Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Wie moet jy glo?
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Wie moet jy glo?

      “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God.”—HEBREËRS 3:4.

      STEM jy saam met die logika van hierdie Bybelskrywer? Die mensdom het al sowat 2 000 jaar se wetenskaplike vooruitgang gemaak sedert hierdie vers op skrif gestel is. Dink enigiemand nog dat die ontwerp wat in die natuur gesien kan word, vereis dat ’n mens moet glo aan ’n Ontwerper, ’n Skepper—God?

      Selfs in nywerheidslande sou baie mense ja sê. In 2005 is daar byvoorbeeld in ’n opname wat in die Verenigde State deur die tydskrif Newsweek gedoen is, bevind dat 80 persent van mense “glo dat God die heelal geskep het”. Bestaan hierdie oortuiging weens onkunde? Wel, is daar wetenskaplikes wat aan God glo? In 1997 het die wetenskaptydskrif Nature berig dat byna 40 persent van die bioloë, fisici en wiskundiges wat aan die opname deelgeneem het, aan ’n God glo wat nie net bestaan nie, maar wat ook na gebede luister en dit verhoor.

      Ander wetenskaplikes stem egter glad nie saam nie. Dr. Herbert A. Hauptman, ’n Nobelpryswenner, het onlangs by ’n wetenskapkonferensie gesê dat geloof in die bonatuurlike, veral geloof in God, nie met ware wetenskap versoen kan word nie. “Hierdie soort oortuiging”, het hy gesê, “is skadelik vir die welsyn van die menseras.” Selfs wetenskaplikes wat aan God glo, is huiwerig om aan ander te leer dat die ontwerp wat in plante en diere gesien kan word, ’n Ontwerper vereis. Waarom? Douglas H. Erwin, ’n paleobioloog by die Smithsonian-instituut, identifiseer een rede hiervoor en sê: “Een van die reëls van die wetenskap is: Wonderwerke verbode.”

      Jy kan toelaat dat ander vir jou voorsê wat jy mag dink en glo. Of dalk wil jy self van die bewyse ondersoek en jou eie gevolgtrekkings maak. Terwyl jy op die volgende bladsye oor onlangse ontdekkings in die wetenskap lees, vra jou af: ‘Is dit logies om tot die slotsom te kom dat daar ’n Skepper is?’

      [Lokteks op bladsy 3]

      Ondersoek die bewyse self

      [Venster op bladsy 3]

      IS JEHOVAH SE GETUIES KREASIONISTE?

      Jehovah se Getuies glo die skeppingsverslag soos dit in die Bybelboek Genesis opgeteken is. Maar Jehovah se Getuies kan nie kreasioniste, oftewel aanhangers van die skeppingsleer, genoem word nie. Waarom nie? Eerstens glo baie kreasioniste dat die heelal, die aarde en alle lewe daarop sowat 10 000 jaar gelede in ses dae van 24 uur elk geskep is. Dit is egter nie wat die Bybel leer nie.a Kreasioniste het ook baie leerstellings aangeneem wat nie deur die Bybel ondersteun word nie. Jehovah se Getuies baseer hulle godsdiensleringe uitsluitlik op God se Woord.

      Verder is die term “kreasionis” in party lande sinoniem met Fundamentalistegroepe wat aktief by die politiek betrokke is. Hierdie groepe probeer druk uitoefen op politici, regters en opvoeders om wette en leerplanne aan te neem wat met die kreasioniste se godsdiensopvattings strook.

      In teenstelling hiermee is Jehovah se Getuies polities neutraal. Hulle respekteer die reg van regeringsowerhede om wette te maak en toe te pas (Romeine 13:1-7). Maar hulle neem Jesus se verklaring dat hulle “geen deel van die wêreld” is nie, ernstig op (Johannes 17:14-16). In hulle openbare bediening bied hulle mense die kans om te leer watter voordele dit inhou om volgens God se standaarde te lewe. Maar hulle skend nie hulle Christelike neutraliteit deur die pogings van Fundamentalistegroepe te ondersteun wat probeer om burgerlike wette te laat instel wat ander sal dwing om Bybelstandaarde aan te neem nie.—Johannes 18:36.

      [Voetnoot]

      a Sien asseblief die artikel “Die Bybel se beskouing: Weerspreek die wetenskap die Genesisverslag?” op bladsy 18 van hierdie tydskrif.

  • Wat leer ons uit die natuur?
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Wat leer ons uit die natuur?

      “Vra asseblief die mak diere, en hulle sal jou onderrig; ook die voëls van die hemel, en hulle sal jou vertel. Of rig jou aandag op die aarde, en dit sal jou onderrig; en die visse van die see sal dit aan jou bekend maak.”—JOB 12:7, 8.

      IN ONLANGSE jare het wetenskaplikes en ingenieurs toegelaat dat plante en diere hulle in ’n baie letterlike sin onderrig. Hulle bestudeer die ontwerpkenmerke van verskeie plante en diere en boots dit na—’n studieveld wat as biomimetika bekend staan—in ’n poging om nuwe produkte te skep en die werkverrigting van bestaande masjiene te verbeter. Terwyl jy na die volgende voorbeelde kyk, vra jou af: ‘Wie verdien werklik die erkenning vir hierdie ontwerpe?’

      Wat ons uit ’n walvis se vinne leer

      Wat kan vliegtuigontwerpers by ’n boggelwalvis leer? Blykbaar heelwat. ’n Volwasse boggelwalvis weeg sowat 30 ton—soveel as ’n gelaaide vragmotor—en het ’n betreklik onbuigsame liggaam met groot, vlerkagtige vinne. Hierdie 12 meter lange dier is merkwaardig beweeglik onderwater. Wanneer ’n boggelwalvis byvoorbeeld jag, swem dit soms in ’n opwaartse spiraal onder die skaaldiere of visse wat dit wil vang, terwyl dit heeltyd ’n stroom borrels uitblaas. Hierdie net van borrels, wat soms net een en ’n half meter in deursnee is, keer die diere by die oppervlak vas. Die walvis sluk dan sy netjies verpakte maaltyd in.

      Wat veral vir navorsers fassinerend was, was hoe hierdie dier met sy onbuigsame liggaam in skynbaar onmoontlike klein sirkels kan swem. Hulle het ontdek dat die geheim by die vorm van die walvis se vinne lê. Die voorrand van die vinne is nie glad soos ’n vliegtuig se vlerk nie, maar geriffel, met ’n ry knoppies vooraan wat tuberkels genoem word.

      Terwyl die walvis deur die water kloof, vermeerder hierdie tuberkels die vinne se hefkrag terwyl dit weerstand verminder. Hoe? Die tydskrif Natural History verduidelik dat die tuberkels die water oor die vin laat versnel in ’n gladde, draaiende vloeipatroon, selfs wanneer die walvis teen ’n baie skerp hoek opwaarts beweeg. As die vin ’n gladde voorrand gehad het, sou die walvis nie sulke skerp opwaartse draaie kon maak nie, omdat die water agter die vin sou begin bruis en maal en dus nie meer hefkrag sou kon voortbring nie.

      Watter praktiese toepassingsmoontlikhede het hierdie ontdekking? Vliegtuigvlerke wat op dié ontwerp gebaseer is, sal blykbaar minder vlerkklappe of ander meganiese toestelle nodig hê om die lugvloei te wysig. Sulke vlerke sal veiliger wees, asook makliker om te onderhou. John Long, ’n deskundige op die gebied van biomeganika, glo dat ons een van die dae “heel moontlik knoppies soos op boggelwalvisvinne op elke straalvliegtuig sal sien”.

      Seemeeue se vlerke word nageboots

      Vliegtuigvlerke boots natuurlik reeds die vorm van voëls se vlerke na. Maar ingenieurs het onlangs hierdie nabootsing tot nuwe hoogtes gevoer. “Navorsers by die Universiteit van Florida”, berig New Scientist, “het ’n prototipe gebou van ’n afstandbeheerde tuig wat soos ’n seemeeu op een plek in die lug kan hang, kan duik en vinnig kan klim.”

      Seemeeue voer hulle merkwaardige kunsvliegtoertjies uit deur hulle vlerke by die elmboog- en skouergewrigte te buig. Om hierdie buigsame vlerkontwerp na te boots, “gebruik die prototipe van 24 duim [60 sentimeter] ’n klein motor om ’n reeks metaalstawe te beheer wat die vlerke laat beweeg”, sê die tydskrif. Hierdie vernuftig ontwerpte vlerke stel die vliegtuigie in staat om op een plek in die lug te hang en tussen hoë geboue te duik. Die Amerikaanse Lugmag wil graag so ’n hoogs beweeglike tuig ontwikkel om te gebruik in soektogte na chemiese of biologiese wapens in groot stede.

      Die geitjie se pote word nageboots

      Mense kan ook baie by landdiere leer. Die klein akkedis wat as ’n geitjie bekend staan, het byvoorbeeld die vermoë om teen mure uit te klim en onderstebo aan plafonne vas te klou. Hierdie diertjie was selfs in Bybeltye bekend vir hierdie verstommende vermoë (Spreuke 30:28). Hoe kry die geitjie dit reg om swaartekrag so te oorkom?

      Die geitjie se vermoë om selfs aan oppervlakke wat so glad soos glas is, vas te kleef, is te danke aan die piepklein, haaragtige strukture waarmee sy pote oortrek is en wat setae genoem word. Die pote skei nie gom af nie. Dit maak eerder gebruik van ’n swak molekulêre krag. Die molekules op die twee oppervlakke kleef aan mekaar weens baie swak aantrekkingskragte wat as Van der Waals-kragte bekend staan. Gewoonlik is swaartekrag baie sterker as hierdie kragte, en dit is waarom jy nie teen ’n muur kan opklim bloot deur jou hande plat daarop te plaas nie. Die geitjie se klein setae vergroot egter die oppervlak wat met die muur kontak maak. Wanneer Van der Waals-kragte deur die duisende setae op die geitjie se pote vermenigvuldig word, veroorsaak dit genoeg kleefkrag om die akkedissie se gewig te dra.

      Watter nut kan hierdie ontdekking hê? Sintetiese materiale wat die geitjie se pote naboots, kan gebruik word as ’n alternatief vir Velcro—nog ’n idee wat aan die natuur ontleen is.a Die tydskrif The Economist haal een navorser aan wat sê dat ’n materiaal wat van “geitjiekleefband” gemaak is, baie nuttig kan wees “vir mediese doeleindes waar chemiese kleefmiddels nie gebruik kan word nie”.

      Wie verdien die erkenning?

      Intussen ontwikkel die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie ’n veelbenige robot wat soos ’n skerpioen loop, en ingenieurs in Finland het reeds ’n sesbenige trekker ontwikkel wat net soos ’n reuse-insek oor voorwerpe kan klim. Ander navorsers het ’n tekstiel ontwerp met klein klappe wat die manier naboots waarop dennebolle oop- en toemaak. ’n Motorvervaardiger ontwikkel ’n voertuig wat die verbasend stroombelynde ontwerp van die koffervis naboots. En ander navorsers ondersoek die skokabsorberende eienskappe van perlemoenskulpe, met die doel om ligter, sterker koeëlvaste klere te maak.

      Daar is soveel goeie idees wat uit die natuur gekom het, dat navorsers ’n databasis geskep het wat reeds ’n katalogus van duisende biologiese stelsels bevat. Wetenskaplikes kan deur hierdie databasis soek om “natuurlike oplossings vir ontwerpprobleme” te vind, sê The Economist. Die natuurlike stelsels wat in hierdie databasis geberg word, staan bekend as “biologiese patente”. ’n Patenthouer is gewoonlik die persoon of maatskappy wat ’n nuwe idee of masjien wetlik registreer. The Economist bespreek hierdie databasis van biologiese patente en sê: “Wanneer navorsers die biomimetiese ontwerpe ‘biologiese patente’ noem, beklemtoon hulle maar net dat die natuur in werklikheid die patenthouer is.”

      Hoe het die natuur met al hierdie briljante idees vorendag gekom? Baie navorsers skryf die ontwerpe in die natuur wat so vindingryk lyk, toe aan ’n evolusionêre toets-en-tref-proses wat oor miljoene jare plaasgevind het. Ander navorsers kom egter tot ’n ander slotsom. Die mikrobioloog Michael Behe het in 2005 in The New York Times geskryf: “Die sterk aanduidings van ontwerp [in die natuur] maak ’n oortuigend eenvoudige argument moontlik: as iets soos ’n eend lyk, waggel en kwaak, en daar nie onomstootlike bewyse van die teendeel is nie, het ons rede om te glo dat dit ’n eend is.” Sy gevolgtrekking? “Ontwerp moenie oor die hoof gesien word net omdat dit so voor die hand liggend is nie.”

      Die ingenieur wat ’n veiliger, doeltreffender vliegtuigvlerk ontwerp, verdien sekerlik om erkenning vir sy ontwerp te ontvang. Net so verdien die uitvinder van ’n veelsydiger verband—of gemakliker kleremateriaal of ’n doeltreffender motor—erkenning vir sy of haar ontwerp. Trouens, ’n vervaardiger wat iemand anders se ontwerp naboots maar wat nie erkenning aan die ontwerper gee nie, kan as ’n misdadiger beskou word.

      Is dit dan vir jou logies dat hoogs opgeleide navorsers stelsels in die natuur op ’n elementêre manier naboots om moeilike ingenieursprobleme op te los, en dan die vernuf wat die oorspronklike idee geverg het, aan onintelligente evolusie toeskryf? As die namaaksel ’n intelligente ontwerper vereis, wat dan van die oorspronklike? Wie verdien werklik groter eer, die meesterkunstenaar of die student wat sy tegniek naboots?

      ’n Logiese gevolgtrekking

      Nadat baie denkende mense die bewyse van ontwerp in die natuur in oënskou geneem het, is hulle dit eens met die psalmis wat geskryf het: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het” (Psalm 104:24). Die Bybelskrywer Paulus het ’n soortgelyke gevolgtrekking gemaak. Hy het geskryf: “Want [God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid.”—Romeine 1:19, 20.

      Talle opregte mense wat die Bybel respekteer en aan God glo, voer egter aan dat God dalk evolusie kon gebruik het om die wonders van die natuurlike wêreld te skep. Maar wat leer die Bybel hieroor?

      [Voetnote]

      a Velcro is ’n hegstelsel van hakies en lussies, gebaseer op die ontwerp wat in klitsgrassade gevind word.

      [Lokteks op bladsy 5]

      Hoe het die natuur met soveel goeie idees vorendag gekom?

      [Lokteks op bladsy 6]

      Wie is die patenthouer van die natuur?

      [Venster/Prente op bladsy 7]

      As die namaaksel ’n intelligente ontwerper vereis, wat dan van die oorspronklike?

      Hierdie hoogs beweeglike vliegtuig boots ’n seemeeu se vlerke na

      ’n Geitjie se pote word nie vuil nie, laat geen spore nie, kleef aan enige oppervlak behalwe Teflon, en kleef en laat los sonder veel inspanning. Navorsers probeer dit naboots

      Die verbasend stroombelynde ontwerp van die koffervis is die inspirasie vir ’n voertuigkonsep

      [Erkennings]

      Vliegtuig: Kristen Bartlett/ University of Florida; geitjie se poot: Breck P. Kent; koffervis en motor: Mercedes-Benz USA

      [Venster/Prente op bladsy 8]

      NAVIGATORS WAT INSTINKTIEF WYS IS

      Baie diere is “instinktief wys” in die manier waarop hulle hulle weg om die planeet Aarde vind (Spreuke 30:24, 25). Kyk na twee voorbeelde.

      ◼ Verkeerbeheer vir miere Hoe vind miere wat kos soek, hulle pad terug na hulle nes toe? Navorsers in die Verenigde Koninkryk het ontdek dat party miere nie net reukmerkers agterlaat nie, maar ook meetkunde gebruik om paadjies te maak wat dit vergemaklik om weer by die huis te kom. Byvoorbeeld, faraomiere “maak paadjies wat van hulle nes af uitgaan, en wanneer dit vurk, vorm die vertakkings ’n hoek van 50 tot 60 grade”, sê New Scientist. Wat is merkwaardig omtrent hierdie patroon? Wanneer ’n mier na die nes toe terugkeer en by ’n vurk in die paadjie kom, kies hy instinktief die paadjie wat die minste afwyk, wat die mier altyd huis toe sal lei. “Die hoeke van die vurke in die paadjies”, sê die artikel, “verseker die beste vloei van miere deur die netwerk van paadjies, veral wanneer miere in twee rigtings daarlangs loop, en dit beperk die verlies aan energie tot ’n minimum omdat dit verhoed dat miere in die verkeerde rigting gaan.”

      ◼ Kompasse vir voëls Baie voëls navigeer met haarfyn akkuraatheid oor lang afstande en in alle soorte weer. Hoe? Navorsers het ontdek dat voëls die aarde se magnetiese veld kan aanvoel. Maar die aarde se “magnetiese veldlyne wissel van plek tot plek en wys nie altyd na ware noord nie”, sê die tydskrif Science. Wat voorkom dat trekvoëls van hulle roete afwyk? Voëls kalibreer hulle interne kompasse blykbaar elke aand volgens die son wanneer dit ondergaan. Aangesien die posisie van die sonsondergang volgens die breedtegraad en seisoen wissel, dink navorsers dat hierdie voëls waarskynlik vir hierdie veranderinge kan vergoed deur middel van “’n biologiese horlosie wat vir hulle sê watter tyd van die jaar dit is”, sê Science.

      Wie het die mier met ’n begrip van meetkunde geprogrammeer? Wie het die voëls voorsien van ’n kompas, ’n biologiese horlosie en ’n brein wat die inligting kan interpreteer wat deur hierdie instrumente voorsien word? Onintelligente evolusie? Of ’n intelligente Skepper?

      [Erkenning]

      © E.J.H. Robinson 2004

  • Het God evolusie gebruik om lewe te skep?
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Het God evolusie gebruik om lewe te skep?

      “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—OPENBARING 4:11.

      KORT nadat Charles Darwin die evolusieteorie gewild gemaak het, het talle sogenaamde Christelike denominasies na maniere begin soek om hulle geloof in God met hulle aanvaarding van die evolusieteorie te versoen.

      Vandag is die meeste vername “Christelike” godsdiensgroepe blykbaar bereid om te aanvaar dat God evolusie op die een of ander manier moes gebruik het om lewe te skep. Party leer dat God die heelal vooraf geprogrammeer het sodat lewende dinge noodwendig uit nielewende chemiese stowwe sou evolueer en uiteindelik die mensdom sou voortbring. Dié wat glo in hierdie lering, wat as teïstiese evolusie bekend staan, meen dat God nie in die proses ingemeng het nadat dit begin het nie. Ander meen dat God evolusie oor die algemeen toegelaat het om die meeste plant- en dierfamilies voort te bring, maar dat hy soms tussenbeide getree het om die proses aan te help.

      Die versoening van leerstellings—Werk dit?

      Is die evolusieteorie werklik versoenbaar met die leerstellings van die Bybel? As evolusie waar was, sou die Bybel se verslag van die skepping van die eerste man Adam hoogstens ’n storie gewees het wat bedoel is om ’n sedeles te leer maar nie letterlik opgeneem moet word nie (Genesis 1:26, 27; 2:18-24). Is dit hoe Jesus hierdie Bybelverslag beskou het? Jesus het gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:4-6.

      Jesus het hier uit die skeppingsverslag aangehaal wat in Genesis hoofstuk 2 opgeteken is. Sou Jesus, as hy geglo het dat die eerste huwelik ’n fiktiewe storie was, daarna verwys het ter ondersteuning van wat hy oor die heiligheid van die huwelik geleer het? Nee. Jesus het na die Genesisverslag verwys omdat hy geweet het dat dit ware geskiedenis is.—Johannes 17:17.

      Jesus se dissipels het ook die Genesisverslag van die skepping geglo. Die Evangelie van Lukas voer byvoorbeeld Jesus se geslagslyn terug tot by Adam (Lukas 3:23-38). As Adam ’n fiktiewe karakter was, op watter punt sou hierdie geslagsregister van feit na mite oorgeslaan het? Hoe geloofwaardig sou Jesus se bewering gewees het dat hy die Messias is, gebore in die lyn van Dawid, as die wortelstok van hierdie stamboom mitologies was? (Matteus 1:1). Die Evangelieskrywer Lukas het gesê dat hy “alles van die begin af noukeurig nagespeur het”. Dit is duidelik dat hy ook die skeppingsverslag in Genesis geglo het.—Lukas 1:3.

      Die apostel Paulus se geloof in Jesus is gekoppel aan Paulus se vertroue in die Genesisverslag. Hy het geskryf: “Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dooies ook deur ’n mens. Want net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word” (1 Korintiërs 15:21, 22). As Adam nie letterlik die voorvader van die hele mensdom was, die een waardeur “die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde” nie, waarom moes Jesus dan sterf om die gevolge van oorgeërfde sonde ongedaan te maak?—Romeine 5:12; 6:23.

      As iemand geloof in die skeppingsverslag in Genesis ondermyn, ondermyn hy in werklikheid die grondslag van die Christelike geloof. Die evolusieteorie en die leringe van Christus is onversoenbaar. Enige poging om hierdie leerstellings te versoen, kan net tot ’n swak geloof lei wat maklik “rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering”.—Efesiërs 4:14.

      Geloof met ’n vaste grondslag

      Die Bybel word al eeue lank gekritiseer en aangeval. Die Bybelteks is al herhaaldelik waar bewys. Wanneer die Bybel onderwerpe soos die geskiedenis, gesondheid en die wetenskap aanraak, is daar keer op keer bewys dat die verslae daarin betroubaar is. Die raad daarin oor menseverhoudinge is betroubaar en tydloos. Mensefilosofieë en -teorieë is soos groen gras wat uitspruit en dan met verloop van tyd verdroog, maar die Woord van God “sal tot onbepaalde tyd bly bestaan”.—Jesaja 40:8.

      Die evolusieleer word nie net tot die wêreld van wetenskaplike teorie beperk nie. Dit is ’n menslike filosofie wat gebloei het en toe dekades lank gefloreer het. Maar in onlangse jare het Darwin se tradisionele evolusieleer self geëvolueer—om die waarheid te sê, gemuteer—namate pogings aangewend is om die toenemende bewyse van ontwerp in die natuur te rasionaliseer. Ons nooi jou om hierdie onderwerp verder te ondersoek. Jy kan dit doen deur die ander artikels in hierdie tydskrif te lees. Jy wil dalk ook die publikasies lees wat op hierdie bladsy en bladsy 32 uitgebeeld word.

      Nadat jy oor hierdie onderwerp navorsing gedoen het, sal jy heel moontlik vind dat jy groter vertroue sal hê in wat die Bybel oor die verlede sê. Wat belangriker is, jou geloof in die Bybel se beloftes vir die toekoms sal sterker wees (Hebreërs 11:1). Jy sal dalk ook vind dat dit jou beweeg om Jehovah, “die Maker van hemel en aarde”, te loof.—Psalm 146:6.

      VERDERE LEESSTOF

      ’n boek vir alle mense Spesifieke voorbeelde wat bewys lewer van die Bybel se egtheid, word in hierdie brosjure bespreek

      Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? Ondersoek nog wetenskaplike bewyse en leer waarom ’n God wat omgee, soveel lyding sou toelaat

      Wat leer die Bybel werklik? Die vraag: Wat is God se voorneme met die aarde?, word in hoofstuk 3 van hierdie boek beantwoord

      [Lokteks op bladsy 10]

      Jesus het die Genesisverslag van die skepping geglo. Was hy verkeerd?

      [Venster op bladsy 9]

      WAT IS EVOLUSIE?

      Een definisie van “evolusie” is: “’n Proses van verandering in ’n sekere rigting.” Die term word egter op verskeie maniere gebruik. Dit word byvoorbeeld gebruik om groot veranderinge in nielewende dinge te beskryf—die ontwikkeling van die heelal. Daarbenewens word die term gebruik om klein veranderinge in lewende dinge te beskryf—die manier waarop plante en diere by hulle omgewing aanpas. Die woord word egter meestal gebruik om die teorie te beskryf dat lewe uit nielewende chemiese stowwe ontstaan het, in selfrepliserende selle verander het en geleidelik in al hoe meer komplekse lewensvorme ontwikkel het, met die mens as die intelligentste van alles wat dit voortgebring het. Hierdie derde opvatting is wat bedoel word met die term “evolusie” soos dit in hierdie artikel gebruik word.

      [Foto-erkenning op bladsy 10]

      Ruimtefoto: J. Hester and P. Scowen (AZ State Univ.), NASA

  • ’n Onderhoud met ’n biochemikus
    Ontwaak! – 2006 | September
    • ’n Onderhoud met ’n biochemikus

      IN 1996 het Michael J. Behe, nou ’n professor in biochemie aan Lehigh- universiteit in Pennsilvanië, VSA, sy boek Darwin’s Black Box—The Biochemical Challenge to Evolution vrygestel. Die Ontwaak! van 8 Mei 1997 het ’n reeks artikels bevat met die titel “Hoe het ons hier gekom?—Per toeval of deur ontwerp?” wat na Behe se boek verwys het. In die dekade sedert Darwin’s Black Box uitgegee is, het evolusionistiese wetenskaplikes geskarrel om die argumente wat Behe geopper het, te weerlê. Kritici het hom daarvan beskuldig dat hy toegelaat het dat sy godsdiensoortuigings—hy is Rooms-Katoliek—sy wetenskaplike oordeel benewel. Ander beweer dat sy redenasies onwetenskaplik is. Ontwaak! het ’n onderhoud met professor Behe gevoer om uit te vind waarom sy idees soveel polemiek uitgelok het.

      ONTWAAK!: WAAROM VOEL JY DAT LEWE BEWYS LEWER VAN INTELLIGENTE ONTWERP?

      PROFESSOR BEHE: Ons lei af dat iets ontwerp is wanneer ons sien dat dit op ’n komplekse manier aanmekaargesit is om sekere funksies uit te voer. Neem byvoorbeeld die masjiene wat ons elke dag gebruik—’n grassnyer, ’n motor of selfs eenvoudiger dinge. ’n Voorbeeld wat ek graag gebruik, is dié van ’n muisvalletjie. ’n Mens lei af dat dit ontwerp is omdat jy verskillende dele sien wat gerangskik is om die funksie uit te voer om ’n muis te vang.

      Die wetenskap het nou soveel vooruitgang gemaak dat dit die eenvoudigste vlak van lewe ontdek het. En tot ons verbasing het wetenskaplikes funksionele, komplekse masjinerie op die molekulêre vlak van lewe gevind. Byvoorbeeld, binne-in lewende selle is daar klein molekulêre “vragmotors” wat voorraad van een kant van die sel na die ander kant toe dra. Daar is piepklein molekulêre “padtekens” wat vir hierdie “vragmotors” sê om links of regs te draai. Sommige selle het molekulêre “motore” om die selle deur ’n vloeistof aan te dryf. As mense sulke funksionele kompleksiteit in enige ander konteks sou waarneem, sou hulle aflei dat hierdie dinge ontwerp is. Ons het geen ander verduideliking vir hierdie kompleksiteit nie, ten spyte van die bewerings van Darwinistiese evolusie. Aangesien hierdie soort rangskikking nog altyd van ontwerp getuig het, het ons rede om te dink dat hierdie molekulêre stelsels ook op intelligente wyse ontwerp is.

      ONTWAAK!: WAAROM DINK JY STEM DIE MEESTE VAN JOU KOLLEGAS NIE SAAM MET JOU GEVOLGTREKKINGS OOR INTELLIGENTE ONTWERP NIE?

      PROFESSOR BEHE: Baie wetenskaplikes stem nie saam met my gevolgtrekkings nie omdat hulle besef dat die idee van intelligente ontwerp implikasies het wat buite die sfeer van die wetenskap val—dat dit blykbaar op iets bonatuurliks wys. Hierdie gevolgtrekking maak mense ongemaklik. Maar ek is nog altyd geleer dat die wetenskap die bewyse behoort te volg, waarheen dit ook al lei. Na my mening is dit lafhartig om terug te deins van iets wat so duidelik deur die bewyse gestaaf word, net omdat jy dink dat die gevolgtrekking ongewenste filosofiese implikasies het.

      ONTWAAK!: HOE REAGEER JY OP KRITICI WAT BEWEER DAT DIE AANVAARDING VAN DIE IDEE VAN INTELLIGENTE ONTWERP ONKUNDE BEVORDER?

      PROFESSOR BEHE: Die gevolgtrekking dat daar ontwerp in die natuur is, is nie weens onkunde nie. Dit is nie as gevolg van wat ons nie weet nie; dit is as gevolg van wat ons wel weet. Toe Darwin sy boek The Origin of Species 150 jaar gelede vrygestel het, het lewe eenvoudig gelyk. Wetenskaplikes het gedink dat die sel so eenvoudig is dat dit sommer spontaan uit seemodder kon ontstaan het. Maar sedertdien het die wetenskap ontdek dat selle ongelooflik kompleks is, baie komplekser as die masjinerie van ons 21ste-eeuse wêreld. Hierdie funksionele kompleksiteit getuig van doelbewuste ontwerp.

      ONTWAAK!: HET DIE WETENSKAP ENIGE BEWYSE GELEWER DAT EVOLUSIE DIE INGEWIKKELDE MOLEKULÊRE MASJIENE WAARVAN JY PRAAT, DEUR MIDDEL VAN NATUURLIKE SELEKSIE KON GESKEP HET?

      PROFESSOR BEHE: As jy wetenskaplike literatuur nagaan, sal jy ontdek dat niemand al ’n ernstige poging aangewend het—’n eksperimentele poging of ’n gedetailleerde wetenskaplike model—wat verduidelik hoe sulke molekulêre masjiene deur Darwinistiese prosesse ontstaan het nie. Dit is ondanks die feit dat talle wetenskaplike organisasies, soos die Nasionale Akademie vir Wetenskappe en die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van die Wetenskap, in die tien jaar sedert my boek uitgegee is, dringende versoeke tot hulle lede gerig het om alles in hulle vermoë te doen om die idee te weerlê dat lewe bewyse van intelligente ontwerp voorsien.

      ONTWAAK!: HOE ANTWOORD JY DIEGENE WAT VERWYS NA KENMERKE VAN PLANTE OF DIERE WAT, VOLGENS HULLE, SWAK ONTWERP IS?

      PROFESSOR BEHE: Net omdat ons nie weet waarom ’n organisme ’n sekere kenmerk het nie, beteken nie dat dit nie ’n belangrike rol speel nie. Vroeër is daar byvoorbeeld gedink dat sogenaamde rudimentêre organe toon dat die menslike liggaam en ander organismes swak ontwerp is. Daar was byvoorbeeld ’n tyd toe die blindederm en die mangels as rudimentêre organe beskou is en hulle dikwels verwyder is. Maar toe is daar ontdek dat hierdie organe ’n rol speel in die immuunstelsel, en dit word nie meer as rudimentêr beskou nie.

      Nog ’n punt om in gedagte te hou, is dat sekere dinge in biologie blykbaar wel per toeval gebeur. Maar net omdat my motor ’n duik of ’n pap wiel het, beteken nie dat die motor of die wiel nie ontwerp is nie. Net so beteken die feit dat party dinge in biologie wel per toeval gebeur, nie dat die gesofistikeerde, komplekse molekulêre masjinerie van die lewe per toeval ontstaan het nie. Hierdie argument is eenvoudig nie logies nie.

      [Lokteks op bladsy 12]

      “Na my mening is dit lafhartig om terug te deins van iets wat so duidelik deur die bewyse gestaaf word, net omdat jy dink dat die gevolgtrekking ongewenste filosofiese implikasies het”

  • Is evolusie ’n feit?
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Is evolusie ’n feit?

      “EVOLUSIE is ’n feit, net soos dit ’n feit is dat die son hitte uitstraal”, beweer professor Richard Dawkins, ’n vooraanstaande evolusionistiese wetenskaplike. Eksperimente en direkte waarnemings bewys natuurlik dat die son warm is. Maar verleen eksperimente en direkte waarnemings dieselfde onbetwiste steun aan die evolusieleer?

      Voordat ons daardie vraag beantwoord, moet iets opgeklaar word. Baie wetenskaplikes het al opgemerk dat afstammelinge van lewende dinge mettertyd effens kan verander. Charles Darwin het hierdie proses “afstamming met opeenvolgende veranderinge” genoem. Sulke veranderinge is direk waargeneem, in eksperimente opgeteken en op vindingryke wyse deur plant- en dieretelers gebruik.a Hierdie veranderinge kan as feite beskou word. Maar wetenskaplikes noem hierdie klein veranderinge “mikro-evolusie”. Selfs die naam impliseer wat baie wetenskaplikes beweer—dat hierdie geringe veranderinge bewys lewer van ’n heeltemal ander verskynsel, een wat niemand al waargeneem het nie, wat hulle makro-evolusie noem.

      Darwin het baie verder as sulke waarneembare veranderinge gegaan. In sy beroemde boek The Origin of Species het hy geskryf: “Ek beskou alle wesens nie as spesiaal geskepte wesens nie, maar as die regstreekse afstammelinge van net ’n paar wesens.” Darwin het gesê dat hierdie oorspronklike “paar wesens”, of sogenaamde eenvoudige lewensvorme, stadig oor ontsaglike lang tydperke geëvolueer het—deur middel van “uiters klein veranderinge”—om die miljoene verskillende lewensvorme op aarde voort te bring. Volgens evolusioniste het hierdie klein veranderinge vermenigvuldig en die groot veranderinge teweeggebring wat nodig was om visse in amfibieë en ape in mense te verander. Hierdie veronderstelde groot veranderinge word makro-evolusie genoem. Vir baie klink hierdie tweede bewering redelik. Hulle wonder: ‘As klein veranderinge binne ’n spesie kan plaasvind, waarom sou evolusie nie groot veranderinge oor lang tydperke kon teweegbring nie?’b

      Die makro-evolusieleer berus op drie vername veronderstellings:

      1. Mutasies voorsien die grondstowwe wat nodig is om nuwe spesies te skep.c

      2. Natuurlike seleksie lei tot die ontstaan van nuwe spesies.

      3. Die fossielverslag bewys dat veranderinge in plante en diere weens makro-evolusie plaasgevind het.

      Is die bewyse ter ondersteuning van makro-evolusie so sterk dat dit as ’n feit beskou moet word?

      Kan mutasies nuwe spesies voortbring?

      Baie besonderhede van ’n plant of dier word bepaal deur die instruksies in sy genetiese kode, die bloudruk in die kern van elke sel.d Navorsers het ontdek dat mutasies—of willekeurige veranderinge—in die genetiese kode wysigings in die afstammelinge van plante en diere kan veroorsaak. In 1946 het Hermann J. Muller, ’n Nobelpryswenner en die vader van die studie van mutasiegenetika, beweer: “Hierdie akkumulasie van talle seldsame, hoofsaaklik klein veranderinge is nie net die vernaamste manier waarop plante en diere kunsmatig verbeter word nie, maar dit is ook die manier waarop natuurlike evolusie plaasgevind het, onder die beheer van natuurlike seleksie.”

      Trouens, die makro-evolusieleer berus op die bewering dat mutasies nie net nuwe spesies nie, maar ook nuwe families van plante en diere kan voortbring. Is daar enige manier om hierdie gewaagde stelling te toets? Wel, kyk na wat ongeveer 100 jaar se navorsing op die gebied van genetika aan die lig gebring het.

      In die laat 1930’s het wetenskaplikes die idee geesdriftig aangeneem dat, as natuurlike seleksie nuwe plantspesies uit willekeurige mutasies kan voortbring, kunsmatige seleksie, of seleksie deur mense, dit dan meer doeltreffend behoort te kan doen. “Euforie het onder bioloë oor die algemeen en genetici en telers in die besonder versprei”, het Wolf-Ekkehard Lönnig gesê, ’n wetenskaplike by die Max Planck-instituut vir Navorsing oor Planteteelt, in Duitsland, met wie Ontwaak! ’n onderhoud gevoer het. Waarom die euforie? Lönnig, wat al sowat 28 jaar lank mutasiegenetika in plante bestudeer, het gesê: “Hierdie navorsers het gedink dat die tyd aangebreek het vir ’n omwenteling in die tradisionele manier waarop plante en diere geteel word. Hulle het gedink dat hulle, deur lewenskragtige mutasies voort te bring en te kies, nuwe en beter plante en diere sou kon teel.”e

      Wetenskaplikes in die Verenigde State, Asië en Europa het goed befondste navorsingsprogramme van stapel gestuur en metodes gebruik wat beloof het om evolusie vinniger te laat plaasvind. Wat was die resultate ná meer as 40 jaar se intensiewe navorsing? “Ten spyte van die enorme finansiële onkoste”, sê die navorser Peter von Sengbusch, “was die poging om produktiewer variëteite deur middel van bestraling voort te bring, grotendeels ’n mislukking.” Lönnig het gesê: “Teen die 1980’s het wetenskaplikes se verwagtinge en euforie in wêreldwye mislukking geëindig. Teling deur middel van mutasie as ’n afsonderlike navorsingsveld is in Westerse lande laat vaar. Bykans al die mutante het ‘negatiewe seleksiewaardes’ gehad, dit wil sê, hulle het doodgegaan of was swakker as die wilde variëteite.”f

      Die data wat ingesamel is ná sowat 100 jaar se mutasienavorsing oor die algemeen en 70 jaar se mutasieteling in die besonder, stel wetenskaplikes nogtans in staat om gevolgtrekkings te maak aangaande die vermoë van mutasies om nuwe spesies voort te bring. Nadat Lönnig die bewyse ondersoek het, het hy tot dié slotsom gekom: “Mutasies kan nie ’n oorspronklike spesie [van ’n plant of dier] in ’n heeltemal nuwe een verander nie. Hierdie gevolgtrekking stem ooreen met al die ondervindinge en resultate van mutasienavorsing in die 20ste eeu sowel as met die waarskynlikheidswette. Die wet van herhalende variasie impliseer dus dat spesies wat geneties gesproke behoorlik afgebaken is, werklike grense het wat nie deur toevallige mutasies vernietig of omseil kan word nie.”

      Dink aan die implikasies van die bogenoemde feite. As hoogs opgeleide wetenskaplikes nie nuwe spesies kan teel deur lewenskragtige mutasies kunsmatig voort te bring en te kies nie, wat is die moontlikheid dat ’n onintelligente proses dit sou regkry? As navorsing toon dat mutasies nie ’n oorspronklike spesie in ’n heeltemal nuwe een kan verander nie, hoe kon makro-evolusie dan plaasgevind het?

      Lei natuurlike seleksie tot die ontstaan van nuwe spesies?

      Darwin het geglo dat die proses wat hy natuurlike seleksie genoem het, die lewensvorme sou begunstig wat die beste in die omgewing aard, terwyl minder geskikte lewensvorme uiteindelik sou uitsterf. Moderne evolusioniste leer dat namate spesies versprei het en van mekaar afgesonder geraak het, natuurlike seleksie dié begunstig het wie se geenmutasies hulle die geskikste gemaak het vir hulle nuwe omgewing. Gevolglik maak evolusioniste die veronderstelling dat hierdie afgesonderde groepe uiteindelik tot heeltemal nuwe spesies ontwikkel het.

      Soos vroeër gemeld is, voorsien navorsing bewyse wat sterk daarop dui dat mutasies nie heeltemal nuwe soorte plante of diere kan voortbring nie. Maar watter bewyse voorsien evolusioniste om die bewering te staaf dat natuurlike seleksie lewenskragtige mutasies kies om nuwe spesies voort te bring? ’n Brosjure wat in 1999 deur die Nasionale Akademie vir Wetenskappe (NAS) in die Verenigde State uitgegee is, sê: “’n Besonder oortuigende voorbeeld van spesievorming [die evolusie van nuwe spesies] is die 13 vinkspesies wat Darwin op die Galápagos-eilande bestudeer het en wat nou as Darwin se vinke bekend staan.”

      In die 1970’s het ’n navorsingsgroep onder leiding van Peter en Rosemary Grant hierdie vinke begin bestudeer en gevind dat die vinke wat effens groter snawels gehad het, ná ’n jaar van droogte beter gevaar het as dié met kleiner snawels. Aangesien die grootte en vorm van die snawels een van die vernaamste maniere is om die 13 vinkspesies uit te ken, is daar aangeneem dat hierdie bevindinge belangrik is. “Volgens die Grants se raming”, sê die brosjure verder, “sou ’n nuwe vinkspesie moontlik binne net sowat 200 jaar ontwikkel indien die droogtes ongeveer een keer elke 10 jaar op die eilande voorkom.”

      Die NAS-brosjure laat egter ’n paar belangrike maar moeilik verklaarbare feite uit. In die jare ná die droogte het die vinke met kleiner snawels weer eens die bevolking oorheers. Peter Grant en die nagraadse student Lisle Gibbs het dus in 1987 in die wetenskaptydskrif Nature geskryf dat hulle “’n ommekeer in die rigting van die seleksie” gesien het. In 1991 het Grant geskryf dat “die bevolking, wat aan natuurlike seleksie onderworpe is, tussen die twee punte beweeg” elke keer wanneer die klimaatsomstandighede verander. Die navorsers het ook opgemerk dat sommige van die verskillende “spesies” van vinke met mekaar paar en nakomelinge voortbring wat beter vaar as hulle ouers. Peter en Rosemary Grant het tot die slotsom gekom dat die kruisings binne 200 jaar tot die samesmelting van twee “spesies” kan lei indien dit voortduur.

      In 1966 het die evolusionistiese bioloog George Christopher Williams geskryf: “Ek dink dit is jammer dat die teorie van natuurlike seleksie oorspronklik ontwikkel is as ’n verklaring van evolusionêre veranderinge. Dit is veel belangriker as ’n verklaring van hoe aanpassing voortgesit word.” Die evolusionistiese teoretikus Jeffrey Schwartz het in 1999 geskryf dat as Williams se gevolgtrekkings korrek is, natuurlike seleksie spesies moontlik help om by die veranderende vereistes van hulle bestaan aan te pas, maar dat dit “niks nuuts skep nie”.

      Ja, Darwin se vinke word “niks nuuts” nie. Hulle is nog steeds vinke. En die feit dat daar kruising tussen hulle plaasvind, wek twyfel oor die metodes wat sommige evolusioniste gebruik om ’n spesie te definieer. Daarbenewens lê dit die feit bloot dat selfs vooraanstaande wetenskapakademies bewyse op ’n bevooroordeelde manier kan aanbied.

      Bevat die fossielverslag bewyse van makro-evolusionêre veranderinge?

      Die NAS-brosjure wat vroeër gemeld is, laat die leser met die indruk dat fossiele wat deur wetenskaplikes gevind is, meer as genoeg bewys lewer van makro-evolusie. Dit sê: “Daar is al soveel oorgangsvorme ontdek tussen visse en amfibieë, tussen amfibieë en reptiele, tussen reptiele en soogdiere en in die afstammingslyne van die primate dat dit dikwels moeilik is om presies te identifiseer wanneer die oorgang van een spesie na ’n ander plaasvind.”

      Hierdie selfversekerde stelling is nogal verbasend. Waarom? In 2004 het National Geographic die fossielverslag beskryf as “’n rolprent oor evolusie waarvan 999 uit elke 1 000 raampies vermis word”. Lewer die oorblywende een uit duisend “raampies” werklik bewys van die proses van makro-evolusie? Wat toon die fossielverslag werklik? Niles Eldredge, ’n onversetlike evolusionis, erken dat die verslag toon dat daar oor lang tydperke “min of geen evolusionêre veranderinge in die meeste spesies is nie”.

      Tot op hede het wetenskaplikes regoor die wêreld ongeveer 200 miljoen groot fossiele en miljarde mikrofossiele ontdek en gekatalogiseer. Baie navorsers stem saam dat hierdie enorme en gedetailleerde verslag toon dat al die hoofgroepe van diere skielik verskyn het en feitlik onveranderd gebly het, met baie spesies wat net so skielik verdwyn het as wat hulle verskyn het. Nadat hy die bewyse van die fossielverslag nagegaan het, skryf die bioloog Jonathan Wells: “Op die vlak van ryke, filums en klasse, is die idee dat organismes met ’n gemeenskaplike voorouer veranderinge ondergaan het, beslis nie ’n waargeneemde feit nie. Te oordeel aan die fossiel- en molekulêre bewyse is dit nie eens ’n goed gestaafde teorie nie.”

      Evolusie—Feit of mite?

      Waarom hou talle vooraanstaande evolusioniste vol dat makro-evolusie ’n feit is? Nadat die invloedryke evolusionis Richard Lewontin ’n paar van Richard Dawkins se redenasies gekritiseer het, het hy geskryf dat baie wetenskaplikes bereid is om wetenskaplike bewerings te aanvaar wat teen die gesonde verstand indruis “omdat ons ons reeds tot materialisme verbind het”.g Baie wetenskaplikes weier om eens die moontlikheid van ’n intelligente Ontwerper te oorweeg, want, soos Lewontin skryf, “ons kan nie ’n goddelike voet in die deur toelaat nie”.

      In hierdie verband het die sosioloog Rodney Stark volgens Scientific American gesê: “Die idee word al 200 jaar lank bevorder dat jy jou verstand vry van die kettings van die godsdiens moet hou as jy ’n wetenskaplike persoon wil wees.” Hy sê verder dat “godsdienstige mense [in navorsingsuniversiteite] hulle monde hou”, terwyl “ongodsdienstige mense teen hulle diskrimineer”. Volgens Stark “hou dit vir dié op die hoë vlakke [van die wetenskaplike gemeenskap] voordele in om ongodsdienstig te wees”.

      As jy die makro-evolusieleer as die waarheid wil aanvaar, moet jy glo dat agnostiese of ateïstiese wetenskaplikes nie sal toelaat dat hulle persoonlike opvattings hulle interpretasie van wetenskaplike bevindings beïnvloed nie. Jy moet glo dat mutasies en natuurlike seleksie alle komplekse lewensvorme voortgebring het, ten spyte van die feit dat ’n eeu van navorsing, die studie van miljarde mutante, toon dat mutasies nie eens een behoorlik gedefinieerde spesie in iets heeltemal nuuts verander het nie. Jy moet glo dat alle lewensvorme geleidelik van ’n gemeenskaplike voorouer geëvolueer het, ondanks die feit dat daar sterk aanduidings in die fossielverslag is dat die hoofsoorte plante en diere skielik verskyn het en nie in ’n ander soort geëvolueer het nie, selfs oor ontelbare eeue. Klink hierdie soort oortuiging asof dit op feite of op ’n mite gebaseer is?

      [Voetnote]

      a Hondetelers kan hulle honde selektief met ander honde laat teel sodat hulle afstammelinge uiteindelik korter bene of langer hare as hulle voorouers het. Maar die veranderinge wat hondetelers kan voortbring, is dikwels weens ’n verlies aan geenfunksie. Die worshond is byvoorbeeld so klein omdat sy kraakbeen nie normaal ontwikkel nie, wat tot dwergisme lei.

      b Hoewel die woord “spesie” dikwels in hierdie artikel gebruik word, kom hierdie term nie in die Bybelboek Genesis voor nie. Die term ‘soort’, soos dit in die Bybel gebruik word, is ’n baie breër term. Wat wetenskaplikes verkies om die evolusie van ’n nuwe spesie te noem, is dikwels net ’n variasie binne ’n ‘soort’, soos die woord in die Genesisverslag gebruik word.

      c Sien die venster “Hoe organismes geklassifiseer word”.

      d Navorsing toon dat die sel se sitoplasma, membrane en ander strukture ook ’n rol speel in die vorming van ’n organisme.

      e Lönnig se kommentare in hierdie artikel is sy eie en verteenwoordig nie die mening van die Max Planck-instituut vir Navorsing oor Planteteelt nie.

      f Tydens mutasie-eksperimente is daar herhaaldelik gevind dat die aantal nuwe mutante geleidelik afgeneem het, terwyl dieselfde soort mutante gereeld verskyn het. Lönnig het uit hierdie verskynsel die “wet van herhalende variasie” afgelei. Daarbenewens is minder as 1 persent van plantmutante vir verdere navorsing gekies, en minder as 1 persent van hierdie groep was geskik vir kommersiële gebruik. Die resultate van mutasieteling van diere was nog swakker as dié van plante, en die metode is heeltemal laat vaar.

      g Materialisme verwys hier na die teorie dat fisiese materie die enigste fundamentele werklikheid is, dat alles in die heelal, insluitende alle lewe, ontstaan het sonder enige bonatuurlike inmenging in die proses.

      [Lokteks op bladsy 15]

      “Mutasies kan nie ’n oorspronklike spesie [van ’n plant of dier] in ’n heeltemal nuwe een verander nie”

      [Lokteks op bladsy 16]

      Al wat Darwin se vinke toon, is dat ’n spesie by veranderende klimaatsomstandighede kan aanpas

      [Lokteks op bladsy 17]

      Volgens die fossielverslag het al die hoofgroepe van diere skielik verskyn en feitlik onveranderd gebly

      [Tabel op bladsy 14]

      (Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

      HOE ORGANISMES GEKLASSIFISEER WORD

      Organismes word in toenemend omvattender groepe geklassifiseer, van spesifieke spesies tot ryke.h Vergelyk byvoorbeeld die klassifikasies van mense en van vrugtevlieë hieronder.

      MENSE VRUGTEVLIEË

      Spesie sapiens melanogaster

      Genus Homo Drosophila

      Familie Hominidae Drosophilidae

      Orde Primate Tweevlerkiges

      Klas Soogdiere Insekte

      Filum Chordata Geleedpotiges

      Ryk Diere Diere

      [Voetnoot]

      h Let wel: Genesis hoofstuk 1 sê dat plante en diere “volgens hulle soorte” sou voortplant (Genesis 1:12, 21, 24, 25). Die Bybelterm ‘soort’ is egter nie ’n wetenskaplike term nie en moet nie met die wetenskaplike term “spesie” verwar word nie.

      [Erkenning]

      Tabel gebaseer op die boek Icons of Evolution—Science or Myth? Why Much of What We Teach About Evolution Is Wrong, deur Jonathan Wells

      [Prente op bladsy 15]

      ’n Mutante vrugtevlieg (bo) is nog steeds ’n vrugtevlieg, al is dit misvormd

      [Erkenning]

      © Dr. Jeremy Burgess/Photo Researchers, Inc.

      [Prente op bladsy 15]

      Tydens plantmutasie-eksperimente is daar herhaaldelik gevind dat die aantal nuwe mutante voortdurend afgeneem het, terwyl dieselfde soort mutante gereeld verskyn het (Mutant in foto het groter blomme)

      [Foto-erkenning op bladsy 13]

      From a Photograph by Mrs. J. M. Cameron/U.S. National Archives photo

      [Foto-erkenning op bladsy 16]

      Vinkkoppe: © Dr. Jeremy Burgess/ Photo Researchers, Inc.

      [Foto-erkenning op bladsy 17]

      Dinosourus: © Pat Canova/Index Stock Imagery; fossiele: GOH CHAI HIN/AFP/Getty Images

  • Waarom ons glo aan ’n Skepper
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Waarom ons glo aan ’n Skepper

      Baie deskundiges op verskeie wetenskaplike gebiede sien intelligente ontwerp in die natuur. Hulle vind dit onlogies om te dink dat die ontsagwekkende kompleksiteit van lewe op aarde toevallig ontstaan het. Daarom glo heelparty wetenskaplikes en navorsers aan ’n Skepper.

      Party van hulle het Jehovah se Getuies geword. Hulle is daarvan oortuig dat die God van die Bybel die Ontwerper en Bouer van die fisiese heelal is. Waarom het hulle tot hierdie gevolgtrekking gekom? Ontwaak! het ’n paar van hulle gevra. Jy sal dalk hulle kommentare interessant vind.a

      Die “ondeurgrondelike kompleksiteit van lewe”

      ◼ WOLF-EKKEHARD LÖNNIG

      PROFIEL: Oor die afgelope 28 jaar het ek wetenskaplike werk in verband met genetiese mutasie in plante gedoen. Ek werk al 21 jaar lank by die Max Planck-instituut vir Navorsing oor Planteteelt, in Keulen, Duitsland. Ek dien ook al amper drie dekades lank as ’n ouer man in ’n Christengemeente van Jehovah se Getuies.

      In my empiriese navorsing in die genetika, en in my studies van biologiese velde soos fisiologie en morfologie, kry ek te doen met die ontsaglike en dikwels ondeurgrondelike kompleksiteit van lewe. My studies van hierdie onderwerpe het my oortuiging versterk dat lewe, selfs die eenvoudigste vorme van lewe, ’n intelligente oorsprong moet hê.

      Die wetenskaplike gemeenskap is deeglik bewus van die kompleksiteit wat in lewe gevind word. Maar hierdie fassinerende feite word oor die algemeen in ’n sterk evolusionêre konteks geplaas. Na my mening stort die argumente teen die Bybel se skeppingsverslag egter in duie wanneer dit wetenskaplik ondersoek word. Ek het sulke argumente dekades lank ondersoek. Nadat ek lewendige dinge lank en noukeurig bestudeer het en gedink het oor hoe die wette wat die heelal beheer, klaarblyklik volmaak ingestel is sodat lewe op aarde kan bestaan, kan ek nie anders as om aan ’n Skepper te glo nie.

      ‘Alles wat ek waarneem, het ’n oorsaak’

      ◼ BYRON LEON MEADOWS

      PROFIEL: Ek woon in die Verenigde State en werk by die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie in die veld van laserfisika. Ek is tans betrokke by die ontwikkeling van tegnologie wat ons vermoë sal verbeter om die wêreldklimaat, die weer en ander planetêre verskynsels te monitor. Ek is ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in die Kilmarnock-omgewing van Virginië.

      Ek werk dikwels met die beginsels van die fisika in my navorsing. Ek probeer verstaan hoe en waarom sekere dinge gebeur. In my studieveld vind ek duidelike bewyse dat alles wat ek waarneem, ’n oorsaak het. Ek dink dat dit vanuit ’n wetenskaplike oogpunt redelik is om te aanvaar dat God die oorspronklike oorsaak van alles in die natuur is. Die natuurwette is so stabiel dat ek nie anders kan nie as om te glo dat dit deur ’n Organiseerder, ’n Skepper, ingestel is.

      As hierdie gevolgtrekking dan so voor die hand liggend is, waarom glo baie wetenskaplikes in evolusie? Is dit dalk omdat evolusioniste hulle bewyse op vooropgestelde gevolgtrekkings grond? Dit is nie ongehoord onder wetenskaplikes nie. Maar waarneming, ongeag hoe oortuigend, waarborg nie juiste gevolgtrekkings nie. Iemand wat byvoorbeeld navorsing in laserfisika doen, kan daarop aandring dat lig ’n golf is, soortgelyk aan ’n klankgolf, omdat lig dikwels soos ’n golf optree. Maar sy gevolgtrekking sou onvolledig wees omdat die bewyse ook daarop dui dat lig soos ’n groep deeltjies, bekend as fotone, optree. Net so baseer dié wat daarop aandring dat evolusie ’n feit is, hulle gevolgtrekkings op net ’n gedeelte van die bewyse en laat hulle toe dat hulle eie vooropgestelde gevolgtrekkings die manier beïnvloed waarop hulle die bewyse beskou.

      Dit verbaas my dat enigiemand die evolusieteorie as ’n feit aanvaar terwyl “deskundiges” op die gebied onder mekaar stry oor hoe evolusie vermoedelik gebeur het. Sou jy byvoorbeeld rekenkunde as ’n bewese feit aanvaar as party deskundiges sê dat 2 plus 2 gelyk is aan 4, terwyl ander deskundiges sê dat die totaal glo 3 of dalk 6 is? Indien dit die rol van die wetenskap is om net dit te aanvaar wat bewys, beproef en gedupliseer kan word, dan is die teorie dat alle lewe van ’n gemeenskaplike voorouer geëvolueer het, nie ’n wetenskaplike feit nie.

      “Iets kan nie uit niks ontstaan nie”

      ◼ KENNETH LLOYD TANAKA

      PROFIEL: Ek is ’n geoloog en werk tans by die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames in Flagstaff, Arizona. Ek is al byna drie dekades lank betrokke by wetenskaplike navorsing op verskeie gebiede van die geologie, insluitende planetêre geologie. Tientalle van my navorsingsartikels en geologiese kaarte van Mars is al deur erkende wetenskaplike tydskrifte gepubliseer. As een van Jehovah se Getuies bestee ek omtrent 70 uur elke maand daaraan om mense aan te moedig om die Bybel te lees.

      Ek is geleer om in evolusie te glo, maar ek kon nie aanvaar dat die ontsaglike energie wat nodig was om die heelal te vorm, sonder ’n magtige Skepper kon ontstaan het nie. Iets kan nie uit niks ontstaan nie. Ek het ook gesien dat daar ’n sterk argument ten gunste van ’n Skepper in die Bybel is. Hierdie boek gee talle voorbeelde van wetenskaplike feite op my vakgebied, soos die feit dat die aarde sfeervormig is en “aan niks” hang nie (Job 26:7; Jesaja 40:22). Hierdie werklikhede is in die Bybel neergeskryf lank voordat dit deur menslike navorsing bewys is.

      Dink ’n bietjie aan hoe ons gemaak is. Ons het sintuiglike waarneming, selfbewustheid, intelligente denkvermoë, kommunikasievermoëns en gevoelens. In die besonder kan ons liefde ervaar, waardeer en betoon. Evolusie kan nie verklaar hoe hierdie wonderlike menslike eienskappe ontstaan het nie.

      Vra jou af: ‘Hoe betroubaar en geloofwaardig is die inligtingsbronne wat gebruik word om evolusie te ondersteun?’ Die geologiese verslag is onvolledig, ingewikkeld en verwarrend. Evolusioniste kon nie voorgestelde evolusionêre prosesse met die gebruik van wetenskaplike metodiek in die laboratorium bewys nie. En terwyl wetenskaplikes oor die algemeen goeie navorsingstegnieke gebruik om data in te samel, word hulle dikwels deur selfsugtige beweegredes beïnvloed wanneer hulle hulle bevindinge interpreteer. Dit is bekend dat wetenskaplikes al hulle eie beskouing bevorder het wanneer die data onvoldoende of teenstrydig is. Hulle loopbaan en hulle gevoel van eiewaarde speel ’n belangrike rol.

      As ’n wetenskaplike sowel as ’n Bybelstudent soek ek na die volle waarheid, wat al die bekende feite en waarnemings met mekaar versoen om die akkuraatste begrip te verkry. Vir my maak geloof in die Skepper die meeste sin.

      “Die duidelike ontwerp wat in die sel gesien kan word”

      ◼ PAULA KINCHELOE

      PROFIEL: Ek het al etlike jare se ondervinding as ’n navorser op die gebiede van sel- en molekulêre biologie sowel as mikrobiologie. Ek werk op die oomblik by die Emory-universiteit, in Atlanta, Georgia, VSA. Ek werk ook as ’n vrywillige Bybelonderrigter in die Russiessprekende gemeenskap.

      As deel van my studies in biologie het ek vier jaar lank uitsluitlik op die sel en sy komponente gekonsentreer. Hoe meer ek omtrent DNS, RNS, proteïene, biochemiese prosesse en metaboliese stelsels geleer het, hoe meer het ek my verwonder oor die kompleksiteit, organisasie en presisie daarvan. En hoewel ek beïndruk is met hoeveel die mens al omtrent die sel geleer het, is ek selfs meer verbaas oor hoeveel daar nog is om te leer. Die duidelike ontwerp wat in die sel gesien kan word, is een rede waarom ek aan God glo.

      Uit my studie van die Bybel het ek geleer wie die Skepper is—naamlik, Jehovah God. Ek is daarvan oortuig dat hy nie net ’n intelligente Ontwerper is nie, maar ook ’n goedhartige en liefdevolle Vader wat vir my omgee. Die Bybel verduidelik die doel van die lewe en voorsien die hoop op ’n gelukkige toekoms.

      Jongmense op skool wat evolusie geleer word, is dalk onseker oor wat om te glo. Dit kan ’n verwarrende tyd vir hulle wees. As hulle aan God glo, is dit ’n toets van hulle geloof. Maar hulle kan opgewasse wees vir hierdie toets as hulle die talle wonderlike dinge in die natuur om ons ondersoek en voortdurend meer kennis opdoen van die Skepper en sy eienskappe. Ek het dit self gedoen en tot die slotsom gekom dat die Bybelverslag van die skepping akkuraat is en nie met ware wetenskap teenstrydig is nie.

      “Die elegante eenvoud van die wette”

      ◼ ENRIQUE HERNÁNDEZ-LEMUS

      PROFIEL: Ek is ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies. Ek is ook ’n teoretiese fisikus wat by die Nasionale Universiteit van Mexiko werk. Op die oomblik behels my werk om ’n termodinamies aanvaarbare verduideliking te vind vir die verskynsel bekend as ’n gravotermiese ineenstorting, wat ’n meganisme van sterregroei is. Ek het ook al werk gedoen in verband met die kompleksiteit in DNS-reekse.

      Lewe is net te kompleks dat dit per toeval kon ontstaan het. Dink byvoorbeeld aan die geweldige hoeveelheid inligting wat die DNS-molekule bevat. Die wiskundige moontlikheid dat ’n enkele chromosoom toevallig ontwikkel het, is minder as 1 in 9 biljoen, iets wat so onwaarskynlik is dat dit as onmoontlik beskou kan word. Ek dink dit is belaglik om te glo dat onintelligente kragte nie net ’n enkele chromosoom kon skep nie, maar ook die verbasende kompleksiteit wat in alle lewende wesens bestaan.

      En wanneer ek die uiters komplekse gedrag van materie bestudeer, van die mikroskopiese vlak tot die beweging van reuse-sterwolke in die ruimte, is ek beïndruk deur die elegante eenvoud van die wette wat hulle beweging beheer. Vir my dui hierdie wette op veel meer as die werk van ’n Meesterwiskundige—dit is soos die handtekening van ’n Meesterkunstenaar.

      Mense is dikwels verbaas wanneer ek vir hulle sê dat ek een van Jehovah se Getuies is. Soms vra hulle my hoe ek aan God kan glo. Hulle reaksie is verstaanbaar, aangesien die meeste godsdienste nie hulle lidmate aanmoedig om bewyse te vra vir wat hulle geleer word of om hulle godsdiensoortuigings na te vors nie. Die Bybel moedig ons egter aan om ons “denkvermoë” te gebruik (Spreuke 3:21). Al die bewyse van intelligente ontwerp in die natuur, tesame met die bewyse uit die Bybel, oortuig my dat God nie net bestaan nie, maar dat hy ook in ons gebede belangstel.

      [Voetnoot]

      a Die beskouings van die deskundiges in hierdie artikel weerspieël nie noodwendig dié van hulle werkgewers nie.

      [Foto-erkenning op bladsy 22]

      Mars op agtergrond: Courtesy USGS Astrogeology Research Program, http://astrogeology.usgs.gov

  • Fassinerende patrone in plante
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Fassinerende patrone in plante

      HET jy al ooit opgemerk dat baie plante in spiraalformasies groei? ’n Pynappel kan byvoorbeeld 8 spiraalrye hê wat in een rigting om die vrug loop en 5 of 13 in die teenoorgestelde rigting. (Sien nommer 1.) As jy na die sade in ’n sonneblom kyk, sal jy dalk 55 en 89 of selfs meer spirale sien wat mekaar kruis. Jy kan selfs spirale op ’n blomkool vind. Wanneer jy eers spirale begin opmerk, sal besoeke aan jou plaaslike vrugte- of groentewinkel dalk ’n nuwe dimensie aanneem. Waarom groei plante op hierdie manier? Is die aantal spirale enigsins betekenisvol?

      Hoe groei plante?

      Die meeste plante vorm nuwe organe soos stingels, blare en blomme vanuit ’n klein sentrale groeipunt wat ’n meristeem genoem word. Elke nuwe groeisel, wat ’n primordium genoem word, ontwikkel en groei vanuit die middelpunt in ’n nuwe rigting en vorm ’n hoek met die vorige groeisel.a (Sien nommer 2.) Die meeste plante rangskik nuwe groeisels teen ’n unieke hoek wat spirale voortbring. Hoe groot is hierdie hoek?

      Dink aan hierdie uitdaging: Verbeel jou dat jy ’n plant moet ontwerp waarvan die nuwe groeisels dig om die groeipunt gerangskik is en geen ruimte vermors nie. Sê nou jy besluit dat elke nuwe primordium teen ’n hoek van twee vyfdes van ’n revolusie van die vorige groeisel af moet uitgroei. Die probleem is dat elke vyfde primordium uit dieselfde plek en in dieselfde rigting sal groei. Hulle sal rye vorm met onbenutte ruimte tussenin. (Sien nommer 3.) Die feit is dat enige eenvoudige breukdeel van ’n revolusie rye tot gevolg het eerder as om die ruimte die beste te benut. Dit is net die sogenoemde “goue hoek” van ongeveer 137,5 grade wat ’n ideale kompakte rangskikking van groeisels tot gevolg het. (Sien nommer 5.) Wat maak hierdie hoek so spesiaal?

      Die goue hoek is ideaal omdat dit nie as ’n eenvoudige breukdeel van ’n revolusie uitgedruk kan word nie. Die breukdeel 5/8 kom na aan die goue hoek, 8/13 is nader en 13/21 is nog nader, maar geen breukdeel gee die goue verhouding van ’n revolusie presies weer nie. Wanneer ’n nuwe groeisel teen hierdie vaste hoek in verhouding tot die vorige groeisel op die meristeem ontwikkel, sal daar dus nooit twee groeisels in presies dieselfde rigting ontwikkel nie. (Sien nommer 4.) Gevolglik vorm die primordia spirale eerder as straalvormige arms.

      Wat merkwaardig is, is dat ’n rekenaarsimulasie van primordia wat vanuit ’n sentrale punt groei, herkenbare spirale vorm slegs as die hoek tussen die nuwe groeisels uiters akkuraat is. As daar van die goue hoek afgewyk word met selfs net ’n tiende van ’n graad, gaan die effek verlore.—Sien nommer 5.

      Hoeveel kroonblare aan ’n blom?

      Interessant genoeg, die aantal spirale wat ontstaan as gevolg van groeisels wat teen die goue hoek groei, is gewoonlik ’n getal uit ’n reeks wat die Fibonacci-reeks genoem word. Hierdie reeks is vir die eerste keer beskryf deur die 13de-eeuse Italiaanse wiskundige bekend as Leonardo Fibonacci. In hierdie reeks is elke getal na 1 gelyk aan die som van die vorige twee getalle—1, 1, 2, 3, 5, 8, 13, 21, 34, 55 ensovoorts.

      Die aantal kroonblare van die blomme van plante met ’n spiraalvormige groeipatroon is dikwels ’n Fibonacci-getal. Volgens sommige waarnemers het botterblomme gewoonlik 5 kroonblare, bloedwortel 8, groot senecio’s 13, asters 21, gewone madeliefies 34, en Michaelmasmadeliefies 55 of 89. (Sien nommer 6.) Vrugte en groente het dikwels kenmerke wat ooreenstem met Fibonacci-getalle. Piesangs het byvoorbeeld ’n vyfkantige dwarsprofiel.

      “Alles het hy mooi gemaak”

      Kunstenaars besef al lank dat die goue verhouding die aantreklikste is vir die menseoog. Waarom vorm plante nuwe groeisels presies teen hierdie besonderse hoek? Baie mense kom tot die slotsom dat dit net nog ’n voorbeeld van intelligente ontwerp in lewende dinge is.

      Wanneer mense dink oor die ontwerp van lewende dinge en ons vermoë om genot daaruit te put, sien baie die handewerk van ’n Skepper wat wil hê dat ons die lewe moet geniet. Die Bybel sê aangaande ons Skepper: “Alles het hy mooi gemaak op die tyd daarvoor.”—Prediker 3:11.

      [Voetnoot]

      a Interessant genoeg, die sonneblom is buitengewoon omdat die blommetjies wat saadjies word, vanaf die rand van die kop spirale vorm en nie vanuit die middelpunt nie.

      [Diagramme op bladsy 24, 25]

      Figure 1

      (Sien publikasie)

      Figure 2

      (Sien publikasie)

      Figure 3

      (Sien publikasie)

      Figure 4

      (Sien publikasie)

      Figure 5

      (Sien publikasie)

      Figure 6

      (Sien publikasie)

      [Prent op bladsy 24]

      Nabyfoto van ’n meristeem

      [Erkenning]

      R. Rutishauser, University of Zurich, Switzerland

      [Foto-erkenning op bladsy 25]

      Wit blom: Thomas G. Barnes @ USDA-NRCS PLANTS Database

  • Maak dit saak wat jy glo?
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Maak dit saak wat jy glo?

      DINK jy dat die lewe ’n doel het? As evolusie waar was, dan sou die stelling wat in die tydskrif Scientific American aangehaal is, geldig wees: “Ons huidige begrip van evolusie gee te kenne . . . dat daar nie ware sin in die lewe bestaan nie.”

      Dink aan die implikasies van hierdie woorde. As daar nie ware sin in die lewe bestaan het nie, dan sou jy geen doel in die lewe hê behalwe om te probeer om darem iets goeds te doen en miskien jou genetiese eienskappe aan die volgende geslag oor te dra nie. Wanneer jy sterf, sou jy vir ewig ophou bestaan. Jou brein, met sy vermoë om te dink, te redeneer en oor die sin van die lewe te peins, sou bloot ’n produk van die toeval wees.

      Dit is nie al nie. Baie wat in evolusie glo, beweer dat God nie bestaan nie of dat hy nie in menseaangeleenthede sal ingryp nie. Hoe dit ook al sy, ons toekoms sou in die hande van politieke, akademiese en godsdiensleiers wees. Te oordeel aan die geskiedenis, sou die chaos, konflik en korrupsie wat die mensegemeenskap verderf, voortduur. As evolusie wel waar was, sou daar blykbaar oorgenoeg rede wees om volgens die fatalistiese leuse te lewe: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.”—1 Korintiërs 15:32.

      Een ding is egter seker. Jehovah se Getuies aanvaar nie die bogenoemde stellings nie. Die Getuies aanvaar ook nie die veronderstelling waarop daardie stellings gegrond is nie—naamlik evolusie. Inteendeel, die Getuies glo dat die Bybel waar is (Johannes 17:17). Daarom glo hulle wat dit sê oor hoe ons hier gekom het: “By u [God] is die bron van die lewe” (Psalm 36:9). Hierdie woorde het diepgaande implikasies.

      Die lewe het sin. Ons Skepper het ’n liefdevolle voorneme wat almal insluit wat kies om in harmonie met sy wil te lewe (Prediker 12:13). Hierdie voorneme sluit die belofte in van lewe in ’n wêreld wat vry is van chaos, konflik en korrupsie—selfs van die dood (Jesaja 2:4; 25:6-8). Miljoene van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld kan daarvan getuig dat om van God te leer en sy wil te doen, die lewe sinvoller as enigiets anders maak!—Johannes 17:3.

      Dit maak beslis saak wat jy glo, aangesien dit ’n uitwerking kan hê op jou geluk nou sowel as op jou lewe in die toekoms. Die keuse is joune. Sal jy ’n teorie glo wat geen rede gegee het waarom die toenemende bewyse van ontwerp in die natuur verontagsaam moet word nie? Of sal jy aanvaar wat die Bybel sê, naamlik dat die aarde en lewe daarop die produk is van ’n wonderlike Ontwerper—Jehovah, die God wat “alles geskep” het?—Openbaring 4:11.

  • Weerspreek die wetenskap die Genesisverslag?
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Die Bybel se beskouing

      Weerspreek die wetenskap die Genesisverslag?

      BAIE mense beweer dat die wetenskap die Bybel se verslag van die Skepping verkeerd bewys. Maar die eintlike teenstrydigheid is nie tussen die wetenskap en die Bybel nie, maar tussen die wetenskap en die menings van sogenaamde Christenfundamentaliste. Party van hierdie groepe maak die valse bewering dat die hele fisiese skepping, volgens die Bybel, ongeveer 10 000 jaar gelede binne ses dae van 24 uur elk voortgebring is.

      Die Bybel ondersteun egter nie so ’n gevolgtrekking nie. As dit wel die geval was, sou talle wetenskaplike ontdekkings oor die afgelope honderd jaar inderdaad twyfel laat ontstaan het oor die geloofwaardigheid van die Bybel. ’n Sorgvuldige studie van die Bybel openbaar geen konflik met bewese wetenskaplike feite nie. Om hierdie rede verskil Jehovah se Getuies met “Christen”-fundamentaliste en baie kreasioniste, oftewel aanhangers van die skeppingsleer. Die volgende toon wat die Bybel werklik leer.

      Wanneer was “die begin”?

      Die Genesisverslag begin met die eenvoudige, kragtige stelling: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Bybelgeleerdes is dit eens dat hierdie vers ’n gebeurtenis beskryf wat nie deel is van die skeppingsdae wat vanaf vers 3 beskryf word nie. Dink net wat dit impliseer. Volgens die Bybel se openingswoorde het die heelal, insluitende ons planeet Aarde, ’n onbepaalde tyd lank bestaan voordat die skeppingsdae begin het.

      Geoloë skat dat die aarde ongeveer 4 miljard jaar oud is, en astronome reken dat die heelal tot 15 miljard jaar oud is. Weerspreek hierdie bevindings—of die moontlike toekomstige verfyning daarvan—Genesis 1:1? Nee. Die Bybel sê nie spesifiek wat die werklike ouderdom van “die hemel en die aarde” is nie. Die wetenskap bewys nie die Bybel verkeerd nie.

      Hoe lank was die skeppingsdae?

      Wat van die lengte van die skeppingsdae? Was hulle letterlik 24 uur lank? Sommige beweer dat elke skeppingsdag letterlik 24 uur lank moes gewees het, aangesien Moses—die skrywer van Genesis—later verwys het na die dag wat op die ses skeppingsdae gevolg het, as ’n model vir die weeklikse Sabbat (Eksodus 20:11). Ondersteun die bewoording van Genesis hierdie gevolgtrekking?

      Nee. Die feit is dat die Hebreeuse woord wat met “dag” vertaal word, na verskeie tydperke kan verwys, nie net ’n tydperk van 24 uur nie. Wanneer Moses byvoorbeeld God se skeppingswerk opsom, verwys hy na al ses skeppingsdae as een dag (Genesis 2:4). Ook het God op die eerste skeppingsdag “die lig Dag begin noem, maar die duisternis het hy Nag genoem” (Genesis 1:5). Hier word net ’n deel van ’n tydperk van 24 uur deur die term “dag” beskryf. Die Skrif voorsien beslis geen grondslag om dogmaties te sê dat elke skeppingsdag 24 uur lank was nie.

      Hoe lank was die skeppingsdae dan? Die bewoording van Genesis hoofstukke 1 en 2 dui aan dat dit baie lang tydperke behels het.

      Skeppingswerke verskyn geleidelik

      Moses het sy verslag in Hebreeus geskryf, uit die oogpunt van iemand wat op die oppervlak van die aarde staan. Hierdie twee feite, tesame met die kennis dat die heelal lank voor die begin van die skeppingstydperke, of -“dae”, bestaan het, help tot ’n groot mate om die geskil oor die skeppingsverslag op te los. Hoe so?

      ’n Sorgvuldige ondersoek van die Genesisverslag openbaar dat gebeure wat tydens die eerste “dag” begin het, voortgeduur het tot in een of meer van die volgende dae. Byvoorbeeld, voordat die eerste “dag” van die skepping begin het, kon lig van die son, wat alreeds bestaan het, om die een of ander rede nie die aarde se oppervlak bereik nie, moontlik weens digte wolke (Job 38:9). Gedurende die eerste “dag” het hierdie versperring begin opklaar en kon gedempte lig die atmosfeer binnedring.a

      Op die tweede “dag” het die atmosfeer blykbaar verder opgeklaar, wat ’n ruimte tussen die dik wolke bo en die oseaan onder geskep het. Op die vierde “dag” het die atmosfeer geleidelik in so ’n mate opgeklaar dat die son en die maan “aan die uitspansel van die hemel” sigbaar geword het (Genesis 1:14-16). Met ander woorde, uit die oogpunt van iemand op die aarde, het die son en maan sigbaar geword. Hierdie gebeure het geleidelik plaasgevind.

      Die Genesisverslag vertel ook dat vlieënde skepsele—insluitende insekte en diere met membraanvlerke—op die vyfde “dag” begin verskyn het, terwyl die atmosfeer verder opgeklaar het. Maar die Bybel toon dat God tydens die sesde “dag” nog besig was om “uit die grond al die wilde diere van die veld en al die voëls van die hemel [te vorm]”.—Genesis 2:19.

      Dit is duidelik dat die Bybel se bewoording ruimte laat vir die moontlikheid dat sommige belangrike gebeurtenisse van elke “dag”, of skeppingstydperk, geleidelik plaasgevind het, nie oombliklik nie, en dat sommige daarvan selfs voortgeduur het tot in die volgende skeppings-“dae”.

      Volgens hulle soorte

      Toon hierdie geleidelike verskyning van plante en diere dat God evolusie gebruik het om die eindelose verskeidenheid lewende dinge voort te bring? Nee. Die verslag sê duidelik dat God al die basiese “soorte” plant- en dierelewe geskep het (Genesis 1:11, 12, 20-25). Was hierdie oorspronklike “soorte” plante en diere geprogrammeer met die vermoë om by veranderende omgewingstoestande aan te pas? Wat bepaal die grense van ’n ‘soort’? Die Bybel sê nie. Maar dit sê wel dat lewende skepsele “begin wemel het volgens hulle soorte” (Genesis 1:21). Hierdie stelling dui aan dat die mate waarin verandering binne ’n ‘soort’ kan plaasvind, beperk is. Die fossielverslag en moderne navorsing ondersteun albei die idee dat die basiese klasse plante en diere oor ontsaglike lang tydperke min verander het.

      In teenstelling met die bewerings van sommige Fundamentaliste leer Genesis nie dat die heelal, insluitende die aarde en alle lewende dinge daarop, binne ’n kort tydperk in die betreklik onlangse verlede geskep is nie. Trouens, die beskrywing wat in Genesis gegee word van die skepping van die heelal en die verskyning van lewe op aarde, is in ooreenstemming met talle onlangse wetenskaplike ontdekkings.

      Weens hulle filosofiese oortuigings verwerp baie wetenskaplikes die Bybel se verklaring dat God alle dinge geskep het. Dit is egter interessant dat Moses in die eertydse Bybelboek Genesis geskryf het dat die heelal ’n begin gehad het en dat lewe stap vir stap, geleidelik, oor etlike tydperke verskyn het. Hoe kon Moses ongeveer 3 500 jaar gelede toegang gehad het tot sulke wetenskaplik akkurate inligting? Daar is een logiese verduideliking. Die Een met die mag en wysheid om die hemele en die aarde te skep, kon sekerlik hierdie gevorderde kennis vir Moses gegee het. Dit gee gewig aan die Bybel se bewering dat dit “deur God geïnspireer” is.—2 Timoteus 3:16.

      [Voetnoot]

      a In die beskrywing van wat op die eerste “dag” gebeur het, is die Hebreeuse woord wat vir lig gebruik word ʼohr, lig in die algemene sin; maar in verband met die vierde “dag” word die woord ma·ʼohrʹ gebruik, wat verwys na die bron van lig.

      HET JY AL GEWONDER?

      ◼ Hoe lank gelede het God die heelal geskep?—Genesis 1:1.

      ◼ Is die aarde binne ses dae van 24 uur elk geskep?—Genesis 2:4.

      ◼ Hoe kon wat Moses aangaande die begin van die aarde geskryf het, wetenskaplik akkuraat wees?—2 Timoteus 3:16.

      [Lokteks op bladsy 19]

      Genesis leer nie dat die heelal binne ’n kort tydperk in die betreklik onlangse verlede geskep is nie

      [Lokteks op bladsy 20]

      “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”—Genesis 1:1.

      [Foto-erkenning op bladsy 18]

      Heelal: IAC/RGO/David Malin Images

      [Foto-erkenning op bladsy 20]

      NASA photo

  • Hoe kan ek my geloof in die skepping verdedig?
    Ontwaak! – 2006 | September
    • Jongmense vra . . .

      Hoe kan ek my geloof in die skepping verdedig?

      “Toe evolusie in die klas bespreek is, het dit alles wat ek geleer is, bevraagteken. Dit is as ’n feit voorgehou, en ek het dit intimiderend gevind.”—Ryan, 18.

      “Toe ek omtrent 12 was, was my onderwyseres ’n groot voorstander van evolusie. Sy het selfs ’n Darwin-plakkertjie op haar motor gehad! Daarom was ek huiwerig om oor my geloof in die skepping te praat.”—Tyler, 19.

      “Toe my ‘sosiale studie’-onderwyseres sê dat ons volgende les oor evolusie sou handel, was ek doodbang. Ek het geweet dat ek my standpunt oor hierdie kontroversiële onderwerp in die klas sou moes verduidelik.”—Raquel, 14.

      DALK voel jy, soos Ryan, Tyler en Raquel, ongemaklik wanneer evolusie in die klas bespreek word. Jy glo dat God “alles geskep” het (Openbaring 4:11). Jy sien bewyse van intelligente ontwerp oral om jou. Maar die handboeke sê dat ons geëvolueer het, en jou onderwyser sê ook so. Wie is jy om met die “deskundiges” te verskil? En hoe sal jou klasmaats reageer as jy begin praat oor . . . God?

      As hierdie soort vrae jou kwel, kan jy gerus ontspan! Jy is nie die enigste persoon wat in die skepping glo nie. Die feit is dat selfs heelparty wetenskaplikes nie die evolusieteorie aanvaar nie. Baie onderwysers aanvaar dit ook nie. In die Verenigde State glo tot 4 uit 5 leerders in ’n Skepper—ten spyte van wat die handboeke sê!

      Nogtans vra jy dalk: ‘Wat sal ek sê as ek my geloof in die skepping moet verdedig?’ Wees verseker dat jy ’n standpunt kan inneem, al is jy skugter. Maar dit sal voorbereiding verg.

      Toets jou oortuigings!

      As jy deur Christenouers grootgemaak word, glo jy moontlik in die skepping net omdat jy dit geleer is. Maar noudat jy ouer word, wil jy God met jou “denkvermoë” dien en ’n vaste grondslag vir jou oortuigings hê (Romeine 12:1). Paulus het die eerste-eeuse Christene aangemoedig om ‘seker te maak van alles’ (1 Tessalonisense 5:21). Hoe kan jy dit doen in verband met die skepping?

      Kyk eerstens na iets wat Paulus oor God geskryf het: “Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is” (Romeine 1:20). Hou hierdie woorde in gedagte terwyl jy die menseliggaam, die aarde, die uitgestrekte heelal en die dieptes van die oseaan van nader beskou. Ondersoek die fassinerende wêreld van insekte, plante of diere—watter veld jou ook al interesseer. Gebruik dan jou “denkvermoë” terwyl jy jou afvra: ‘Wat oortuig my dat daar ’n Skepper is?’

      Om daardie vraag te beantwoord, gebruik die 14-jarige Sam die menseliggaam as voorbeeld. “Daar is soveel detail en dit is so kompleks”, sê hy, “en al die dele daarvan werk so goed saam. Die menseliggaam kon nie geëvolueer het nie!” Holly, 16, stem saam. “Vandat ek met suikersiekte gediagnoseer is”, sê sy, “het ek baie geleer oor hoe die liggaam werk. Dit is byvoorbeeld verbasend hoe die pankreas—’n klein orgaan agter die maag—so ’n belangrike werk doen om die bloed en die ander organe aan die gang te hou.”

      Ander jongmense beskou die saak uit ’n ander hoek. “Vir my”, sê die 19-jarige Jared, “is die grootste bewys die feit dat ons ’n geestelike sy het, sowel as ’n waardering vir skoonheid en ’n begeerte om te leer. Hierdie eienskappe is nie nodig vir oorlewing, soos evolusie ons wil laat glo nie. Die enigste verduideliking wat vir my sin maak, is dat ons hier geplaas is deur iemand wat wou hê dat ons die lewe moet geniet.” Tyler, wat aan die begin genoem is, het tot ’n soortgelyke gevolgtrekking gekom. “Wanneer ek dink aan die rol wat plante speel in die onderhouding van lewe en hoe ongelooflik kompleks hulle is, is ek daarvan oortuig dat daar ’n Skepper is.”

      Dit is makliker om die skepping te verdedig as jy dit goed deurdink het en werklik daarvan oortuig is. Neem dus, soos Sam, Holly, Jared en Tyler, tyd om na te dink oor die wondere van God se handewerk. “Hoor” dan wat hierdie dinge jou “vertel”. Jy sal ongetwyfeld tot dieselfde slotsom kom as die apostel Paulus—dat nie net God se bestaan nie, maar ook sy eienskappe duidelik “waargeneem word in die dinge wat gemaak is”.a

      Weet wat die Bybel werklik leer

      As jy die skepping wil verdedig, moet jy nie net die dinge wat God gemaak het, van nader beskou nie, maar jy moet ook weet wat die Bybel werklik oor die saak leer. Dit is nie nodig om ’n geskilpunt oor dinge te maak waaroor die Bybel nie direk kommentaar lewer nie. Kyk na ’n paar voorbeelde.

      ◼ My wetenskaphandboek sê dat die aarde en die sonnestelsel al miljarde jare lank bestaan. Die Bybel sê nie hoe oud die aarde of die sonnestelsel is nie. Wat dit sê, is versoenbaar met die gedagte dat die heelal waarskynlik al miljarde jare voor die begin van die eerste skeppings-“dag” bestaan het.—Genesis 1:1, 2.

      ◼ My onderwyser sê dat die aarde nie in net ses dae geskep kon gewees het nie. Die Bybel sê nie dat elk van die ses skeppings-“dae” ’n letterlike tydperk van 24 uur was nie. Vir meer inligting hieroor, sien bladsye 18-20 van hierdie tydskrif.

      ◼ Ons klas het etlike voorbeelde bespreek van hoe diere en mense met verloop van tyd verander het. Die Bybel sê dat God lewende dinge “volgens hulle soorte” geskep het (Genesis 1:20, 21). Dit ondersteun nie die idee dat lewe uit nielewende materie ontstaan het of dat God die evolusieproses met ’n enkele sel begin het nie. Nogtans is daar die potensiaal vir ’n groot verskeidenheid binne elke ‘soort’. Die Bybel laat dus ruimte vir die idee dat veranderinge binne elke ‘soort’ kan plaasvind.

      Wees seker van jou oortuigings!

      Daar is geen rede om ongemaklik of skaam te voel omdat jy in die skepping glo nie. As ’n mens kyk na die bewyse, is dit heeltemal redelik—trouens, wetenskaplik—om te glo dat ons die produk van intelligente ontwerp is. Op die ou end is dit eintlik evolusie—nie die skepping nie—wat blinde geloof en wonderwerke sonder ’n wonderwerker vereis. Trouens, nadat jy die ander artikels in hierdie nommer van die Ontwaak! gelees het, sal jy ongetwyfeld daarvan oortuig wees dat die bewyse die skepping ondersteun. En nadat jy jou denkvermoë gebruik het om goed oor die saak te dink, sal jy meer selfvertroue hê wanneer jy jou oortuigings in die klaskamer moet verdedig.

      Dit is wat Raquel, wat vroeër genoem is, gevind het. “Dit het my ’n paar dae geneem om te besef dat ek nie moet stilbly oor my oortuigings nie”, sê sy. “Ek het die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? vir my onderwyseres gegee, waarin ek sekere dele gemerk het waarop ek haar aandag wou vestig. Later het sy vir my gesê dat die boek haar ’n heel nuwe perspektief op evolusie gegee het en dat sy die inligting in die toekoms in ag sou neem wanneer sy ander oor die onderwerp leer!”

      Nog artikels uit die “Jongmense vra . . . ”-reeks kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ypa

      [Voetnoot]

      a Baie jongmense het daarby baat gevind om inligting te hersien in publikasies soos Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? en Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? Albei boeke word deur Jehovah se Getuies uitgegee.

      IETS OM OOR TE DINK

      ◼ Wat is sommige maniere waarop jy maklik oor jou geloof in die skepping by die skool kan praat?

      ◼ Hoe kan jy jou waardering toon vir die Een wat alle dinge geskep het?—Handelinge 17:26, 27.

      [Venster op bladsy 27]

      “DAAR IS OORVLOEDIGE BEWYSE”

      “Wat sou jy vir ’n jongmens sê wat van kleins af geleer is om in ’n Skepper te glo, maar evolusie op skool geleer word?” Hierdie vraag is aan ’n mikrobioloog gestel wat een van Jehovah se Getuies is. Haar antwoord? “Jy moet dit as ’n geleentheid beskou om aan jouself te bewys dat God bestaan—nie net omdat jou ouers jou dit geleer het nie, maar omdat jy die bewyse ondersoek het en tot daardie slotsom gekom het. Wanneer onderwysers soms gevra word om evolusie te ‘bewys’, vind hulle dat hulle dit nie kan doen nie en besef hulle dan dat hulle die teorie aanvaar bloot omdat hulle dit geleer is. Jy kan in dieselfde strik trap wanneer dit kom by jou geloof in ’n Skepper. Dit is waarom dit die moeite werd is om aan jouself te bewys dat God werklik bestaan. Daar is oorvloedige bewyse. Dit is nie moeilik om te vind nie.”

      [Venster/Prent op bladsy 28]

      WAT OORTUIG JOU?

      Skryf drie dinge hieronder neer wat jou oortuig dat daar ’n Skepper is:

      1. ․․․․․

      2. ․․․․․

      3. ․․․․․

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel