Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
3-9 MAART
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 3
Wys dat jy op Jehovah vertrou
Spreuke 3:5, 6 – “Steun nie op jou eie insig nie”
“Vertrou op Jehovah met jou hele hart.” Ons wys dat ons God vertrou wanneer ons dinge op sy manier doen. Ons moet God ten volle vertrou, met ons hele hart. In die Bybel verwys die hart gewoonlik na die mens wat ons van binne is, en dit sluit iemand se emosies, beweegredes, gedagtes en gesindheid in. So, dit is nie net ons gevoelens wat daarby betrokke is om God met ons hele hart te vertrou nie. Dit is ’n keuse wat ons maak omdat ons heeltemal daarvan oortuig is dat ons Skepper weet wat die beste vir ons is. – Romeine 12:1.
“Moenie op jou eie begrip staatmaak nie.” Ons moet God vertrou, want ons kan nie op ons eie onvolmaakte manier van redeneer staatmaak nie. As ons net op onsself en op ons gevoelens staatmaak, sal ons dalk keuses maak wat aan die begin goed lyk, maar op die ou end slegte resultate het (Spreuke 14:12; Jeremia 17:9). God se wysheid is baie groter as ons s’n (Jesaja 55:8, 9). As ons dink soos Jehovah dink, sal ons lewe suksesvol wees. – Psalm 1:1-3; Spreuke 2:6-9; 16:20.
Spreuke 3:5, 6 – “Steun nie op jou eie insig nie”
“Neem hom in ag in alles wat jy doen.” In elke belangrike aspek van ons lewe en elke belangrike besluit wat ons maak, moet ons uitvind wat God daarvan dink en hoe hy daaroor voel. Ons doen dit deur te bid en te vra vir sy leiding en deur te doen wat hy in sy Woord, die Bybel, sê. – Psalm 25:4; 2 Timoteus 3:16, 17.
“Hy sal jou paaie gelykmaak.” God maak ons paaie gelyk deur ons te help om volgens sy regverdige standaarde te lewe (Spreuke 11:5). So vermy ons onnodige probleme en geniet ons ’n gelukkiger lewe. – Psalm 19:7, 8; Jesaja 48:17, 18.
Wees progressief—Maak vooruitgang
Nadat iemand aan verskeie omstandighede in die lewe blootgestel is, kan hy begin redeneer: ‘Ek het al voor hierdie situasie te staan gekom. Ek weet wat om te doen.’ Sal dit die verstandige weg wees? Spreuke 3:7 waarsku: “Moenie wys word in jou eie oë nie.” Ervaring sal ons weliswaar ’n breër beskouing gee van die faktore wat in ag geneem moet word wanneer ons situasies in die lewe hanteer. Maar as ons geestelike vooruitgang maak, moet ons ervaring ons laat besef dat ons Jehovah se seën nodig het om suksesvol te wees. Ons vooruitgang word dus duidelik, nie omdat ons situasies met oordrewe selfvertroue hanteer nie, maar omdat ons ons geredelik tot Jehovah vir leiding in ons lewe wend. Dit word getoon deur ons vertroue dat niks kan gebeur as hy dit nie toelaat nie en deurdat ons ’n liefdevolle en vertrouensverhouding met ons hemelse Vader behou.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Spreuke
3:3. Ons moet groot waarde heg aan liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid en dit openlik aan die dag lê soos ons ’n kosbare halssnoer sal vertoon. Ons moet hierdie eienskappe ook in ons hart ingrif en dit ’n onafskeidelike deel van ons laat word.
10-16 MAART
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 4
“Beskerm jou hart”
Hoe kan jy jou hart beskerm?
4 In Spreuke 4:23 verwys die woord “hart” na die innerlike persoon of geheime persoon. (Lees Psalm 51:6.) Die woord “hart” verwys met ander woorde na ons gedagtes, gevoelens, motiewe en begeertes. Dit is wie ons werklik is en nie net hoe mense ons sien nie.
Hoe kan jy jou hart beskerm?
10 As ons ons hart wil beskerm, moet ons gevare kan identifiseer en gou iets doen om onsself te beskerm. Die woord wat in Spreuke 4:23 met “bewaak” vertaal word, laat ons dink aan die werk wat ’n wag doen. In koning Salomo se tyd het wagte op die stad se mure gestaan en die inwoners teen gevare gewaarsku. Hierdie beskrywing help ons om te verstaan wat ons moet doen om te keer dat Satan ons denke beïnvloed.
11 In die ou tyd het wagte saam met die stad se poortwagters gewerk (2 Sam. 18:24-26). Hulle het die stad beskerm deur seker te maak dat die hekke gesluit was wanneer vyande hulle wou aanval (Neh. 7:1-3). Ons Bybelopgeleide gewete kan soos ’n wag wees en ons waarsku wanneer Satan ons hart probeer aanval – met ander woorde, wanneer hy probeer om ons gedagtes, gevoelens, motiewe en begeertes te beïnvloed. Wanneer ons gewete ons waarsku, moet ons daarna luister en alles moontlik doen om onsself te beskerm.
Hoe kan jy jou hart beskerm?
14 Om ons hart te beskerm moet ons dit nie net toemaak vir dinge wat ’n slegte invloed daarop kan hê nie, maar ons moet dit ook oopmaak vir positiewe invloede. Dink weer oor die voorbeeld van ’n ommuurde stad. ’n Poortwagter het die hekke van die stad gesluit om te keer dat vyande tot binne die stad kom, maar hy het dit ook oopgemaak sodat kos en ander voorraad by die stad ingebring kon word. As die hekke nooit oop was nie, sou die inwoners van die stad honger gely het. Net so moet ons ons hart gereeld oopmaak vir God se denke sodat dit ’n positiewe invloed op ons kan hê.
“Bewaak jou hart!”
Waarom moet ons ons figuurlike hart bewaak? God het koning Salomo beweeg om te skryf: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Die gehalte van ons huidige lewe en ons vooruitsigte op toekomstige lewe hang af van die toestand van ons figuurlike hart. Waarom? Want God sien wat in ons hart is (1 Samuel 16:7). Dit is die soort mens wat ons innerlik is, “die geheime persoon van die hart”, wat bepaal hoe God oor ons voel.—1 Petrus 3:4.
Geestelike skatte
Sal jy op Jehovah wag?
4 Spreuke 4:18 sê: “Die pad van die regverdiges is soos die helder oggendlig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is.” Hierdie vers wys vir ons duidelik hoe Jehovah sy volk help om sy wil te verstaan – hy doen dit geleidelik. Maar hierdie vers help ons ook om te verstaan hoe ’n Christen geestelike vordering maak. Geestelike groei neem tyd. Ons kan dit nie aanjaag nie. As ons die raad deeglik bestudeer en toepas wat ons deur God se Woord en sy organisasie kry, sal ons geleidelik die eienskappe van Christus ontwikkel. En ons sal God al hoe beter leer ken. Kom ons kyk na ’n voorbeeld wat Jesus gegee het om ons te help om hierdie punt te verstaan.
17-23 MAART 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 5
Bly ver weg van seksuele onsedelikheid
Jy kan kuis bly in ’n onsedelike wêreld
In hierdie spreuk word die bandelose persoon uitgebeeld as ’n “vreemde vrou”—’n prostituut. Die woorde waarmee sy haar slagoffer verlei, is soet soos heuningstroop en gladder as olyfolie. Soek onsedelike mense nie meestal so seksuele toenadering nie? Beskou byvoorbeeld die ondervinding van ’n mooi 27-jarige sekretaresse met die naam Amy. Sy vertel: “’n Man by die werk gee my baie aandag en komplimenteer my by elke geleentheid. Dit voel goed om raakgesien te word. Maar ek kan duidelik sien dat sy belangstelling in my bloot seksueel is. Ek gaan nie deur sy toenaderings mislei word nie.” Die vleiende woorde van ’n verleier of verleidster klink gewoonlik so mooi tensy ons onderskei wat werklik daaragter skuil. Hiervoor moet ons ons denkvermoë gebruik.
Jy kan kuis bly in ’n onsedelike wêreld
Die gevolge van onsedelikheid is bitter soos wilde-als en skerp soos ’n swaard—pynlik en dodelik. ’n Gewete wat jou kwel, ’n ongewenste swangerskap of ’n seksueel oordraagbare siekte is dikwels die bitter gevolge van sulke gedrag. En dink net aan die geweldige emosionele pyn wat die huweliksmaat van ’n ontroue persoon ondervind. Een daad van ontrouheid kan sulke diep wonde veroorsaak dat dit ’n leeftyd bestaan. Ja, onsedelikheid maak seer.
Jy kan kuis bly in ’n onsedelike wêreld
Ons moet so ver moontlik wegbly van die invloed van onsedelike mense. Waarom sou ons ons blootstel aan hulle weë deur na verderflike musiek te luister, na verderflike vermaak te kyk of ons aan pornografiese materiaal bloot te stel? (Spreuke 6:27; 1 Korintiërs 15:33; Efesiërs 5:3-5). En hoe dwaas sou dit tog wees om hulle aandag te probeer trek deur te flankeer of deur onbeskeie te wees in ons kleredrag en persoonsversorging!—1 Timoteus 4:8; 1 Petrus 3:3, 4.
Geestelike skatte
Jy kan kuis bly in ’n onsedelike wêreld
Salomo vestig dus die aandag op die hoë prys wat ’n mens betaal as jy voor onsedelikheid swig. Egbreuk en ’n verlies aan waardigheid, of selfrespek, gaan hand aan hand. Is dit nie waarlik vernederend om bloot gebruik te word met die doel om jou eie of iemand anders se onsedelike hartstog te bevredig nie? Toon dit nie ’n gebrek aan selfrespek as ons ons oorgee aan seksuele intimiteit met iemand wat nie ons huweliksmaat is nie?
24-30 MAART
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 6
Wat kan ons by die mier leer?
it-1-E 115 ¶1-2
Mier
‘Instinktiewe wysheid.’ Die ‘wysheid’ van miere is nie as gevolg van hulle eie intelligensie nie, maar eerder as gevolg van die instink wat hulle Skepper hulle gegee het. Die Bybel sê dat die mier ‘sy kos in die somer voorberei en sy kosvoorraad tydens die oes insamel’ (Spr 6:8). Een van die algemeenste soorte miere wat in Palestina gevind word, is die oesmier (Messor semirufus). Hy stoor groot hoeveelheid graan in die lente en somer en maak gebruik daarvan in seisoene, insluitende winter, wanneer dit moeilik is om kos te kry. Hierdie mier word baie keer naby dorsvloere gevind, waar daar baie saadjies en graan is. As reën veroorsaak dat die gestoorde saadjies klam word, sal die oesmier die saadjies tot in die son dra om droog te word. Hy is selfs bekend daarvoor om die kiemgedeelte van die saad af te byt sodat dit nie ontkiem terwyl dit gestoor word nie. Kolonies van oesmiere kan duidelik gesien word deur hulle uitgetrapte paadjies asook die doppies van die saadjies wat hulle buite hulle ingang los.
Eienskappe wat ons kan navolg. Deur ’n bietjie meer oor die mier te leer, help ons om verstaan hoekom die Bybel sê: “Gaan na die mier, jou luiaard. Hou hom dop en word wys” (Spr 6:6). Die feit dat hulle op instink reageer om vir die toekoms voor te berei, is nie die enigste ding wat uitstaan nie, maar ook hulle volharding en vasbeslotenheid. Dikwels dra of trek hulle voorwerpe wat twee of meer keer swaarder as hulle is. Hulle doen ook alles moontlik om ’n sekere taak te voltooi, en hulle weier om terug te draai selfs wanneer hulle dalk by ’n steilte afval, gly of rol. Hulle werk baie goed saam, hulle hou hulle neste baie skoon en wys dat hulle vir mekaar omgee deur miere wat seergekry het of wat moeg is terug na die nes toe te help.
Behou jou goeie naam
Behoort ons nie ook soos die mier vlytig te wees nie? Om hard te werk en ons werk te probeer verbeter, is goed vir ons, of ons nou dopgehou word of nie. Ja, ons moet ons bes doen, op skool, by die werk en terwyl ons aan geestelike bedrywighede deelneem. Soos die mier baat vind by sy vlytigheid, wil God hê dat ons ‘die goeie moet geniet by al ons moeitevolle arbeid’ (Prediker 3:13, 22; 5:18). ’n Skoon gewete en persoonlike bevrediging is die belonings vir harde werk.—Prediker 5:11.
Salomo gebruik twee retoriese vrae om ’n trae persoon uit sy luiheid te probeer wakker skud: “Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?” Die koning maak die luiaard se spraak na en voeg by: “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus! So kom dan jou armoede soos ’n rondloper en jou gebrek soos ’n gewapende man” (Spreuke 6:9-11). Terwyl die luiaard ontspan, oorval armoede hom so vinnig soos ’n rower en val gebrek hom aan soos ’n gewapende man. Die landerye van ’n lui man word gou vol dorings en brandnekels (Spreuke 24:30, 31). Sy sakeonderneming begin gou verliese ly. Hoe lank sal ’n werkgewer iemand verdra wat lyf wegsteek? En kan ’n leerling wat te lui is om te leer, verwag dat hy goed sal vaar op skool?
Geestelike skatte
Behou jou goeie naam
Die spreuk noem sewe basiese kategorieë wat feitlik alle soorte oortredings dek. “Trotse oë” en “’n hart wat onheilsplanne beraam”, is sondes wat in ’n mens se gedagtes gepleeg word. “’n Leuenagtige tong” en “een wat as valse getuie leuens uitstrooi”, is sondige woorde. “Hande wat onskuldige bloed vergiet” en “voete wat haastig na die kwaad toe loop”, is bose dade. En wie veral haatlik is vir Jehovah, is iemand wat groot behae daarin skep om tweedrag te saai onder mense wat andersins vreedsaam sou saamwoon. Die feit dat die syfer van ses na sewe toeneem, dui aan dat die lys nie bedoel is om volledig te wees nie, aangesien mense voortdurend hulle bose dade vermeerder.
31 MAART 2012–6 APRIL 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 7
Vermy situasies wat tot versoeking kan lei
“Onderhou my gebooie en bly lewe”
Die venster waardeur Salomo gekyk het, het hortjies gehad—klaarblyklik ’n raamwerk met dwarslatte en wat moontlik met snywerk versier is. Namate die skemering verdwyn, raak die strate al hoe donkerder. Hy sien ’n jong man wat veral kwesbaar is. Hy het nie onderskeidingsvermoë, oftewel goeie oordeel, nie en het derhalwe nie ’n verstandige hart nie. Hy is waarskynlik bewus van die soort buurt waarin hy hom bevind en wat daar met hom kan gebeur. Die jong man kom naby “haar hoek”, wat op pad na haar huis toe is. Wie is sy? Wat doen sy?
“Onderhou my gebooie en bly lewe”
Op die lippe van hierdie vrou is vleiende woorde. Sy is onbeskaamd en praat vol vertroue. Alles wat sy sê, is deeglik deurdink om die jong man te verlei. Deur te sê dat sy daardie selfde dag nog gemeenskapsoffers gebring het en haar geloftes betaal het, maak sy ’n vertoon van regverdigheid en wil sy te kenne gee dat sy wel geestelikgesind is. Gemeenskapsoffers, oftewel dankoffers, wat by die tempel in Jerusalem geoffer is, het bestaan uit vleis, meel, olie en wyn (Levitikus 19:5, 6; 22:21; Numeri 15:8-10). Aangesien die persoon wat die offer gebring het ’n deel van die gemeenskapsoffer vir hom en sy gesin kon neem, wil sy dus laat deurskemer dat daar genoeg in haar huis is om te eet en te drink. Die implikasie is duidelik: Die jong man sou by haar huis pret hê. Sy het juis uit haar huis gekom om na hom te soek. Hoe vleiend tog—dat iemand darem so ’n storie kon sluk. “Dit is waar dat sy iemand gesoek het,” sê ’n Bybelgeleerde, “maar het sy werklik net na hierdie een besondere kêrel kom soek? Net ’n dwaas—moontlik hierdie dwaas—sou haar glo.”
Nadat sy haarself aantreklik gemaak het deur haar kleredrag, deur die klank van haar vleiende woorde, deur die aanraking van haar omhelsing en deur die smaak van haar lippe, gebruik die verleidster ook die reuksin. Sy sê: “Met dekens het ek my divan bedek, met veelkleurige goed, linne uit Egipte. Ek het my bed met mirre, aalwyn en kaneel besprinkel” (Spreuke 7:16, 17, NW). Sy het haar bed mooi opgemaak met kleurvolle linne uit Egipte en dit welriekend gemaak met uitgesoekte geure van mirre, aalwyn en kaneel.
“Kom tog, laat ons tot die oggend tot versadiging toe van die liefde drink”, sê sy verder, “laat ons tog met liefkosings genot hê van mekaar.” Die uitnodiging is vir baie meer as net ’n aangename ete vir twee. Sy belowe dat hulle seksuele intimiteit sal geniet. Vir die jong man klink die uitnodiging na avontuur en opwinding! As verdere aansporing voeg sy by: “Want die eggenoot is nie in sy huis nie; hy het ver weg op reis gegaan. ’n Sak geld het hy in sy hand geneem. Op die dag van die volmaan sal hy na sy huis kom” (Spreuke 7:18-20, NW). Hulle sou heeltemal veilig wees, verseker sy hom, want haar man is weg op ’n sakereis en word nie binnekort terug verwag nie. Hoe vernuftig lei sy tog ’n jong persoon om die bos! “Sy het hom mislei deur die oorvloed van haar oorredingskrag. Deur die gladheid van haar lippe verlei sy hom” (Spreuke 7:21, NW). Dit sou ’n man van Josef se kaliber verg om ’n uitnodiging wat so aanloklik is, te weerstaan (Genesis 39:9, 12). Is hierdie jong man hierteen opgewasse?
“Onderhou my gebooie en bly lewe”
Die uitnodiging is vir die jong man onweerstaanbaar. Hy gooi alle goeie oordeel oorboord en gaan agter haar aan “soos ’n bul wat gaan om geslag te word”. Net soos ’n man wat geboei is sy straf nie kan vryspring nie, so word die jong man in sonde ingelei. Hy sien nie die gevaar daarin nie totdat “’n pyl sy lewer oopkloof”, dit wil sê tot hy ’n wond kry wat sy dood kan veroorsaak. Die dood kan fisies wees deurdat hy hom aan dodelike seksueel oordraagbare siektes blootstel. Die wond kan ook sy geestelike dood veroorsaak; ‘dit raak sy siel’. Dit het ’n uiters skadelike uitwerking op sy hele wese en sy lewe, en hy het ernstig gesondig teen God. Hy haas hom dus na die dood soos ’n voël wat in ’n valstrik invlieg!
Geestelike skatte
“Onderhou my gebooie en bly lewe”
“Bind hulle [my gebooie] aan jou vingers”, sê Salomo verder, “en skryf hulle op die tafel van jou hart” (Spreuke 7:3, NW). Net soos ons gedurig ons vingers kan sien en hulle noodsaaklik is om ons voornemens uit te voer, so moet die lesse wat ons leer uit ’n skriftuurlike opvoeding of wanneer ons Bybelkennis inneem voortdurend vir ons as herinnering en gids dien in alles wat ons doen. Ons moet dit op die tafel van ons hart graveer, dit ’n deel van ons maak.
7-13 APRIL 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 8
Luister na Jesus se wysheid
cf 131 ¶7
‘Ek het die Vader lief’
7 In vers 22 sê wysheid: “Jehovah het my voortgebring as die begin van sy weg, die vroegste van sy werke van lank gelede.” Meer as net wysheid moet hier ter sprake wees, want dié eienskap is nooit “voortgebring” nie. Dit het nooit begin bestaan nie, want Jehovah het nog altyd bestaan, en hy was nog altyd wys (Psalm 90:2). God se Seun was egter “die eersgeborene van die hele skepping”. Hy is voortgebring, of geskep; hy was die vroegste van al Jehovah se werke (Kolossense 1:15). Die Seun het voor die aarde en die hemel bestaan, soos in Spreuke beskryf word. En as die Woord, God se Woordvoerder, was hy die volmaakte beliggaming van Jehovah se wysheid.—Johannes 1:1.
cf 131-132 ¶8-9
‘Ek het die Vader lief’
8 Waarmee was die Seun besig gedurende die lang tyd voordat hy na die aarde toe gekom het? Vers 30 sê vir ons dat hy naas God was as “’n meesterwerker”. Wat beteken dit? Kolossense 1:16 verduidelik: “Deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep . . . Alle ander dinge is deur hom en vir hom geskep.” Jehovah, die Skepper, het dus deur sy Seun, die Meesterwerker, gewerk om elke ander skeppingswerk voort te bring—van die geesskepsele in die hemelse ryk tot die ontsaglike fisiese heelal, tot die aarde met sy wonderlike verskeidenheid plante- en dierelewe, tot die toppunt van die aardse skepping: die mens. In sekere opsigte kan ons hierdie samewerking tussen Vader en Seun vergelyk met dié van ’n argitek wat saam met ’n bouer, of kontrakteur, werk wat daarin spesialiseer om die argitek se vindingryke ontwerpe ’n werklikheid te maak. Wanneer enige aspek van die skepping ontsag by ons wek, gee ons eintlik eer aan die Groot Argitek (Psalm 19:1). Maar ons kan ook dink aan die lang en gelukkige samewerking tussen die Skepper en sy “meesterwerker”.
9 Wanneer twee onvolmaakte mense baie moet saam werk, is dit soms vir hulle moeilik om oor die weg te kom. Maar nie Jehovah en sy Seun nie! Die Seun het derduisende jare lank saam met die Vader gewerk en was “die hele tyd voor hom verheug” (Spreuke 8:30). Ja, hy het sy Vader se geselskap geniet, en die gevoel was wederkerig. Die Seun het natuurlik al hoe meer soos sy Vader geword en geleer om God se eienskappe na te volg. Dit is dan geen wonder dat die band tussen Vader en Seun so heg geword het nie! Dit kan tereg die oudste en hegste band van liefde in die ganse heelal genoem word.
Waardeer Jesus—Die Grotere Dawid en eie Grotere Salomo
14 Net een mens het Salomo onteenseglik in wysheid oortref. Dit was Jesus Christus, wat homself beskryf het as “iets meer as Salomo” (Matt. 12:42). Jesus het “woorde van die ewige lewe” gespreek (Joh. 6:68). Die Bergpredikasie wei byvoorbeeld uit oor die beginsels van party van Salomo se spreuke. Salomo het ’n aantal dinge beskryf wat ’n aanbidder van Jehovah geluk verskaf (Spr. 3:13; 8:32, 33; 14:21; 16:20). Jesus het beklemtoon dat ware geluk voortspruit uit dinge wat met die aanbidding van Jehovah en die vervulling van God se beloftes verband hou. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matt. 5:3). Diegene wat die beginsels in Jesus se leringe toepas, kom nader aan Jehovah, “die bron van die lewe” (Ps. 36:9; Spr. 22:11; Matt. 5:8). Christus is die beliggaming van “die wysheid van God” (1 Kor. 1:24, 30). As die Messiaanse Koning het Jesus Christus “die gees van wysheid”.—Jes. 11:2.
Geestelike skatte
‘Wysheid Roep Uit’ Kan Jy Dit Hoor?
▪ Die Bybel is “die wyds verspreide boek in die geskiedenis”, sê The World Book Encyclopedia. “Dit is al meer kere en in meer tale as enige ander boek vertaal.” Die Bybel is nou in sy geheel of gedeeltelik in byna 2 600 tale beskikbaar, wat beteken dat meer as 90 persent van die mensdom dit kan lees.
▪ Wysheid bly ook “hard uitroep” in ’n letterliker sin. In Matteus 24:14 lees ons: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde [van die teenswoordige wêreld] kom.”
14-20 APRIL
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 9
Wees ’n wyse persoon, nie ’n spotter nie
“Skenk aandag aan die woorde van die wyses”
4 Ons sal dit miskien veral moeilik vind om direkte raad te aanvaar. Ons sal dalk selfs aanstoot neem. Hoekom? Al besef ons dat ons onvolmaak is, sal dit dalk vir ons moeilik wees om raad te aanvaar wanneer iemand ons vertel van ’n spesifieke fout wat ons gemaak het. (Lees Prediker 7:9.) Miskien sal ons probeer om verskonings te maak. Of miskien dink ons dat die persoon verkeerde motiewe het, of dalk neem ons aanstoot as gevolg van hoe hy die raad gegee het. Ons sal miskien selfs wonder: ‘Watter reg het hy om vir my raad te gee? Hy maak ook foute!’ So as ons nie van die raad hou nie, sal ons dit dalk ignoreer of raad gaan soek waarvan ons wel hou.
“Skenk aandag aan die woorde van die wyses”
12 Wat kan ons help om raad te aanvaar? Ons moet nederig wees, en ons moet onthou hoe onvolmaak ons is en hoe dom ons soms kan wees. Soos ons vroeër gesien het, het Job die verkeerde beskouing gehad. Maar hy het later sy denke verander, en Jehovah het hom daarvoor geseën. Hoekom? Omdat Job nederig was. Hy het die raad aanvaar wat Elihu vir hom gegee het, al was Elihu baie jonger as hy (Job 32:6, 7). Nederigheid sal ons ook help om raad toe te pas, al voel ons dalk dat ons dit nie verdien nie of al is die persoon wat die raad gee, jonger as ons. ’n Ouerman in Kanada sê: “Ons sien nie onsself soos ander ons sien nie. So hoe kan ons vordering maak as niemand vir ons raad gee nie?” En wie van ons het nie hulp nodig om die verskillende aspekte van die vrug van die gees te ontwikkel en om beter onderrigters in die bediening te word nie? – Lees Psalm 141:5.
13 Beskou raad as ’n bewys van God se liefde. Jehovah wil net die beste vir ons hê (Spr. 4:20-22). Wanneer Jehovah vir ons deur middel van sy Woord, ’n Bybelpublikasie of ’n ervare Christen raad gee, wys hy dat hy vir ons lief is. Hebreërs 12:9, 10 sê: “Hy doen dit tot ons voordeel.”
14 Fokus op die raad, nie op hoe dit gegee word nie. Soms voel ons dalk dat die raad nie op die beste manier gegee was nie. Enige een wat raad gee, moet natuurlik die raad op ’n manier gee wat dit vir die ander persoon maklik maak om te aanvaar (Gal. 6:1). Maar as ons raad kry, moet ons op die raad self fokus, selfs al voel ons dat dit op ’n beter manier oorgedra kon gewees het. Ons kan onsself vra: ‘Is daar iets wat ek kan toepas, al hou ek nie van hoe die raad gegee was nie? Kan ek verby die persoon se foute kyk en by die raad baat vind?’ Dit sal wys wees van ons om altyd te probeer om by raad baat te vind. – Spr. 15:31.
‘Deur wysheid sal ons dae baie word’
Iemand wat wys is, reageer heeltemal anders as ’n spotter op teregwysing. Salomo sê: “Gee ’n wyse ’n teregwysing en hy sal jou liefhê. Gee aan ’n wyse, en hy sal nog wyser word” (Spreuke 9:8b, 9a, NW). ’n Wyse weet dat “geen dissipline . . . op die oomblik vreugdevol [lyk] nie, maar bedroewend; tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:11). Waarom sou ons terugkap of verdedigend optree as die raad, al is dit dalk moeilik om te aanvaar, ons wyser gaan maak?
“Gee kennis aan ’n regverdige, en hy sal in kundigheid toeneem”, sê die wyse koning verder (Spreuke 9:9b, NW). Niemand is ooit te wys of te oud om nog meer te leer nie. Watter vreugde is dit tog om te sien dat selfs bejaardes die waarheid aanneem en hulle aan Jehovah toewy! Mag ons ook altyd die begeerte behou om te leer en ons verstand aktief te hou.
‘Deur wysheid sal ons dae baie word’
Dit is ons persoonlike verantwoordelikheid om ons in te span om wysheid te verkry. Salomo beklemtoon hierdie feit deur te sê: “As jy wys geword het, het jy tot jou eie voordeel wys geword; en as jy gespot het, sal jy dit dra, ja, jy alleen” (Spreuke 9:12, NW). Die wyse is tot sy eie voordeel wys, en die spotter het dit aan homself te wyte dat hy ly. Ons maai inderdaad wat ons saai. Mag ons dan “luister na wysheid”.—Spreuke 2:2.
Geestelike skatte
Glanspunte uit die boek Spreuke
9:17—Wat is “gesteelde waters”, en waarom is dit “soet”? Aangesien die Bybel seksuele intimiteit wat binne die huwelik geniet word, vergelyk met die drink van verfrissende water wat uit ’n put opgetrek word, beeld gesteelde waters onsedelike geslagsomgang uit wat in die geheim gepleeg word (Spreuke 5:15-17). Die idee dat die persoon wegkom met iets, maak dat hierdie waters oënskynlik soet is.
21-27 APRIL 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 10
Hoe kan ons werklik ’n gelukkige lewe hê?
‘Seëninge is op die regverdige’
Die regverdige word op nog ’n manier geseën. “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer wegbêre, is ’n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is ’n seun wat skande maak.”—Spreuke 10:4, 5.
Die koning se woorde aan die werkers gedurende die oes is veral betekenisvol. Die oestyd is nie ’n tyd om in te sluimer nie. Dit is ’n tyd om vlytig en lang ure te werk. Trouens, dit is ’n dringende tyd.
Jesus het die oes van mense, nie van graan nie, in gedagte gehad toe hy vir sy dissipels gesê het: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes [Jehovah God] om werkers in sy oes uit te stuur” (Matteus 9:35-38). In die jaar 2000 het meer as 14 miljoen die herdenking van Jesus se dood bygewoon—meer as twee keer die aantal Getuies van Jehovah. Wie kan dus ontken dat ‘die lande wit is om geoes te word’? (Johannes 4:35). Ware aanbidders vra die Heer vir meer werkers, terwyl hulle in ooreenstemming met hulle gebede hulle kragtig in die dissipelmaakwerk inspan (Matteus 28:19, 20). En hoe ryklik het Jehovah tog nie hulle pogings geseën nie! Gedurende die 2000-diensjaar is meer as 280- 000 nuwelinge gedoop. Hulle probeer ook om onderrigters van God se Woord te word. Mag ons in hierdie oestyd vreugde en tevredenheid ervaar deur ’n volle deelname aan die dissipelmaakwerk te hê.
Wandel op ‘die pad van regskapenheid’
Salomo toon hoe belangrik regverdigheid is. Hy sê: “Die waardevolle dinge van ’n ryke is sy sterk stad. Die ondergang van die geringes is hulle armoede. Die werk van die regverdige lei tot die lewe; die opbrengs van die goddelose lei tot sonde.”—Spreuke 10:15, 16, NW.
Rykdom kan as ’n beskerming dien teen sommige onsekerhede in die lewe, net soos ’n versterkte stad ’n mate van veiligheid bied vir diegene wat daarin woon. En armoede kan jou ondergang beteken wanneer daar onverwagte verwikkelinge is (Prediker 7:12). Die wyse koning kon egter ook gesinspeel het op ’n gevaar waarby rykdom sowel as armoede betrokke is. ’n Ryk man stel dalk sy volle vertroue in sy rykdom en verbeel hom dat sy waardevolle dinge “soos ’n beskermende muur” is (Spreuke 18:11, NW). En ’n arm persoon het dalk verkeerdelik die beskouing dat sy armoede sy toekoms hopeloos maak. Albei versuim dus om ’n goeie naam by God te maak.
it-1-E 340
Seëninge
Jehovah seën mense. “Dit is die seën van Jehovah wat ’n mens ryk maak, en Hy voeg geen pyn daarby nie” (Spr 10:22). Jehovah seën dié wat hy goedkeur deur hulle te beskerm, suksesvol te maak, te lei en deur in hulle behoeftes te voorsien. En al hierdie dinge lei tot hulle voordeel.
Geestelike skatte
Die vreugdes wat ’n weg van onkreukbaarheid meebring
18 “Die seën van Jehovah”—dit is wat geestelike voorspoed vir sy volk gebring het. En ons word daarvan verseker dat ‘hy geen pyn daarby voeg nie’ (Spreuke 10:22). Waarom kom beproewinge dan oor baie van God se lojale knegte, wat hulle baie pyn en lyding besorg? Moeilikhede en probleme kom om drie hoofredes oor ons. (1) Ons eie sondige neigings (Genesis 6:5; 8:21; Jakobus 1:14, 15). (2) Satan en sy demone (Efesiërs 6:11, 12). (3) Die goddelose wêreld (Johannes 15:19). Hoewel Jehovah toelaat dat slegte dinge met ons gebeur, is hy nie die oorsaak daarvan nie. Trouens, “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte” (Jakobus 1:17). Jehovah se seëninge is sonder pyn.
28 APRIL 2012–4 MEI 2012
SKATTE UIT GOD SE WOORD SPREUKE 11
Moet dit nie sê nie!
Onkreukbaarheid lei die regskapenes
Die onkreukbaarheid van die regskapenes en die goddeloosheid van kwaaddoeners het ook ’n uitwerking op ander mense. “Deur sy mond stort die afvallige sy medemens in die verderf”, sê die koning van Israel, “maar deur kennis word die regverdiges gered” (Spreuke 11:9). Wie sal ontken dat laster, skadelike skinderpraatjies, onwelvoeglike praatjies en onsinnige praatjies ander benadeel? Daarenteen is ’n regverdige se spraak rein, weldeurdag en bedagsaam. Hy word deur kennis gered omdat sy onkreukbaarheid hom die bewyse gee wat hy nodig het om te toon dat sy aanklaers leuens vertel.
Onkreukbaarheid lei die regskapenes
Stadsbewoners wat ’n regskape weg volg, bevorder vrede en die welstand van ander, en hulle bou mense in die gemeenskap op. ’n Stad word dus verhef—dit is voorspoedig. Mense wat lasterlike, kwetsende en verkeerde dinge sê, versteur die vrede en veroorsaak hartseer, verdeeldheid en moeilikheid. Dit is veral die geval as hierdie mense invloedryk is. In so ’n stad is daar wanorde, verdorwenheid, sedelike verval en miskien ekonomiese agteruitgang.
Die beginsel in Spreuke 11:11 geld ook vir Jehovah se volk wanneer hulle met mekaar omgaan in hulle gemeentes wat met stede vergelyk word. ’n Gemeente waar geestelike mense—regskapenes wat deur hulle onkreukbaarheid gelei word—’n invloed het, is ’n groep gelukkige, bedrywige en behulpsame mense wat God eer. Jehovah seën die gemeente, en dit geniet geestelike voorspoed. Die paar, hier en daar, wat dalk klaerig en ontevrede is, wat foutvind en griewende aanmerkings maak oor hoe dinge gedoen word, is soos ’n “giftige wortel” wat kan versprei en ander kan vergiftig wat aanvanklik onaangetas was (Hebreërs 12:15). Sulke mense wil dikwels meer gesag en vernaamheid hê. Hulle begin gerugte dat daar onregverdigheid, etniese vooroordeel of so iets in die gemeente bestaan of dat die ouer manne daaraan skuldig is. Hulle mond kan beslis die gemeente verdeel. Moet ons nie doof wees vir hulle praatjies en daarna streef om geestelike mense te wees wat vrede en eenheid in die gemeente bevorder nie?
Onkreukbaarheid lei die regskapenes
Watter skade word tog aangerig deur iemand wat nie goeie oordeel aan die dag lê nie, of “nie ’n verstandige hart het nie”! Hy gaan so ver met sy los praatjies dat hy laster of kwaadspreek. Die aangestelde ouer manne moet vinnig optree om van so ’n skadelike invloed ontslae te raak. In teenstelling met iemand wat “nie ’n verstandige hart het nie”, weet ’n man met onderskeidingsvermoë wanneer om stil te bly. Hy openbaar nie iets vertrouliks nie, maar bedek die saak. Aangesien iemand met onderskeidingsvermoë weet dat ’n onbewaakte tong baie skade kan aanrig, is hy “getrou van gees”. Hy is lojaal aan medegelowiges en openbaar nie vertroulike sake wat hulle in gevaar kan stel nie. Wat ’n seën is sulke handhawers van onkreukbaarheid tog vir die gemeente!
Geestelike skatte
g20.1 11, venster
Hoe om stres te hanteer
“VERMINDER JOU STRES DEUR LIEFDEVOL TE WEES”
“’n Goedhartige man vind baat by sy goedhartigheid, maar die wrede man bring moeilikheid oor homself.” – SPREUKE 11:17.
Die boek Overcoming Stress het ’n hoofstuk wat bespreek hoe stres verminder kan word deur liefdevol te wees. Volgens dr. Tim Cantopher kan dit jou gesondheid verbeter en jou gelukkiger maak as jy ander liefdevol behandel. Maar ’n onvriendelike persoon of iemand wat ander opsetlik seermaak, maak homself ongelukkig, want hy stoot ander van hom af weg.
Ons kan ook ons stres verminder deur nie te hard op onsself te wees nie. Ons moet ook nie te veel van onsself verwag nie. En ons moet onsself ook nie verkleineer nie. Jesus Christus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” – Markus 12:31.