Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 1/22 bl. 18-21
  • Nie eens ’n ysterlong kon keer dat sy preek nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Nie eens ’n ysterlong kon keer dat sy preek nie
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kontak met Jehovah se Getuies
  • Baie operasies maar geen bloed
  • Soeke na die waarheid beloon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
  • “Ek het nog nooit sulke liefde ervaar nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • “Ek het die geloof behou”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 1/22 bl. 18-21

Nie eens ’n ysterlong kon keer dat sy preek nie

Soms verg dit moed om net aan die lewe te bly. Hierdie verhaal is van iemand wat sulke moed gehad het. Haar naam was Laurel Nisbet.

LAUREL, wat in 1912 in Los Angeles gebore is, het ’n jong vrou met ’n lewendige geaardheid geword wat lief was vir die lewe en haar gesin. Onder normale omstandighede was dit vir haar ’n maklike taak om na haar man en twee kinders om te sien, maar in 1948 is haar liefde vir die lewe getoets op ’n manier wat die verstand byna te bowe gaan. Sy het die dodelike poliovirus opgedoen.

Nadat sy ’n paar dae lank oënskynlik griepsimptome gehad het, het dit uiteindelik vir haar onmoontlik geword om te beweeg. Haar man het haar na die distrikshospitaal geneem. Daar was sy maar een van die baie wat polio gehad het. Sy is met vrees vervul omdat omstandighede in die oorvol hospitaal vereis het dat sy op die vloer in die portaal vir ’n ysterlong moes lê en wag. Elke asemteug het geweldige inspanning geverg. Toe ’n ysterlong uiteindelik beskikbaar was, was dit vir haar ’n verligting om daarin geplaas te word. Nou kon sy daardie kosbare lewensasem intrek wat so amper van haar weggeneem is!

Ysterlonge is ontwikkel om mense te help wie se borsspiere deur polio verlam is. Die oorspronklike gedagte was dat dit ’n tydelike hulpmiddel sou wees terwyl ’n pasiënt se spiere herstel het, sodat hy op sy eie sou kon asemhaal. Maar tot Laurel se verbasing en tot die wêreld se afgryse het hierdie ysterasemhalingsmasjiene die permanente wonings van baie polioslagoffers geword. Laurel het 37 jaar lank plat op haar rug in ’n ysterlong gelewe. Sy hou die wêreldrekord vir die poliopasiënt wat die langste in ’n ysterlong bly leef het.

Was dit die enigste rede vir haar bekendheid? Glad nie. Laurel was ’n jong vrou in haar dertigerjare toe sy in die long geplaas is. Sy het twee kinders gehad om groot te maak en ’n man om te versorg. Aanvanklik het haar droefheid haar tot wanhoop gedryf. Toe het sy, na omtrent ’n dag se selfbejammering, besluit om haar met haar situasie te versoen. Uiteindelik het haar man haar huis toe gebring en het sy weer haar lewe begin opbou. Sy het geleer om haar huishouding daar vanuit die ysterlong waar te neem.

Dink jou nou net in hoe dit moes wees. Net haar kop het by die respirator uitgesteek. ’n Plastieknekstuk en ’n metaalstaaf, wat die ring styf teen haar sleutelbeen vasgedruk het, het die silinder lugdig gehou. ’n Blaasbalk onder die tenk het die lugdruk binne die tenk verander. Die blaasbalk, wat as ’n pomp gedien het, het ongeveer 15 keer per minuut lug uit die tenk gesuig. Dit het die pasiënt se borskas laat uitsit wanneer lug deur die neus of mond binnegestroom het. Wanneer die blaasbalk saamgetrek en lug in die tenk teruggeforseer het, is daar druk op die borskas uitgeoefen en het die pasiënt uitgeasem. Jy kan gevolglik sien waarom die nekstuk lugdig moes wees, omdat veranderende lugdruk die ysterlong doeltreffend laat werk het. Laurel kon haar kop beweeg, maar dit was al. Sy was heeltemal verlam van haar nek af ondertoe. Sy het haar wêreld in ’n spieël gesien wat bo haar respirator gemonteer was en ’n ander spieël aan die oorkantste muur van die kamer weerkaats het. Só kon sy haar voordeur en enigiemand wat na die deur gekom het, sien.

Kontak met Jehovah se Getuies

Op ’n dag het sy ’n besoeker gehad, Del Kuring, een van Jehovah se Getuies. Sy het tot in Laurel se sitkamer gestap en haar die wonderlike waarhede van die Bybel begin leer. Laurel het eerbied vir God se Woord gehad en het met ’n oop gemoed en ’n oop hart geluister. ’n Bybelstudie is begin, wat in 1965 tot haar toewyding aan God as een van Jehovah se Getuies gelei het. Sy het nou selfs meer gehad om voor te lewe. Eendag sou sy weer op die aarde kon loop en die Paradys kon geniet wat God vir die mens bestem het! Hoe bly was sy tog toe ook haar dogter Kay haar nuwe geloof aangeneem het.

Jy vra dalk: ‘Wat van haar doop?’ Wel, daar kon nie een wees nie. Omdat sy nie op haar eie kon asemhaal nie, was onderdompeling in water onmoontlik. Sy kon nooit na ’n Koninkryksaal gaan nie. Sy het nooit ’n byeenkoms bygewoon nie. Sy het nooit haar dogter se doop gesien nie. Maar sy het meer in haar diens aan Jehovah uitgerig as baie Christene wat nie gestremd is nie.

Die rede is dat Laurel ’n verkondiger van die goeie nuus was. Gedurende die 37 jaar wat sy aan die ysterlong gekluister was, kon sy 17 mense help om ’n juiste kennis van die Bybel te verkry. Hoe het sy dit gedoen? Sy kon natuurlik nie van deur tot deur gaan soos die meeste Getuies die voorreg het om te doen nie. Maar sy kon vir almal getuig wat haar verpleeg het. Ek het die voorreg gehad om een van hulle te wees.

In 1972 was ek ’n student aan ’n verpleegsterskollege en het ek as haar verpleegster begin werk. Aan die einde van my skof het ek en Laurel tyd gehad om te gesels en mekaar te leer ken. Op ’n dag het sy gesê: “Ek wil graag hê dat jy nou ’n bietjie vir my moet lees.” Toe ek instem, het sy gesê dat ek ’n blou boekie met die titel Die waarheid wat lei tot die ewige lewe moet kry. Ek het haar gevra waar ek moet begin en sy het eenvoudig gesê: “Begin by hoofstuk 1.” Op dié manier is ’n Bybelstudie begin en het ek ook ’n toegewyde Getuie van Jehovah geword.

Laurel se respirator kon deur die groot uitsigvenster aan die voorkant van haar huis gesien word. Sy het aan ’n besige straat gewoon, sodat enige bewoner van die dorp La Crescenta wat daar verbygeloop het haar respirator kon sien. Dit het verbygangers baie simpatiek en nuuskierig gemaak, en vreemdelinge het gereeld ingekom om haar te ontmoet. Sy was altyd verheug om mense te ontmoet en het baie vriendskappe op dié manier aangeknoop—en sy het vir hierdie mense getuig. Haar vrymoedige getuienis aangaande Jehovah en haar toekomshoop het mense beïndruk en ’n goeie getuienis ten behoewe van Jehovah se naam gegee.

Laurel het bitter min geslaap. Dit was vir haar moeilik om soos ons ander moeg te word, omdat sy nie kon beweeg nie. Die geraas en die aanhoudende beweging van die blaasbalk onder die respirator het haar wakker gehou. Hoe het sy hierdie tyd benut? Sy het met haar hemelse Vader gepraat en deur hartgrondige gebed in die volste sin met hom gekommunikeer. Ek is seker dat sy om krag en volharding gebid het, maar sy het meestal vir haar Christenbroers en -susters gebid. Sy het diep medelye met ander gehad en Jehovah daagliks vir haar seëninge gedank.

Wanneer ’n reisende verteenwoordiger van Jehovah se Getuies die gebied besoek het waar Laurel gewoon het, het hy haar altyd gaan sien. Baie van hierdie manne het ná hulle besoek aan Laurel gesê dat dit hulle was wat opgebou is! Dit was maar hoe sy was. Sy was altyd positief en vreugdevol en het voortdurend ’n geleentheid gesoek om vir die waarheid te getuig.

Sy het baie uiters onaangename ondervindings gehad, te veel om op te noem. Eenkeer moes sy ’n noodblindedermoperasie ondergaan en het die ambulans van die distrikshospitaal gekom om haar op te laai. Omdat haar blindederm gebars het, het hulle haar vinnig in die ambulans ingestoot en na die hospitaal gejaag, waar die dokter hierdie operasie sonder narkose moes uitvoer. Ja, in die vyftigerjare het hulle nie geweet hoe om ’n ysterlongpasiënt narkose toe te dien nie.

Baie operasies maar geen bloed

Sy het kanker, groot operasies en chroniese velsiektes verduur. Dit het haar baie gefrustreer wanneer sy haar wou krap en nie kon nie en sy haar verpleegster moes kry om dit vir haar te doen. Hoewel haar spiere verlam was, het sy tog gevoel oor haar hele liggaam gehad. Dit was eintlik ’n goeie ding, want dit het voorkom dat sy deurlêsere kry. Sy was baie gesteld op haar velsorg. Vier mense was nodig om haar een keer per week om te draai en ’n volledige bad te gee. Dit was werklik ’n beproewing vir Laurel, maar sy het dit soos al die ander dinge in haar lewe aanvaar.

Dié tye saam met haar was ondanks die moeilike taak prettig en genotvol. Wanneer ons die nekstuk weer teruggesit het om die toestel vir nog ’n week so lugdig as moontlik te hou, het sy op haar tande gekners en gesê: “Ag, die Duiwel se eie uitvindsel!” Ja, Laurel het geweet wie vir so ’n vreeslike toestand geblameer moes word. Dit het by Satan begin, wat die eerste mense beweeg het om hulle rug op Jehovah te keer, en dit weer het vir die mensdom sonde, siekte en die dood meegebring.

Laurel was wel fisies verlam, maar beslis nie geestelik nie. Sy het elke geleentheid gebruik om mense van haar hoop op die Paradys te leer. Selfs kort voor haar dood, toe sy ’n noodoperasie moes ondergaan, kon sy haar verbintenis tot regverdigheid uitleef. Dit was in 1985, en Laurel was 72 jaar oud. Haar dokter het kort voor die operasie na haar toe gekom en gesê dat hulle die operasie nie sonder bloed sou kon uitvoer nie. Haar dogter Kay het haar ma se wense om haar van bloed te onthou, verduidelik omdat Laurel toe al so swak was dat sy skaars kon praat. Sy het pype in haar keel gehad en kon amper nie eens fluister nie. Haar hele liggaam is deur ’n obstruksie in haar ingewande vergiftig, en dit het gelyk asof sy amper dood was.

Die dokter het egter gesê dat hy hierdie standpunt oor bloed van Laurel self moes hoor. Ons het in haar oor gefluister: “Laurel, jy moet self vir die dokter van die bloed vertel.” Tot my verbasing het haar oë skielik wyd oopgegaan, haar stem helder geword en het sy met die dokter oor haar standpunt oor bloed gepraat. Sy het tekste aangehaal en verduidelik dat Jehovah se Getuies meen dat die aanvaarding van ’n bloedoortapping ’n sonde teen God is. Ek sal nooit vergeet wat sy toe gesê het nie. “Dokter, as jy my lewe red en ek wakker word en vind dat jy my liggaam onteer het, sal ek wens dat ek dood was en sou jy verniet gewerk het.” Toe die dokter dit hoor, was hy nie net oortuig dat dit háár standpunt was nie, maar ook verbaas oor haar krag en het hy ingestem om haar wense te respekteer.

Laurel het ’n vier uur lange operasie ondergaan, en in sekere mate was dit geslaagd. Na die operasie het die dokters haar vir die eerste keer in 37 jaar uit die ysterlong gehaal en op ’n hospitaalbed laat lê. Hulle het ’n moderne respirator aan haar lugpyp-nekuitmonding gekoppel. Dit was wat sy die meeste gevrees het. Omdat die moderne respirator nou aan die trageotomiebuis in haar keel gekoppel was, kon sy nie praat nie. Sy was paniekbevange omdat dit vir haar gevoel het asof sy nie genoeg lug kry nie. Drie dae later, op 17 Augustus 1985, het sy gesterf weens komplikasies wat met die operasie verband gehou het.

Ek onthou haar laaste woorde aan my, waarskynlik die laaste woorde wat sy geuiter het, net voordat sy narkose toegedien is. Sy het gesê: “Chris, moet nooit van my af weggaan nie.” Nou sien ek uit na die einde van hierdie ou stelsel van dinge en die komende opstanding en droom ek van die dag wanneer ek my vriendin Laurel Nisbet sal kan omhels en sal kan sê: “Ek is hier. Ek het nooit van jou af weggegaan nie.”—Soos vertel deur Christine Tabery.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel