Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
4-10 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 18-19
“Barsillai–’n Voorbeeld van beskeidenheid”
Barsillai—’n Man wat bewus was van sy beperkings
Dawid het Barsillai se hulp ongetwyfeld baie waardeer. Die koning wou blykbaar nie net die guns terugbetaal deur materiële benodigdhede te voorsien nie. Ryk Barsillai het nie daardie soort hulp nodig gehad nie. Dawid wou daardie bejaarde man moontlik by die koninklike hof gehad het weens sy uitstekende eienskappe. Dit sou ’n eer gewees het om ’n permanente plek daar te hê, en Barsillai sou die voordele van die koning se vriendskap kon geniet.
Barsillai—’n Man wat bewus was van sy beperkings
Een rede vir Barsillai se besluit was moontlik sy gevorderde jare en die beperkings wat daarmee gepaardgaan. Barsillai het dalk gevoel dat hy nie veel langer sou leef nie (Psalm 90:10). Hy het gedoen wat hy kon om Dawid te ondersteun, maar hy was ook bewus van die beperkings wat gevorderde jare op hom geplaas het. Barsillai het nie toegelaat dat die gedagte van aansien en belangrikheid hom verhoed om realisties te bepaal wat sy vermoëns is nie. Anders as eersugtige Absalom het Barsillai wyslik beskeidenheid geopenbaar.—Spreuke 11:2.
Barsillai—’n Man wat bewus was van sy beperkings
Die verslag van Barsillai toon hoe belangrik dit is om gebalanseerd te wees. Aan die een kant moet ons nie ’n diensvoorreg van die hand wys of dit probeer vermy omdat ons ’n rustige lewe wil hê of dalk onbekwaam voel om die verantwoordelikheid te dra nie. God kan ons tekort aanvul as ons op hom vertrou vir krag en wysheid.—Filippense 4:13; Jakobus 4:17; 1 Petrus 4:11.
Aan die ander kant moet ons ons beperkings erken. Byvoorbeeld, ’n Christen is dalk reeds baie besig met geestelike bedrywighede. Hy besef dat hy gevaar sal loop om skriftuurlike verantwoordelikhede af te skeep, soos om vir sy gesin te sorg, as hy verdere voorregte aanvaar. Sal dit in so ’n geval nie ’n aanduiding van beskeidenheid en redelikheid van sy kant wees as hy op hierdie stadium bykomende voorregte van die hand wys nie?—Filippense 4:5; 1 Timoteus 5:8.
Geestelike skatte
‘Voltooi die wedloop’
19 As jy enige beperkings het en voel dat mense jou nie verstaan nie, kan die voorbeeld van Mefiboset jou aanmoedig (2 Sam. 4:4). Hy was gebreklik, en koning Dawid het ’n verkeerde opinie oor hom gehad en het hom onregverdig behandel. Dit was nie Mefiboset se skuld dat hierdie dinge met hom gebeur het nie. Maar hy het nie toegelaat dat hierdie dinge hom bitter maak nie, hy was dankbaar vir die goeie dinge in sy lewe. Hy was dankbaar vir die liefdevolle manier waarop Dawid hom in die verlede behandel het (2 Sam. 9:6-10). So toe Dawid ’n verkeerde opinie oor hom gehad het en hom onregverdig behandel het, het hy probeer om die hele situasie te verstaan. Hy het nie toegelaat dat Dawid se fout hom bitter maak nie. En hy het nie Jehovah blameer vir wat Dawid gedoen het nie. Mefiboset het gefokus op wat hy kon doen om Jehovah se aangestelde koning te ondersteun (2 Sam. 16:1-4; 19:24-30). Jehovah het Mefiboset se uitstekende voorbeeld in Sy Woord laat neerskryf sodat ons daaruit kan leer.–Rom. 15:4.
11-17 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 20-21
“Jehovah is ’n God van geregtigheid”
it-1-E 932 ¶1
Gibeon
Deur die eeue het die oorspronklike Gibeoniete as ’n volk aanhou bestaan, al het koning Saul beplan om hulle uit te roei. Maar die Gibeoniete het geduldig op Jehovah gewag om die ongeregtigheid openbaar te maak. Hy het dit gedoen deur middel van ’n hongersnood wat drie jaar lank aangehou het terwyl Dawid regeer het. Nadat Dawid vir Jehovah vir leiding gevra het en uitgevind het dat daar bloedskuld betrokke is, het Dawid met die Gibeoniete gepraat om te hoor hoe versoening gedoen kon word. Die Gibeoniete het geantwoord en gesê dat ‘silwer en goud nie kan vergoed nie’, want volgens die Wet kan geen losprys aanvaar word vir ’n moordenaar nie (Nu 35:30, 31). Hulle het ook besef dat hulle nie ’n man kon doodmaak as hulle nie die reg het om dit te doen nie. Eers toe Dawid vir hulle nog vrae gevra het, het hulle versoek dat sewe “seuns” van Saul aan hulle gegee moet word. Die feit dat daar bloedskuld op Saul en sy huis was, gee te kenne dat die “seuns” van Saul dalk direk of indirek betrokke was by die moorde, alhoewel Saul heel moontlik die leiding geneem het (2Sa 21:1-9). Daarom sou dit nie ’n geval wees van seuns wat vir die sondes van hulle vaders sterf nie (De 24:16), maar dit was eerder die straf wat hulle moes kry in ooreenstemming met die wet “lewe moet vir lewe wees”.–De 19:21.
Geestelike skatte
Christen- ouer manne—‘Medewerkers vir ons vreugde’
14 As Jehovah se volk voer ons ons bediening regoor die wêreld uit ondanks die struikelblokke wat Satan en sy agente voor ons plaas. Party van ons het voor reusagtige uitdagings te staan gekom, maar met volle vertroue op Jehovah het ons hierdie Goliatagtige struikelblokke tegemoetgegaan en oorkom. Maar soms laat die voortdurende stryd teen die druk van hierdie wêreld ons moeg en mismoedig voel. In hierdie verswakte toestand is ons kwesbaar en loop ons die gevaar om oorwin te word deur druk wat ons andersins suksesvol die hoof sou gebied het. Op sulke tye kan die tydige ondersteuning van ’n ouer man ons help om ons vreugde en ons krag te herwin, soos baie al ondervind het. ’n Pionier in haar middelsestigerjare het gesê: “’n Tyd gelede het ek nie goed gevoel nie, en velddiens het my uitgeput. ’n Ouer man het opgemerk dat ek moeg is en my genader. Ons het ’n aanmoedigende gesprek gehad wat op ’n Bybelgedeelte gebaseer was. Ek het die wenke toegepas wat hy my gegee het en ek het daarby baat gevind.” Sy het bygevoeg: “Hoe liefdevol was dit tog van daardie ouer man om my swak toestand op te merk en my te help!” Ja, dit is bemoedigend om te weet dat ons ouer manne het wat ’n liefdevolle ogie oor ons hou en wat, soos Abisai van ouds, gereed is om ons ‘te hulp te kom’.
18-24 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 22
“Vertrou op Jehovah vir hulp”
Kan jy werklik ‘nader aan God kom’?
11 Dit is een ding om te lees dat God “sterk in krag” is (Jesaja 40:26). Dit is iets heeltemal anders om te lees hoe hy Israel bevry en deur die Rooi See gelei het en die nasie toe 40 jaar in die wildernis onderhou het. Jy kan jou voorstel hoe die bruisende waters verdeel. Jy kan sien hoe die nasie—moontlik altesaam 3 000 000—oor die droë seebodem loop terwyl die gestolde waters soos hoë mure weerskante van hulle staan (Eksodus 14:21; 15:8). Jy kan die bewys van God se beskermende sorg in die wildernis sien. Water het uit ’n rots gevloei. Kos, wat soos wit saad lyk, het op die grond verskyn (Eksodus 16:31; Numeri 20:11). Jehovah openbaar hier dat hy nie net krag het nie, maar dat hy dit ten behoewe van sy volk aanwend. Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons gebede opgaan na ’n magtige God wat “vir ons ’n toevlug en sterkte [is], ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word”!—Psalm 46:1.
‘U sal lojaal handel’
Kom ons kyk van naderby na Dawid se woorde. Die Hebreeuse term wat as “lojaal handel” vertaal word, kan ook as “met liefderyke goedhartigheid handel” vertaal word. Ware lojaliteit is gegrond op liefde. Jehovah heg hom liefdevol aan diegene wat lojaal aan hom is.
Let ook op dat lojaliteit meer is as net ’n gevoel; dit is aktief, nie passief nie. Jehovah handel lojaal, soos Dawid eerstehands uitgevind het. Gedurende die donkerste tye van Dawid se lewe het Jehovah ten behoewe van hom opgetree deur die getroue koning lojaal te beskerm en te lei. ’n Dankbare Dawid het Jehovah die eer daarvoor gegee dat hy hom “uit die palm van al sy vyande” verlos het.—2 Samuel 22:1.
Wat beteken Dawid se woorde vir ons? Jehovah is nie wisselvallig nie en verander nie (Jakobus 1:17). Hy bly getrou by sy standaarde en hou altyd sy beloftes. In een van Dawid se ander psalms het hy geskryf: “Jehovah . . . sal sy lojales nie verlaat nie.”—Psalm 37:28.
Geestelike skatte
Kweek die gees van ’n mindere aan
7 God se voorbeeld van nederigheid het ’n kragtige uitwerking op die psalmis Dawid gehad. Hy het vir Jehovah gesing: “U sal my u skild van redding gee, en u nederigheid maak my groot” (2 Sam. 22:36). Dawid het enige grootheid wat hy in Israel gehad het, aan Jehovah se nederigheid toegeskryf—aan die feit dat God hom neerbuig, of hom verneder, om aandag aan hom te skenk (Ps. 113:5-7). Is dit enigsins anders in ons geval? Wat het enige van ons, in terme van eienskappe, vermoëns en voorregte, wat ons nie van Jehovah “ontvang het nie”? (1 Kor. 4:7). Die persoon wat hom as ’n mindere gedra, is “groot” in die sin dat hy as ’n kneg van Jehovah waardevoller word (Luk. 9:48, vtn. in NW). Kom ons bespreek waarom dit die geval is.
25-31 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 2 SAMUEL 23-24
“Is die dinge wat jy gee, ’n offerande?”
it-1-E 146
Arauna
Arauna het heel moontlik die stuk grond, die beeste en die houttoerusting vir die offerande verniet aangebied, maar Dawid het aangedring om daarvoor te betaal. Die verslag in 2 Samuel 24:24 wys dat Dawid die dorsvloer en die beeste vir 50 sikkels silwer (R1 709) gekoop het. Maar die verslag in 1 Kronieke 21:25 sê dat Dawid 600 sikkels goud (omtrent R1 196 000) vir die stuk grond betaal het. Die skrywer van Tweede Samuel praat net van die koop van die stuk grond waar die altaar was en die materiaal wat gebruik was vir die offerande. En daarom lyk dit asof die koopprys waarvan hy gepraat het, net op hierdie dinge van toepassing was. Maar die skrywer van Eerste Kronieke bespreek dinge wat te doen het met die tempel wat later op die stuk grond gebou is en verbind die koopprys met die konstruksie van hierdie tempel (1Kr 22:1-6; 2Kr 3:1). Omdat die hele tempelgebied baie groot was, lyk dit asof die bedrag van 600 sikkels goud op die koop van hierdie groot stuk grond van toepassing was, eerder as op die klein deel wat nodig was vir die altaar wat eers deur Dawid gebou is.
Leer uit ‘die raamwerk van die waarheid’
8 As ’n Israeliet se offerande ’n vrywillige blyk van opregte dankbaarheid teenoor Jehovah was of, soos in die geval van ’n brandoffer, ’n versoek om sy goedkeuring was, sou die gepaste keuse van ’n dier waarskynlik nie moeilik gewees het nie. Die aanbidder sou met graagte sy allerbeste aan Jehovah gegee het. Hedendaagse Christene bring nie die letterlike offerandes wat deur die Mosaïese Wet voorgeskryf is nie, maar hulle bring wel offerandes, in die sin dat hulle hulle tyd, energie en middele gebruik om Jehovah te dien. Om die Christelike hoop “in die openbaar bekend [te] maak” en “om goed te doen en mededeelsaam te wees”, is volgens die apostel Paulus offerandes wat God behaag (Heb. 13:15, 16). Die gesindheid waarmee Jehovah se volk hierdie dinge doen, openbaar hoe dankbaar hulle is vir alles wat God aan hulle gegee het en in watter mate hulle dit waardeer. Daar is dus ’n parallel tussen die gesindhede en beweegredes van dié wat vandag Christelike diens verrig en dié wat in die ou tyd vrywillige offerandes gebring het.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Tweede Samuel
23:15-17. Dawid het so ’n diepe eerbied vir God se wet aangaande lewe en bloed gehad dat hy by hierdie geleentheid geweier het om iets te doen wat selfs net gelyk het na ’n oortreding van daardie wet. Ons moet so ’n gesindheid teenoor al God se bevele aankweek.
1-7 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 1-2
“Leer jy uit jou foute?”
it-2-E 987 ¶4
Salomo
Adonia en die manne wat saam met hom planne beraam het, het die musiek by Gihon, wat nie baie ver van hulle af was nie, gehoor, sowel as die mense wat uitgeroep het: “Lank lewe koning Salomo!” Daarom was Adonia en sy manne bang en verward en het hulle gevlug. Salomo het ’n voorsmakie gegee van die vrede wat daar sou wees wanneer hy sou regeer. Daarom het hy geweier om wraak te neem omdat hy nie wou hê dat sulke aksies met sy koningskap geassosieer moet word nie. As Salomo in Adonia se situasie was, sou Salomo heel moontlik sy lewe verloor het. Adonia het na die heiligdom gevlug om beskerming te soek, en daarom het Salomo hom laat roep en Adonia na hom toe laat bring. Salomo het vir Adonia gesê dat hy sou bly lewe tensy daar iets slegs in hom gevind word. Daarna het Salomo Adonia na sy eie huis toe gestuur.–1Kn 1:41-53.
it-1-E 49
Adonia
Maar nadat Dawid gesterf het, het Adonia vir Batseba gekry om namens hom vir Salomo te vra vir Dawid se jong versorgster en metgesel, Abisag, om sy vrou te word. Adonia het gesê dat “die koningskap myne moes word, en die hele Israel het verwag dat ek koning sou word”. Dit wys dat hy gevoel het dat sy reg om koning te word, van hom af weggeneem was, al het hy erken dat hoe dinge uitgedraai het, God se wil was (1Kn 2:13-21). Sy versoek was dalk net gebaseer op sy begeerte vir die een of ander vergoeding omdat hy die koninkryk verloor het. Maar daar is ’n groot moontlikheid dat Adonia se versoek gebaseer was op sterk ambisie, want volgens ’n wet in die antieke Ooste is die vrouens en byvrouens van ’n koning net aan sy wetlike opvolger gegee. (Vergelyk 2Sa 3:7; 16:21.) Salomo het hierdie versoek wat deur sy ma gemaak was, so beskou en het toe beveel dat Adonia doodgemaak moes word. Benaja het dadelik die bevel uitgevoer.–1Kn 2:22-25.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Eerste Konings
2:37, 41-46. Hoe gevaarlik is dit tog om te dink dat ’n mens kan oortree en ongestraf sal bly! Diegene wat opsetlik afwyk van ‘die smal pad wat na die lewe lei’, sal die gevolge van daardie dwase besluit dra.—Matteus 7:14.
8-14 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 3-4
“Die waarde van wysheid”
Is hy ’n goeie voorbeeld vir jou of ’n waarskuwing?
4 Aan die begin van Salomo se koningskap het God in ’n droom aan hom verskyn en hom genooi om ’n versoek te doen. Omdat Salomo besef het dat hy min ervaring het, het hy wysheid gevra. (Lees 1 Konings 3:5-9.) God was bly dat die koning wysheid eerder as rykdom en heerlikheid gevra het en het Salomo “’n wyse hart met begrip” gegee—sowel as voorspoed (1 Kon. 3:10-14). Soos Jesus gemeld het, was Salomo se wysheid so uitsonderlik dat die koningin van Skeba daarvan gehoor het en ’n lang reis afgelê het om dit self te sien.—1 Kon. 10:1, 4-9.
5 Ons verwag nie dat óns wysheid op wonderdadige wyse sal ontvang nie. Salomo het gesê dat ‘Jehovah wysheid gee’, maar hy het geskryf dat ons daarna moet streef om hierdie goddelike eienskap te verkry: “[Skenk] met jou oor aandag . . . aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë.” In verband met wysheid het hy uitdrukkings gebruik soos ‘roep daarna’, ‘bly soek daarna’ en ‘bly dit naspeur’ (Spr. 2:1-6). Dit is duidelik dat ons wysheid kan verkry.
6 Dit sal goed wees om te vra: ‘Neem ek Salomo se voorbeeld ter harte deur goddelike wysheid as kosbaar te beskou?’ Ekonomiese onsekerhede het baie mense beweeg om hulle op hulle sekulêre werk en finansies toe te spits of het mense se besluite beïnvloed oor watter soort en hoeveel opvoeding om na te streef. Wat van jou en jou gesin? Toon julle keuses dat julle goddelike wysheid as kosbaar beskou en daarna soek? Sal dit julle in staat stel om meer wysheid te verkry as julle julle fokus of doelwitte verander? Dit sal julle inderdaad tot blywende voordeel strek om wysheid te verkry en toe te pas. Salomo het geskryf: “Dan sal jy regverdigheid en reg en regskapenheid verstaan, die hele weg van wat goed is.”—Spr. 2:9.
Geestelike skatte
Jehovah is ’n God van verbonde
15 Toe Abraham se nakomelinge tot ’n nasie onder die Wet georganiseer was, het Jehovah hulle geseën ooreenkomstig sy belofte aan die aartsvader. In 1473 v.G.J. het Moses se opvolger, Josua, Israel in Kanaän ingelei. Die daaropvolgende verdeling van die land onder die stamme het Jehovah se belofte vervul om die land aan Abraham se saad te gee. Wanneer Israel getrou was, het Jehovah sy belofte nagekom om hulle die oorwinning oor hulle vyande te gee. Dit was veral die geval gedurende die heerskappy van koning Dawid. Teen die tyd van Dawid se seun Salomo is ’n derde aspek van die Abrahamitiese verbond vervul. “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly.”—1 Konings 4:20.
15-21 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 5-6
“Hulle het met hulle hande en hulle harte gebou”
Het jy geweet?
Die seders van Libanon was welbekend, hoofsaaklik weens hulle duursaamheid, prag en die soet reuk van hulle hout, asook hulle bestandheid teen insekte. Salomo het dus die beste materiaal vir die tempel gebruik. Al wat vandag oor is van die sederwoude wat eens die berge van Libanon bedek het, is ’n paar verspreide groepies bome.
it-1-E 424
Sederbome
Sulke uitgebreide gebruik van sederhout het die arbeid van duisende werkers vereis om die bome af te kap. Die hout is dan na Tirus of Sidon op die Mediterreense kus vervoer. En daarna het hulle die hout saamgebind en vlotte gemaak, en dit moontlik kus langs na Joppe gestuur. Dit is dan op land na Jerusalem geneem. Dit was alles uitgewerk in ’n kontrak tussen Salomo en Hiram (1Kn 5:6-18; 2Kr 2:3-10). Daarna het daar die heeltyd so baie hout ingekom dat daar gesê kon word dat Salomo “sederhout so volop soos die wildevyebome” gedurende sy heerskappy gemaak het.–1Kn 10:27; vergelyk Jes 9:9, 10.
it-2-E 1077 ¶1
Tempel
Om die werk te organiseer, het Salomo 30 000 mans uit Israel opgeroep en hulle na die Libanon-berge gestuur. Hy het hulle in groepe van 10 000 per maand gestuur, en hulle moes ’n maand lank daar bly. Dan kon hulle weer twee maande lank by hulle huise bly (1Kn 5:13, 14). Hy het 70 000 arbeiders en 80 000 klipkappers uit die “uitlanders” van die land gekies (1Kn 5:15; 9:20, 21; 2Kr 2:2). As voormanne oor die werk het Salomo 550 mans aangestel, en blykbaar 3 300 as assistente (1Kn 5:16; 9:22, 23). Dit lyk asof 250 mans uit hierdie groep Israeliete was en 3 600 “uitlanders” in Israel was.–2Kr 2:17, 18.
Geestelike skatte
g 5/12 17, venster
Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 1
PRESIESE TYDSAANDUIDINGS
’n Voorbeeld van hoe nuttig dit is dat die Bybel presies aandui wanneer gebeure plaasgevind het, word gevind in 1 Konings 6:1, wat verwys na die tyd toe koning Salomo die tempel in Jerusalem begin bou het. Ons lees: “In die vierhonderd-en-tagtigste jaar [479 volle jare] nadat die kinders van Israel uit Egipteland uitgetrek het, in die vierde jaar [van Salomo se bewind] nadat Salomo koning oor Israel geword het, in die maand Sif, dit is die tweede maand, het hy die huis vir Jehovah begin bou.”
Volgens Bybelchronologie was 1034 VHJ die vierde jaar van Salomo se bewind. As ons 479 volle jare van daardie datum af terugtel, bring dit ons by 1513 VHJ as die jaar van Israel se uittog uit Egipte.
22-28 AUGUSTUS 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 7
“Wat ons uit die twee pilare kan leer”
‘Uit die berge sal jy koper delf’
Koning Salomo het ’n ontsaglike hoeveelheid koper gebruik vir die bou van die tempel in Jerusalem. Sy vader, Dawid, het baie daarvan verkry tydens sy verowering van Sirië (1 Kronieke 18:6-8). Die “gegote see”, die groot koperkom wat deur die priesters gebruik is om in te was, het ’n inhoudsmaat van 66 000 liter gehad en het dalk tot 30 ton geweeg (1 Konings 7:23-26, 44-46). Dan was daar ook die twee yslike koperpilare by die ingang van die tempel. Dit was 8 meter hoog en het kapitele bo-op gehad wat ongeveer 2,2 meter hoog was. Die pilare was hol, met 7,5 sentimeter dik wande, en dit was 1,7 meter in deursnee (1 Konings 7:15, 16; 2 Kronieke 4:17). ’n Ongelooflike hoeveelheid koper is gebruik om net hierdie voorwerpe te maak.
it-1-E 348
Boas, II
Die noordelikste pilaar van die twee groot koperpilare wat voor die portaal van Salomo se indrukwekkende tempel opgerig is, was Boas genoem, wat moontlik “in krag” beteken. Die suidelike pilaar was Jagin genoem, wat “mag [Jehovah] stewig vestig” beteken. So wanneer die twee bymekaargesit word en dit van regs na links gelees word terwyl ’n persoon na die Ooste kyk, sal dit die volgende gedagte oordra: ‘Mag [Jehovah die tempel] in krag stewig vestig.’–1Kn 7:15-21; sien CAPITAL.
Geestelike skatte
it-1-E 263
Om te was
Jehovah verwag dat dié wat hom in heiligheid en reinheid aanbid, fisies skoon moet wees. Dit kan gesien word in die reëling by die tabernakel en later in die diens by die tempel. Toe die hoëpriester Aäron en sy seuns ingehuldig was, het hulle gewas voordat hulle hulle amptelike klere moes aantrek (Eks 29:4-9; 40:12-15; Le 8:6, 7). Om hulle hande en voete te was, het die priesters water uit die koperkom in die voorhof van die tabernakel gebruik, en later het hulle water uit die groot See van gegote metaal by Salomo se tempel gebruik (Eks 30:18-21; 40:30-32; 2Kr 4:2-6). Op die Versoendag het die hoëpriester twee keer gewas (Le 16:4, 23, 24). Dié wat die bok vir Asasel buite die kamp geneem het, sowel as dit wat oorgebly het van die diereofferandes en die rooi koei wat opgeoffer moes word, moes hulle liggaam en klere was voordat hulle weer in die kamp ingekom het.–Le 16:26-28; Nu 19:2-10.
29 AUGUSTUS–4 SEPTEMBER
SKATTE UIT GOD SE WOORD | 1 KONINGS 8
“Salomo se nederige en opregte openbare gebed”
Verryk jou gebede deur Bybelstudie
9 Gebede sal slegs verhoor word as dit uit die hart kom. Salomo het ’n hartgrondige gebed gedoen voor die skares wat in Jerusalem vergader het vir die inwyding van Jehovah se tempel in 1026 VHJ, soos opgeteken in 1 Konings hoofstuk 8. Nadat die verbondsark in die Allerheiligste geplaas is en Jehovah se wolk die tempel gevul het, het Salomo God geloof.
10 Bestudeer Salomo se gebed, en let op sy verwysings na die hart. Salomo het erken dat dit net Jehovah is wat ’n persoon se hart ken (1 Kon. 8:38, 39). Dieselfde gebed toon dat daar hoop is vir ’n sondaar wat ‘met sy hele hart tot God terugkeer’. As ’n vyand God se volk gevange geneem het, sou Jehovah hulle smekinge hoor as hulle hart volkome met hom was (1 Kon. 8:48, 58, 61). Jou gebede moet dus beslis uit die hart kom.
Hef lojale hande op in gebed
7 Hetsy ons ’n openbare of persoonlike gebed doen, ’n belangrike skriftuurlike beginsel wat ons in gedagte moet hou, is dat ons ’n nederige gesindheid in ons gebede moet openbaar (2 Kronieke 7:13, 14). Koning Salomo het nederigheid geopenbaar in sy openbare gebed tydens die toewyding van Jehovah se tempel in Jerusalem. Salomo het pas een van die luisterrykste geboue voltooi wat nog op die aarde opgerig is. Tog het hy nederig gebid: “Sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.”—1 Konings 8:27.
8 Ons moet ook, soos Salomo, nederig wees wanneer ons ander in openbare gebed verteenwoordig. Hoewel ons nie skynheilig wil klink nie, kan nederigheid deur ons stemtoon geopenbaar word. Nederige gebede is nie hoogdrawend of melodramaties nie. Hulle vestig nie die aandag op die een wat bid nie, maar op die Een wat toegespreek word (Matteus 6:5). Nederigheid word ook geopenbaar deur wat ons in gebed sê. As ons nederig bid, sal dit nie klink of ons eis dat God sekere dinge op ons manier moet doen nie. Ons sal Jehovah eerder versoek om op ’n wyse op te tree wat met sy heilige wil ooreenstem. Die psalmis het getoon wat die regte gesindheid is toe hy gesmeek het: “Ag Jehovah, red tog asseblief! Ag Jehovah, skenk tog asseblief sukses!”—Psalm 118:25, NW; Lukas 18:9-14.
Geestelike skatte
it-1-E 1060 ¶4
Hemel
Salomo, wat die tempel in Jerusalem gebou het, het gesê dat die “hemel, selfs die hoogste hemele,” God nie kan bevat nie (1Kn 8:27). As die Skepper van die hemele is Jehovah se posisie ver verhewe bo alles, en “sy naam alleen is onbereikbaar hoog. Sy majesteit is bo die aarde en die hemel” (Ps 148:13). Dit is vir Jehovah net so maklik om die fisiese hemele te meet soos wat dit vir ’n mens is om ’n voorwerp te meet deur sy hand uit te sprei sodat die voorwerp tussen die punt van sy duim en die punt van sy pinkie lê (Jes 40:12). Salomo se woorde beteken nie dat God nie ’n spesifieke woonplek het nie. Dit beteken ook nie dat hy alomteenwoordig is in die sin dat hy letterlik oral en in alles is nie. Dit kan ook gesien word uit die feit dat Salomo gesê het dat Jehovah ons hoor “vanuit [sy] woonplek in die hemel”, dit wil sê die hemele in die geesteryk.–1Kn 8:30, 39.