sulke verkeerde begeertes ten alle koste in toom te hou.—Lees Markus 9:47; 1 Joh. 2:16.
Pas op vir woorde wat waardeloos is
14, 15. (a) Watter waardelose ding het baie in Jeremia se dag laat struikel? (b) Waarom was Moses se woorde waardevol?
14 Waardelose dinge kan woorde insluit. Jehovah het byvoorbeeld vir Jeremia gesê: “Die profete profeteer leuens in my naam. Ek het hulle nie gestuur nie, en ook het ek hulle nie beveel of met hulle gepraat nie. ’n Valse visioen en waarsêery en iets van geen waarde en die bedrog van hulle hart spreek hulle profeties tot julle” (Jer. 14:14). Daardie valse profete het beweer dat hulle in Jehovah se naam spreek, maar hulle het hulle eie idees, hulle eie wysheid, bevorder. Hulle woorde was dus “van geen waarde” nie. Dit was waardeloos en het groot geestelike gevaar ingehou. In 607 v.G.J. het baie wat na hierdie waardelose woorde geluister het, ’n ontydige dood gesterf deur die toedoen van Babiloniese soldate.
15 Moses het daarenteen vir die Israeliete gesê: “Rig julle hart op al die woorde wat ek vandag as waarskuwing tot julle spreek . . . Want dit is geen waardelose woord vir julle nie, maar dit beteken julle lewe, en deur hierdie woord kan julle julle dae verleng in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem” (Deut. 32:46, 47). Ja, Moses se woorde is deur God geïnspireer. Dit was dus waardevol, noodsaaklik, vir die welsyn van die nasie. Dié wat daarna geluister het, het ’n lang lewe en voorspoed geniet. Mag ons altyd waardelose woorde verwerp en vashou aan waardevolle woorde van waarheid.
16. Hoe beskou ons stellings van wetenskaplikes wat met God se Woord bots?
16 Hoor ons vandag waardelose woorde? Ja. Party wetenskaplikes sê byvoorbeeld dat die evolusieteorie en wetenskaplike ontdekkings op ander gebiede bewys dat dit nie meer nodig is om in God te glo nie, dat alles deur natuurlike prosesse verklaar kan word. Moet sulke verwaande stellings ons kwel? Glad nie! Menslike wysheid verskil van goddelike wysheid (1 Kor. 2:6, 7). Maar wanneer menseleringe bots met wat God geopenbaar het, weet ons dat dit altyd die menseleringe is wat verkeerd is. (Lees Romeine 3:4.) Ten spyte van die vooruitgang van die wetenskap op party gebiede bly die Bybel se beoordeling van menslike wysheid waar: “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.” In vergelyking met die oneindige wysheid van God is menslike redenasies sinloos.—1 Kor. 3:18-20.
17. Hoe moet die woorde van die Christendom se leiers en van afvalliges beskou word?
17 Nog ’n voorbeeld van waardelose woorde word onder die godsdiensleiers van die Christendom gevind. Hulle beweer dat hulle in God se naam spreek, maar die meeste van hulle stellings is nie op die Skrif gegrond nie, en wat hulle sê, is in werklikheid waardeloos. Afvalliges spreek ook waardelose woorde, terwyl hulle beweer dat hulle groter wysheid het as die aangestelde “getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45-47). Maar afvalliges spreek hulle eie wysheid, en hulle woorde is waardeloos, ’n struikelblok vir enigiemand wat daarna luister (Luk. 17:1, 2). Hoe kan ons voorkom dat ons daardeur mislei word?
Hoe om waardelose woorde te verwerp
18. Hoe kan ons die raad in 1 Johannes 4:1 toepas?
18 Die bejaarde apostel Johannes het goeie raad in hierdie opsig gegee. (Lees 1 Johannes 4:1.) In ooreenstemming met Johannes se raad spoor ons altyd diegene aan wat ons in die predikingswerk ontmoet, om die dinge wat hulle geleer is, op die proef te stel deur dit met die Bybel te vergelyk. Dit is ook vir ons ’n goeie reël. As ons enige stellings hoor wat die waarheid kritiseer of wat die gemeente, die ouer manne of enige van ons broers beswadder, aanvaar ons dit nie sommer net nie. Ons vra ons eerder af: “Handel die een wat hierdie storie versprei, in ooreenstemming met wat die Bybel sê? Bevorder hierdie stories of bewerings Jehovah se voorneme? Bevorder dit die vrede van die gemeente?” Enigiets wat ons hoor en wat die broederskap afbreek in plaas van opbou, is ’n waardelose ding.—2 Kor. 13:10, 11.
19. Hoe maak ouer manne seker dat hulle woorde nie waardeloos is nie?
19 Ouer manne kan ook ’n belangrike les in verband met waardelose woorde leer. Wanneer hulle raad moet gee, hou hulle hulle eie beperkings in gedagte en matig hulle hulle nie aan om raad te gee wat bloot op hulle persoonlike ervaring gegrond is nie. Hulle moet altyd verwys na wat die Bybel sê. ’n Goeie reël word in die woorde van die apostel Paulus gevind: “Moenie verder gaan as die dinge wat geskrywe staan nie” (1 Kor. 4:6). Ouer manne gaan nie verder as die dinge wat in die Bybel geskrywe staan nie. En by uitbreiding gaan hulle nie verder as die Bybelse raad wat in die publikasies van die getroue en verstandige slaaf geskrywe staan nie.
20. Hoe word ons gehelp om waardelose dinge te verwerp?
20 Waardelose dinge—hetsy dit “gode”, woorde of iets anders is—is baie skadelik. Daarom bid ons altyd vir Jehovah se hulp om dit te sien vir wat dit is, en ons soek sy leiding in hoe om dit te verwerp. Wanneer ons dit doen, sê ons as ’t ware saam met die psalmis: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie; hou my in die lewe op u weg” (Ps. 119:37). In die volgende artikel sal ons verder bespreek hoe nuttig dit is om Jehovah se leiding te aanvaar.
Kan jy verduidelik
• In ’n breë sin, watter “waardelose dinge” moet ons verwerp?
• Hoe kan ons voorkom dat geld soos ’n god word?
• Hoe kan vleeslike begeertes afgodediens word?
• Hoe kan ons waardelose woorde verwerp?
[Prent op bladsy 3]
Die Israeliete is aangemoedig om ‘hulle grond te bewerk’, nie om waardelose dinge na te jaag nie
[Prent op bladsy 5]
Moet nooit toelaat dat die begeerte na materiële dinge jou laat traag word in Jehovah se diens nie
[Prent op bladsy 6]
Die woorde van ouer manne kan van groot waarde wees